hulle al wat venster is.” Uiteinde van die saak is dat die polisie kom, maar terwyl hulle probeer om die voorbokke uit te kry, is al vier wiele van die vangwa afgeblaas. “Ek kan julle sê dit het keer gekos of daar was groot moeilikheid. So hittete. Woensdag is ’n protesvergadering …”
“Gesien wat sê die minister van onderwys in die parlement?” val iemand anders hom in die rede. “Is hy nie vir jou ’n ou suurbek nie?” En hy vertel hoe die vent in die parlement gesê het dat as swartmense die lughawe besoek spesiaal om in die internasionale restaurant te gaan eet, geriewe misbruik word. Hy wil hê besoekers moet eers hulle kaartjies en paspoorte wys voor hulle kan sitplek kry. En dié man is minister van swart onderwys! “Dit staan in vandag se koerant. Hoe kan jy keer dat die kinders dit sien? Die koerant sê die man is onnosel, maar al wat aanbly as minister is hy.”
Gelukkig was Tumelo John dié week op nagskof. Gelukkig, omdat hy minstens die hele Woensdagmiddag kon slaap, want laat die middag kom die bevel: almal moet onmiddellik vir diens rapporteer. En die volgende paar dae is al wat Randse polisieman is geen ruskans gegun nie.
Op pad na die Orlando-polisiestasie kon Tumelo John reeds (onder die geraas van helikopters) iets van die verwoesting sien. Uitgebrande voertuie, afgebrande geboue, mense wat haastig wegskarrel, min mense, maar oral oë, oë wat dit uitroep: skok, woede, angs, onsekerheid; of gewoon dik gehuil van die traanrook.
Versterkings van honderde het by die polisiestasie opgedaag, vuurwapens is nagegaan, onlusknuppels uitgedeel en gevlegte skilde. Tussen hulle en die reuse-spreiligte wat die terrein belig, was die rookmis van Soweto met ’n ekstra traangasbyt (soos oorsterk kerrie wat in die buurt ingeroer word), verder gevoed deur die swaar dieselenjins wat dwarsdeur die nag al om die uur in Buffel-patrollies die buurte ingestuur is. (In die donker was helikopters van geen nut nie.)
Asof om iets by te dra, het Tumelo John se groepie so teen twaalfuur hulle eie vuurtjie aangesteek om warm te bly. In afwagting op wat voorlê, bespreek hulle die noue ontkomings van die dag (’n jong konstabel wat uit sy vangwa gepluk word en, geboei met sy eie handboeie, suf geslaan is – pikstele, ysterstawe, ’n tennisraket – voor hy kan losbreek om onder ’n klippereën terug te hardloop) en ander se teenstrydige indrukke: ’n haastige skietbevel by die Orlando-Wesskool, teenoor die besluitlose toekyk as geboue elders voor polisie-oë afbrand.
Tot iemand praat van die onskuldige begin. Montoedi se vriend was een van die konstabels wat uitgestuur is om plakkate af te neem by ’n groep Asingeni’s op pad na die Orlando Sekondêre Skool. Hulle was hopeloos te min, die jongmense het hulle min gesteur aan die polisie, hulle was by die 8 000 sterk, dit het ’n hele driekwartier geneem vir al die skoliere om verby die vangwa te beweeg. Inderhaas is hulle terug na die polisiestasie om te hoor 30 000 kinders is uit verskillende rigtings op pad na Orlando-Wes om te protesteer teen die onderwysvoertaal.
Eers los groepies kinders, dan ’n ganse kinderkoor wat “Morena Boloka Sechaba” sing, dan die bevel om uiteen te gaan … die tande wat wys onder traanrook. Die klippe.
“Toe hulle storm, sê hy, het hy vier sien val. Toe word die honde losgelaat. Hy self het ’n klip teen die kop gekry en al wat hy verder onthou, is hoe hulle sy hond met messe bydam, hoe die hond val en met klippe en bakstene doodgemaak is.”
“Hulle het ’n witman ook vermoor, hom een-twee-drie uit sy kar gepluk en doodgeslaan, daarna in ’n vullisblik gegooi.”
“Sommerso! Ek sê julle, Kriek is reg, dis tsotsi’s.”
Tumelo John se gedagtes was by Busi. Die telefone was buite werking, hoe kon hy haar laat weet hy is naby?
Die volgende oggend eers sou hy hom behoorlik oor haar veiligheid bekommer, die Donderdag toe sy eenheid vroeg uitgestuur is en hy die omvang van die verwoesting, die woede van die vorige nag, sien. Hulle moes gaan wag staan by ’n biersaal en het net betyds daar aangeland, want ’n gedeelte van die voorraad was alreeds uitgesleep en in die straat – of wat van die straat oorgebly het – omgekeer.
’n Jongman het van die oorkant tussen die huise na hulle uitgeroep: “Dis goud werd, daardie plek. Kyk hoe pas julle dit op! Dis waarvoor julle omgee: drank!” (En iemand wat terugskreeu – dit kon Kriek gewees het.)
’n Buffel-patrollie het nader geskuif en die jongman het tussen die huise verdwyn waar iemand vroeër ’n plakkaat teen ’n omgekeerde konka staangemaak het. If we must do Afrikaans, Vorster must do Zulu.
Die Buffels is bo-oor die drankkartonne en -bottels sodat die straat nou gelyk het soos ná ’n groteske gefuif waarby geen geld en morele kode ontsien is nie.
“Hoekom,” het die jongman weer na hulle geskree, “is daar soveel drankwinkels in Soweto? Wat van klinieke? Elke spoorwegstasie het ’n drankwinkel. Waarom vát julle ons geld só, geld wat nooit by ons huise uitkom nie?”
’n Helikopter het laag oorgevlieg, so laag dat dit wou lyk of hy moeite doen om die drankwalm met sy kappende skroef verder te sprei, dat die hele buurt aan die bedwelmende vooruitsig herinner kan word wanneer wet en orde eenmaal herstel is.
Twaalfuur is hulle afgelos. Hulle is terug om twee uur lank te rus. Tumelo John het met niemand gepraat nie. Kort-kort het hy aan Busi gedink, aan haar ma … met net Bontmuis om hulle te beskerm.
Toe hoor hy ’n hoë polisie-offisier, wat inderhaas ingevlieg is om strategie te monitor, in die verbygaan teenoor iemand anders opmerk: “Hulle moet vir Treurnicht en M.C. Botha hierheen bring om te sien wat hulle veroorsaak het!”
Dit het hom beter laat voel.
Donderdagaand het hy gesien die opstand is nie meer vir of van skoolkinders nie. Frustrasie en woede het oral vlak gelê en hy het bewondering gevoel vir Nkosi wat die erns ingesien het van ’n insident wat lelike gevolge kon hê.
Dit was toe hulle span diens gedoen het by Baragwanath. Almal was moeg en die hospitaal het nog meer as gewoonlik gegons, tot by die nate vol, en samedromming was een ding wat hulle moes voorkom. Die anti-onluseenheid was by die hek in beheer toe ’n taxi sy pad soontoe ooptoet. Agterin was ’n beseerde kind.
Toe hy hoor dis ’n veertienjarige skoolkind met drie koeëlwonde weier die offisier deurgang.
“Jammer, die plek is vol. Kyk hoe lyk dit. Ander mense moet eers behandel word.”
Hoe die nuus so vinnig kon versprei, is nie maklik om te weet nie, maar ’n stroom verpleegsters kom skielik uit die ongevalle-ingang en eis skreeuend dat die kind onmiddellik deurgelaat word.
“Laat hom in. Dis ’n hospitaal dié.”
Wat Nkosi presies aan die offisier gaan sê het, het Tumelo John nie gevra nie, maar die hekke het oopgeswaai, die kind is opgeneem.
Laataand met die patrollie op pad na ’n paar uur se uitspan, dink hy aanhoudend: “Wonderlike slaap, die arm man se vet!” … woorde van sy oupa.
Teen Vrydag was dit nie meer die opstand wat baie begeer nie. In die nag het klein gewapende bendes toegeslaan en mense aangeval en beroof. Die werkers in die stede wat smôrens en smiddae soms ver ente moes stap omdat busse slegs aan die rand van Soweto kon ry, is nie meer met rus gelaat as hulle die vuis lig en “Amandla!” uitroep nie.
Nou word die drankwinkels nie meer aangeval om drank te vernietig nie, die plunderaars het oorgeneem, die meeste van hulle smoordronk.
En die mense was vriendeliker jeens die polisie.
Maar die opstand het uitgebrei. Vrydagoggend moes hulle in Alexandra gaan patrolleer.
Toe hulle by die biersaal verbyry waar hulle die vorige dag wag gestaan het, sien Tumelo John dat dié ook afgebrand is. Dik rookwolke het steeds oor die hele stad gehang. Kriek het sonder verposing uitgevaar teen die swartes wat doodeenvoudig nie kan ophou met drink nie. “Suip hulle dik aan die gesteelde bier! Nou’s hulle seker tevrede.”
Dis toe dat Tumelo John hom opruk: “Lyk my jy haat swartmense, sersant.”
Kriek het omgekyk. “Tog nie jy nie, Moleko? Oppas dat