voor hom gebly nie, en gelyk of sy hom uitnooi om haar aan te hou volg. Die padda het met verdubbelde ywer gesing sodat sy stem nog skorrer geword het.
Ten slotte was hy so uitgeput dat hy op ’n waterlelieblaar moes uitklim. Hy had groot behoefte om homself te troos, maar omdat hy langsaam en log in die hoof was, kon hy alleen begin filosofeer op die wyse eie aan paddas. Nou toe nou! het hy homself wysgemaak, dit kom my voor dat die maan nogal onverstaanbaar is. Sy hardloop weg as ek naderkom. Miskien is dit moontlik dat sy ’n rede daarvoor het. En hy het sy agterpoot gelig om te krap agter die vrat wat hom in oomblikke van spreekwoordelike verwarring as oor gedien het.
Terselfdertyd het hy sy eie weerspieëling in die water langs hom bemerk. Vergeleke met dié van die maan was dit ’n lasterlike beeld ontsier deur boggels en skubbe.
Hoe afstootlik! het die arme padda gedink, en in die water ingekrabbel om in haas en skaamte weg te swem na ’n donker hoek.
Maar na hy ’n klein afstandjie geswem het en omdraai om ’n laaste pynlike blik van vaarwel te gee, was hy eers beangs en toe verheug om te sien dat die maan nou besig is om hom te volg.
Hy het opgehou met swem, bewend met die gedagte: Dis moontlik dat sy my tog lief het. Miskien is ek mooier as wat ek lyk.
Hy het sy pote saggies beweeg, wagtend. Die maan het ook gewag. Die padda het sy groot mond liefderik verwring, maar hoewel die maan stralend geglim het, het sy stil en roerloos gebly.
Hierop het die padda spelonkig geglimlag, vol van ’n minnaar se wyse begrype, en saggies vorentoe beweeg. Die maan het agteruit geskuif. ’n Waansinnige agtervolging het begin totdat die padda heeltemal uitgeput moes uitkruip op die oewer waar die modder koel en sag teen sy wreed-skoppende bors was. Toe hy sy oë eindelik weer uitpeul, het hy die maan van die waterkant teen hom sien glimlag, skaars een sprong ver.
“Ek verstaan nie,” het die arme padda gekreun, “ek is ’n eenvoudige siel, ek verstaan nie.”
En terwyl hy sy beminde met ’n jammerlike stemtoon aanspreek, het hy gevra:
“Waarom vlug jy as ek naderkom, en volg jy as ek vlug?”
Die maan het bly swyg. Alhoewel getrou aan die aarde en die poel van die padda, is sy van ’n ster gemaak en kan sy haarself nie verduidelik nie.
“Dit lyk my die lewe’s ’n lastige affêre vandat ek minnaar geword het,” het die padda aan homself gesê. “Wie weet of dit nie beter sal wees as ek gaan wegkruip waar ek haar nie meer kan sien nie?”
En terwyl sy hart voel of dit kan breek, het hy homself in die water gewerp en diep in die modder ingevroetel tot op die bodem van die poel waar hy kon nadink in die vrede van algehele en min-eisende duisternis.
Na ’n tydjie was die padda gedwing om terug te keer na die oppervlak, belaai met ’n paar meer vratte. Weer eens het die sien van die maan waar sy silwer en lieflik op die water drywe, sy hart verlei om met woeste en nuttelose waansin teen sy ribbekas te skop. Hy moes terugvlug na die modder. Maar nie eens die heel lelikste padda kan uitsluitlik op die bodem van duisternis lewe nie, hy moes weer terugkeer.
Nou toe nou! het hy gedink. Dis selfs moeilik om ’n padda te wees!
In wanhoop het die padda oplaas sy oë gesluit.
“Ek sien niks nie!” het hy verbaas gesê, terwyl hy vir die eerste keer in sy lewe ’n ware woord kwaak. Toe het hy homself meer versekerd wysgemaak:
“Maar ja! Die maan is ’n illusie wat vir haar bestaan van my oë afhang. Kyk, kyk net, dis duidelik dat ek nou niks sien nie!”
Van daardie dag af was die padda weer ’n vrye padda, onderhewig alleen aan chroniese hoofpyn. Naderhand het hy bedrewe in wyse streke geword, en het hy dit geniet om die maan vol in die gesig te kyk en hees te kwaak:
“Die maan is ’n illusie!”
4/’50
’n Vlermuis in die park
Die ondergaande son verguld die bome van die park en glimlag ’n laaste keer teen die meer se swane en grotte. Op die openbare banke begin die ou here hul koerante en die ou dames hul breiwerk vou om sedig na die versierde ysterhekke van die aandmaal te wandel. ’n Groepie kinders hou aan met speel in ’n sandgat. Hul hoekie lê af van die gruispaadjies, weggesteek agter ’n prieel rankrose wat goud en oranje in die skuins son gloei. Die prieel is ’n halfmaan lig en kleur wat so dralend huiwer om uit te doof, dat baie getroue beloftes wagstaan oor die kinders se spel: die reënboog aan die hemel, die hartstogtelike Kersfeesboom, die dag ewigdurend nuut gebore.
Plegtig en stil speel die kinders. Hul speletjie bestaan net uit rondvroetel in die sand, maar onder hul vingertoppe floreer kastele en reise, en die druiwekorrels van hul oë weerspieël geen ander visioen as dié van die oomblik se glansende kom en gaan. Vir hulle sal kindermeide en aandhonger onregverdig soos paaiboelies verrys uit ’n wêreld wat ’n vingerspoor in sand moes gebly het.
Skielik stoot ’n vlermuisagtige kop na vore deur die rose, en verskyn ’n ou vrou wat haar arms verontwaardig flap terwyl haar swart doodskleed van ’n rok rondruk bo haar afgesakte kouse.
“Pieter! Pieter!” skree sy. “Hoe durf jy! Stoute klein duiwel! Jy wéét jy moet huis toe kom!”
En terwyl sy naderkom en haar dun nek rek soos ’n pluimveedier met slangagtige bedoelings, mompel sy dreigemente teen een van die kinders.
By die sandgat kruip ’n seuntjie van vier jaar haastig terug oor die heuwel sand. Die ander kinders hou op met speel, en kyk sonder ’n woord of beweging. Die ou vrou hardloop om die sandgat en gryp na die seuntjie. Maar hy krabbel weg op die sand, skoppend en huilend. Spoeg spat uit die ou vrou se mond, en onbewus van die skouspel wat haar onderklere aanbied, klou sy haar pad op agter hom aan. Terwyl sy hom afsleep, probeer die seuntjie vergeefs aan die sementrand klou.
“Ek wil nog speel,” snik hy, “ek wil nog speel.”
Die ou vrou ruk hom op sy bene en bring haar blouige lippe naby sy gesig om ’n stroom onsamehangende verwyte en speekseldruppels oor hom uit te reën. Al die tyd sit die ander kinders, nog ’n seuntjie en drie klein meisies met helder rokkies, en toekyk; hulle oë sien alles raak, sonder uitdrukking.
Toe sy klaar is met hom en links en regs klap om die sand uit sy klere te kry, sleep die ou vrou die snikkende seuntjie weg.
Onder die prieel waar die laaste glanse van die son onmerkbaar op die boog donkerende blare vervaag, ruk sy hom skielik ruweg om en wys na die vier klein regters in die sand.
“Kyk!” skree sy, haar arm bewend in selfregverdiging gehef.
“Kyk! Skaam jy jou nie? Kyk, hulle kyk na jou. Hulle sien jou!”
Dan sleep sy hom weg in die aand.
5/’50
La promenade en chien
In die môre ontwaak Madame en besef haar bui vir die dag. As sy uit haar bed opstaan, weet sy presies watter kleed by watter hond sal moet pas. Want Madame het ’n kleed vir elke stemming en, natuurlik, ewe veel verskillende honde.
Soms dra sy die wit gaas wat haar net so hoogmoedig en skraal op haar hoë hakke laat wieg as die wit Borzoi wat homself verwerdig om sy syige koppelriem vooraf te gaan; op ander dae ’n wakker swart-en-wit geruite kostuum om by die foksterriër te pas; en soms ook die gewaagde swart affêre wat haar ’n tergende aand-houding gee, en haar net so verruklik verspot laat lyk as haar Franse poedel met sy vietse lyfie kaalgeskeer in onverwagte plekke.
Wanneer Madame aldus in voortreflike harmonie met haar hond aan sy riem deur die strate wandel, dink die verbygangers dat Madame haar toilet gekies het om by haar hond te pas. Maar die teenoorgestelde is ook waar.
Natuurlik het Madame meer om te doen as net bloot onberispelik te wandel, maar dié feit word beswaarlik vermoed in die groot saal van die honde. Daar wag elke hond kwynend in die donker van sy hok op die ylhoofdige wandeling. Daarvoor alleen bestaan elke hond.