doodstil, dan stik haar pa in sy wyn en haar ma giggel.
“Wat! Hoekom hoor ons nou eers hiervan?”
Met ’n glimlag kyk Cilla op en lig haar skouers. “Ons … gaan saam uit, flirt en so aan, maar Mamma, moet asseblief nie die kerk bespreek nie, daar is nie sprake van enigiets langtermyn nie. Ons geniet net mekaar se geselskap. Wel, dis nou as ons die slag by mekaar is. Ons het dit darem een keer die week reggekry.”
“Definieer geniet,” grom haar pa.
Haar ma lag en raps hom teen die skouer. “Asof jy nie weet nie. Maar Cilla, hoekom het jy hom nie oorgenooi nie? Ons sal darem graag die ou wat ons dogter … wel, wat van ons dogter se geselskap hou, wil leer ken.”
“Ma, hoor nou mooi wat ek sê, daar is niks ernstigs aan die ontwikkel nie, ons praat nie eers elke dag met mekaar nie. En iewers sal hy seker weer hier aankom, seker as hy vir Maggie kom haal. Maar dis nie asof hy sy aanstaande skoonouers moet ontmoet of so iets nie. Asseblief, Mamma, moet nou nie allerhande skimpe gooi nie.”
Haar ma snuif verontwaardig. “Hoe ken jy my?”
Cilla lag. “Dis ómdat ek vir Ma ken dat ek dit sê. Net omdat julle twee getroud is toe julle skaars mondig was, beteken nie ek gaan dit ook doen nie. Daar is nog te baie dinge wat ek wil doen. Trou en kinders kry is baie laag op my agenda.”
“Ja, maar …” begin haar ma.
“Ek wou Ma nog vra om te help met die reëlings vir die matriekafskeid. Wat van varkribbetjies vir die hoofgereg?” val Cilla haar ma in die rede.
“O nee, my kind, die arme ou meisietjies met hulle mooi rokke sal mos nooit dit eet nie, en buitendien …”
Cilla slaak ’n sug van verligting. Dis nog vir haar moeilik om te praat oor haar en Reynecke. Sy kon nog nie eens vir haarself die hele ding mooi uitpluis nie.
Ná ete stap sy af stalle toe. Sy wil kyk hoe dit met Maggie gaan. Dis koud buite en sy stap vinnig terwyl haar gedagtes bly maal. Reynecke. Nie ’n minuut gaan verby dat sy nie aan hom dink nie.
Hy het Dinsdagaand by die woonstel opgedaag, toe Philip ook daar was. Ouma By is skynbaar Maandag terug huis toe. Imke was baie koel met Reynecke, maar teen die tyd dat die mans huis toe is, het sy al effens ontdooi.
Cilla het vir Imke probeer verduidelik hoe dinge tussen haar en Reynecke staan, maar nadat sy Imke se opsomming van die situasie gehoor het, het sy ophou probeer. Want Imke het haar net ondersoekend aangekyk en gesê: “O, so julle vry net.”
Sy het glad nie geweet hoe om daarop te reageer nie, want … dis seker presies waarop dit neerkom. Behalwe dat daar nog nie weer ’n geleentheid was vir ’n soen nie, wat nog te sê iets meer. Reynecke het nie verdere reëlings met haar getref nie, en sy begin wonder of hy al klaar besluit het om haar nie baie te sien nie.
Maggie runnik en Cilla stap vinnig na haar stal toe. “Hallo, skat. Weet jy wat môre gaan gebeur?” Maggie skud haar kop en beweeg senuweeagtig na agter. “Toemaar, toemaar, ek sal sorg dat hy jou nie seermaak nie,” fluister Cilla en steek haar hand uit na die merrie.
Toe Maggie rustiger is, stap Cilla terug huis toe. Haar selfoon lui. Reynecke.
“Hallo. Hoe gaan dit?” groet sy kalm.
“Goed, waar is jy?”
“Op Heuningkloof. By my ouers.”
“O.” Dis ’n oomblik stil. “Ek … wou bel, maar hier was die een krisis op die ander, ek het gehoop ons kan … ek bedoel, jy kan …”
Cilla hoor ’n paar onderlangse knope. Oukei, so die man is nie so koeltjies soos wat hy wil voorgee nie.
“Ek hoor jy kom môre vir Maggie haal.”
“Ja, dis hoekom ek bel. Ek wou vra of jy asseblief sal saamkom? Ek bedoel, as ek vir Maggie kom haal. Kan jy saamkom plaas toe?”
“Het jy hulp nodig?” vra sy onskuldig.
“Nee, ek het nie hulp nodig nie, ek … dit sal vir my … wil jy saamkom of nie?”
“Saamkom om … te?” Cilla byt op haar lip om nie te lag nie. Genugtig, maar die man sukkel.
“Wel, ag, saamkom om … saam hiernatoe te kom.”
“Reynecke, hoekom wil jy hê ek moet saamkom?” Sy vra dit stadig, asof sy met ’n kind praat. Sy hoor ’n onderlangse gebrom.
“Ek sal vir ons vleis braai.”
Cilla bly ’n rukkie stil, maar dit klink nie asof hy nog iets gaan sê nie.
“Laat ek kyk of ek dit reg verstaan. Jy bel my om te vra of ek sal saamkom as jy vir Maggie kom haal, want jy gaan vleis braai.”
“Ja, wat is nou so moeilik om te verstaan?”
“Nooi jy my om by jou te kom eet? Wil jy hê ek moet kyk hoe jy vleis braai? Moet ek kyk hoe jy eet?”
Dié keer is die vloekwoord hard en duidelik. “Jy maak my heeltemal mal, weet jy? Ek nooi jou om by my te kom eet, is dit so snaaks?”
“Nee, dis nie snaaks nie, maar dis die eerste keer dat jy my vra. Dankie, Reynecke, ek sal graag môreaand by jou kom eet.” Dan lag sy en hoor sy verleë laggie.
“Ek is verroes. Ek doen dit nie gereeld nie. En jy …” Hy bly stil.
“Ja, wat van my?”
“Jy laat my tong knoop en ek weet nie wat om met my hande te doen nie.”
Cilla is by die voordeur en leun vinnig teen die kosyn. Sy voel skielik lighoofdig.
“En toe, het ek jou nou uiteindelik stil gepraat?” vra hy.
“Heeltemal stil. Sien jou môre.” Sy druk die foon dood.
Sekondes later kry sy ’n WhatsApp: 2h.
Sy glimlag en stuur ’n boodskap terug: 2h wat?
Sy kry een terug: &%$# ek kom haal jou 2h.
Sy stuur terug: kan vroeër, nie klas nie.
Amper dadelik stuur hy: 8h?
Sy lag en stuur terug: 9h.
En dan: 9h, bring jou tandeborsel.
Cilla gaan sit vinnig op die trappies en druk haar selfoon teen haar lyf vas. Sy is heeltemal sonder asem. Haar hart bons teen ’n nuwe tempo en die sterre is meteens helderder, die sekelmaan witter, haar hart ligter.
“En nou, as jy hier sit en glimlag?” vra haar ma langs haar en kom sit ook.
“Ag, Mamma …” Sy lag. “Reynecke het gebel. Hy … ek gaan môre saam as hy vir Maggie kom haal. En hy het gesê ek moet my tandeborsel saambring.” Sy hou haar asem op.
“Nè?” Dis ’n rukkie stil, dan kyk haar ma na haar. “Jy sal doen wat reg is vir jou, my kind, jy het nog altyd.” Sy glimlag en staan weer op. “Maar as ek vir jou kan raad gee, moenie vir jou pa sê van die tandeborsel nie. Dan gaan hy nou-nou ook saam.”
Cilla lag en staan vinnig op. Sy druk haar ma vas. “Ek … ek dink ek wil graag by hom wees,” fluister sy.
Haar ma slaan haar arms om haar en hulle staan ’n rukkie so. “Dis hy wat jy geteken het toe jy nog klein was,” sê sy, en Cilla kan net stom knik.
Cilla sluk aan haar eerste beker koffie en kyk hoe die sonstrale die Overberg se rûens rooi verf. Sy het amper niks geslaap nie. Sy is so opgewonde soos ’n hoërskoolmeisiekind voor haar eerste date. Sy gaan binnekort vir Reynecke sien, en vanaand … Sy vou albei haar hande om die beker en voel hoe die hitte deur haar trek. Haar tandeborsel is ingepak. Sy weet nog nie wat haar pa gaan sê as sy haar tas inlaai nie …
“Jy’s vroeg op,” hoor sy haar pa agter haar.
“Môre, Pappa. Is alles reg by die stalle?”
“Ja,