sinkgebou (die sweet tap jou in die somer af as jy jou kruisies trek) by die aansluiting waar die teerstraat van Temba af (by die dam verby en oor die brug) in die nywerheidsdorp uitmond. Uitstekend geleë, onthou Tumelo John, het iemand op ’n keer gesê: “Betaaldag vroeg uit die fabrieke van Babelegi, jou plat koevertjie in die gatsak en, darem so gerieflik, daar’s tog net een pad huis toe met eerste stilhoupunt die woekerplek, groot wonder daar’s nog nie ’n drankwinkel langsaan nie, maar hulle sal nog, hulle sal nog.”
Wil jy glo, tref dit hom toe hy van die teer afdraai oor ’n hardgetrapte stuk veld om naby ’n wag-’n-bietjie stil te hou: dáár loop hy, Zondi, die man wat die siniese opmerking oor die ligging van Temba se wedplek gemaak het.
Met ’n plastieksak onder die arm (wat hy met albei hande vashou) gee Zondi lang treë in die rigting van die fabrieke. Hy’s nog bloedjonk, seker nie twee en twintig nie, Unisa-student in die regte – Tumelo John weet, hy het juis vroeër die jaar by hom advies gevra toe hy self by ’n korrespondensiekollege ingeskryf het vir ’n diplomakursus in polisie-administrasie.
’n Motor trek langs syne in. Twee vroue. Wat hy onmiddellik herken: kolonel Van Niekerk se vrou en dogter. Maar hulle let nie op hom nie. Die ouer vrou agter die stuurwiel vroetel in haar handsak, haal ’n pakkie geldnote uit. Kolonel Van Niekerk is die kollege se senior stafoffisier. Soos Mabe oor die swart helfte sou wou regeer, so speel die kolonel baas oor die wit deel en dan natuurlik ook oor Mabe.
Toe Tumelo John uitklim, sien Zondi hom, want hy lig sy arm hoog en kom haastig na hom toe. Hy soek seker rygeleentheid, hy bly hier oorkant in Ramotse by sy ouma vir wie hy sorg. Hoe hy dit sonder werk regkry, moet jy nie vra nie; ek het mos ouer broers en neefs ook, sal hy seker sê, want ook Busi is aangetroude familie van die ou vrou. Tumelo John het Zondi juis deur sy skoonpa ontmoet toe hulle vorige jaar se winter opgery het Zimbabwe toe.
“Hei, man!” roep Zondi, vra uit na die familie en dan val hy weg en vertel opgewonde van die vergadering wat daar hierdie naweek in die Kaap gehou word, ’n byeenkoms wat nog lank onthou gaan word, waarop die mense gaan besluit hóé om al die veronregtes van hierdie land saam te bind, saam in eendragtige optrede, hoe mens moet sorg dat die gegriefdes nie teen mekaar en los van mekaar werk nie, maar saam omdat ons almal een gemeenskaplike doel het en dit is om apartheid weg te werk, in sy moer in weg, om ’n sê te hê.
“Luister, mannetjie,” onderbreek Tumelo John hom, want hy sien ouvrou Van Niekerk het in haar motor bly sit, die dogter is alleen by die wedplek in. Hy lei Zondi weg van die motors af, sê nou net sy snap hier en daar van die isiZulu, wat besiel die vent om so hard aan die babbel te gaan?
Maar Zondi steur hom nie aan Tumelo John nie. “Ons sal deel wees soos net trotse mense deel kan wees en met koppe opgelig vorentoe loop.”
“Maar sal jy stilbly. Dínk dan tog maar die dinge, moet in hemelsnaam nie daarvan práát nie. Kan jy nie verstaan nie? Ek weet wat word van mense wat praat soos jy daar praat.”
En Zondi vertel (darem nou effe sagter, maar glad nie tot geringer ontsteltenis van die polisiesersant nie) van die een groot beweging wat daar gaan kom waar almal saamwerk, ook die ANC.
Tumelo John pluk hom tot teenaan die lawaaierige teerstraat: “Zondi, luister, weet jy wat gaan van jou oumatjie word as jy so begin praat? Dink bietjie ook aan haar.”
Eintlik moet Zondi nie eens aan die dinge dink nie, sê nou maar hy laat val iets in sy slaap. Hier het alles ore, die mure, die bome, die bossies, ook die klippe, ja selfs die klippe het ore.
Maar hy sê Tumelo kan maar Maandag in die koerant kyk. Dit wat hy hier sê, sal daar staan. Of nog beter, Tumelo kan volgende Vrydag saamkom wanneer sy vriend wat Kaap toe afgevaardig is, verslag kom gee van alles wat hierdie naweek bespreek is.
So direk en openlik het Zondi nog nooit met hom gepraat nie, dis tog nie hoe jy met ’n sersant in die polisie praat nie. “Sien jy hierdie uniform, kyk bietjie mooi. As jy aanhou praat soos jy nou praat, gaan ek jou verbied om by my huis te kom. Moenie dink ek het dit maklik nie. Net ’n paar huise van my af woon die grootkop Mabe. Ja, ek het ook my vyande wat my met die grootste graagte sal lem.”
“Die geskiedenis sal van hulle vergeet. Maar hierdie naweek in die Kaap, dít is dinge wat belangrik is.” En hy vertel nog veel meer. Hy vertel van al die mense wat daar sal wees … Gumede, Tutu … dan die mense van die Transvaal en die twee wat hy die meeste bewonder … Lekota en Molefe. “Maar Tumelo, bly jy dan blind, sien jy en hoor jy nie die mense se woede nie? Luister, Tumelo, jy’s die een wat laas jaar toe ons op is na Mutare, gesê het ons moet nie skaam wees om swart te wees nie, ’n swartmens kan met sy kop hoog loop, al is hy ook hoe arm.” En hy vra hoe kan die swartmense dan uitgelaat word as daar vir die land ’n nuwe grondwet opgestel word, het Tumelo gesien?
“Maar, Tumelo, jy maak ’n fout. Die tyd is nie meer ver nie dat niemand jóú sal toelaat om by hulle te kom nie.”
En hy vertel van hoe hulle … dat Tumelo John se kop draai terwyl hy huis toe ry. Wat het in die klein Zondi gevaar, wie is sy vriende en waar loop hy orals rond, wat wou hy vandag gaan maak in Babelegi? In die polisie is daar net een woord vir mense wat so praat, moeilikheidmakers, siyayonova, soos Zondi se Zulubroers sal sê.
Tot hy in sy straat afdraai en Nkosi se pasgekoopte kombi voor Mabe se huis sien.
Vyf huise verder ry hy stadig by sy eie hek in. Die voordeur staan oop, Nkosi se vyfjarige dogtertjie speel op die stoep, die klein Tshidiso moet in die huis wees, hy is maar ’n jaar en te klein om met haar te speel.
Soos sy gewoonte is, ry hy langs die huis verby om agter te parkeer.
“Hi Tumi!” Busi en haar vriendin sit by die eetkamertafel. Die klein Tshidiso gly af van Nuni se skoot sodra hy sy pa sien.
“Kyk wat het jou pa vir jou gebring!” Hy hou vir die kind ’n rooilyfappel en Busi staan op om vir die kind op die stoep ook een te gee.
Haar man kom hulle nou-nou oplaai, sê Nuni, maar nee, hulle sal nie kuier nie, hy wil vanmiddag nog Mabopane toe en sy’t die hele oggend aanmekaar met Busi gesels, dankie, lag sy haar mooi wit tande oop en draai haar kop dat hy ’n netwerk van die in patroontjies gevlegte hare goed kan sien.
Terwyl hy hom in die kamer verklee, hoor hy hoe sy seun nog in die gang afsukkel, agter hom aan. Hy kyk oudergewoonte na die kop wat feitlik teenaan die oopgetrekte gordyne op die vloer staan. Dis een van die beelde wat hy uit Zimbabwe gebring het, ’n vier keer gewone grootte menskop uit die een of ander swarthout: dik opgeswelde bolip, groot neusvleuels en ’n lang leë holte by die oë wat dwarsdeur die neusbrug loop. “Blinde kop”, het die man gesê by wie hy dit daardie loom middag naby Mutare gekoop het. Dis nou al ’n jaar dat dit hier in die slaapkamer staan en steeds sien hy dit raak as hy inkom. Hy sal vir Busi moet ompraat dat hulle saam soontoe gaan: dis tog haar eie pa se mense. Maar Busi is haar ma se kind, sy kan haar pa nie vergewe dat hy sy vrou vir ’n jonger een gelos het nie. Sy hou darem van die klipvoël wat hy ook uit Zimbabwe saamgebring het. Uit seepsteen. Dit staan in die sitkamer: half soos ’n vreemde eend en op stewige klippote kyk dit waaksaam oor die skouer terug na die voordeur.
“Ap-pel,” sê Tshidiso die Sothowoord en hou die nat vrug uit na sy pa.
Met die kind op sy arm gaan hy die woonvertrek binne. Daar is ’n vreemde stem op die voorstoep. Dis ’n man van Bosplaas. Hy sê die ou man van die kollege se tuin, ou Mgabi, het hom na Tumelo John gestuur: “Hy sê Sajeni help die mense.”
“Hulle wil jou uitskop?” Hy’t gehoor dit gaan woes in Bosplaas. Daar’s gereeld klopjagte en uitsettingsbevele op nieTswanas.
Ja, dis net so. Hy het 15 jaar gelede saam met sy ma van Pretoria af hierheen gekom. Vandag is hy ál broodwinner, sy ma kan nie pensioen kry nie, hy werk by die meule op Pienaarsrivier. Hy gee nie om dat sy kinders na ’n Tswanaskool gaan nie, solank hulle maar skoolgaan. Hulle huur word gereeld betaal en belasting, ja. En in Augustus het hy ook lid geword van die Bophuthatswana Democratic Party, waarvoor hy R5 moes betaal.
“Vyf rand? Ek dag dis R1?”
Nee,