stadige, lui glimlag wat in sy oë begin en oor sy gesig sprei. Dit voel vir Fransien asof sy in ’n hysbak sit wat skielik ’n paar meter val. Haar maag draai en sy is dankbaar dat sy sit, want daar is skielik ’n eienaardige bewerigheid in haar ledemate.
“In die polisiemag kan dit nogal probleme skep, want sommige ouens is baie gesteld op hulle rang. Maar ek stem saam met jou: al hierdie formele aanspreekvorms is net ’n mors van tyd. Van tyd gepraat, ons het nie baie daarvan nie. Ek weet Tony het jou al ondervra, maar ek hou daarvan om my eie ondervraging te doen. Wees asseblief maar geduldig met my.”
Fransien knik. Daar lê ’n notaboekie – blykbaar superintendent Johnson s’n – oop voor hom, maar hy skryf nie daarin nie.
“Jy en die oorledene was in ’n voorval betrokke ’n klein rukkie voor sy dood. Ek gaan jou nie verder daaroor uitvra nie. Ek wil egter graag weet watter soort verhouding daar tussen julle was,” sê hy.
Fransien stik van verontwaardiging. “Wat bedoel jy met verhouding? Daar was nooit niks tussen ons nie. Ek hou my nie op met sulke … sulke lieplappers nie!”
Jans hou sy hand op. “Jammer, ek het my verkeerd uitgedruk. Ek wil net weet hoe goed het julle mekaar geken, hoe gereeld het julle mekaar gesien, wat weet jy van hom, ensovoorts.”
Skaam oor haar uitbarsting antwoord sy meer bedees: “Dis maklik genoeg. Ons was albei leerlinge aan dieselfde skool en toevallig in dieselfde klas, maar ons het nooit sosiaal gemeng nie. Dis tien jaar sedert ons mekaar laas gesien het. In dié tyd het ons geen kontak gehad nie, dus weet ek minder as niks van hom af.”
“Mmm … Jy weet niks van hom af nie, maar jy noem hom ’n lieplapper? Sover ek verneem het, was Chris de Wet ’n gesiene en invloedryke sakeman.”
“Hy is dood, en ’n mens praat glo nie sleg van die dooies nie, maar gebaseer op sy gedrag toe ons nog op skool was en vroeër vanaand, was hy ’n lieplapper. Geld koop ongelukkig nie vir ’n mens goeie maniere en basiese ordentlikheid nie.”
“Het jy toegang tot enige ander vuurwapens as die een wat hier in die kluis toegesluit is?”
“Nee.”
“Kan jy ’n vuurwapen hanteer? Het jy enige opleiding gehad?”
“Ek is verbaas dat jy dit nodig vind om so iets te vra,” tik Fransien hom oor die vingers. “Weet jy dan nie van die nuwe Wet op Vuurwapens nie? As ek ’n lisensie vir my vuurwapen het, beteken dit ek weet hoe om dit te hanteer. Ek was in elk geval ook jare lank lid van ’n skyfskietklub.”
Haar sarkasme lok geen reaksie uit nie. Inteendeel! Daar is ’n uitdrukking van uiterste verveeldheid op sy gesig, terwyl Gerrie geamuseerd keel skoonmaak en in sy boekie skryf. Superintendent Johnson kyk baie belangstellend na sy skoene.
“Dis voorlopig al,” vervolg die kaptein. “Ek verstaan dat jy vir ’n paar dae hier sal bly, maar onthou asseblief om nie die dorp te verlaat sonder om my in te lig nie.”
“Ek weet. Superintendent Johnson het my al gesê,” antwoord Fransien.
“Mmm …” Hy wag dat sy voor hom by die deur uitstap. “Ek verstaan jy is die een wat vanoggend op die liggaam van een van julle oudonderwysers afgekom het? Dit moes ’n groot skok gewees het.”
“Ja, dit was.”
Jans frons agter haar rug oor die kortaf antwoord.
Hulle stap saam tot by die saal se ingang.
“Sal jy my weer vanaand nodig hê?” Fransien kyk vraend na hom.
“Nee, nie vanaand nie. Daar is nog ’n paar ander mense met wie ek moet gesels.”
“Gaaf, dan kan ek nou gaan slaap.”
“Goeienag, Fransien.”
Die stadige glimlag vang haar hierdie keer nie so onkant nie, al ervaar sy weer die valsensasie en die ligte bewing van haar ledemate.
Sy konsentreer daarop om haar gesig uitdrukkingloos te hou terwyl sy na Mitzi-hulle toe stap.
“En toe? Wat sê jy nou?” wil Mitzi dadelik weet.
“Waarvan?” hou Fransien haar onskuldig.
“Van hóm, man! Kaptein Jansen!”
“O, Jans,” kan sy die versoeking nie weerstaan om haar vriendin te terg nie. “Ek’s mal oor hom. Ek hou veral van die manier waarop hy met my praat, jy weet! Soos: Waar was jy, wat het jy daar gemaak, hoekom was jy daar, wie was nog daar?”
“Goed, goed,” kapituleer Mitzi. “Jy het jou punt gemaak. Dis seker moeilik om iemand wat jou ondervra oor ’n moord aantreklik te vind.”
“Net so, my liewe vriendin! Uiteindelik verstaan ons mekaar.” Fransien kyk op haar horlosie. “Sal julle my verskoon, asseblief? My gô is regtig uit.”
“Ons stap saam met jou. Vir al wat ons weet, is die moordenaar nog hier iewers. Jy moet jou deur gesluit hou en vir niemand oopmaak nie, hoor!” kloek Mitzi bekommerd. “Of miskien moet jy liewer by ons kom slaap.”
“Nonsens, niemand sal iets hier waag terwyl dit wemel van die polisie nie. Ek belowe ek sal vir niemand oopmaak nie – nie eens vir jou oulike speurder nie!”
By Fransien se chalet dring Daan daarop aan om eerste in te gaan en seker te maak dis veilig. Dan sê hulle nag.
Fransien sluit dadelik die deur agter hulle en maak seker dat al die gordyne deeglik toegetrek is. Die gedagte dat ’n moordenaar hier buite kan rondsluip, is grillerig.
Arme Chris … Sou hy besef het wat besig is om te gebeur, of was hy te ver heen? Het hy sy moordenaar gesien? Het hy hom dalk geken? Of was hy net op die verkeerde tyd op die verkeerde plek?
Minute later glip sy tussen die koel lakens in. Vanaand sien sy nie eens kans vir haar gebruiklike beker koffie nie. Sy het skaars die krag gehad om haar tande te borsel en haar grimering te verwyder. Haar middagslapie was ligjare gelede, of so voel dit vir haar.
Haar laaste gedagte is aan die eienaardige, sinkende gevoel wat sy kry elke keer as daardie vaalseun glimlag. Sy moet tog onthou om vir Mitzi daarvan te vertel. Of nee, liewer nie …
9
Teen haar verwagting in slaap Fransien soos ’n klip.
Soos gewoonlik raak sy teen dagbreek wakker. Sy lê nog ’n rukkie na die gekwetter van die voëls en luister. Dan jaag die koffielus haar uit die bed.
Die gebeure van die vorige dag voel nou soos ’n nare nagmerrie. In die sonlig, en met die vrolike voëlgesang in haar ore, lyk haar vrees vir ’n sluipende moordenaar ’n bietjie belaglik. Sy maak dadelik al die vensters en gordyne oop.
’n Klop aan die deur laat haar frons. Wie op aarde kan dit wees hierdie tyd van die oggend?
Gedagtig aan Mitzi en Daan se waarskuwings van die vorige aand loer sy eers wie dit is. Die vaalseun!
Ag nee, kreun sy innerlik. Net nie ’n ondervraging op my nugter maag nie! Ek het nog nie eens koffie gehad nie.
Gelate haak sy die veiligheidsketting los en sluit die deur oop.
“Môre. Jammer om so vroeg te pla …” begin Jans verskonend, ’n koppie in sy hand.
Dan herken hy haar en die lui glimlag verskyn stadig. “Ek is bly dit is darem nie ’n wildvreemde wat ek kom opklop het nie! Het jy dalk vir my ’n bietjie melk? Ek sterf vir ’n koppie koffie en daar is net plêstiekmelk in my chalet.”
Fransien begin nou al gewoond raak aan die snaakse gevoel wat dáárdie glimlag veroorsaak. Op die skielike droogheid in haar mond en die vreemde kortasem-gevoel is sy glad nie voorbereid nie.
Sy moet twee keer keel skoonmaak voor sy ’n woord kan uitkry. “Seker, ek kry gou vir jou.”
In die kombuis kyk sy skuldig na haar eie koffiebeker, voor sy die koppie vol melk maak en dit