het lankal nie meer suurstof oor nie en probeer asemskep. Dan versnel die tempo, die intensiteit van sy soene, en sy lippe beweeg koorsagtig oor haar oë, haar wange, af teen haar nek totdat sy mond weer hare vind en sy van voor af weggevoer word in ’n stortvloed hartstog. Dis te veel, te vinnig, te kragtig, te groot om te weerstaan.
Dis meer as net passie, meer as net begeerte. Elke emosie wat hy ervaar, word ook deel van haar, elke ervaring van sy sintuie ook hare. Sy hande vou oor haar rondings, sy vingers speel rusteloos totdat ’n snik agter uit haar keel ontsnap.
Hy lig sy kop stadig. Sy oë is donkerpers van begeerte. Maar sy sien ook dieselfde amper paniekerige uitdrukking van vroeër. En sonder dat hy iets sê, weet sy hy het dieselfde gewaarwording as sy gehad, hy het ook haar emosies ervaar.
“Geen vonk nie?” pers hy dit uit.
Cilla haal diep asem voordat sy weer opkyk. Sy sluk. “Goed, daar is ’n vonk … ons is aangetrokke tot mekaar. Of iets. Mens is mos maar van tyd tot tyd aangetrokke tot … tot party mense.” Sy probeer glimlag terwyl sy vinnig in haar motor klim.
“Jy kan gerus wees, ek soek nie ’n man nie.” Sy skakel haar motor aan. “En die man wat my dalk sal kry, is een wat my wil hê. Nie een wat allerhande voorwaardes het of een wat bang is vir wat hy voel nie. Laat weet my pa as jy vir Maggie wil kom haal. Bravo sal rustiger wees. Goed gaan.”
Sy registreer vaagweg in die wegry dat die bolle wat die werker geplant het toe sy die eerste keer hier was, nou uitloop. En sy sien hoe die botterblomme al groen staan op die oorkantste land. Hulle sal een van die dae blom.
Haar wange, haar hele lyf gloei nog van Reynecke se liefkosings. Niemand het haar nog so gesoen nie, niemand het nog ooit die gevoelens in haar wakker gemaak wat sy nou beleef het nie. Hierdie begeerte, hierdie diepe hunkering na sy aanraking, sy blote teenwoordigheid, sy lyf … Sy haal reëlmatig asem en probeer daarop fokus om haarself tot kalmte te dwing.
En hy het ook iets daarvan ervaar, sy kon dit voel, sy kon dit sien. Maar hy skrik vir sy gevoelens, hy’s bang daarvoor en kry dit sekerlik meestal reg om hulle te onderdruk. Sy kan nie dit doen nie.
Hy het die potensiaal om haar hart te breek. Sy sug. Dis vir haar duidelik dat die manier waarop Reynecke se pa gereageer het op sy vrou se dood, van hom die mens gemaak het wat hy vandag is. Een wat nie sy instinkte vertrou nie, wat glo hy moet nie te naby aan iemand kom nie, dan kan hy sy hart beskerm, dan sal hy nie soos sy pa word nie. Wat het hy dit genoem? ’n Obsessie wat sy pa gehad het …
’n Traan loop warm teen haar wang af. Ongeduldig vee sy dit weg. Gelukkig het sy darem betyds uitgevind hoe sy kop werk. Sy is buitendien so besig dat sy nie sal tyd hê om juis aan hom te dink nie. En dalk, net dalk, kan sy saans so moeg wees dat sy nie haar gereelde droom sal droom oor die man wat sy so lank gelede al kon teken nie.
Sy trap die petrolpedaal dieper in en ignoreer die stemmetjie wat vir haar vra of dit nie reeds te laat is nie.
5
Cilla klim stadig die trappe op na die woonstel. Sy het ’n hele mandjie vol nasienwerk wat iewers die naweek moet klaarkom. Die hoofpyn wat haar die hele week so wil-wil pla, is vanmiddag fel en amper verblindend. Sy is sommer vies vir haarself. Sy slaap sleg en sy is buierig, heeltemal teen haar aard in. En sy weet hoekom.
Sy het doelbewus elke aand hierdie week uitgegaan, saam met enige man wat haar gevra het, selfs dié wat sy voor haar siel geweet het haar sou verveel. Sy het met glasige oë deur baie siellose gesprekke gewroeg, meer uitgeëet in een week as wat sy normaalweg in ’n jaar sou, seekatarms afgeweer van dié wat te vurig wou raak – alles in ’n poging om van potblou oë en dringende hande te vergeet.
Teen die einde van elke aand het sy toe-oë haar lippe aangebied vir die man en gehoop dat een van hulle tog iets in haar sou wakker maak. Sy het nie vuurwerke verwag nie, maar het darem gedink één sou sorg vir ’n effense beweging êrens in haar binneste. Maar daar was net mooi niks. Geen vonk, geen elektrisiteit, geen skoppende hart, niks nie.
En dis regtig nie asof sy nie probeer het nie. Sy het selfs “how to kiss a man” gaan google om wenke te kry, wenke wat gelyk het asof dit darem die een of ander reaksie by haar sou kon wakker maak, maar pure verniet. Dit maak nie saak teen watter hoek sy haar mond draai nie, die soene is … lekker, interessant, party gewoon grillerig, maar nie een is Reynecke se soene nie.
Die ergste van alles is dat sy hééltyd aan hom dink. Sy droom oor hom, sy dink aan hom terwyl sy gedigte behandel met die kinders, sien sy blou oë voor haar selfs terwyl ’n ander man oorkant haar sit. Sy weet nie wat om te doen om hom uit haar gedagtes te kry nie. Sy het haar program so vol as moontlik gemaak, maar dit help niks nie. Sy het selfs vandag aangebied om te help met die matriekafskeidreëlings. Hopelik sal dít haar besig genoeg hou dat sy kan vergeet van wat amper ’n week gelede gebeur het.
Sy hoor stemme en kyk op. Imke en Philip kom teen die trappe af, Philip met ’n tas in die hand.
“Hallo, vreemdeling, ek dink nie ek het jou enigsins die week gesien nie, waar was jy?” vra Philip met ’n glimlag.
“O, onse Cilla kyk bietjie die dorp en omgewing se manne deur. Lyk vir my sy vat hulle so van ’n kant af. Hoe lyk dit, Cillatjie, is daar al een wat jou knieë lam maak?” terg Imke.
Cilla skud haar kop. “Ek geniet net my lewe.”
“Is dit hoekom jy aangebied het om die matriekafskeid te help reël?”
“Ag, Imke, iemand moet dit doen, dit kan netsowel ek wees. Buitendien, jy sal onthou ek het nooit by my eie matriekafskeid uitgekom nie. Dalk sal ek dié een wel maak.”
Imke lag. “Foeitog, ja, natuurlik onthou ek.” Sy draai na Philip. “Sy het een of ander maagvirus gehad en kon nie eers aangetrek kom nie. Sy was hondsiek, die hele paartie gemis en –”
“Waarnatoe is julle op pad?” Philip hoef regtig nie alles van haar te weet nie, sy stop Imke liewer net daar.
Imke vryf oor haar hare. “Ek het jou mos gesê ek gaan die naweek saam met Philip Rietfontein toe, het jy dan vergeet?”
“O ja, nee, ek onthou nou. Geniet dit, ek hoop julle kry nog lekker weer. Lyk my die winter is vroeg vanjaar.”
“Ons gaan môreaand sommer kuier en braai, ek het ’n paar vriende genooi. Bring een van jou bewonderaars saam en kom join ons,” sê Philip.
“Ag toe, Cilla, dit sal lekker wees! Ek ken nie Philip se pelle nie en dit sal nice wees om darem ’n bekende gesig daar te hê,” smeek Imke.
Cilla skud haar kop. “Baie dankie, maar …” Sy lig die mandjie met nasienwerk op.
“Ag nee man! Jy sal dit teen môremiddag klaarkry. As ek reg onthou, kom die kinders mos nie die naweek vir perdry na julle toe nie, so jy het geen verskoning nie.”
Cilla sug. Sy wil eintlik net haar kop toetrek, en die laaste ding waarvoor sy krag het, is om Reynecke weer te sien.
“Ek weet nie wie om saam te nooi nie, ek wil net nie alleen –”
Haar selfoon lui en sy beduie dat sy net eers gou gaan antwoord.
“Hallo, Cilla?” hoor sy. “Dis Gys. Gys du Toit.”
Hy praat hard genoeg dat Imke ook hoor wie dit is en sy maak groot oë. “Vra hom,” fluister sy vir Cilla.
Cilla wil liewer skree en die foon neergooi, maar sy haal diep asem. “Hallo, Gys, jy bel of jy gestuur is. Wat doen jy môreaand?”
“Ek … wel, ek bel eintlik om jou uit te vra …”
“Wonderlik. Ons gaan braai op ’n vriend se plaas naby Villiersdorp, kom haal my so teen sewe-uur.”
Gys praat nog, toe druk sy al die foon dood. “Tevrede?” vra sy vir Imke.
“Wie’s Gys?” vra Philip.
“’n Baie oulike plaaslike prokureur,” glimlag Imke. “Jy sal van hom hou. Hy’s regtig ’n baie gawe