lui dadelik in Rafaella se kop. Dit kan net die ou contessa wees wat geld vir die oord geskenk het en wat wil hê Giulio moet met haar kleindogter trou!
Daar staan ’n groot, goudkleurige motor voor die huis, duidelik baie duur. Rafaella is oortuig dis ook die soort wat deur ’n chauffeur bestuur word. Sy ken nie die handelsmerk nie, maar hier sien sy baie motors wat sy nie in Suid-Afrika ken nie.
“Is Violetta die contessa se kleindogter?” vra sy.
“Ja, haar gunstelingkleindogter, wat skynbaar groot gaan erf. ”
Hy sê niks verder nie, maar laai haar af. “Ek gaan bêre die voertuig. Sien jou nou-nou, Rafaella.”
Sy gaan by die huis in en hoor stemme van die sitkamer se rigting kom – haar pa se bas, ’n bejaarde vrou se heserige stem. Sy besluit om eers gou na haar kamer te gaan en op te fris voordat sy die mense ontmoet. Tog is sy erg nuuskierig om dié Violetta te sien wat ryk gaan erf en sekerlik vir Giulio as ’n goeie vangs voorgehou word.
Die eerste ding wat Rafaella in die sitkamer sien, is ’n vrou met golwende wit hare. Sy lyk waardig waar sy in haar rolstoel sit en skitter van juwele. Haar ouers en Louisa is daar, en ook Luigi, wat met ’n besonder mooi meisie gesels. Sy is klein en slank, met ’n pikante gesig en lang swart hare. Haar jeans en rooi bloes kleef aan haar perfekte klein figuurtjie. Is al die vroue wat die Di Mareneschi’s omring dan beeldskoon? dink Rafaella wrewelrig.
“A, hier is ons dogter,” sê Jacopo. “Sy het vandag by Giulio in sy spreekkamer deurgebring.”
“Kom dat ek jou voorstel, Rafaella,” sê Louisa.
Sy stel haar as dokter voor, en Rafaella gaan skud die ou contessa se koue, maer hand waarop diamantringe blits. Die ou vrou kyk haar met geskreefde, vyandige oë aan. Waarom so vyandig, wonder Rafaella ongemaklik. Dink sy ek kan kompetisie vir haar kleindogter wees?
Die meisie is kil, bykans kortaf, en doen haar ongeërg voor. Sy hou ook met die eerste oogopslag nie van my nie, dink Rafaella, wat besluit sy het ook geen erg aan dié mense nie. Sy gaan fyn oplet hoe Giulio teenoor Violetta optree.
Luigi roep die man wat onopvallend eenkant teen ’n muur staan nader sodat Rafaella iets kan bestel om te drink. Die ander sit almal met drankies.
“Lekker dag gehad?” fluister hy met ’n grynslag. “Violetta is glad nie bly dat jy so onder Giulio se vlerk inkruip nie.”
Rafaella vererg haar, maar sy probeer hard om dit weg te steek. “Dit was leersaam, dankie. En ja, dit was lekker ook. Ek kruip nie onder jou broer se vlerk in nie, Luigi. Dit was ’n professionele besoek.”
“O ja, uiters professioneel,” sis hy.
Rafaella kyk in sy oë en sien jaloesie. Hy, die ewige middelpunt van aandag, die ster, is sowaar jaloers op sy broer.
“Waar is Maria?” vra sy.
“Sy rus nog. Vandag het ons bietjie gerepeteer, nou is sy moeg.”
Rafaella kom agter dat Violetta, wat voortdurend met Luigi flankeer, haar kort-kort vyandig bekyk. Toe Giulio inkom, spring Violetta op, gaan soen hom op die wang en word die stroperigheid self.
“Ons het gaan kyk na die nuwe gebou. Een van die dae trek Ouma by haar eie suite in, dan sien ons veel meer van jou.”
“Die suites is nog nie naastenby klaar nie,” sê hy.
Rafaella kyk suur hoe die meisie aan sy arm hang. Sy is so klein dat sy net-net tot by sy skouer kom en sy kyk na hom op met openlike bewondering. Hy glimlag terug, maar maak naderhand sy arm los en roep die jong man wat vir die aand kelner speel. Hy gaan buk oor die contessa en praat sag met haar. Sy hou met een beringde hand syne vas. Naderhand gaan sit hy langs Violetta, wat haar oë nie ’n oomblik van hom wegskeur nie. Rafaella besef tot haar afgryse dat sy groot jaloesieksteke ervaar. Dis nie iets waaraan sy gewoond is nie.
Maria Vallerta kom in asof sy beplan het om ’n entrance te maak. Haar sekretaresse volg skroomvallig.
“Hallo almal,” groet sy. “A, liefste contessa! Dis so goed om my weldoener weer te sien.”
“Die contessa is ’n groot operaliefhebber,” fluister Luigi vir Rafaella. “Maria was eers ’n arm fabriekswerker en die contessa het betaal vir haar musiekopleiding.”
“Dis baie vrygewig van haar. Maria is seker baie dankbaar.”
“O ja, sy is. Dit is ook sy wat die contessa aan ons voorgestel het. Giulio kan net goed doen deur met Violetta te trou.”
Dit voel of daar ’n vlaag koue deur Rafaella trek. Hierdie mense is soos ’n tapisserie aanmekaargeweef. Hulle deel belange. Hulle is goed aan mekaar verskuldig. Sy en haar ouers is totale buitestanders.
“Ek voel ’n bietjie olik,” sê die contessa. “Toe besluit ek om jou te kom sien, Giulio. Jy kan my tog so gerusstel.”
“Sy ly aan ipekonders en is te vernaam om na sy spreekkamer te gaan,” fluister Luigi vir Rafaella – met sy ou grynslaggie.
Giulio staan op. “Kom saam met my. Ek sal u gou ondersoek.”
“Ja, asseblief. Kom saam, Violetta.”
Giulio stoot die rolstoel en Violetta draf saam, styf en ontspanne aan sy sy.
Rafaella vang haar ma se oog. Rachel frons liggies en kyk betekenisvol na haar. Rafaella haal haar skouers effentjies op, om te kenne te gee dat die kompetisie dalk te sterk is.
Maar net gou ruk sy haar reg. Waarom moet sy agteruitstaan en sommer ingee? All is fair in love and war. As Giulio vir Violetta lief is en haar verkies, sal sy dit met grasie aanvaar. Maar as hy nié is nie …
Nee, sy gaan nie sommer lê sodat ongeskikte Italianertjies oor haar moet loop nie!
10
Teen die tyd dat almal ingaan vir ete is Giulio en die Di Giordani’s terug. Aan tafel sit dié twee vroue weerskante van hom. Luigi sit oorkant Rafaella met Maria langs hom. Maria verg sy aandag, praat gedurig met hom, flankeer en pruil met die mond. Hy kyk aanhoudend smalend oor die tafel asof hy vir Rafaella te kenne wil gee: Sien jy nou hoe gek is dié vrou na my, maar jý hou jou kamstig steeks.
Maria let op hoe dikwels hy na Rafaella kyk en daar is vurige venyn in haar geskreefde oë. Rafaella doen haar bes om nie met een van die twee oogkontak te maak nie. Sy probeer ook om nie vir Giulio te kyk nie, so met die twee bewonderende vroue weerskante van hom. Aspris gesels sy eerder net met haar ouers en Louisa.
Genade, maar is ons nou hier in ’n byenes van driehoeke, dink sy. Of speel dié Italianers maar altyd sulke speletjies om hul lewens vol drama te hou? Giulio word so besig gehou dat hy skaars na haar kyk. Sy kan amper nie glo hulle het die dag so gesellig en vriendskaplik saam deurgebring nie.
Die contessa en haar kleindogter gaan oorbly en dié aand ná ete is Maria en Luigi veel meer inskiklik as voorheen om vir almal te sing.
Hulle sing die duet “O suave fanciulla” uit La Bohème en Louisa speel liggies op die harp as begeleiding. Luigi sing met sy hande op Maria se skouers en sy kyk verliefderig na hom, sing met oorgawe. Giulio sit tussen die contessa en Violetta, wat gemesmeriseer na die duet luister. Toe die sangers klaar is, roep almal “bravo” en “encore”. Maria moet weer “O mio babbino caro” sing, en Luigi “Nessun dorma”. Daarna dring die ander nie aan om verder vermaak te word nie, want die twee sangers het dit duidelik gemaak dat dit ’n toegewing is vir die contessa en dat hulle eintlik moet rus.
Rafaella verskoon haarself net daarna en gaan kamer toe. Sy het niks lus vir die onderstrominge en die drama nie. Nee wat, sy gaan liewer lê met ’n lekker boek. Giulio gaan in elk geval nie vanaand met haar kommunikeer nie. Al sy aandag word deur die Di Giordani’s opgeëis. Vir haarself vriendelik voordoen teenoor die drie vroue wat haar so duidelik nie goedgesind is nie, sien sy ook nie kans nie. Sy het nog nooit by iemand gekruip nie. As hulle nie van haar hou nie, hoef hulle nie met haar opgeskeep te sit nie.