ys is gebreek en Fransien het kans gehad om tot verhaal te kom. Sy is dankbaar dat haar stem nie haar innerlike bewing weerspieël toe sy begin praat nie.
“Ek is Fransien de Swardt, en ek het ná matriek saam met my ouers stad toe getrek. Aanvanklik het ek by ’n prokureur gewerk, maar ek het mos hierdie geneigdheid om nie my mond te hou wanneer ek moet nie, soos op skool ook maar. Om moord in die prokureurskantoor te voorkom, het ek ses jaar gelede besluit om iets anders te probeer. Sommige van julle kan seker onthou dat ek houtwerk geneem het. Te danke aan die onbaatsugtige toewyding en onderrig van meneer De Lange, ons gewaardeerde houtwerkonderwyser, kon ek my eie meubelwinkel begin, en ek is dankbaar om te sê dat dit besonder goed gaan daarmee. Ek woon nog steeds in die stad, het my eie huis in ’n stil buurt en wonderlike bure, naamlik my eie pa en ma. Ongelukkig kon ek nog nie ’n man vastrek soos Mitzi nie, maar sy het belowe om my ’n paar wenke te gee!”
Hierdie keer gaan die toejuiging en gelag gepaard met ’n paar wolwefluite, wat Fransien bloedrooi laat bloos.
Mitzi hou haar duim in die lug, maar is nie heeltemal tevrede nie. “Vir wat sê jy nie jy is die eienaar van Ebony nie?” fluister sy verontwaardig.
“Moenie bekommerd wees nie, ek bêre dit vir later,” probeer Fransien haar kalmeer.
Maar Mitzi is steeds nie tevrede nie. “Hoekom?” hou sy koppig vol.
Fransien lag net. “Tessa is een van Ebony se kliënte,” is al wat sy bereid is om te sê, voor sy met haar vinger voor haar mond beduie dat hulle moet luister na die volgende spreker.
Snaaks dat ’n mens twaalf jaar op skool is en daar net ’n handjie vol mense is wat ’n impak op jou lewe maak in daardie tyd, mymer Fransien ná ’n ruk. Die sprekers wat sover na haar aan die beurt gekom het, was bekend, maar dis ook al. Sy het nooit na skool oor hulle gewonder of aan hulle gedink nie.
Effens verveeld begin sy rondkyk. ’n Ent van hulle af sit ’n paar onderwysers. Sy skrik effens toe sy in die houtwerkonderwyser se oë kyk.
Voor sy Mitzi se aandag kan trek, hoor sy haar onderlangs sê: “Sjoe, kyk vir Langes, dit lyk of hy jou wil doodkyk! Geen wonder nie, jy was darem lekker sarkasties oor sy sogenaamde toewyding en onderrig.”
“Ek moes dit seker nie gesê het nie, maar die versoeking was te groot. Hy het my lewe darem net te erg versuur op skool,” fluister Fransien terug.
Dan verhelder haar gesig toe die volgende spreker opstaan. “Jy’t nie vir my gesê Barnie gaan hier wees nie. Hy het dan altyd gesê hierdie plek sien hom nooit weer nie.”
Mitzi se oë is ook nou op die nuwe spreker. “Kan jy hom kwalik neem? Sy skooljare was nou nie juis ’n bed van rose nie. Hy het op die laaste nippertjie laat weet hy kom. Seker maar kom spog, soos jy. Sjuut nou!”
Barnie het verander – ten goede, dink Fransien. Die skraal, senuagtige seun met die seerkryoë is nou ’n aantreklike man met genoeg selfvertroue. Hy staan regop en praat gemaklik. Sy skouers is breed en sy pak klere is ooglopend spesiaal vir hom gemaak. Sy luister met belangstelling terwyl hy praat.
“Goeiedag, almal. Ek is Barnie Nel, en julle sal my onthou as die nerd van tien jaar gelede. Ná skool het ek in die bank gaan werk, ter wille van oorlewing. ’n Gawe bankbestuurder het my belangstelling in die aandelebeurs opgemerk en my ongemerk in daardie rigting begin stuur. Met die hulp van ’n paar ander gawe mense het ek daar ’n holte vir my voet gevind en die res is, soos hulle sê, geskiedenis. Die aandelebeurs het vir my ’n lieflike huis in ’n goeie buurt gegee, sorg dat ek altyd my droommotor kan ry en sit elke dag kos op my tafel. Die gawe bankbestuurder het selfs sy pragtige dogter aan my toevertrou. Sy kan ongelukkig nie vandag hier wees nie, maar ek verseker julle: ek het die mooiste vrou in die hele wêreld!”
Hy gaan sit onder applous en uitroepe soos “Bulperd!” en “Jis, ou Barnie!”
Dit voel vir Fransien of daar meteens skille van haar oë afval.
“Jy lyk snaaks. Wat is fout?” Mitzi lyk bekommerd.
Fransien praat saggies, half ingedagte. “Weet jy, Mitzi, ek het altyd geglo al die kinders by die skool haat vir my en Barnie. Jy was die enigste een wat ons nie getreiter het nie. Maar noudat ek terugdink, besef ek dat daar eintlik net twee treiteraars was, en die ander was te bang om hulle teë te gaan. Hulle het net saamgespeel as hulle nie anders kon nie. Maar daardie twee het ons lewens elke dag vergal, tot dit vir ons gevoel het die hele wêreld is teen ons. Kyk net die reaksie op ons toesprake noudat daardie twee nie meer invloed op die ander het nie. Twee bedorwe brokkies het ons sorgvrye kinderjare gesteel. En ons het dit toegelaat!”
Mitzi knik begrypend. “Tessa en Chris. En praat van die duiwel, nè?”
Die persoon tans aan die woord is Chris de Wet. Ooglopend ryk, aantreklik en baie vol van homself. Die humor wat by die meeste ander deurgekom het, ontbreek by hom totaal. Hy lees van ’n kaartjie af en vertel langdradig van al die grade wat hy behaal het, belangrike poste wat hy al beklee het, merietetoekennings wat hy ontvang het en groot maatskappye wat tevergeefs probeer om sy gesogte dienste te bekom.
Fransien se gedagtes begin dwaal. Sy sit regop toe dit lyk of hy klaar is met sy toespraak, maar hy vat net ’n nuwe kaartjie en gaan voort: “Dan is daar nog my sportprestasies.”
Mitzi rol haar oë en Fransien is dik van die lag toe ’n hele paar ander mense dit ook doen.
Toe Chris gaan sit ná sy relaas, merk iemand half spottend op: “Dis duidelik dat hy nie tyd gehad het om te trou ook nog nie.”
Chris word bloedrooi toe hy besef dat hy nie sy vrou of kinders genoem het soos die ander nie. Maar die volgende spreker staan op en die geleentheid om dit reg te stel is verby.
“Is hy getroud?” vis Fransien uit.
Mitzi knik. “Ja. Oulike vroutjie, maar hy oordonder haar totaal. Ek is nie verbaas dat sy nie hier is nie. Onse Chris het ’n dwalende oog en twee dwalende hande en haar teenwoordigheid sal sy pret ’n bietjie bederf. Ek hoor sy het senuweeprobleme, gaan blykbaar omtrent nêrens nie. Sjuut, dis Tessa se beurt. Dit behoort interessant te wees!”
Teen alle verwagting in is Tessa se toesprakie kort en feitlik geheel en al toegespits op haar koffiewinkel.
Toe sy gaan sit, kreukel Mitzi haar neusie verontwaardig.
“Dank jou die duiwel vir die gratis reklame! Hier sit ek die hele tyd gretig en wag om ’n paar sappige brokkies oor haar verlede te hoor, en al waaroor sy tekere gaan, is haar koffiewinkel.”
Fransien sukkel om haar lag te bedwing en Daan skud sy kop gemaak moedeloos.
“Wat moet ek met dié vrou van my maak? Was sy op skool ook so?”
Fransien skud haar kop sedig. “Nie naastenby nie. Dit moet die getroude lewe wees wat haar so laat ontaard het.”
Daan staar haar ongelowig aan.
Fransien probeer haar gesig ernstig plooi, maar gee gou die stryd gewonne. “Maar ek lieg!” erken sy uiteindelik laggend.
Daan lag maar verleë saam. “Dit help nie eens ek kla by jou nie. Julle twee is ewe erg! Die arme onderwysers wat vir julle moes skoolhou, is seker almal spierwit grys.”
Fransien en Mitzi kyk al twee outomaties na die tafel waar Ferdie de Lange sit.
“Nie almal nie, party het sommer heeltemal bles geword,” spot Fransien sinies.
Mitzi grinnik. “Jy het darem vir Langes lekker gekap. Ek sal graag sy gesig wil sien as hy hoor jy is die eienaar van Ebony!”
Daan frons onbegrypend. “Hoe het jy hom gekap? Jy het hom dan net bedank vir sy onderrig. Hy sal seker baie trots wees dat een van sy leerlinge so goed doen.”
Mitzi kyk vraend na Fransien. “Kan ek hom maar vertel?”
Kamma ongeërg trek Fransien haar skouers op, maar haar kakebene bult soos sy op haar tande byt. “Jy kan net sowel. Dit sal in elk geval binnekort die hoofonderwerp van bespreking wees.”