Wilmari Jooste

Melodie Omnibus 2


Скачать книгу

Paar oomblikke staar sy terug. Dan onthou sy dieselfde kyk in Chris de Wet se oë en haar liggaam reageer outomaties op die bedreiging wat daardie soort kyk vir haar as vrou inhou.

      “Gaan koel af, man!”

      Die volgende oomblik trek Jans deur die lug. Hy het nouliks kans om sy asem op te hou voor hy die water tref.

      Proesend kom hy op. Sonder om enige verdere aandag aan Fransien te gee, begin swem hy die lengte van die swembad.

      Fransien was weerwraak te wagte en kan nie glo dat sy so lig daarvan afkom nie. Van die oomblik dat sy hom gestamp het, was sy gereed om te vlug, maar nou begin sy ontspan. Sy besef nie dat Jans haar ontsnaproete afgesny het deur die lengte van die swembad te swem en by die ander kant uit te klim nie. Eers toe hy doelgerig op haar afgestap kom, tref die werklikheid haar.

      Met ’n verskrikte gilletjie probeer sy wegkom, maar met mure wat drie kante van die swembad teen die wind verskans, is daar geen wegkomkans nie. Sy gee Jans egter nie die genoegdoening om haar in die water te gooi nie, maar duik self in, met hom kort op haar hakke.

      Hy probeer haar onderdompel, maar sy klou soos ’n apie aan hom vas en trek hom saam ondertoe. Toe sy uiteindelik loskom, swem sy uitasem kant toe.

      Haar hart klop teen haar ribbes en daardie eienaardige bewerige gevoel is nie net in haar bene nie. Waar sy liggaam aan hare geraak het, is skielik senupunte waarvan sy nog nooit voorheen bewus was nie. Vervlaks! Wat gaan met haar aan?

      Haar verstand skree: “Versigtig, Fransien!”, maar haar liggaam sing ’n heel ander deuntjie. Sy sal haar moet regruk, en vinnig ook!

      “Kom ons kyk wie is eerste aan die ander kant!” roep sy uitdagend uit.

      Resies is veilig, want daar is nie liggaamlike kontak betrokke nie. Sy weet sy het nie ’n kans teen Jans nie, maar sy sorg dat sy ’n goeie voorsprong kry deur weg te spring voor hy gereed is. Hy protesteer luidkeels agter haar, maar sy swem verbete voort.

      Hulle kom feitlik gelyk by die ander kant aan, met haar vingers wat die kant net voor syne raak. Sy waai sy beskuldigings dat sy gekul het met ’n ongeërgde swaai van haar hand weg.

      “Jy is net ’n slegte verloorder. Ek is ’n vrou, ingeval jy dit nog nie agtergekom het nie. Dis net regverdig dat ek ’n voorsprong moes kry.”

      “Ek is maar net té bewus daarvan dat jy ’n vrou is. En dit gee jou alreeds ’n onregverdige voorsprong!”

      “Wat? ’n Man wat erken dat vroue sy meerdere is! Ek glo dit nie!” verkies Fransien om ’n ander betekenis aan sy woorde te gee.

      “Ontmoet die moderne man: heeltemal in voeling met sy vroulike kant en geensins bedreig deur die vroulike spesie nie,” dramatiseer Jans met sy hand op sy hart.

      Hy swem stadig ’n entjie weg voor hy vervolg: “Spesie, want mense is hulle beslis nie!”

      Laggend swem hy tot buite bereik van die waterboë wat sy na hom spat. Kamma verontwaardig skud sy ’n vuisie in die lug. Daar is ’n warm kol om haar hart en sy hou haar doof vir die waarskuwingsklokkies wat in haar brein afgaan.

      Hierdie Jans wat sy nou leer ken, kan baie maklik die man van haar drome word – of sy dit nou wil erken of nie. Sy wíl nie meer versigtig wees nie. Sy wil net elke oomblik saam met hom aangryp en geniet.

      Soos twee jong robbe baljaar hulle in die water. Toe hulle uiteindelik uitklim, klap Fransien se tande op mekaar van die koue, want hier langs die rivier is die aande altyd koel.

      Jans vou haar knus in haar groot handdoek toe. “Jy is halfpad verkluim! Ek moes jou nooit so lank in die water laat bly het nie. “Kom, ons kan sommer so loop. Jy het ’n warm stort nodig voordat jy aantrek.”

      Sonder seremonie vat hy haar bondeltjie klere in sy een hand en haar hand in sy ander hand en begin aanstryk. En Fransien – hardkoppige, eiewys Fransien – laat haar hierdie behandeling sonder slag of stoot welgeval. Sy koester haar in sy baasspelerige besorgdheid soos net ’n verliefde vrou kan.

      In die stort kom die vertwyfeling. Is sy nie besig om ’n kolossale gek van haarself te maak nie? Hy het nog nie deur enige woord of daad laat blyk dat hy dieselfde as sy voel nie. Hy het net vinnig deur haar chalet gekyk of dit veilig is, en haar daarna aan haar skouers in die rigting van die badkamer gestuur.

      “Toe, gaan vat nou ’n lekker warm stort. Ek sal die deur van buite af sluit,” was sy groetwoorde. Nie ’n woord oor saameet of iets dergeliks nie.

      Die warm water verdryf gou die koue uit haar ledemate. Nadat sy haar hare drooggeblaas het, trek sy ’n sagte swart truitjie by ’n netjiese swart langbroek aan.

      Haar selfoon laat glip sy sommer in een van haar sakke. Ná die swemmery is sy al weer lekker honger en sy sien uit na ’n ete by die restaurant.

      Haar oë rek toe sy by die voordeur kom. Jans het haar sleutel, hoe gaan sy hier uitkom?

      Asof in antwoord op haar gedagtes hoor sy ’n sagte kloppie, voor die deur van buite af oopgesluit en oopgestoot word. Soos sy is hy geklee in ’n swart trui en langbroek en sy hare is netjies gekam. ’n Lawwe vreugde omdat hulle eenders aangetrek is, laat haar hart bokspring.

      “Is jy klaar?” Jans kyk afwagtend na haar.

      Al die vrese wat haar in die stort stormgeloop het, verdwyn. Natuurlik het hy nie gepraat van saameet nie, want hy het dit as vanselfsprekend aanvaar! Kan dit wees dat hy ook soos sy voel? Durf sy hoop?

      “Ja, ek is reg. Waar is Gerrie? Eet hy nie saam met ons nie?”

      “Hy en een van die jong konstabels het die plaaslike talent gaan uitcheck – sý woorde, hoor, nie myne nie!” verduidelik Jans geamuseerd. “Hier is nie nou ’n swembad naby nie, so dis seker veilig om dit te sê.”

      Sy blik rus warm en openlik bewonderend op haar. “Jy is ’n pragtige vrou, Fransien de Swardt.”

      Hy maak effens keel skoon voor hy verder praat: “En ná al daardie swemmery seker ook ’n baie honger vrou. Kom, laat jou dapper ridder jou na die restaurant begelei.” Daarmee hou hy sy arm galant vir haar.

      Fransien lag spontaan en vleg haar arm deur syne. “Ja, kom! Ek kan ’n bees met ’n glimlag opeet!”

      Gemaak geskok steek Jans in sy spore vas. “Nooit! Ek het nog nooit eens ’n bees met ’n glimlag gesién nie, newwermaaind geëet!”

      Steeds laggend kom hulle by die restaurant aan. Omdat dit al taamlik laat is, het die meeste mense klaar geëet.

      Alleen by ’n tafeltjie, met sagte beligting en rustige musiek, leer Fransien nog ’n kant van Jans ken. So laf soos hy soms kan wees, so ernstig raak hy oor die dinge na aan sy hart. Hy het ’n passie vir sy werk, maar daar is skaduwees in sy oë toe hy praat oor misdade wat teen kinders gepleeg word.

      “Ek wens ek kon misdaad uitwis, veral geweldsmisdaad. Op my manier probeer ek ’n verskil maak, maar dis ’n verlore stryd wat ons stry. Die ironie van die saak is: die een ding waarteen ek die hardste veg, is ook die ding wat my op die ou end sal dwing om die polisiediens te verlaat omdat ek dit nie meer kan hanteer nie. Elke keer as ek te doen kry met ’n vernielde kind, neem dit weke voor ek weer myself is. Die verslae ogies, die kneusplekke, die vrees … dit bly spook by my.”

      Met haar hand vertroostend oor syne vertel Fransien hom van Barnie, wat ook maar ’n vernielde kind was.

      “Maar hy is nou reg. Dit lyk of hy alles agter hom gesit het en ’n sukses van sy lewe gemaak het. Alhoewel … daar is nou ’n soort onrus by hom. Ander mense sal dit waarskynlik nie agterkom nie, maar ek het hom te goed geken. Dalk was dit maar die reünie, dit bring so baie herinneringe terug.”

      15

      Lank ná hulle klaar geëet het, sit hulle nog en gesels. Een van die kelners kom vra later verskonend of hulle nog iets wil bestel, want dis eintlik al toemaaktyd. Arm in arm slenter hulle terug, onwillig om ’n einde aan die aand te maak.

      Voor