eet en vat ’n sluk Coke, houtgerus, asof jy weet jou bus kom eers veel later.
Op soek na die Moleko’s se huis in Eenheid D klim jy in jou eie motor.
Verby hek nommer 1 van die hoogomheinde polisiekollege met daarnaas die klein kantoortjie – ’n lang ry strak beestonge onder die jakarandas van die oprit waar alles dalk begin het.
By die polisiestasie – onmoontlik om dit ook mis te ry – verneem jy hoe om by die nabygeleë hospitaal te kom.
“Die Jubilee?” Die konstabel is van oor tot oor die ene vriendelikheid. Hy’s ’n middeljarige man en beduie oor die dienskantoor – platdak, siersteen – deur die dor jakarandaboom na waar die hospitaal moet wees. (Hy ken tog sekerlik ook die naam sersant Moleko, en sy vrou ook? Maar moet liewer nie vra nie, dis nog maar Augustus 1988. Die dossier nog nie gesluit nie.)
Klim liewer in jou kar en ry, vra eerder op ’n ander plek uit, voor jy onverwags hier agter jou “Haai, jy!” hoor en die skrywer verskrik laat wonder wie sy aandag wil trek.
“Jou laaste hoofstuk het na my smaak te veel nuwe karakters, ek kan nie glo wat jy alles kry uit Craig Byron se lêers nie,” het die uitgewer die vorige aand gesê toe hy hoofstuk 5 aan die skrywer teruggee. “Nogal daarmee gesukkel, lyk my jy wil ou Russiese romans naboots.”
Zondi, Tsepo en Temba, dís natuurlik waarna hy verwys. Want Nkosi behoort hy te onthou van die Johannesburg-dae, dis net sy mooi vrou, Nuni, wat bygekom het.
“Van Mxenge weet ek uit koerante, natuurlik. Jy wil my tog nie wysmaak jou man, wat’s sy naam nou weer? het ook daarmee iets te doen nie. Tolstoi, aan die ander kant …”
Hy het die uitgewer nie kans gegee om verder te praat nie. “Zondi is ’n jong, gepolitiseerde swartman in die Congress-tradisie. Hou hom maar gerus dop, hy wil ’n soort politieke gewete vir die hoofkarakter wees, hy sal die polisieman nog baie irriteer, hy moet dinge sê wat ’n polisieman dadelik op sy verdediging stel.
“Dan is daar Tsepo Makoko,” en die skrywer dink, hel dis goed dat ek hieroor gepraat het, want nou sien ek self baie helder die karakters se eintlike funksie. “Tsepo is in sekere sin ’n herhaling van Tumelo John. Jy sal nog sien, hy gaan in ’n soortgelyke dilemma as die hoofkarakter beland, ’n radikale keuse sal hom geensins afskrik nie, soos ou Bart Nel is hy bereid om die pad tot by sy einde te loop, al is dit alleen.
“En dan het ons Temba, die oud-Zimbabwiër, vol sorgvrye selfversekering. Jy kan hom seker ook lees as ’n soort ontvlugting. Daardie besoek van Tumelo John aan Zimbabwe in Julie ’82 was nie iets om te vergeet nie. Dis hoekom hy die houtbeeld gekoop het, daardie middag met die beeste wat stadig terugkom oor die vloedvlakte, ongestoord fyn-fyn stof in wolkies om hulle lostrap en ver aan die oorkant in Mosambiek ’n dynserigheid van langdurige veldbrande. Temba is self ’n heel bedrewe fotograaf, hy is die een wat Moleko geleer het van collage-foto’s: hy neem jou af en as jy jou portret kry, sien jy jou gesig is in die wolke of op ’n R10-noot. Die meeste klante het natuurlik nie veel sin daarin gehad nie, dit was meer grappies wat hulle op ’n weeksaand bedink het as Tumelo John nie lus was vir studeer nie.”
Die skrywer ry deur ’n tipies voorstedelike buurt, die nuutste (tweeslaapkamer-) huise met teëldakke, die oueres het IBR-plate. En hoekerwe moet gesog wees, hulle is veel groter met soms swierige wonings. I ♥ Unit D teen die muur van ’n beskeie plekkie (kinders voor die deur).
Die skrywer maak ’n U-draai om weer by Tumelo John se huis verby te ry. Dis dan hoe dit lyk: boom voor huis, ’n den, ’n bewys dat hier vantevore ander mense gewoon het, lank voor dié nuwe buurt uitgelê is, die boom is te oud vir sy omgewing, hoe het dáárdie huis gelyk en hoe het hulle gelewe, beter as ons? My God, kyk, teen die draadheining blom die ploegbrekers!
Op die hoek hou hy stil en voor hy weer ’n U-draai maak, teken hy in sy notaboekie aan: ploegbrekers blom.
HUIS (skuins op reghoekige erf)
sement-
paadjie
droë gras
boom
hek
ry ploegbrekers
straatlig
Ek sal moet opskud, besluit die skrywer, anders is ek laat vir my afspraak met Temba by die apteek oorkant Checkers. Hy probeer hom voorstel hoe die huis van binne moet lyk (agter daardie voordeur met sy loergaatjie op skouerhoogte om te weet vir wie jy die deur oopmaak) en dit val hom by van ’n foto wat oorgebly het van daardie eerste dae in Temba.
Dis feestyd:
Laggende
Tumelo John
linkerelmboog
teen haar bors: Nuni vrolik
maar by hom ingehaak,
hand (met trou- bord met eetgoed
ring) in ander hand
op skouer van:
Nkosi, sittend, geruite
Kind, oopnekhemp en baadjie,
ongeveer uiters agterdogtige Vrou se bene
8 maande, blik op kamera en hand
op die skoot op stuk van
(dogtertjie) rusbank
voor groen
gordyn
met kind se voet
op halwe skoot
Alles is daar: twee keer … dis aand, die kameraflits gooi iedereen teen ’n swart silhoeët.
Конец ознакомительного фрагмента.
Текст предоставлен ООО «ЛитРес».
Прочитайте эту книгу целиком, купив полную легальную версию на ЛитРес.
Безопасно оплатить книгу можно банковской картой Visa, MasterCard, Maestro, со счета мобильного телефона, с платежного терминала, в салоне МТС или Связной, через PayPal, WebMoney, Яндекс.Деньги, QIWI Кошелек, бонусными картами или другим удобным Вам способом.