vas. Sy smelt teen sy groot, warm, sterk liggaam en geniet die gevoel van gespierde arms wat haar koester.
“Ek wens dinge was minder gekompliseerd,” sê hy sag en laat rus sy ken op haar kroontjie. “Asof ek nie tans genoeg probleme het nie, raak ek beenaf op my seun se dokter.”
“Beenaf?” vra sy met haar wang teen sy bors en sy verbeel haar sy hoor sy hart klop.
“Beenaf,” beaam hy. “Ek moet my kop laat lees.”
Haar trots rebelleer meteens. Sy trek weg en kyk op. “Is ek dan só ’n probleem?”
Sy kan nie die uitdrukking op sy gesig sien nie, want dis in die skaduwee, maar sy hoor hom saggies sug.
“Maak eers vrede met die dinge waarmee jy vrede moet maak, dan sal jy dalk onbevange na my kan kom. Ek is nie ’n kind nie, Lucinda. Ek is maklik tien jaar ouer as jy, en ek weet watter probleme tussen mense kan ontstaan as die basiese dinge nie reg is nie.”
“Sal ons teruggaan?” vra sy koel.
Hy neem haar hand en hulle loop soos verliefdes. Maar dis oëverblindery, dink sy. Dalk het hy hom net met haar vermaak, want hy was tydelik tot haar aangetrokke. Mense raak geheg aan dokters wat vir hulle goed is, maar dit waai weer oor.
Hy sal weggaan en sy sal haar ewewig herwin. Toe hulle by die huis aankom, is Edwin daar. Lucinda kom dadelik agter dat hy gedrink het.
“Wat loop julle tweetjies so onder die sterre?” vra hy smalend.
“Ons het net gaan stap, Edwin,” sê sy ergerlik.
“Asof julle gekys is,” spot hy, maar dis met jaloesie en bitsigheid in sy stem.
“Sien jy wat ek bedoel?” vra Werner vir haar.
“Waarvan praat jy?” vra Edwin aggressief. Dit lyk asof hy die groter man wil aanval.
Lucinda ys. Teenoor die groot, fris, kalm Werner lyk Edwin soos ’n veglustige kapokhaantjie, al is hy nie juis tingerig nie.
Sy gee ’n gilletjie toe Edwin se vuis uitskiet. Maar Werner vang dit in een hand en dwing sy arm weg. “As ek nie van beter geweet het nie, het ek jou nou op jou kop laat staan,” sis Werner en los, want daar is ’n pyntrek op Edwin se gesig.
Werner draai om en loop. Lucinda is woedend, al sien sy hoe Edwin sy seer hand vryf.
“Eddie, wat dink jy doen jy?”
“Hy lol waar hy nie moet lol nie.”
“Liewe hemel, ek behoort mos nie aan jou nie! Ek kan kies met watter man ek wil vriende wees.”
Sy hand skiet uit en sy vingers sluit staalhard om haar boarm. “Ek gaan nie toelaat dat iemand jou voor my neus wegraap nie, Lucy.”
Sy ruk los en storm na haar kamer toe. Haar hele lyf bewe. In watter penarie het sy nou beland? Sy moes Edwin nooit genooi het om by haar te bly nie. Hy het heeltemal die verkeerde indruk gekry, en sy ken hom as besitlik. Hy deel nie graag wat hy as sy eiendom beskou nie. En sy weet hy is ’n baie slegte verloorder.
Ongelukkig het hy nou effektief tussen haar en Werner gekom. Sy wil gaan lê en huil, soos toe sy klein was.
11
Die volgende oggend moet Lucinda douvoordag kliniek toe gaan en terwyl sy onder die bome deurstap, kyk sy of sy nie vir Werner aangedraf sien kom nie. Maar tot haar teleurstelling sien sy hom nêrens.
Sy is regtig kwaad vir Edwin. Hy kom van ver af, verwaarloos sy kind en eis haar wat Lucinda is op asof hy die reg daartoe het. Hy het altyd sy sin gekry. Sy vermoed hy lei ’n losbandige lewe in die glanswêreld van renjaers, maar hy vloek sy oorlede vrou omdat sy vigs gehad het.
Sy is ook ontsteld oor Nanette en Charles, wat nie hier sou beland het as hulle nie baie siek was nie, maar ook nie as hulle ouers gehad het wat gesorg het dat hulle by die huis verpleeg word nie.
Werner het gisteraand so simpatiek na haar geluister. Sy dink daaraan dat hy ’n aandeel in die kliniek gekoop het en dat hy beweer het hy doen dit om haar onthalwe. As hy bereid is om so ver te gaan om betrokke te raak, moet sy haar werklik so ontstel oor Edwin se gedrag en aansprake wat ’n kinkel in hulle jong en kwesbare verhouding gebring het?
Die oggend is sy weer eens baie besig en toe Lucinda tydens haar rondte by Erik uitkom, is Werner nie daar nie.
“Hallo, jong,” groet sy die kind, wat vir haar glimlag. “Jy lyk aansienlik beter vanoggend. Ek kan jou al amper uit die kliniek ontslaan. Waar is Pappa vandag?”
Sy vee sy hare van sy voorkop af, en tot haar verbasing neem hy haar hand en hou dit vas.
“Pappa het gaan reël dat Mamma vir Rover stuur.”
“O, dis lekker. Jou hond sal seker eers in kwarantyn moet bly voordat jy hom kry. Weet jy wat dit is?”
“Pappa het gesê dis wanneer hy eers in die hospitaal moet bly, soos ek, en dan later kan hy huis toe kom.”
“Dis reg. Hulle maak net seker dat Rover nie ’n siekte van Engeland af Suid-Afrika toe bring nie.”
“Ek het ’n siekte gebring.”
Sy druk sy hand en lag. “Ja, maar dis nie aansteeklik nie. Jy kan dit nie vir iemand anders gee nie. ’n Muskiet het dit vir jou gegee en daardie muskiet is nog in Zambië.”
“Ek gaan ook eendag ’n dokter word soos tannie.”
“Regtig? Dis wonderlik. Dis die beste ding wat jy kan word, behalwe om soos Pappa te wees wat mense help om paaie te bou, anders sukkel hulle deur die bos.”
“Mamma het nie gedink hy doen ’n goeie ding nie.”
Is dit nou die negatiewe indruk oor sy pa wat daardie feeks by haar kind gelaat het? dink Lucinda vies. Sy skud haar kop. “Nee, hy doen baie goeie werk. Baie goeie werk om mense se lewens beter te maak.”
Sy druk weer sy hand en maak hare saggies los. “Die verpleegsters moet nou met jou werk, en ek moet die ander kinders gaan sien. Raak jy verveeld?”
“Ja, tannie.”
“Ek sal tant Mymie stuur om vir jou te lees. Ek sal vir haar my boek Jock of the Bushveld gee. Jy behoort dit te geniet.”
“Dankie, tannie.”
Lucinda kom etenstyd by die huis aan en Edwin wag haar in.
“Haai, Lucy, hoe’s dinge?” vra hy vrolik asof hy hom nie die vorige aand soos ’n buffel gedra het nie.
“Goed. Onder beheer. Nanette is egter nie lekker nie. Jy moet haar gaan sien. Jy kuier gans te min by haar.”
“I stand corrected,” sê hy vroom. “Jy kom seker middagete eet? Ek join jou. Het jy lus vir ’n bier? Ek het gekoop en ek gaan een drink.”
“Nee, dankie, Eddie. Ek werk met pasiënte. Ek kan nie in die middel van die dag drink en dan met ’n drankasem by die kliniek aankom nie.”
“O, oukei. Ek gaan haal vir my bier uit die yskas. Ek sal sommer vir jou ou ennie sê sy moet die ete bedien.”
Lucinda vererg haar dat haar gesig sommer warm word. “Vir wie noem jy ’n ‘ou ennie’?” vra sy kwaad. “Tog nie vir Anna nie? Sy is my regterhand, wat dit vir my moontlik maak om lang ure te werk en dan gevoed te word met lekker kos, en om in ’n skoon huis te bly. Vir jou maak sy dit soos ’n hotel.”
Hy lyk afgehaal. “Jy raas al weer met my. Lyk my jou werk stres jou uit.”
“Ek raas nie oor ek stres het nie. Ek raas oor jou houding: dat jy maar kan maak of breek en op ander neersien. Moenie hier kom windmakerig wees nie. Dit werk dalk tussen renjaers en hulle aanhangers, maar nie hiér nie.”
Hy kyk haar vir ’n oomblik gebelg aan, maar toe gaan haal hy sy bier.
“Skuus, man,” mompel hy toe hy by haar aan tafel