maak.”
Hy snuif waarderend. “Ek kan dit ruik. Hemels! Dankie, ek drink graag saam met jou.”
“Ons drink sommer op die stoep. Sit solank.”
Sy raak meteens bewus daarvan dat sy nog haar slaapklere aanhet en vlug vervaard na haar slaapkamer om aan te trek. Haar slaapklere is van ’n sagte katoenmateriaal en heel kuis, maar sy is intens bewus daarvan dat sy die minimum onderklere aanhet.
Oorhaastig pluk sy ’n T-hemp aan, met ’n sweetpak bo-oor. Dan draf sy kaalvoet kombuis toe om die koffie te gaan haal.
Jans staan op om die skinkbord by haar te neem. Sy wenkbroue lig effens oor haar vinnige verandering van kleredrag, maar hy sê niks. Hy is slegs geklee in ’n stokou, grysgewaste drafbroekie wat gevaarlik laag om sy heupe hang.
In die daglig lyk die vaalseun van die vorige aand glad nie meer so vaal nie, dink Fransien. Sy doen haar bes om op die natuurskoon om hulle te fokus, maar dis moeilik. Dis duidelik dat hy nog nie geskeer het nie, maar sy stoppelbaard gee hom ’n ruwe aantreklikheid. Twee staalblou oë roep die woorde van die ou gedig by haar op.
Sonder om twee maal te dink, haal sy dit aan: “‘’n Oog wat nie wyk, wat ’n bars kan kyk.’ Is die res ook op jou van toepassing?”
Sonder om ’n oomblik te aarsel, voltooi hy die aanhaling geamuseerd: “‘En ’n wil wat so vas soos ’n klipsteen staan.’ Wel, ek verstaan ek kan nogal koppig wees. Weet nou nie of dit dieselfde ding is nie.”
“Sê wie?” vis Fransien onbeskaamd uit.
“Meestal die vroumense in my lewe – my ma en my suster. Hulle is oortuig daarvan dat ek nooit ’n vrou sal kry nie. Te hardkoppig, jy sien.”
Dáárdie glimlag verskyn weer.
“Dit lyk my ons gaan ’n lekker warm dag hê,” wend Fransien haar desperaat tot daardie ou staatmakeronderwerp, die weer. Hierdie man moenie kans kry om sy sjarmekraantjie vir haar oop te draai nie. Sy is skoon uit haar diepte in sy teenwoordigheid – en dis ’n heel nuwe ondervinding vir haar.
“Dit lyk so, ja,” stem Jans plegtig saam. As hy haar skielike verandering van onderwerp eienaardig vind, laat hy dit nie blyk nie.
Die gesprek raak nie weer persoonlik nie, en sy merk opnuut daardie afwesige, verveelde kyk in sy oë.
Sy weet nie of sy bly of spyt is toe hy haar bedank vir die koffie en opstaan om na sy chalet te gaan nie. Hy werk op haar senuwees; sy is die hele tyd soos ’n kat op ’n warm sinkplaat wanneer sy in sy geselskap is.
Sy kan nie die versoeking weerstaan om hom agterna te kyk nie. Maggies, maar die man is goed gebou. Breë skouers, smal heupe en ’n netjiese sitvlak. Om nie eens te praat van die paar gespierde bene en stewige kuite nie. Haar mond voel skielik weer droog, en daar is ’n lammerige bewerigheid op haar maag.
Streng spreek sy haarself aan: “A nee a, Fransien, kry jou hormone onder beheer. Watse gekwyl is dit oor ’n man wat jy skaars ken?”
10
Fransien spoel vinnig die twee koffiebekers uit voor sy haar drafskoene gaan aantrek. Wat sy nou nodig het, is ’n stywe oefensessie en ’n koue stort – in daardie volgorde!
Die gebeure van die vorige dag bly draai in haar gedagtes. Miskien sal die oefening help om haar kop skoon te kry. Soos gister kies sy koers weg van die rivier af. Sy weet nou waarheen sy op pad is en sy stap vinnig en doelgerig.
Deur die venster van sy chalet kyk Jans haar peinsend agterna. Waarheen sou die vroumens op pad wees? Dit lyk nie asof sy net ’n entjie gaan stap of die omgewing gaan verken nie, daarvoor is haar pas te vinnig. Dit lyk of sy doelbewus weg van die rivier en die geboue af stap. Boonop is hy seker sy het eers rondgekyk, so asof sy nie wou hê iemand moet sien waarheen sy gaan nie.
Die speurder in Jans reageer onmiddellik. Nog voor Fransien tussen die digte plantegroei verdwyn het, het hy ’n paar ou seilskoene en ’n T-hemp aangepluk. Hy volg haar op ’n afstand.
Hy slaak ’n sug van verligting toe sy tussen die bome in stap. Daar sal sy agtervolging nie so opsigtelik soos in die oopte wees nie. En hy sal kan hoor in watter rigting sy gaan.
Omdat hy ’n taamlike afstand tussen hom en Fransien probeer hou het, is sy alreeds besig met haar oefenprogram toe hy haar in sig kry. Hy fluit geluidloos en sak op sy hurke neer sodat sy hom nie moet raaksien nie. Hierdie is beslis nie ’n katjie om sonder handskoene aan te pak nie!
’n Minuut of wat hou hy haar dop, voor hy versigtig begin retireer. Met ’n frons wat al hoe dieper word, stap hy terug na sy chalet. Die vrou is besig om heeltemal te vinnig na sy kop te gaan, en dit mag nie gebeur nie.
Veral nie as sy goed wegsteek nie. Hy is hier om ’n moordenaar op te spoor en sy is ’n verdagte. Hy gaan hom beslis nie van koers laat stuur deur ’n paar donker oë nie.
Ná ’n vinnige stort gaan hy aandagtig deur sy notas van die vorige aand. Sondag of nie, vandag lê hier vir hom baie werk voor. Die meeste van die reüniegangers gaan ná die naweek terug, en hy sal graag sy ondervraging hier wil voltooi terwyl die gebeure nog vars in almal se geheue is.
Natgesweet en lam in die bene kom Fransien ’n halfuur later by haar chalet aan. Nadat sy gestort het, voel sy sommer stukke beter.
Die strawwe oefening het haar so honger soos ’n leeu gemaak en sy trek haar neus op vir die graankos in die kas. ’n Ordentlike ontbyt is waarvoor sy nou lus is. Sy maak seker dat al die deure en venters dig toe is voor sy na die restaurant stap. Die wete dat hier moontlik ’n moordenaar ronddwaal, bly maar in haar agterkop.
Soos gewoonlik neem sy plaas by ’n hoektafel wat haar ’n uitsig op die res van die restaurant gee. Onwillekeurig soek haar oë tot sy vir Jans gewaar waar hy diep in gesprek met superintendent Johnson en Gerrie in die ander hoek sit.
Sy glimlag ’n groet in sy rigting toe hy opkyk, maar die stadige glimlag waarop sy haar voorberei het, verskyn nie. In stede daarvan kyk hy haar opsommend aan, voor die verveelde uitdrukking weer op sy gesig verskyn en sy blik verder dwaal.
Dit voel vir Fransien of iemand haar met ’n beker koue water gegooi het. Dan sit die verdwasing om in woede. Sy pers haar lippe opmekaar. Die pes! Vol glimlaggies en tog te galant as hy haar duur koffie sit en uitdrink, maar nou is sy nie eens ’n halwe glimlag werd nie.
Om alles erger te maak, is daar skielik ’n seer knop in haar keel wat sy nie afgesluk kry nie. Nog nooit het sy wat Fransien is oor ’n man gehuil nie, en sy is ook nie van plan om dit nou te doen nie. Dis seker die skokke van die vorige dag wat haar nou so onverklaarbaar tranerig laat voel.
Haar eetlus het verdwyn en sy wens sy kon ongemerk uitglip, maar die kelner staan reeds langs haar om haar bestelling te neem. Sy glimlag verskonend in sy rigting toe haar selfoon begin lui en sy dit eers antwoord.
Dis Mitzi. Haar uitnodiging om ’n laat ontbyt by hulle te kom geniet, is vir Fransien soos manna uit die hemel. Sy verduidelik vlugtig haar veranderde planne aan die kelner, voor sy diep asemhaal en reguit na die speurders toe stap.
Uiterlik lyk sy koel en onverstoorbaar toe sy by hulle tot stilstand kom. Haar stem is kalm. “Sal julle my vandag nodig hê? Ek is genooi vir ontbyt by die Dreyers, en ek sal dalk die dag daar deurbring.”
Sy kyk verby Jans na superintendent Johnson. Die twee mans se vinnige blik na mekaar ontglip haar nie.
Superintendent Johnson lyk ongemaklik. “Ek weet nou nie juis nie … e … Jans? Sal ons haar nodig hê? Sy is darem nog ’n paar dae hier.”
Jans voel onverklaarbaar geïrriteerd omdat sy hom so koeltjies ignoreer. Hy haal sy skouers op. “Jy kan maar gaan. Ons het mos jou selfoonnommer en die Dreyers s’n ook.”
“Dankie.”
Fransien vermy dit steeds sorgvuldig om in sy oë te kyk. Hy voel ’n behoefte om daardie uitdrukkinglose maskertjie van haar gesig te laat glip.
“Net een ding: