Wilmari Jooste

Melodie Omnibus 2


Скачать книгу

houtwerk geneem het op skool. In daardie dae was dit nogal ongehoord vir ’n meisie, veral hier. Langes … meneer De Lange het geweldig daarteen geskop om ’n meisie in sy houtwerkklas te hê, maar dit het hom niks gehelp nie. Sy volgende opsie was om die klasse vir haar só onaangenaam te maak dat sy self sou besluit om dit te los. Dit het ook nie gewerk nie, want sy kan nogal koppig wees.”

      Fransien glimlag skeef. “Dit was darem nie net koppigheid nie. Ek was werklik mal daaroor om met hout te werk.”

      Mitzi knik instemmend. “Dis waar. Sy het van kleins af met houtjies en stokkies speel en het goed daarmee probeer maak. In elk geval, daar het gerugte begin ontstaan dat Fransien mannetjiesagtig is, want Langes het haar ‘die lessie’ genoem in die klas. Een of twee kinders was gemeen genoeg om die storie verder te voer, en hulle het haar lewe hel gemaak.”

      Daan staar Fransien ongelowig aan. “Ek kan dit nie glo nie! Magtig, jy is so vroulik as kan kom. Enigiemand wat jou as mannetjiesagtig beskou, moet sy kop laat lees.”

      Lagplooitjies verskyn om haar oë toe Fransien erkentlik in sy rigting knik. “Baie dankie, waarde heer. Dis vir my ’n riem onder die hart om dit te hoor.”

      Mitzi gluur kwaai na hulle, maar die lag lê vlak in haar stem. “Vir julle twee gaan ek dophou! Watse flankeerdery is dit hier reg onder my oë?”

      Fransien versober vinnig. “Mitzi, het jy nog ons matriekafskeidvideo?”

      “Jy weet mos ek is sentimenteel. Dis tussen ’n klomp gemors wat ek nie oor my hart kan kry om weg te gooi nie.”

      “Wys dit vir Daan, dan sal hy beter verstaan.”

      Fransien kyk na Daan. “Ek het baie verander. Op skool het ek soos ’n strykplank gelyk. Omdat Tessa altyd haar mond vol gehad het oor my krulle, het ek my hare kort afgesny voor dit kon krul. Sommer self, want ons was bitter arm en daar was nie geld vir ’n haarsalon nie. Boonop het ek nie rokke gedra nie, net seunsbroeke wat my ma by ’n niggie of iemand present gekry en verstel het. Die Fransien wat jy hier sien, het nie op skool bestaan nie. Ek was Ou Fransiena, Siena, Kroesie of Lessie – afhangend van wie my aangespreek het.”

      Die Ken-mekaar is lankal verby en oral staan groepies mense en gesels.

      “Genoeg hiervan, kom ons meng ’n bietjie,” besluit Fransien. “Ek is besig om myself in die verdrietigheid in te praat, soos my ma altyd sê.”

      Sy staan op, en gevolg deur Daan en Mitzi beweeg sy doelgerig na die groepie waar Tessa staan en gesels. Sy beland langs Bets, wat sy onthou as ’n uitstekende netbalspeler. Sy begin belangstellend met haar gesels asof sy nie bewus is van Tessa se blik op haar nie.

      Bets is net besig om te vertel van die sportwinkel wat sy en haar man wil begin, toe Tessa langs hulle praat.

      “Dis darem lekker om weer ou vriende raak te loop! Hallo, Bets. En hier is Fransiena ook! Ek moet sê, ek het nie verwag om jóú hier raak te loop nie.”

      Kamma verbaas kyk Fransien na haar. “Skuus, Tessa, praat jy met my?”

      Tessa gooi haar hare ongeduldig na agter. “Met wie anders?”

      Die ou woede en vernedering roer diep in Fransien, maar sy kyk Tessa vas in die oë. Haar stemtoon is koel toe sy sê: “Wel, my naam is Fransien – of Fransie, as Fransien te moeilik is. Ek antwoord nie op ander name nie.”

      “Oeps! So saam met die nuwe voorkoms het jy sommer ’n nuwe naam ook gekry! Is die oue nie meer goed genoeg nie?” Tessa se stem is neerhalend.

      “My naam was nog altyd Fransien, en ek sal dit waardeer as jy dit sal onthou.” Fransien se stem bly sag en egalig en daar is selfs ’n effense glimlag om haar mond, maar haar oë het yskoud geword.

      Stroopsoet stel sy die strik vir Tessa.

      “Ek was vroeër in jou koffiewinkel. Regtig ’n oulike plekkie wat jy het. Miskien moet ek my kaartjie vir jou gee. Ek maak mos houtartikels. Miskien stel jy belang om van my werk uit te stal?”

      ’n Smalende glimlaggie kom lê om Tessa se mond. “Dankie, maar ek glo nie my kliënte sal in jou houtgoedjies belang stel nie. Ek stal net Ebony se werk in my plek uit. Dis baie eksklusief, jy het seker al van hulle gehoor?”

      Dikvellig hou Fransien aan: “Ag, jy het nog nie eens my goedjies gesien nie. Wag, hier’s my kaartjie!”

      Triomfantlik haal sy ’n kaartjie uit haar handsak en hou dit op. Die smaakvolle swart kaartjie met goue drukwerk word oorheers deur ’n swierige hoofletter E – Ebony se kenteken.

      Dis skielik so stil jy kan ’n speld hoor val.

      Meteens roep ’n opgewonde stem: “Ebony! Julle ouens, Fransien werk by Ebony!”

      Dit klink of almal gelyk begin praat, maar dan is Mitzi se stem duidelik hoorbaar bokant die skielike stemmegedruis: “Nee, sy werk nie vir Ebony nie, sy ís Ebony. Fransien is die eienaar van Ebony.”

      Uitdagend kyk Fransien in Tessa se oë. Vandag is die bordjies verhang, dink sy. Hierdie oomblik vergoed vir baie van die vernederings wat ek in my skooljare moes verduur.

      Tessa word rooi, maar sy hou sonder om te aarsel haar hand uit vir die kaartjie.

      “Dankie, dit verander die situasie natuurlik heeltemal. Ek sal jou beslis kontak.”

      Die harde blik in haar oë sê egter dat sy nie so maklik die aftog gaan blaas nie.

      Sy lees die naam op die kaartjie hardop: “Mmm … Fransien de Swardt? So, jy is toe nooit getroud nie. Jy sal seker maar altyd ’n alleenloper bly, nè?”

      Die woorde klink onskuldig, maar Fransien weet dis ’n subtiele verwysing na haar gewaande seksuele voorkeur.

      Sy voel hoe rooiwarm woede in haar opstaan, maar haar glimlag word net breër en haar stem vriendeliker. Twee kan hierdie speletjie speel!

      “Jy is reg, Tessa. Ek is ook ’n alleenloper soos jy, maar uit eie, vrye keuse. Ek is darem nie van plan om een te bly nie. Wanneer ek die dag ’n man ontmoet wat my knieë lam maak, sleep ek hom onmiddellik kansel toe, en ek maak seker dat hy nooit weer loskom nie.”

      Die wind is uit Tessa se seile en dis duidelik dat sy nie weet wat om te antwoord nie. Sy het twee egskeidings op haar kerfstok en almal hier weet dit.

      “Dis so lekker om met julle te gesels, maar nou moet julle my verskoon, asseblief,” sê Tessa vinnig. “Ek moet gaan kyk wat gaan in die kombuis aan.”

      Fransien kyk haar ’n oomblik agterna voordat sy weer aan die geselskap rondom haar begin deelneem. Werktuiglik lag en gesels sy, al voel sy nie werklik daarna nie.

      Ná ’n rukkie maak sy haar doelbewus los uit die groep. Haar blik soek na Barnie, maar hy is nêrens te sien nie. Sy trek saggies aan Mitzi se mou.

      “Mitzi, waar is Barnie? Ek wil so graag ’n bietjie met hom gesels.”

      Mizi se oë dwaal deur die saal. “Ek sien hom nie nou nie. Kom gou saam met my, ek wil gaan kyk of die tweeling hulle nog gedra. Dalk kry ons vir Barnie langs die pad. Of miskien is hy al hier as ons terugkom.”

      Hulle stap die ent na die gradeklasse toe al op die stoepe langs.

      “Hier lê baie herinneringe,” mymer Fransien. “Maar ek is bly daardie tyd lê agter my.”

      Mitzi klik haar tong simpatiek. “Ja, my ou maat, veral vir jou was dit nie aldag maklik nie. En vir Barnie.”

      “Ek was altyd so jammer vir Barnie. Dis goed om te sien hy het nie letsels oorgehou nie.”

      “Hoekom? Jy was altyd so beskermend teenoor hom, maar julle was feitlik in dieselfde bootjie. Ek dink jy is selfs meer as hy geteiter.”

      Fransien sug. “Ek weet, maar ek kon dit nie help nie. Miskien omdat ek liefde by die huis gekry het, al was daar nie veel aardse goedere nie. Arme Barnie se huis was nooit vir hom ’n toevlugsoord nie. Geen kind behoort deur te maak wat hy as kind deurgemaak het nie. Weet jy, ek het