dat Jans en Gerrie tot by haar tafel gevorder het voordat sy hulle opmerk.
“Natuurlik! Ek sit myself juis en jammer kry omdat ek so alleen hier sit,” nooi sy sonder om twee maal te dink.
Die kelner is reeds by om die mans se bestelling te neem. Jans neem oorkant Fransien plaas, en sy trek haastig haar voete terug om plek vir sy lang bene te maak. Hy kan nie anders as om op te merk dat sy enige aanraking ten alle koste probeer vermy nie en dit irriteer hom skielik. ’n Mens sou sweer hy het een of ander aansteeklike siekte!
Jans hoor hoe Gerrie en Fransien gesels, maar hy neem nie deel aan die gesprek nie. Dis asof al sy sintuie ingestel is op die vrou oorkant hom. Hy luister na haar heserige laggie, wat hy tussen duisend ander sal uitken. Daar kleef ’n sagte, vroulike geur aan haar wat hom verwar. Is dit parfuum, of is dit haar eie liggaamsgeur?
Hy wens hy was nader aan haar, sodat hy kon seker maak. Die lig speel op haar donker krulle en versluier haar donker oë. Daardie wit vel … Sou dit so sag en glad voel soos wat dit lyk? Kan ’n vrou wat onder ’n elektriese lig soos ’n engel in die maanskyn lyk, in staat wees tot moord?
Dis hierdie laaste gedagte wat hom na die werklikheid terugruk. Meteens is hy kwaad … vir homself én vir die vrou wat hom keer op keer laat vergeet van die rede waarom hy hier is. Hy rek sy bene moedswillig, en het die genoegdoening om te sien hoe ’n verklikkende blos oor Fransien se gelaat sprei. Effens verbouereerd skuif sy haar stoel agtertoe om spasie tussen hulle knieë te kry.
“Ontspan, Fransien. Ek het nie ’n aansteeklike siekte nie en ek byt ook nie – vra maar vir Gerrie.”
Gerrie lag, onbewus van die onderstroming tussen die ander twee. “Ek kan niks waarborg nie. Hy het my nog nooit gebyt nie, maar ek is maar ’n seningrige ou. Die een wat aan my probeer byt, sal sy byt moet ken! Maar jy kan dalk ’n sappige happie vir hom wees, Fransien!”
Jans lag halfhartig vir sy junior se spitsvondigheid. Daardie sagte wit vel laat hom alreeds allerhande onbehoorlike gedagtes kry, en Gerrie se woorde maak dit nog erger!
Hy kyk na Fransien en sê die eerste ding wat in sy kop opkom: “Waar was jy tot so laat? Hier is gister ’n moord gepleeg, maar jy dwaal tot watter tyd buite rond. Enige gewone vrou sal te bang wees om so alleen in die donker te loop.”
Jans besef te laat dat sy woordkeuse, sowel as sy beskuldigende stemtoon, veel te wense oorlaat.
Fransien lyk vir ’n oomblik verslae oor die skielike aanval op haar, maar dan staan sy stadig op. Daar is ’n ysige woede in haar wat sy met moeite probeer beheer. Haar lewe lank sukkel sy met die stigma van “anders” wees, sukkel sy om in te skakel en soos ander vrouens te wees.
Sy druk met haar hande op die tafel en leun vorentoe sodat sy Jans vas in die oë kan kyk. Haar oë skiet vonke en sy byt behoorlik die woorde tussen haar tande uit: “Ek ís ’n gewone vrou, nié een of ander frats nie. En wat meer is: my doen en late het absoluut niks met jou uit te waai nie. Soek jy maar liewer die moordenaar en los my net uit.”
Haar volgende woorde is aan Gerrie gerig. “Verskoon my, asseblief. Ek is skielik nie meer honger nie.”
Met ’n laaste, vernietigende blik na Jans draai sy om en stap ken omhoog na die uitgang.
“Sjoe, dit was onverwags! En wat nou van haar kos?” wonder Gerrie verbaas.
“Eet jy dit maar, dan hoef ek tog nie weer jou treurmare oor die klein porsietjies aan te hoor nie,” reageer Jans stram.
In sy gedagtes verwens hy homself. Hy moes sy woorde beter gekies het, maar dit was darem nou ook nie só erg nie. Het sy maar so ’n kruidjie-roer-my-nie-geaardheid, of is daar meer agter dié skielike uitbarsting?
Ná ete stap hy ingedagte terug na sy chalet. ’n Uur of twee gaan hy weer deur sy aantekeninge, maak notas en onderstreep hier en daar iets.
Gelukkig is dit ’n langnaweek, so die meeste mense vertrek eers môre. Daarna gaan sy ondersoek aansienlik bemoeilik word, want sy getuies gaan letterlik oor die hele land versprei wees. Hy moet seker maak dat hy niks miskyk nie. Dis dalk die toevalligste gebeurtenis of opmerking wat vir ’n deurbraak in die saak kan sorg.
Toe hy uiteindelik sy lig afskakel, sien hy dat Fransien se ligte nog brand. Wat sou sy so laat so op haar eentjie doen? Is dit ’n skuldige gewete wat haar wakker hou? Of is sy dalk nie alleen nie? Het sy dalk geselskap – mánsgeselskap?
Hierdie laaste gedagte staan hom meteens glad nie aan nie.
Miskien moet hy haar môreoggend ’n bietjie gaan paai – sommer vroeg-vroeg. Sy is ’n belangrike getuie, en hy kan dit nie bekostig dat sy hom vyandiggesind is nie. Hy het haar volle samewerking nodig.
Sy is darem deksels mooi as sy so blosend in haar slaapklere staan – én sy maak wragtie lekker koffie …
13
Soos elke oggend sedert sy by die vakansieoord aangekom het, maak die voëlgekwetter Fransien met sonsopkoms wakker. Ná haar klein ontploffinkie by die restaurant die vorige aand was sy – kwaad en ontsteld soos sy was – boonop verplig om vir haarself te kom kos maak.
Met al die woelinge in haar kon sy toe ook nie aan die slaap raak nie. Ná ’n halfuur of meer se rondrol het sy maar weer haar lig aangesit en ’n boek begin lees. Dit was nou net mooi die verkeerde ding om te doen; sy weet mos sy kan nie ’n boek neersit as sy dit eers begin het nie.
Dit voel asof sy pas aan die slaap geraak het toe die veervolkie die vroegoggendskemering op hulle vrolike, luidrugtige manier begin groet. Sy probeer eers die gefluit en gekweel ignoreer, maar eindelik gee sy die stryd gewonne.
Sy is nou klaar wakker en sy is lus vir koffie. Dit móét ’n besonderse sonsopkoms wees wat soveel rumoer ontlok, dus kan sy net sowel buite gaan sit en deel vorm van die verwelkomingskomitee – met ’n bekertjie koffie byderhand, natuurlik.
Met ’n behaaglike suggie koester sy ’n rukkie later die beker tussen haar hande. Met soveel natuurskoon en vredigheid om jou kan jy mos nie anders as om ’n beter mens te voel nie. Haar gewete pla haar ’n bietjie oor haar bitsigheid van die vorige aand. Hoe moes die arme man geweet het dat sy ’n broertjie dood het daaraan om as ongewoon getipeer te word? Hy het hom maar net swak uitgedruk en toe byt sy amper sy kop af.
Sy ken haarself nie so opvlieënd nie; die gebeure van die afgelope dae is besig om sy tol te eis. Of is dit haar liggaam se reaksie op die man in die chalet langsaan, wat haar die hele tyd op die verdediging – of in hierdie geval, die aanval – plaas? Hoe dit ook al sy, sy is hom definitief ’n verskoning verskuldig.
Fransien sit droomverlore op die stoeptrappie. Onbewustelik wag sy vir tekens van lewe van Jans se kant af. Hoe gouer sy hierdie jammersêery agter die rug kry, hoe beter.
Dis amper met verligting dat sy hom na haar toe sien aankom. Ten minste hoef sy nie aan sy deur te gaan klop met haar hoed in die hand nie!
Hy kom staan bedees ’n paar meter van haar af en bekyk haar vir ’n paar sekondes ondersoekend.
Fransien praat eerste, voor haar moed haar kan begewe: “Jammer oor gisteraand. Ek weet nie wat in my gevaar het nie …”
“In die haak. Ek het my nie baie goed uitgedruk nie. Sorry, hoor.”
“Koffie?”
“Ek dag jy vra nooit!”
Dankbaar dat die verskoningvraery agter die rug is, verdwyn Fransien na binne. Hulle is wel stywerig teenoor mekaar, maar dis darem beter as die openlike konfrontasie van die vorige aand.
Sy laat val byna die skinkbord toe sy haar eie weerkaatsing in die sitkamerspieël sien.
“O vrek! Hy’t jou wrintie weer in jou slaapklere gevang, Fransien. Netnou dink die man jy probeer hom verlei!” baklei sy onderlangs met haarself.
Soos die vorige oggend gaan pluk sy blitsvinnig ’n sweetpak aan, voor sy met die skinkbord uitstap.
Toe Jans haar met dáárdie glimlaggie