Elsa Winckler

Elsa Winckler Eerste Keur


Скачать книгу

’n sekonde langer sit en kyk hoe Reinette aan Reynecke hang nie. En die vroumens lag aanmekaar, wat is so snaaks? Cilla het hard probeer om hulle te ignoreer, onbeskaamd flankeer met die arme Gys en heeltemal te veel wyn te vinnig weggesluk. Sy moes net wegkom van die lawaai, die mense, Reinette se gegiggel, Reynecke se broeiende oë.

      Nice werk toe nie vir haar nie. Gys is regtig so ’n ordentlike ou, so ’n gentleman, maar … hy is nie Reynecke nie. Haar hart bly onaangeraak, haar bloed begin nie bruis naby hom nie, daar is net mooi niks nie.

      Sy sug en vryf weer teen Bravo se nek af. “Is jy bly om my te sien? Ek weet jy wil vir Maggie hê, maar hoe oortuig ons daai knorrige baas van jou?”

      “Hy dink daaroor,” hoor sy Reynecke se stem agter haar. Sy draai vinnig om en hy is reeds by haar, sommer hier teenaan haar. “Wat maak jy hier?”

      Cilla sluk swaar. Hy staan so naby aan haar, dis asof die hitte van sy lyf haar wil toevou en nader trek. Sy draai vinnig terug na Bravo en streel oor sy neus.

      “Ek … ek het net bietjie vars lug gesoek. Ek wou sommer vir Bravo kom hallo sê.”

      Reynecke maak keel skoon. “Ons sit tog buite. Varser lug kan jy beswaarlik kry.”

      Cilla kyk oor haar skouer na hom. “Ek wou vir Bravo kom groet,” sê sy vies. Hoekom karring die man alewig aan haar?

      “Ek is net verbaas dat jy sou wegloop. Jy lyk so tevrede by die Giel-ou wat nie sy hande van jou kan afhou nie.”

      Cilla vryf ritmies oor Bravo se nek en tel tot tien. “Sy naam is Gys. En hy is niks meer vatterig as daai giggelende vroumens wat heelaand aan jou hang nie.”

      Cilla kan haar tong afbyt! Sy kon maar net stilgebly het, maar nee, sy moet mos alewig sê wat sy dink.

      Dis vir ’n paar oomblikke doodstil. Dan hoor sy ’n proes. Sy loer vinnig oor haar skouer na Reynecke. Hy lag saggies. Sy wil haar eers vervies, maar besef dan hoe belaglik hulle al twee geklink het, en lag saam met hom.

      “Ons is soos skoolkinders.”

      Reynecke knik terwyl sy skouers nog ruk van die lag. “Ek is jammer, dis net … in elk geval, jy lyk ongelooflik vanaand, ek verstaan hoe die ou voel.”

      Cilla kyk weer vinnig na Bravo toe, dis veiliger. “Reynecke …”

      Sy hoor hom beweeg en dan is sy hande op haar skouers, sy reuk oral om haar. Dan voel sy dit. Iets teen haar skouer, asof ’n skoenlapper vir ’n oomblik daar kom sit het. Dan voel sy dit weer, en dié keer weet sy dis sy lippe wat haar kaal skouer liefkoos. Sy sidder. Hy lig haar hare weg van haar gesig en sy lippe soen die sagte plekkie agter haar oor, beweeg af tot waar die polsslag in haar nek uitbundig klop, beweeg om tot aan die ander kant van haar gesig waar hy sy soene herhaal.

      Haar oë val toe en haar kop rus teen sy een skouer. Sy hande beweeg om haar lyf totdat hy haar rondings toevou en sy vingers rusteloos met haar speel. Dis te veel … nie genoeg nie, nie naastenby genoeg nie. Sy draai haar kop, trek sy kop verder af sodat hulle lippe ontmoet. Terselfdertyd glip een hand voor by haar toppie in en sy vingers streel en troetel en liefkoos haar.

      Dit voel vir Cilla asof sy gaan uitbrand. Sy tong ontmoet hare, hy beweeg sy onderlyf dringend teen haar lyf. Cilla se hande vou om sy boarms terwyl haar kop willoos teen sy skouer val. Verterende vlamme lek-lek in haar binneste. Haar hand beweeg op teen sy nek en sy draai haar gesig teen sy skouer.

      Hy kreun en draai haar vinnig om na hom toe. In die halflig van die stal sien sy oombliklik die passie in sy oë voordat hy haar vasvang in sy arms. Sy mond is oraloor haar gesig. Cilla vou haar arms om sy nek en probeer hom nog stywer teen haar aantrek. Sy kan nie naby genoeg aan hom kom nie, kan nie genoeg van hom kry nie, kan nie …

      “Koeee-ieee … Reynecke, waar’s jy? Kruip jy weg vir my? Reynecke?”

      Cilla verstar toe sy Reinette se stem hoor. Reynecke swets en lig sy kop vinnig op. Hy kyk verbouereerd rond en trek dan vir Cilla agter hom aan tot in ’n volgende gangetjie. Hulle albei hou op asemhaal terwyl Reinette aanhou roep. Ná wat soos ’n ewigheid voel, raak dit stil en Reynecke loer om die hoekie.

      “Sy’s weg. Ek beter teruggaan. Stap jy solank, ek …” Hy kyk af. “Ek moet eers …”

      Cilla se oë beweeg saam met syne af en sy sluk ’n giggel. Dit is duidelik dat hy eers ’n bietjie sal moet wag voordat hy voor ander mense verskyn.

      “Dis jy wat dit aan my doen,” grom hy. Die lag steek in haar keel vas.

      “Reynecke …”

      ’n Hand vou om haar arm. “Jy moet teruggaan. Ons sal praat, maar netnou kom iemand ons weer soek. Ek … my kop werk nie as jy naby my is nie.” Hy trek haar nader. Die soen is vinnig maar warm, intens. Dan druk hy haar in die rigting van die uitgang. “Toe … weg is jy, anders gaan ek nie verantwoordelik wees vir my dade nie.”

      Cilla stap deur toe, maar stop halfpad. Sy kyk om. Reynecke staan en kyk haar agterna, hande op die heupe. Vir een onbesonne oomblik wil sy terug hardloop in sy arms, maar dan beduie hy woes na die deur. Sy draai om, draf vinnig uit en af met die paadjie tot by die huis.

      Imke staan op die voorstoep. “O, daar’s jy! Ek soek jou oral. Die arme Gys …” Sy kyk Cilla op en af en gryp haar dan aan die arm. “Nee, ek dink ons twee moet eers badkamer toe gaan voordat mense jou sien. Jy lyk soos ’n girl wat ’n lekker vry gehad het.”

      Cilla sug. Hiervan sal sy nooit die einde hoor nie.

      Reynecke gaan sit op ’n emmer en probeer sy asemhaling onder beheer kry sodat die res van sy lyf ook na normaal kan terugkeer. Hel, die vroumens gaan nog sy einde beteken. Praat van hormone!

      Cilla, Cilla, Cilla. Net haar naam laat hom snak na asem. Hy laat sak sy kop in sy hande en die gebeure van die afgelope paar minute speel voor hom af. Haar lang, lenige lyf pas perfek teen hom. Sy is sag en so soepel, en haar lippe … hy dink hy kan haar ure lank net soen.

      Hy spring op. Skrap dit: Hy sal haar definitief nie ure lank net kan soen nie. Die passie wat sy in hom ontlont, is so kragtig dat hy alles om hom vergeet. Hy vergeet hier is mense, vergeet hy het ’n ander meisie genooi. Vanaf die oomblik wat hy Cilla vanaand gesien het, het niemand anders vir hom bestaan nie.

      As Reinette hulle nie kom soek het nie, het hy Cilla sweerlik net hier op die strooi neergetrek. Hy onthou die hartstog wat hy in haar mond kon proe, die klammigheid wat hy aan haar jeans kon voel. Hy is nie al een wat vanaand oorweldig is nie.

      Hy stap uit die stalle, ignoreer Bravo se sagte gerunnik. Hy weet presiés hoe die perd voel.

      En hy weet nou ten minste een ding: Dit help nie. Om te dink hy moet net van haar wegbly – dit help nie. Hy kán nie van haar vergeet nie. Miskien … Hy gaan staan stil. Natuurlik. Hy moet haar uit sy sisteem kry, maar die oplossing is nie om haar te ignoreer nie. Nee, hy moet juis méér tyd met haar deurbring. Dan sal hy vinnig agterkom dat daar iets is wat hom hinder aan haar. Of hy sal, soos altyd met hom gebeur, ná drie weke bloot besef die passie het verdwyn.

      Hy stap vinniger huis toe. Hy gaan sommer net môre vir haar bel.

      * * *

      Cilla lê met wydgesperde oë toe haar selfoon lui. Sy swaai verlig haar bene van die bed af en skakel die bedliggie aan. Sy probeer nou al ’n ruk lank om aan die slaap te raak, maar sy bly haaswakker. Die gebeure in die stal speel oor en oor in haar kop af.

      Reynecke was die res van die aand afsydig en het nie eens weer met haar gesels nie, behalwe toe hulle groet. Sy was egter heeltyd bewus van hom, van sy oë op haar. Sy het haar bes gedoen om so natuurlik moontlik op te tree, maar sy dink nie sy het daarin geslaag nie. Die arme Gys kon nie verstaan dat sy die een oomblik nog (al was dit halfhartig) met hom flankeer het en dan die volgende amper nie ’n gewone woord kon uitkry nie.

      Maar sy kon net nie. Sy het vreeslik gesukkel om net te fokus op wat die ander te sê het. Dit het vir haar gevoel sy loop op wolke. Haar lyf gloei nou nog van Reynecke se liefkosings. Sy was seker almal weet presies wat tussen hulle twee gebeur het.

      Imke