Malene Breytenbach

Hartklop Omnibus 4


Скачать книгу

nie.”

      Hulle gaan sit aan tafel en wyn word geskink. Eers toe kom Maria ingestap, in ’n styfpassende rooi rok met ’n hals wat laag genoeg is om hope cleavage te wys. Sy word gevolg deur Riccardo, korter en veel maerder as sy, sy jakkalsgesiggie honger.

      “O, ons is nog betyds,” sê sy. “Ek moes net eers verklee.”

      Louisa wys hulle plekke aan. “Waar is Mimi?”

      “Sy moet dinge vir my regkry. Julle kan vir haar en Verdi kos stuur.”

      Selfsugtige vrou, dink Rafaella. Sy eet in stilte en luister hoe Maria kwetter, hoe Jacopo vrae vra. Maria se oë draai byna heeltyd na Luigi, wat weer ’n punt daarvan maak om baie na Rafaella te kyk. Dit laat Rafaella lus voel om weg te hardloop. Sy is nié te vinde vir ’n kastige driehoekspeletjie nie. Sy wens kliphard Giulio was hier.

      Sy kyk vlugtig na haar ma en sien dat sy bleek lyk. Ja, dié primadonna gaan uitputtend wees. Rafaella is baie jammer dat Maria gekom het.

      Ná middagete gaan Rafaella se ouers na hul kamer. Rachel moet haar middagslapie kry, sê Jacopo. Rafaella wonder of hy reeds ontnugter is met Maria Vallerta. Hy het so uitgesien na haar koms en nou is haar persoonlikheid eerder afstotend as aantreklik.

      Maria neem dadelik vir Luigi weg iewers heen. Rafaella gaan haal ’n boek en sit op ’n bankie in die tuin onder ’n boom. Kort-kort kyk sy rond na die prag van die herfstuin. Hoe lekker moet dit nie wees om hier te woon nie.

      Sy hoor stemme. Die vrou praat opgewonde, skerp. Dit is Maria. Luigi lag en antwoord. Rafaella sit doodstil, weggesteek deur struike. Ag nee, hulle kom nader …

      “Het jy iets met haar aan?” hoor sy Maria vra. “Wees nou eerlik. Moenie soos altyd vir my jok nie.”

      “Nee. Sy is ’n dokter wat haar siek ma gebring het om van ’n mastektomie te herstel.”

      “Maar jy dink sy’s mooi.”

      “Ja, ek dink sy’s besonder mooi. Beeldskoon, eintlik, en onopgesmuk. Natuurlik mooi. Giulio dink ook so. Almal wat haar sien, sal so dink. Hou op om my te treiter, Maria. Jy is so besitlik. Jy dink alle mans moet agter jou aanloop soos daardie simpele hondjie wat jy sowaar weer saamgebring het. Wat het jy gemaak met arme Alfredo? Hy gaan sy stem verloor as jy hom so sleg behandel.”

      “Ek is moeg vir Alfredo. Ek wil hom lankal nie meer hê nie. Jy weet baie goed dis vir jou wat ek wil hê.”

      “Teen dié tyd moet jy al weet dat ek nie aan ’n toutjie gesleep kan word soos die Alfredo’s van hierdie wêreld nie.”

      “Jý dink weer al wat vrou is, raak op jou verlief.”

      Rafaella hoor weer die blaflaggie. “Wel, dít kan ek nie help nie. Dit gebeur sonder dat ek dit aanmoedig.”

      Ag, maar die man is afstootlik arrogant, dink Rafaella. Sy gaan beslis die uitsondering op sy reël wees. Meteens hoor sy hondegehyg. Die klein wit poedeltjie verskyn deur die struike en draf reguit na haar. Hy gee ’n klein blaffie. Rafaella steek vinnig haar hand uit en hy kom lek dit, bly gelukkig stil. Sy streel die hond, krap sy kop. Die mense moet net nie agterkom sy sit hier soos ’n loervink nie. Sy skaam haar dood.

      Die hondjie draf weer weg, agter die wegbewegende stemme aan. Sjoe, dink Rafaella, dit was amper. Sy loer deur die struike. Luigi en Maria is nou ’n klein entjie weg. Gebukkend sluip Rafaella al agter die struike in die rigting van die huis. Dat hulle haar tog nie nou sien nie!

      Wat Luigi van Giulio gesê het, bly haar by. Giulio dink sy is onopgesmuk mooi!

      Hulle sit almal die aand in die sitkamer. Almal behalwe Giulio, wat nog nie terug is van Cortona af nie. Dié keer het Maria darem vir Mimi ook saamgebring. Die meisie sit doodstil, gesels net nou en dan sag met Riccardo, nie met enigiemand anders nie. Rafaella veronderstel dat Maria verwag sy moet op die agtergrond bly. Dis seker ’n vergunning dat Mimi saam met die huismense mag kuier.

      “Riccardo sal môre weer gaan, met die limousine, hy moet gaan werk,” sê Maria. “Ek gaan egter minstens ’n maand vertoef.”

      Sal sy ooit so lank welkom wees, wonder Rafaella geskok. Dis darem besonder lank. Verras en bly sien sy dat Giulio aangekom het. Sy vergeet skoon van die Cinzano in haar hand terwyl sy kyk hoe Giulio almal groet. Maria flankeer met hom, maar al is hy vriendelik, flankeer hy geensins terug nie. Hy kry ’n drankie en kom sit langs Rafaella.

      “Naand, Rafaella. Wil jy dalk môre saamkom na my spreekkamer? Net om te sien hoe ons dinge hier doen.”

      “Graag, dankie. Hoe laat gaan jy?”

      “Soos vanoggend, so halfagt. Jy kan voor die huis vir my wag, dan ry jy saam. Dalk kry ons tyd om by die trattoria bo in die straat te gaan middagete eet. Hulle stuur gewoonlik my middagete en koffie, maar dit sal nie vir jou lekker wees om daar in die spreekkamer te eet nie. Dis te onpersoonlik.”

      “Dit klink baie lekker. Ek sien uit daarna.”

      Aan tafel wil Maria heel duidelik al die aandag op haarself vestig. Luigi sit stuurs, geïrriteerd en peusel. Giulio gesels nie net met Maria nie, maar skenk aandag aan Rafaella se ouers en aan haar, waaroor sy dankbaar is.

      “Hoe voel u?” vra hy besorg vir haar ma.

      “Ek voel goed, dankie.”

      “Ons moet goed na u omsien. U moet veel beter voel as u hier weggaan.”

      “Maria, ons weet dat jy ‘O mio babbino caro’ tog te pragtig sing, en ek het gewonder, as dit nie heeltemal voor op die wa is nie, of jy dit dalk vir ons sal sing?” vra Jacopo op ’n punt bedees.

      Rafaella sien die ergerlike frons, die irritasie, op die sangeres se gesig. Haar pa het uit geesdrif gevra, maar hy moes dit liewer gelos het.

      “My stem moet rus,” sê Maria kortaf.

      “Ek het nou die aand vir hulle gesing,” sê Luigi. “Jy kan darem een lied uitkry. Dit sal jou nie skade doen nie. Hierdie mense is baie lief vir opera.”

      Maria huiwer eers, maar stem naderhand teensinnig in.

      Soos die aand met Luigi, gee hulle haar kans om ná ete haar stem voor te berei voordat hulle konsertsaaltjie toe gaan. Louisa gaan sit by die harp om Maria te begelei. Maria kom in, gaan staan teatraal in die ronding van die vleuelklavier. Louisa se lang vingers streel oor die harpsnare en tower ligte klanke op.

      Maria se stem styg hemels, vul die hele vertrek. Rafaella sit versteen. Wat Maria Vallerta ook al andersins mag wees, sy het ’n engelstem. Daarvoor sal mense haar byna enigiets vergewe.

      “O mio babbino caro – my liefste vader – ek het hom so lief, ek sal myself van die brug in die Arnorivier afgooi, kry my jammer, my hart breek …”

      Terwyl sy so roerend sing, kyk sy talmend na Luigi in die voorste ry, asof sy vir hom vertel dat hý haar moet jammer kry, dat haar hart oor hóm breek.

      Rafaella kan nie help om na Giulio se profiel te loer nie. Hy sit roerloos, aandagtig luisterend. Sy voel nietig in die aangesig van soveel talent. Skaars opgewasse vir die glanswêreld waarin Giulio en sy familie woon. Die lied se woorde raak haar ook aan.

      Word ek dan nou heeltemal desperaat? wonder sy. Dalk wil hy glad nie so ’n gewone, vaal soort vrou soos sy hê nie. Waarskynlik soek hy iemand eksoties. Hierdie Di Mareneschi’s leef in ’n verhewe sfeer, nie in haar wêreld van die Masondo-hospitaal en vigslyers nie.

      9

      Rafaella is vroeg op, eet eerste van almal in die eetkamer, sommer ’n broodjie en koffie, en gaan staan voor die ingang om vir Giulio te wag. Sy is ’n bietjie meer formeel aangetrek en het haar hare in ’n Franse rol gestileer om professioneel te lyk. Sy’s darem nie ’n bakvissie nie! Sy het skaars gaan staan en wag toe Giulio se voertuig om die draai van die motorhuise af aankom. Hy klim uit toe hy voor haar stop.

      “Môre, jy lyk eksie-perfeksie. Soos ’n ywerige jong dokter.” Hy maak vir haar die deur oop, vra of