swart kadette wat hulle opleiding by Hammanskraal, 40 km noord van Pretoria, gekry het. Die Hamman na wie die nedersetting aan die Apiesrivier vernoem is, het ’n eeu gelede glo hier in die gemengde bosveld van Transvaal ’n staning en veepos gehad.
Die opleidingskollege lê óór die grens tussen die sentrale regering en Bophuthatswana. Voor die lang stoep van die ou gebou strek ’n groot oop terrein waar die studente daagliks heen en weer beweeg in ’n verskeidenheid drilpasse, asof hulle daarmee alle politieke verskille meteens en kragdadig in die grond wegtrap.
Binnelandse rus is hoog op die lys van prioriteite. Die studente maak ’n uitgebreide kursus in infanterie met intensiewe krygsoefeninge mee. Die opleiding in selfverdediging, geklee in name soos karate en joejitsoe, is ’n aanduiding dat ook die grense na Japan daagliks met die nasionale worstelkuns oorgesteek word.
Dan is daar lesings. In goed toegeruste klaskamers – en Tumelo John moes dikwels teruggedink het aan die armsalige plaasskooltjie in Senekal se distrik – word kursusse aangebied in Strafreg, Strafproses- en Bewysreg; die Polisiewet word intensief bestudeer en deur sommige van die vensters kon Tumelo John sien hoe dit buite onstuitbaar lente word: tussen die rooibos en raasblare daag die eerste rooi klonte van die koraalboom en kort daarna die vlae wit van drolpere.
Nog nooit het ’n halfjaar vir Tumelo John verbygevlieg soos die laaste 6 maande van 1973 nie. Jou peloton ontplooi, jy dril en word onderrig in noodhulp. Die een dag leer jy hoe om verskillende vuurwapens veilig te hanteer, die volgende môre hoe om dit doeltreffend te gebruik. Vir die een toets moet jy leer hoe jy jou medemens in ’n heterogene bevolking moet dien, hoe belangrik dit is om goeie menseverhoudinge tussen alle rasse in te skerp. En buite op die stoep hoor jy hoe die een senior instrukteur – sy van was Van Zyl – ’n jongman van ’n ander ras smalend toevoeg: “Jóú mense dink hulle is royal game, nes die kwêvoël: ’n mens mag niks met julle aanvang nie; intussen is daar fokkol tussen die ore!”
Sulke teenstrydighede het Tumelo John opgeval maar geensins afgeskrik nie. Hy het wel die aand alleen in sy kamer weer aan die instrukteur se opmerking gedink en toe skiet ’n segging van sy oupa hom te binne. “Die bobbejaan sien wonderlik goed, jy sal sweer hy kyk net mooi niks mis nie, maar die holte van sy eie oog, dit sien hy nie.” En toe Tumelo John daardie dag begin lag, het sy oupa bygevoeg: “Dis nie ek wat so sê nie. Dis die oumense, vanmelewe het ek hulle dit baie hoor sê.” En jare na sy opleiding by Hammanskraal sou Tumelo John ook aan dié woorde dink. Hy sou toe ’n ou idioomboekie gaan naslaan en jou werklikwaar, daar staan dit toe opgeteken!
Met die uitpasseer op 14 Desember het ’n generaal Stevens van hoofkantoor hulle toegespreek. Hy het die jong konstabels vermaan om altyd die regte van die individu te respekteer. “Julle moet onthou,” het die generaal gesê, “die allerlaaste stap tot julle beskikking is om iemand toe te sluit.”
Hierna het die kollege se gimnastiekspan sy (later gebruiklike) puik vertoning gelewer en ’n demonstrasiegroep het liggaamsoefeningvertonings aangebied op die maat van tradisionele liedere.
Tumelo John was nie deel van die demonstrasiegroep nie; ook nie van die gimnastiekspan nie, hoewel hy dwarsdeur sy kursus die beste in sy peloton gevaar het met oefeninge op die houtperd.
Middel Desember van daardie jaar is hy weer terug in Johannesburg, nou ’n behoorlike konstabel.
In sy afwesigheid is Nkosi bevorder tot sersant en Tumelo John sou voortaan ’n kamer deel met Sithole, ’n gebore Johannesburger en iemand wie se familie hom skynbaar nie kon vergewe dat hy by die polisie aangesluit het nie (sy broer was mediese dokter in Kanada); ’n besonder stil mens.
Daar het twee briewe van die huis op hom gewag. Hy het die een gulsig oopgeskeur en sy jonger broer se aarselende handskrif herken. Hy word bedank vir die geld wat hy aangestuur het huis toe en dan – koue water oor sy lyf – die mededeling dat sy oupa dood is. “Jy moet huis toe kom! Ons oupa het ons verlaat en getrek in die rigting van die sonsondergang. Waar Modimo is.”
Die brief is nie gedateer nie. Tumelo John het die koevert opgetel: die datumstempel was van 5 maande gelede.
Sy oupa is lankal begrawe. Toe hy loop en voete stamp, toe hy oor ’n houtperd bollemakiesie geslaan het. Kon hulle nie die brief aanstuur na Hammanskraal nie? Hy’t Nkosi gaan vra.
“’n Brief? Jou oupa? Sorry man, ek weet daar niks van nie. Jy moes gesien het hoe dit hier gaan. Jy’t niks om te kla nie. By die kollege word daar gespeel, hier wérk ’n man!”
Hy’t aansoek gedoen vir ’n week se verlof en dit gekry. “Shit, jy’s gelukkig, dis Krismis en jy kry dit wragtig reg! Ek sien jy kan jou saak goed stel,” was Nkosi se kommentaar.
Voor hy weg is, het hy die helfte van sy spaargeld getrek en daarmee by Dion sy eerste kamera gekoop. Hy’t ’n geleentheid per motor tot op Welkom gekry en van daar is hy met taxi’s oor Hennenman tot op die plaas waar die eerste dag hom laat voel het hy moet terugvlug na Johannesburg. Só het die armoede van sy mense hom nou ontstel. Maar sy pa was tevrede: hy self die regterhand op die plaas en nou hierdie geleerde seun van hom met die blink toekoms.
En dan sy irritasie met die uitgerekte drinksessies van die Saterdag af tot Dinsdag rondom Kersfees. En die onsinnige struwelinge tussen sy oom en neefs wat voorspelbaar sou volg. Hier loop die trekkers op diesel en die mense op mieliemeel en bier, het hy in een stadium gedink en die sluiter van sy kamera onder groot rinkink gedruk.
Nie dat hy hom eenkant gehou het nie, dis net dat die buitensporige verkwisting van arm mense se swaar verdiende geld hom nou so opval.
Hy het vertel van Hammanskraal en die foto’s wat daar (deur luitenant Sithebe) geneem is, onder almal rondgestuur. Sy pa het goedig geglimlag tydens die volkse gespot van die ander oor die deftige uniform met die bekende seunsgesig wat onder die waardige pet uitglimlag (plus die knewel van ’n vuurwapen). Hy is strikvrae gevra oor voetboeie, sy oom het orent gevlieg en tot groot vermaak van almal hom lomp gesalueer, wat sy pa aangespoor het om familiegrappe van jare gelede oor te vertel.
“Ek sien jy’t darem nog jou kleipot,” kom dit van sy ma toe sy stip na ’n foto kyk wat iemand vroeër die jaar van hom en Nkosi in hulle kamer geneem het.
“En wie is die man hier saam met jou?”
Hy vertel haar en met kenmerkende vooroordeel sê sy: “Ek hou nie van hom nie. Jy moet hom nie vertrou nie.”
“Hy’s ’n goeie ou. Hy’t nou sersant geword.”
“Iemand wat sy vrou sal slaan,” het sy volgehou.
Sy oupa was tussen ander grafte onder ’n olienhoutboom, ’n groter hopie grond as die nog oueres, aan die basis verstewig met enkele plat klippe en bo-op ’n blikbord en kleipotjie, die een waaruit hy by voorkeur gedrink het. Daar is maar min tasbaars waaraan jy jou ’n arm mens kan herinner, het Tumelo John gedink. Hy het geweet die mense sou alles moontlik doen om ook vir hom hier plek te maak wanneer sy beurt eendag kom, hom terugbring.
Hoe troosteloos! En ’n skielike weerbarstigheid het hom laat besluit: dit sal andersom wees, ek gaan nie wag om ook hier toegegooi te word nie, ek sal die oue se gees terugvat Johannesburg toe, my oupa se houding, sy vreesloosheid en sin vir reg. Sy trots!
Dis tog hoe die voorgeslagte in jou bly voortlewe.
Tumelo John sit op sy bed en kyk na die foto’s wat hy tydens sy verlof geneem het: sy ma en pa by die huis waar hy grootgeword het, sy broers en suster, sy suster se kinders, sy neefs en swaer elk met ’n donkerbruin bottel in saluut gelig.
“Hier’s ’n paar wat ek laas maand van my mense geneem het,” sê hy en buk oor na waar Sithole op sy bed deur ’n tydskrif lê en blaai. Hy’t nog nooit iemand so stil soos sy nuwe kamermaat teëgekom nie, maar dit moet wees omdat hy ’n ongemaklike mens is, soos nou: verleë kom hy regop en neem die pakkie foto’s van Tumelo John en kyk lank en beamend na elkeen, sê na ’n ruk: “Net soos my eie oorlede oupa se mense. In Rhodesië.”
Hy lê sweerlik die polisietydskrif en deurlees, dink Tumelo John, die enigste polisieman, swart of wit, wat soveel