Wilmari Jooste

Melodie Omnibus 2


Скачать книгу

rus nie, sal hulle oormoeg en moeilik wees. Ek kan dit nie aan arme Ouma doen nie!”

      “Ek weet nie of dit vertraagde skok of die dokter se ‘ligte’ kalmeerpilletjie is nie, maar ek kan nou self nie my oë oophou nie,” gaap Fransien. “Sal julle my verskoon as ek teruggaan oord toe? Dan kan ek self ’n slapie inkry voor ek met my mooimaaksessie begin.”

      “Mmm …” Mitzi bekyk haar krities. “Jy lyk vir my maar ’n bietjie uitgewas. Eet net eers ’n ietsie saam met ons.”

      “Ná alles wat ek by die saal geëet het? Jy speel seker!” protesteer Fransien. “Onthou, ek moet nog ’n plekkie bêre vir vanaand se groot eet ook.”

      “Ook waar! Skakel my sodra jy by die oord aankom. Ek wil weet jy’s veilig daar.”

      “Jaaa, Maaa!” spot Fransien.

      Maar sy kan sien Mitzi is regtig bekommerd oor haar en gee haar ’n waarderende drukkie voor sy ry.

      By die vakansieoord is daar ’n ander wag aan diens by die hek, maar hy verwelkom haar net so hartlik soos Sihle. Fransien sukkel om op die pad te konsentreer en is dankbaar toe sy langs haar chalet stilhou.

      Sy strompel na binne en trek net haar stewels uit voor sy op die bed neerval. Voor sy aan die slaap raak, bel sy vir Mitzi. Dan stel sy haar selfoon se wekker vir vyfuur.

      5

      Die geskril van die wekker maak Fransien wakker. Sy sukkel om haar oë oop te kry en tas blindelings op die bedkassie rond.

      “Hallo? Hallo?” beantwoord sy haar selfoon.

      Die lawaai hou nie op nie en die slaapnewels begin stadig lig. Sy sukkel om die rooi knoppie raak te druk, maar uiteindelik daal ’n salige stilte oor haar neer. Stadigaan kom sy tot haar sinne.

      “Ligte kalmeerpilletjie se voet, die goed skop soos ’n muil. Al wat nou gaan help, is koffie,” praat sy hardop met haarself.

      Nog effens slaapdronk gaan sit sy buite met haar koffie. ’n Ligte rilling trek deur haar toe die oggend se gebeure weer by haar opkom. Eintlik voel sy ’n bietjie verleë omdat sy die kluts so kwytgeraak het, maar dis seker te verstane. Dit was die eerste keer dat sy so direk met die dood kennis gemaak het. Dit sal waarskynlik nog lank by haar spook.

      Die dans begin om sewe-uur. Sy het oorgenoeg tyd om klaar te maak. Sy drink haar koffie tydsaam, voordat sy ’n bad vol warm water gaan tap en kwistig ’n paar hande vol badsout ingooi.

      Toe sy vir oulaas in die spieël kyk voor sy na die danssaal toe stap, voel sy tevrede. Haar rok is ’n uitsonderlike groen, met net ’n effense blou ondertoon. Dis ’n kleur wat haar besonder goed pas, net soos die snit van haar rok. Veterdun bandjies hou die korsetbostuk op sy plek, terwyl die syagtige materiaal wyer na onder uitklok.

      Sy het dit oorweeg om haar hare op te kam, maar het op die ou end besluit dat die bos krulle om haar gesig nie sleg lyk nie. Vir die aand het sy ’n bietjie meer grimering gebruik.

      Die danssaal is feestelik opgetooi en selfs in die tuin hang gekleurde lanterns. Daar is nog nie baie mense nie.

      Fransien benut die kans om haar naamkaartjie op die tafels te soek. Gelukkig sit sy by Mitzi-hulle aan tafel. Daan lyk groot en aantreklik in sy aandpak, en Mitzi fyn en elegant in ’n effens waaghalsige swart aandrok.

      “O, maar julle twee lyk mooi saam!” sê Fransien spontaan.

      By hulle tafel kyk Mitzi vinnig na die naamkaartjies. Sy vat ongemerk een en loop soekend deur die saal. Vier tafels verder kry sy wat sy soek. Sy kyk gou of iemand haar sien en ruil dan blitsvinnig die kaartjies om.

      Triomfantlik wys sy die naamkaartjie wat sy op die ander tafel gevat het vir Fransien. Dis Barnie Nel s’n. Ongeërg sit sy die kaartjie op hulle tafel neer.

      “So ja, nou sal jy kans kry om met hom te gesels. Beskou hom sommer as jou maat vir die aand, wat!”

      Met groot oë kyk Fransien haar vriendin aan. “Jy kan dit nie doen nie!”

      “Hoekom nie? Niemand sal dit eens agterkom nie, en ek is seker Barnie sal nie omgee nie. Daar is hy nou juis.” Met ’n wuif wink sy hom nader.

      “Barnie! Hier! Jy sit by ons.”

      Barnie Nel lyk goed in sy aandpak, dink Fransien. Gemaklik en vol selfvertroue stap hy na hulle tafel toe. Hier en daar stop hy om te groet of ’n woordjie met iemand te wissel. Die stil jong seun het werklik in ’n opvallende man verander.

      By hulle tafel stel Mitzi hom aan Daan voor. Met ’n glimlag omhels Barnie eers vir Mitzi en dan vir Fransien.

      “Mensig, maar dis lekker om julle te sien. Dis eintlik ’n skande dat ons nou eers by mekaar uitkom. En lyk julle nie wonderlik nie!”

      Met ’n verspotte buiginkie aanvaar Mitzi die kompliment. “Baie dankie! Jy lyk darem self ook nie te sleg nie, hoor.”

      Barnie vergas hulle op staaltjies oor die aandelemark, maar hy praat baie min oor sy persoonlike lewe. Fransien lag saam, maar daar is ’n vreemde, verlore gevoel diep in haar. Die maat vir wie sy kaalvoet deur die vuur sou stap, bestaan nie meer nie.

      Iets … iets aan Barnie krap aan haar. Daar is ’n soort leegheid in sy oë wat sy nie kan miskyk nie. Hy bly onrustig rondkyk, en kort-kort staan hy op om iemand te gaan groet.

      Toe Mitzi en Daan opstaan om te gaan dans, het hy nie veel vir Fransien te sê nie. Met vingers wat ongeduldig op die tafel trommel, sit hy net ’n minuut of wat voor hy weer eens verskoning maak en met iemand anders gaan gesels. Teleurstelling lê swaar in haar.

      Terug by die tafel ná ’n dans bied Daan aan om vir hulle drankies te gaan kry.

      Mitzi probeer haar koel waai met ’n spyskaart. “Dié Barnie het ’n oulike man geword, nè? Glad nie meer so stil nie!”

      Sy beduie met haar kop na waar Barnie met twee mans staan en gesels en beduie.

      Fransien deel nie haar entoesiasme nie. “Daar’s iets verkeerd met hom.”

      “Wat bedoel jy? Hy het verander, soos ons ook maar verander het.”

      “Nee, daar’s iets anders. As ek nie van beter geweet het nie, sou ek gedink het hy is hoog … Soos iemand wat dwelms gebruik, jy weet.”

      Nadenkend byt Mitzi op haar lip. “Dalk ís hy. Hy is nogal hiperaktief vanaand.”

      Fronsend skud Fransien haar kop. “Nee, dis iets anders. Barnie haat drank en dwelms soos die pes, omdat sy pa so gedrink het.”

      “Ag nee!” kreun hulle feitlik gelyk.

      Op pad terug na hulle tafel loop Barnie hom vas in ’n ooglopend dronk Chris de Wet. Hoewel hulle te ver is om te hoor wat gesê word, is die toneeltjie wat voor hulle afspeel alte bekend.

      Chris se houding is aanvallend, sy lag smalend. Barnie s’n, daarenteen, is amper apaties. Hy antwoord Chris nie, staan net stil en luister, voordat hy, soos tydens hulle skooljare, omdraai en wegstap. Maar vanaand is sy skouers nie geboë nie, sy houding nie verskonend nie. Met regop skouers en gemaklike treë stap hy na die uitgang. Al wat sy ontsteltenis verraai, is sy hande wat krampagtig oop en toe gaan.

      Siedend van woede spring Fransien op. Al weet sy nie wat Chris gesê het nie, is die herinneringe wat die toneeltjie by haar opgeroep het genoeg om haar tot die aanval te laat oorgaan.

      “Wat het jy vir hom gesê?”

      “Huh?” Chris is stom verbaas toe sy soos ’n furie voor hom kom staan. Sy oë sukkel om te fokus.

      “Ek vra: wat het jy vir Barnie gesê?” herhaal Fransien, haar stem gelaai met kwalik onderdrukte woede.

      Die man voor haar skud sy kop en knip-knip sy oë. Dan kom daar fokus in sy besope brein. ’n Idiotiese glimlag sprei oor sy gesig.

      “Ou Fransiena! Ons eie lessie! Dis wonner- … wonnerlik dat jy ons met jou teenwoo- … woordigheid vereer.