van geweld en verknogtheid aan oorlog as oplossings vir probleme.
Terwyl bogenoemde en ander algemene vraagstukke aandag kry, bly die primêre oogmerk om in die koppe van daardie individuele Afrikaners te klim wat aan die terreurveldtog deelgeneem het. Antwoorde word gesoek oor wat hulle daartoe gedryf het om bomme te plant en ’n magdom ander dade van sabotasie te pleeg.
Die Ossewabrandwagargief op die Potchefstroom-kampus van die Noordwes-Universiteit bewaar ’n groot aantal herinneringe, dagboeke en dokumente, asook bandopnames van onderhoude wat in die 1970’s en ’80’s met voormalige lede van die Ossewabrandwag, Stormjaers en Terreurgroep gevoer is. Daarsonder sou hierdie boek nie moontlik gewees het nie. Die onderhoude gee ’n blik op die betrokkenes se denke, hoewel dit nie sonder gebreke is nie. Die woordvoerders is gewoonlik self gewese Stormjaer- of Terreurgroeplede wat hul kamerade van ouds nie met hoogs omstrede aspekte sou wou inkrimineer oor gebeure wat toe nog as sensitief beskou is nie. In sekere gevalle is daar versoek dat ’n embargo van ’n verdere tien of vyftien jaar geplaas word op die inhoud van die onderhoude voordat die publiek toegang daartoe kon kry.4 Selfs ná vier dekades het die geskiedenisdepartement van die destydse PU vir CHO die resultaat van sy navorsingsprojek oor die Ossewabrandwag in 1983 nog as só sensitief beskou dat dié beperking op die dekblad van Van der Schyff se studiestuk “Die Ossewa-Brandwag en die Tweede Wêreldoorlog” aangebring is: “Die inhoud van hierdie verslag is VERTROULIK.”5
Kontemporêre Afrikaanse en Engelse koerantberigte was ’n onontbeerlike bron om die chronologie van sabotasiedade te bepaal. Omdat beriggewing van die tyd erg partydig was, is dit met omsigtigheid benader. Waardevolle inligting is ook verkry uit dokumente wat by die Argief vir Eietydse Aangeleenthede van die Universiteit van die Vrystaat, die Erfenisstigting by die Voortrekkermonument en die Argief in Pretoria bewaar word.
Daar word nie aanspraak gemaak op ’n volledige weergawe van alle ondermynende dade nie – daarvoor was dit té omvangryk – maar eerder om ’n geheelbeeld daarvan te vorm. Weens die omstredenheid van die begrip “terreur” word dit tans oorwegend met ’n negatiewe konnotasie gebruik. Hier het dit die wye betekenis van ’n strategie om bepaalde politieke oogmerke deur geweld en ondermyning te bereik. Die begrip “sabotasie” word gebruik om dade van verwoesting en vernietiging van die land se infrastruktuur en die belemmering van die Smuts-regering se oorlogspoging te beskryf. Verwysings na plekname en geldwaardes word gedoen soos dit in daardie tydperk bestaan het om verwarring te vermy. Die ewige debat oor wat ’n Afrikaner is, word daar gelaat – in dié boek beteken ’n Afrikaner ’n wit Afrikaanssprekende.
Die resultaat van die navorsing vir die boek was nie sonder verrassings nie. Aanvanklik het die militante verset teen die Smuts-regering se oorlogspoging gelyk na ’n terreurveldtog met ’n lae intensiteit van geweld waarin doelbewus gepoog is om enige lewensverlies te vermy. Gevolglik was ek skepties oor menings dat die terreurveldtog Suid-Afrika op die rand van anargie en selfs ’n bloedige burgeroorlog gebring het. Menings soos dié van Hans Strydom in sy populêre For Volk and Führer het oordrewe en selfs sensasioneel voorgekom: “More startling was the realisation that had the right-wing groups combined for revolutionary action, the plot might have succeeded.”6
Boonop het sekere historici ’n teenoorgestelde mening as Strydom gehuldig. Reeds in 1969 het prof. D.W. Krüger die terreurveldtog onderspeel deur met ’n enkele sin daarna te verwys in sy The Making of a Nation: A History of the Union of South Africa 1910-1961: “There were isolated instances of sabotage and subversive activity, but the Special Police soon put an end to this.”7 Meer onlangs het prof. André Wessels tot ’n soortgelyke slotsom gekom: “Daar was enkele voorvalle van sabotasie, opstootjies en stakings … maar in geheel gesien is binnelandse veiligheid nooit werklik bedreig nie.”8 Die feite toon egter ’n heel ander geskiedenis.
Namate die navorsing gevorder en die wye omvang van die sabotasie asook die potensiële eskalering daarvan aan die lig gekom het, het ek tot die besef gekom dis dalk nie so vergesog om te reken die land was op die rand van ’n moontlike bloedbad nie.
Alles kon maklik anders verloop het.
1
__________
Afrikaners word terroriste
Sowel die Smuts-regering as die Nasionale Party het die radikale beweging onder sekere Afrikaners wat gedurende die Tweede Wêreldoorlog tot uitgebreide dade van sabotasie aanleiding gegee het, as volksvreemde gedrag afgemaak.1 Deneys Reitz, ’n lid van Jan Smuts se oorlogskabinet en Suid-Afrikaanse ambassadeur in Londen in die oorlogstyd, het in sy outobiografie No Outspan opgemerk: “They indulged in bomb throwing, sabotage and other subversive acts quite foreign to the normal character of our Afrikaans people.”2
Wat het ’n aansienlike groep Afrikaners dan daartoe gedryf om dade van sabotasie te pleeg? Die woord “terrorisme” is klaar genoeg om ’n ongemaklike siddering deur die gewone mens te stuur. Dade van terreur vervul die oorgrote meerderheid van die mensdom nog altyd met afgryse. Wat egter vir een ’n weersinwekkende terroris is, kan vir ’n ander ’n vryheidsvegter en patriot wees. Die meeste Afrikaners wat aan dade van sabotasie deelgeneem het, het hul ondermynende optrede in later jare bly regverdig. Inderwaarheid het hulle met ’n soort heroïese selfvoldaanheid en patriotiese trots na hul optrede teruggekyk.
Ten einde die vraagstuk te ondersoek, sal eerstens na die algemene omstandighede gekyk word wat moontlik ’n gunstige klimaat geskep het waarin sekere Afrikaners kollektief daarvoor ontvanklik was om aan ’n terreurveldtog deel te neem. In die laaste gedeelte van die hoofstuk word kortliks verwys na moontlike psigiese faktore wat individue daartoe beweeg het. In die daaropvolgende hoofstukke sal na spesifieke gebeurtenisse gekyk word wat as katalisator vir die terreur gedien het.
Teen die 1930’s het Afrikaners ’n swak selfbeeld gehad, veral weens armoede, en ’n algemene minderwaardigheidsgevoel teenoor Engelssprekendes. Afrikaners het as’t ware soos tweedeklasburgers in hul geboorteland gevoel. Wanneer só ’n kollektiewe minderwaardigheidsgevoel te lank in ’n drukpot geplaas word, kan dit tot uitbarsting kom, veral as dit nie genoeg uiting kry nie. Suid-Afrika sou in latere dekades ’n soortgelyke verskynsel ervaar met ’n wrokkige swart gemeenskap se gevoel van verontregting oor hul verlaagde status.
Aan die begin van die twintigste eeu het die Britse verskroeideaardebeleid in die Anglo-Boereoorlog die binneland geruïneer. Baie Afrikaners het dekades lank gesukkel om daarvan te herstel. Dit het ’n proses van verstedeliking aangehelp waartydens strome armes in krotbuurte in stede saamgetrek het. Die ontwortelde Afrikaners was nie sakelui nie en het aanvanklik ook nie die vermoë gehad om entrepreneurs op te lewer nie. Daarteenoor het wit mense van Britse of Joodse afkoms die nielandbousektore bykans volkome oorheers.3
Die beroepstatistieke van die 1930’s toon hoe erg die Afrikaner aan die agterspeen gesuig het teenoor Engelssprekendes. In 1939 was ’n skamele 3% van maatskappydirekteure en -aandeelhouers en vervaardigers wat vir hulself gewerk het Afrikaners. Slegs 3% van ingenieurs, 4% van boekhouers, 11% van prokureurs en advokate, 15% van mediese dokters en 21% van joernaliste was Afrikaners. Die staatsdiens was in wit Engelssprekendes se hande en minder as ’n kwart van die senior staatsamptenare het Afrikaans as huistaal gepraat. Hoewel Afrikaners 56% van die wit bevolking uitgemaak het, was hul inkomste in 1935 slegs 60% van dié van Engelssprekendes.4
Teen 1939 was ongeveer 40% van alle volwasse Afrikaner-mans in Johannesburg in die vier laer werkskategorieë, naamlik ongeskoolde arbeider, mynwerker, spoorwegwerker en messelaar. Wit Engelssprekendes het net 10% van dié kategorieë uitgemaak. Sowat 70% van die wit mynwerkers was Afrikaners, maar hulle het 90% van die gevaarlike ondergrondse poste gevul, waarvoor ook heelwat laer lone betaal is. Dieselfde het gegeld vir die spoorweë, waar baie Afrikaners ’n skamele vyf sjielings per dag of minder verdien het, vergeleke met die minimum vir beskaafde arbeid van agt sjielings per dag. Op sekere gebiede is Afrikaner-werkers selfs doelbewus benadeel deur sommige Engels beheerde vakbonde wat hulle van sekere ambagte uitgesluit het omdat hulle bang was Afrikaners sou bereid wees om vir laer lone te werk.5
Daar was nog ’n onaanvaarbare ongeletterdheid onder die Afrikaners en die algemene opvoedkundige peil was ook baie laag. In 1939 was slegs ’n derde van alle wit studente aan universiteite Afrikaners