hét probleme met biersale. Die biersale doen kwaad en wie se biersale is dit? Dit is wat hulle vra.”
“En so kry jy seker liksens om witmense dood te maak, of hoe?”
“Sersant, ek sê nie doodmaak is reg nie. Ek sê ook nie ons moet afbrand toelaat nie. Maar die jongmense is nie voor die voet sleg nie. Met hierdie drankstorie is hulle reg, dink ek.”
“Nkosi, luister jy watse kak praat hierdie konstabel van jou?”
Nkosi was in gesprek met iemand anders. Of miskien het hy gemaak of hy niks van die woordewisseling hoor nie.
“Wat’s dit nou weer? Wat sê jy, Moleko?”
“Ek …”
“Jy moet dié Moleko vasvat. Daar is dinge waaroor ’n poliesman nie twyfel nie. Kyk hoe lyk dit hier! ’n Poliesman moet weet wat reg is. En hy moet weet wat is verkeerd. En reg bly reg en verkeerd, verkeerd.”
Toe hulle uitklim, sê Nkosi onderlangs vir Tumelo John: “Steur jou tog nie aan die man nie, gaan jou gang, maar moenie met hom foeter nie, het jy gehoor?”
Saterdagmiddag, met die dodetal op 90 en die beseringslys op 1 000, kon hulle vir die eerste keer teruggaan na Cleveland om ’n bietjie langer uit te rus. En eers teen Dinsdag kon hy daarin slaag om met Busi oor die telefoon te praat.
Sy het aanhoudend gesê hoe trots sy op hom is, haar eie polisieman! Die week was hel, sy sal hom alles vertel, wanneer sien sy hom? Hulle is almal ongedeerd ja, net Bontmuis het weggeraak, is nog steeds weg. Sy’s so bly haar Tumelo het niks oorgekom nie, haar polisieman.
Hy kon nie langer praat nie, daar was baie wat wou bel.
Dié aand het Sithole skielik aan die praat geraak, asof spraaksaamheid nog altyd sy diepste begeerte was maar hom onverklaarbaar jare lank belet is.
“Ek sal nou graag wil hoor wat my pa te sê het. Van groot dinge het daar toe maar min by die mense oorgebly. Wat ’n gemors, hè Tumelo? As almal eers begin inklim en hulleself help aan ander mense se goed …!”
“Voel jou pa sterk oor die politiek?”
“Ja en hoe! Alles is vir hom politiek, alles is geskiedenis. En dan sê hy dit ook alewig. En als wat ’n werker sê is belangrik. As ’n werker poep, is dit geskiedenis. En almal is werkers … Ek hoop jý kan dit verstaan? Hy sal nog aangekeer word, en dit sal sy eie onnoselheid wees. Net vir my ma voel ek. Sy dink ook sterk oor die politiek, maar sy is meer mens, sy’t darem ’n bietjie humor, sy lag wanneer sy vertel haar mense woon al so lank in Soweto, van voor 1925 af, dan lag sy as sy sê dis toe die behuising van Soweto nog gereël is deur die Afdeling Parke van Johannesburg.”
“Hulle klink vir my bitter.”
“Natuurlik is dit kwaai om te dink mense is soos wilde diere in ’n wildpark … Jy sien, ek was die dom een. My broer was wonderlik, my suster ’n engel en ek die dom ene. En ek haat politiek. En toe dink ek: nou goed, ek ís die domme, dan moet julle nie skrik as ek die werk van ’n domme doen nie. In die polisie word ek anders behandel, by Hammanskraal was ek in die gimnastiekspan.”
Dit was Dinsdagaand. Die roetine het reeds weer by Cleveland begin oorneem. Kriek kon daardie aand vreedsaam na nog ’n aflewering van The World at War, sy gunstelingprogram, kyk. Maar Tumelo John kon die gevoel nie van hom afskud nie dat daardie polisiehond wat heel aan die begin deur die woedende kinders doodgemaak is, eintlik sy Bontmuis was.
Want die foksterriër het hulle nooit weer gesien nie. Sodat hy in later jare altyd sou dink: saam met Bontmuis het ek my onskuld verloor, het ek oornag grootgeword. Kriek sê reg is reg en verkeerd is verkeerd en daarmee is dit uit en gedaan. En wat het sy oupa gesê? “Pas op, die een lyk so baie soos die ander.”
En wat raak Kriek nie nog alles kwyt nie?
En sy oupa, wat het hý nie alles gesê nie!
Tumelo John en Penelope Busisiwe is vroeg in 1977 getroud. Hulle het ’n week lank gaan kuier by mevrou Hlongwane se ma in Newcastle en daarna hulle intrek geneem in die reeds oorvol huis van Tumelo John se tant Mapheko in Soweto. Die kans dat hulle ’n huis van hulle eie sou bekom, het feitlik nie bestaan nie.
Die laaste dag van sy verlof het hy sy swaer se motor geleen en sy hostelkamer by Cleveland, waar ’n jonger konstabel reeds ingetrek het, gaan ontruim.
Die meeste van sy goed was reeds eenkant geskuif en sy kleipot weg.
Nkosi het dit gebruik, hoor hy toe by Sithole.
Hy het sy goed alles uitgedra en Nkosi, wat aan diens was, na sy kruik gevra.
“Sorry man, ek het dit geleen ja.” En na ’n rukkie se huiwering: “Luister, ek sal vir jou ’n ander een kry, die ding het gekraak.”
Dit was nie gekraak nie, dit was in twee helftes met enkele los stukkies. En al wat hy van sy oupa oor het.
Tumelo John het die stukke saamgevat met die gedagte om dit later weer te las, maar in die oorvol huis het hy nooit sover gekom nie. Dit het in verdere stukkies gebreek waarvan sommige weggegooi is of met die latere trek verloor is.
Uiteindelik het hy net een skerf oorgehou. Dié het hy toe altyd met hom saamgedra.
Soos ’n gelukbringer.
4 Pretoria, Augustus 1988
Die prokureur by wie die skrywer se vriend die lêers gekry het, is ’n besige man. Sy ontvangskantoor sit vol mense. Die tikster dra vir die skrywer en sy vriend stoele in. Twee wagtende vroue voer ’n intense onderlinge gesprek waarby geeneen van die ander kliënte die geringste teken van belangstelling toon nie, so oorgehaal sit elkeen in ’n eie web wat sy besondere saak vir hom gespin het.
Hier het my nuwe hoofkarakter ook gesit, dink die skrywer en hier sit ek; by die huis lê ’n byna voltooide roman en wag op afronding, maar ek is verlei deur die lêers van ’n prokureur in Pretoria, vreemd hoe die lewe van ’n tot die dood opgeskrewe mens jou kan rig.
Die tikster tik, praat kort-kort in die gehoorbuis van ’n telefoon.
Die prokureur is verheug dat daar iets verder aan die saak gedoen word, het die skrywer se vriend hom vertel. “Ek dink hy voel nogal skuldig oor die ding, hy was oorsee toe alles tot ’n punt gekom het.”
Hy lyk soos ’n Engelse digter, met sy haakneus en blou oë (& pullover), vat die skrywer kort hierna sy eerste indrukke van die prokureur saam; iemand met ’n deeglike klassieke skoling, wat sy Homeros in Grieks gelees het.
“Ek verstaan jy wil oor Moleko skryf. Wat dink jy van dit alles?”
“Ek kan nie begryp hoekom die koerante niks hiervan gerapporteer het nie; dit maak alles soveel meer ontstellend,” sê die skrywer.
“Net ’n beriggie in die Sowetan, sover ek weet.”
“Dalk te riskant om daaroor te skryf,” betig die skrywer se vriend hom. “Onthou ons leef onder ’n noodtoestand.”
“Sê nou Moleko was iemand uit wie se lotgevalle niemand voordeel kan trek nie, ’n gebeurtenis sonder propagandawaarde vir wie ook al; ek wil hom al sien as iemand wie se lewe deur almal se siwwe val. Vir die aktiviste nie radikaal genoeg nie en vir die polisie gewoon nie op sy swart plek nie. Maar jy? Wat dink jý van hom?”
“Die vriendelikheid self,” antwoord die prokureur. “Dis waarom elkeen wat met die saak gemoeid was skoon uitgeboul is. ’n Doodgewone mens wat met almal, ook die swart skoonmaker, skerts en grappe maak.”
Asof norsheid of astrantheid sy lot billiker sou gemaak het, dink die skrywer en vra: “Wat het daardie aand in sy huis gebeur, daar is niks hiervan in die lêers nie?”
“Ek gee jou die telefoonnommers van sy swaer in Soweto en van Brian Huma, my vroeëre kollega, wat eintlik die saak in die begin hanteer het. Praat eers met hulle.”
“Daar is soveel gapings in die hele geskiedenis,