het net ’n rukkie daar gesit.”
Hy kyk fronsend op. “In die donker? Alleen?”
Fransien moet keel skoonmaak voor sy hom antwoord. “Ek was … ontsteld; ek wou ’n rukkie alleen wees. My sleutel was nog in die saal, toe sit ek maar op die stoep.”
Superintendent Johnson kyk lank na haar voor hy weer praat.
“Was u ontsteltenis as gevolg van die voorval met meneer Chris de Wet? Ek verstaan daar was ’n struweling tussen julle?”
Fransien sug gelate. “’n Mens kan dit seker so noem. Eintlik het ek hom geklap dat hy sterre sien. Hy was onder die invloed van drank en het … vatterig en familiêr geraak.”
Vir die eerste keer is daar ’n duikie in die man oorkant haar se professionaliteit. Daar is ’n effense glimlag in sy oë toe hy opkyk en droogweg opmerk: “Wel, as man kan ek dit nogal verstaan. Dat hy vatterig geraak het, bedoel ek. Nie dat ek dit enigsins goedkeur nie, hoor!”
Hy kug voordat hy verder praat. “Is dit al? U het hom geklap … en toe?”
“Ek het gesê ek sal hom doodmaak as hy weer aan my raak.”
Daar is geen verbasing op Tony Johnson se gesig nie. Dis duidelik dat die hele voorval tussen haar en Chris alreeds aan hom oorgedra is.
“Was dit u presiese woorde?”
“Ek weet nie. Wag …” Sy dink ’n paar oomblikke na. “Ek het gesê …” Met toe oë en ’n fronsie sê sy dan nadruklik: “As jy ooit weer jou pote op my sit, maak ek jou met my kaal hande vrek.”
“Ek sien.” Hy maak weer ’n aantekening. “En toe?”
“Toe is ek buitentoe. Ek het nie kans gesien om terug te gaan saal toe nie. By my chalet het ek besef ek het nie my sleutel nie. Omdat ek nog baie omgekrap was, het ek maar vir ’n rukkie op die stoep bly sit.”
“Mmm … Weet jy hoe lank jy daar gesit het?”
“Omtrent twintig minute. Ek het op my horlosie gekyk voordat ek teruggestap het.”
“Nog net een ding. Besit u ’n vuurwapen?”
“Ja.”
“Waar is dit op die oomblik?”
“Ek het dit ingegee toe ek hier ingeboek het. Dit moet in die kluis wees.”
Die superintendent staan op. “Dankie, juffrou De Swardt. Dit sal voorlopig al wees. U moet asseblief nie die omgewing verlaat sonder om ons in kennis te stel nie.”
Fransien staan ook op. “Ek het in elk geval beplan om ’n paar dae hier deur te bring. My plek is bespreek tot volgende Sondag.”
“Gaaf. Teen daardie tyd behoort die ondersoek darem hopelik al afgehandel te wees.”
Hulle stap saam na die saal, waar Mitzi en Daan angstig sit en wag.
Een van die ander polisiemanne kom haastig nader en praat opgewonde met superintendent Johnson, voor hulle saam by die deur uitstap.
“Wat sê hy?” wil Mitzi onmiddellik weet.
“Hy sê nie, ou Mitz, hy vrá. En ék moet sê,” verklaar Fransien lakoniek. “Hy was baie professioneel, maar nie onaangenaam nie. Hy sê daar is ’n ou van Moord-en-roof op pad hierheen. Dié gaan glo eintlik die saak hanteer.”
“Sjoe, dis vinnig!” Mitzi klink verbaas.
“Geld praat, my vrou. Geld praat hard!” Daan klink sinies.
Die twee vrouens kyk verbaas na hom. “Wat laat jou so sê, Daan?” reageer Mitzi eerste.
“Die mense praat. Julle vriend Chris se pappie het blykbaar een of twee vriende hoog op wat toutjies trek – ouens wat gereeld saam met hom gaan jag op sy Bosveldplaas.”
Fransien en Mitzi kyk veelbetekenend na mekaar.
“Soos al die jare nog. Chris kon doen net wat hy wil, want wanneer daar moeilikheid was, het oom Johan ’n paar toutjies getrek, of ’n paar knoppies gedruk, en hy het skotvry daarvan afgekom,” lig Fransien vir Daan in.
Mitzi leun vertroulik na Daan toe. “Wat het jy nog gehoor, ou grote? As die mense so baie praat, is daar seker ’n paar teorieë oor sy dood ook?”
“Nogal, ja.”
“Vertel, toe!”
“Wel, Chris se besighede was blykbaar nie so winsgewend as wat hy voorgegee het nie. Hy het ’n ander bron van inkomste gehad.”
“Wat? Moenie dat ek alles uit jou moet trek nie, my man!” raak Mitzi ongeduldig.
“Klippies. Blink klippies!”
Mitzi trek haar asem geskok in. “Jy jok!”
“Die algemene mening hier is dat Chris se onwettige betrokkenheid by diamante die oorsaak van sy dood is. Sy tong was ook te los wanneer hy gedrink het, en sommige mense reken hy is ‘stilgemaak’.”
Dit voel asof ’n reusegewig van Fransien se skouers afval by die besef dat sy nie verdink word nie.
“Hoekom ondervra die polisie dan ons reüniegangers? Soos vir Fransien?” dring Mitzi steeds aan.
“Dis normale prosedure by ’n moordsaak. Almal wat nie ’n alibi vir daardie tyd het nie, of wat inligting kan hê, sal ondervra word,” verduidelik Daan geduldig.
“Wat van die sekuriteitswagte? Hulle hou mos ’n lys van almal wat inkom. Sal dit nie help met die ondersoek nie? Sover ek kon sien, is die hele plek baie goed omhein. ’n Mens kan net by die hek inkom,” onthou Fransien skielik.
“Die polisie is reeds besig om hulle lys deur te gaan. Die probleem is by die rivier. Pieter Brink sê daar is nie ’n heining aan die rivier se kant nie, die rivier self is die grens van die oord. As iemand desperaat genoeg is, keer ’n rivier hom nie. Dis maklik genoeg om met ’n roeiboot oor te kom,” gooi Daan koue water op haar idee.
Superintendent Johnson het intussen weer die saal binnegekom. Hy stap vorentoe en maak hard keel skoon, bewus van almal se oë op hom. Iemand bied hom ’n mikrofoon aan en hy aanvaar dit effens verleë.
“Kan ek asseblief u aandag kry?”
Die stemmegedruis raak stil.
“Kaptein Jansen van Moord-en-roof behoort oor ’n uur of wat hier te wees. Hy sal die ondersoek lei. Intussen versoek ek dat niemand die perseel verlaat nie. Hoewel u onder die omstandighede nie met die beplande verrigtinge sal wil voortgaan nie, verhoed niks u om intussen te eet nie. U samewerking word waardeer.”
Mitzi spring op. “Dat die polisie my nou aan my pligte moet herinner! Hy is doodreg, die kos is reg en die mense is honger. Ek gaan net gou met die kombuis reël.”
Binne vyf minute is sy terug. Op haar hakke volg die kelners, wat dadelik bestellings begin neem.
Kort voor lank het die atmosfeer in die saal heeltemal verander. Die beligting is gedemp en ’n sagte gemurmel van stemme is hoorbaar bokant die dowwe geklink van eetgerei. Afgesien van die feit dat die moord op Chris de Wet by feitlik al die tafels onder bespreking is, kon dit net sowel ’n doodgewone dinee gewees het.
“Die mens is ’n aanpasbare dier,” kom dit ingedagte van Fransien. “Twee gesinne het vandag dierbares verloor. Vir hulle sal die lewe nooit weer dieselfde wees nie. Maar die meeste mense hier is net bang dat die moordenaar nog in die rondte is. Niemand is regtig hartseer nie – en dis die hartseerste van alles.”
Mitzi knik. “Ja-nee, my ou maat. Die lewe gaan aan. ’n Mens moet soms drafstap om by te hou, want hy wag vir niemand nie.”
“My filosofiese vrou!” kom dit teer van Daan.
Mitzi vat sy hand oor die tafel. Vir ’n oomblik ontmoet hulle oë, en dit lyk of hulle van die mense om hulle se bestaan vergeet.
Fransien