Elsa Winckler

Elsa Winckler Eerste Keur


Скачать книгу

’n soentjie.

      Cilla kyk liewer weg van die teer uitdrukking op Philip se gesig. “Nou toe, julle het my nou klaar geboelie om daar te wees, kry koers,” terg sy en forseer ’n glimlag uit.

      Imke lag en die twee stap hand om die lyf die trappe af. Cilla kyk hulle agterna en voel weer die vae seer binne-in haar. Sy gun Imke die geluk, ’n man soos Philip. Een wat nie bang is om die hele wêreld te wys hoe hy oor die vrou aan sy arm voel nie.

      Sy stap vinnig woonstel toe. Tog vreemd dat die twee broers so verskillend reageer. Hulle het in dieselfde huis grootgeword, het albei hul ma verloor, het albei ervaar dat hul pa verander. Maar op die oog af lyk dit nie asof Philip dieselfde bagasie ronddra as Reynecke nie.

      Om seerkry te verwerk is ’n proses. Dit sien sy telkemale by die getraumatiseerde perde en kinders. En dit vat lank voordat vertroue herstel word. Dis nou ook net as daar ’n wil is. Sy het so ’n idee dat Reynecke lankal besluit het hy wíl nie enigiemand vertrou nie. Dis vir hom makliker om mense op ’n afstand te hou as om homself bloot te stel aan seerkry. Hy wil dit nie anders hê nie.

      Sy druk die woonsteldeur agter haar toe, sit die mandjie dankbaar neer en sak af op die naaste stoel. Die oomblik toe haar oë toegaan, skuif bloues voor haar in. Sy kreun en spring regop. Die bleddie man. Sy kan nie eens in vrede wroeg nie, dan hinder hy haar.

      Dis ’n goeie ding dat sy môreaand saam met Gys gaan, dat iemand anders by haar gaan wees as sy hom weer moet sien. En sy gaan seker maak dat dit die laaste keer is dat sy soontoe gaan.

      Daar het iets tussen hulle gebeur. Sy is eerlik genoeg teenoor haarself om dit te erken. Selfs sy het geskrik vir die intensiteit van haar gevoelens. Hy doen iets aan haar, skakel iets in haar aan. Maar hy wil dit nie weet nie, en die lewe is te kort om jouself heeldag te verknies oor die as-hy-maars en die sê-nou-nets.

      Gys is ’n aantreklike ou, baie nice en … wel, baie nice. Sy stap kombuis toe om ’n koppie koffie te maak en sy vryf teen haar slape. Die hoofpyn wil nie wyk nie. Sy gaan nou die stapel opstelle takel en sy’t kafeïen nodig, baie daarvan.

      Nice is goed genoeg. Daar hoef nie altyd vuurwerke te wees vir ’n verhouding om te werk nie. Sy gaan regtig probeer met Gys en die ding ’n billike kans gee. Wie weet? Dalk, net dalk is daar tog iewers ’n beduidenis van ’n vonkie as hy haar soen.

      Cilla probeer luister na wat Gys sê, maar haar hart bons so wild dat sy sukkel om te konsentreer. Hulle hou voor die plaashuis stil en haar mond is skielik kurkdroog. Sy moes nie gekom het nie, sy moes ’n verskoning uitgedink het of iets. Nou moet sy die hele aand …

      Nog ’n motor hou langs hulle stil en terselfdertyd vlieg die voordeur oop. Imke kom uit en trippel by die trappies af. Reynecke staan in die deur agter haar. Cilla sit vir ’n oomblik asof versteen. Gys het omgestap en maak die deur vir haar oop. Sy klim stadig uit.

      “Maar kyk hoe galant is jy, jou ma het jou mooi geleer,” terg Imke vir Gys terwyl sy vir Cilla ’n drukkie gee.

      Gys glimlag en neem Cilla se hand versigtig in syne. “Het jy gesien hoe mooi lyk sy?” vra hy en draai Cilla met sy hand in die rondte. “Wie wil dan nou nie galant wees as jy so ’n girl aan jou sy het nie?”

      Cilla probeer haar hand wegtrek, maar Gys hou haar stewig vas. “Ai, Gys, is dit nou nodig,” mompel sy, oorbewus dat Reynecke nog in die deur staan.

      “Sy lyk stunning, ek stem saam. Die spierwit kanttoppie is ’n wenner by daai gitswart hare. En daai jeans. Sjoe, kan jy ooit beweeg?” vra Imke haar tergend. “Kom in, kom in, ons sit agter waar die manne gaan vuur maak.” Imke beduie in die voordeur se rigting en Cilla kyk weer soontoe.

      Reynecke het sy arms om ’n blonde meisie en sy trek sy kop af vir ’n lang soen. Cilla voel ’n vuis om haar hart en sukkel om asem te haal.

      “Haai julle, groet darem eers die ander mense voordat julle begin,” sê Imke.

      Reynecke lag en slaan sy arm om die meisie se skouers. “Dis Reinette de Wet, ons is al jare lank bure. Sy is deesdae ’n hotshot prokureur in Kaapstad.”

      Reinette slaan al twee haar arms om Reynecke se lyf en knik in hulle rigting. Dan glimlag sy weer op na hom toe. “Ek is so bly jy’t my genooi, dis wonderlik om jou weer te sien,” sê sy en haar wimpers fladder.

      Reynecke trek haar laggend nader voordat hy opkyk na Cilla toe. Sy oë verklap geen emosie nie en Cilla beduie na Gys.

      “Dis Gys. Gys du Toit. Hy is ’n prokureur op Caledon.”

      Reinette glimlag. “Nog ’n prokureur, wonderlik. Nou hoef ek nie alleen al die vervelige prokureurgrappies te verduur nie.”

      Gys gaan skud haar hand en hulle twee gaan geselsend na binne. Cilla kyk vinnig op na Reynecke. Hy vou sy arms voor hom en ’n spiertjie spring naby sy mond.

      “Hy’s reg. Jy lyk …” Hy trek sy asem diep in en sy oë word donker. “Jy lyk mooi.” Dan beduie hy met sy hand na die deur. “Kom in. Ek … ek was verbaas toe ek hoor jy kom.”

      “Imke het aangehou. En Gys –”

      “Ja, Gys. Die hoeveelste ou is dit die week? Ek hoor jy het elke aand ’n ander een wat by jou kuier. Jy hou die manne van die omgewing besig.”

      Cilla bal haar vuiste en lig haar ken. Simpel vent. “Dit het niks met jou te doen nie,” sê sy en stap vinnig verby hom gangaf, agter die vrolike stemme aan. As sy een sekonde langer daar staan, sal sy hom sweerlik te lyf gaan.

      Reynecke kyk haar agterna en byt ’n vloekwoord terug. Sy is beeldskoon, dit weet hy lankal. Maar vanaand lyk sy eksoties, so sexy. Die wit toppie lyk asof dit om haar lyf gespin is. Dis lig, vol valle en kant, laag gesny voor, en dit vou knus om haar vroulike rondings. Sy hande jeuk om aan haar te vat.

      Hy haal ’n slag diep asem. En dan bring sy wragtag ’n ander man saam. Een wat ook nie sy hande van haar kan afhou nie. Nie dat hy die ou kwalik neem nie, maar hel! Hy stap stoeptrappies toe en kyk uit oor die tuin.

      “En nou, as jy so staan?” hoor hy Philip se stem agter hom vanuit die voordeur.

      Hy draai vinnig terug. “Ek kom. Ek dink almal is nou hier, ons kan maar die vuur aansteek. Of wat dink jy?”

      Philip kyk hom ’n paar tellings aan. “Als reg?”

      “Wat sal verkeerd wees?” vra hy bars en probeer verby Philip stap, maar sy broer vat aan sy arm.

      “Ek is jou broer, ek weet wanneer iets verkeerd is. Magtag man, praat met my,” sê Philip saggies.

      “Daar’s niks verkeerd nie. Soos sy sê, dit het niks met my te doen hoeveel ouens sy op sleeptou het nie. Sy kan maak soos sy wil. As sy vir Gys of Giel of wat de hel die ou se naam ook al is, oral wil saamsleep, is dit haar saak. Niks met my te doen nie. So nee, daar is niks verkeerd nie.”

      Hy systap verby Philip, maar dié gryp weer sy arm, ’n glimlag om sy mondhoeke. “Sy? Van wie praat jy nou? Reinette?”

      Reynecke druk ’n hand deur sy hare. “Cilla, man.” Hy vloek en gooi een hand wanhopig in die lug.

      “Is sy dan die rede hoekom Reinette hier is?” Philip kyk hom ondersoekend aan.

      Reynecke maak sy mond oop om te antwoord, maar iemand roep van agter af.

      “Ons kan later praat, kom ons gaan steek die vuur aan.”

      Reynecke besef nou dat hy ’n stal vol mooi meisies kon nooi, dit sou net mooi niks verander aan die manier waarop sy hart bokspring as Cilla naby hom is nie. Een kyk van haar grasgroen oë en hy is in sy maai. Hy moes nie vir Reinette genooi het nie, haar teenwoordigheid help tog in elk geval niks nie. Hulle was nog altyd net pelle. Hopelik kan dit so bly.

      Cilla stap stadig af in die stalle. Sy het ’n lig aangesit naby die ingang en sy kan taamlik goed sien waar sy loop. By Bravo se stal gaan staan sy stil en roep hom. Hy kom dadelik nader. Sy lag en steek haar hand uit.

      “Ek wou kom kyk hoe dit met jou gaan,” sê