OB se organisasie het van meet af aan ’n semi-militêre inslag gehad wat gebaseer is op die kommandostelsel van die ou Boererepublieke. Die stelsel is as ’n onvervreembare deel van die Afrikaner-kultuur beskou en sou as ’n soort wapenbroederskap dien wat alle Afrikaners bymekaar bring, ongeag hul partyverwantskap. Die hoof van die OB was ’n kommandant-generaal. Hy is bygestaan deur ’n Grootraad bestaande uit hoofgeneraals, gevolg deur gebiedsgeneraals, hoofkommandante, kommandante, veldkornette, korporaals en manskappe. Die OB is streng langs genderlyne verdeel met ’n afsonderlike vroueafdeling wat, soos die jeugafdeling, ook ’n militêre rangstruktuur gehad het. Die feit dat albei geslagte uniforms gedra het en vaandelparades gehou is, het die pseudokulturele beeld van die OB verder verstewig. Daar was ’n sterk strewe na streng volksdissiplinering met die instel van drilkampe, soms op afgeleë plekke. Soos ’n OB-lid dit gestel het: “Ons het gedril asof ons mal was.”4
Ondanks die beweging se groot, entoesiastiese aanhang het sommige Afrikaners dit spoedig begin wantrou. Die Afrikaanse dagblad Die Vaderland het smalend na die militêre voorkoms daarvan as ’n “kultuur-met-die-roer-beweging” en ’n “Leemetford-kultuurvereniging” verwys.5 Die militêre inslag van die OB het inderdaad gehelp om ’n gunstige klimaat te skep vir die ontstaan van die meer aktivistiese Stormjaers.
Veral Engelssprekendes het die OB met neerhalende vyandigheid en agterdog bejeën en van bedekte politieke motiewe beskuldig. Skaars ’n maand ná die OB se stigting het The Star en Cape Argus die beweging met die militante Sinn Fein van Ierland vergelyk.6 In die onstuimige klimaat in Suid-Afrika ná die uitbreek van die oorlog is die OB deurentyd van pro-Nazisme en Nazi-komplotte beskuldig – nie altyd sonder meriete nie.7
Die OB het op drie pilare gesteun, naamlik die republikeinse ideaal, teenkanting van die oorlogspoging en volkseenheid. Dié doelwitte het sterk byval by die gewone Afrikaner gevind en daartoe bygedra dat hordes mense in die beginjare daarheen gestroom het.
Die OB was in die eerste plek onmiskenbaar republikeins. In die taal van die Afrikaner-historikus prof. Piet van der Schyff was die “Ossewa-Brandwag se wortels diep ingebed in die geskiedenis van die Afrikaners se stryd om die koloniale bande met Brittanje af te sweer, om – soos in die republikeinse era – oor sy eie lotgevalle te kan beslis”.8 Daar was egter nie eensgesindheid oor hoe die republiek daar sou uitsien nie. Standpunte het gewissel tussen ’n eksklusiewe Afrikaner-republiek gegrond op die ou Boererepublieke en een wat gelyke regte vir die twee wit taalgroepe gebied het. Die OB was – tipies van die era – paternalisties en rasseskeiding is streng gehandhaaf.9
Uit die herinneringe van bykans al die Stormjaers en Terreurgroeplede is dit duidelik dat die republikeinse ideaal ’n wesenlike dryfmotief vir hul ondermynende optrede was. Om daardie doel te bereik sou hulle die oorlogspoging teen Duitsland op verskillende wyses ondermyn om wanneer die tyd reg was, beheer oor die land te neem.
Die uitbreek van die Tweede Wêreldoorlog het Suid-Afrika meegevoer en die verdeelde wit gemeenskap is in ’n plofbare situasie van bitterheid en wantroue geplaas. Daar was woede onder sterk oorlogsgesinde Engelssprekendes omdat so baie Afrikaners neutraliteit wou hê in ’n oorlog wat in wese die vryheid en demokrasie van die wêreld se toekoms in die gedrang geplaas het. Die meeste Afrikaners was weer verbitterd omdat die oorlog nogmaals ’n Britse oorlog was, duisende myle weg van Suid-Afrika en op ’n ander kontinent, wat hul onderdanigheid aan Brittanje herbeklemtoon het. Die gevoel was dat Duitsland Suid-Afrika geen leed aangedoen het nie en ’n goeie handelsvennoot was. Die toekomstige OB-leier, Hans van Rensburg, het verklaar dat “die regering ’n Britse oorlog sou voer maar met Afrikaanse belange – ook met Afrikaanse bloed”.10
Die OB het hom by uitstek tot verset teen die oorlogspoging geleen en was openlik en soms uitdagend pro-Duits en anti-Brits. Groot gewag is daarvan gemaak dat die pro-Duitse gesindheid ’n middel tot ’n doel was. ’n Duitse oorwinning moes help om die begeerde Afrikaner-republiek te verwesenlik, maar nie om onderdanigheid aan Brittanje met onderdanigheid aan Duitsland te vervang nie.11
Die oorlog het ongetwyfeld groot stukrag aan die OB gegee. Die historikus G.D. Scholtz meen die omstandighede was net tydelik in die OB se guns: “Het die Tweede Wêreldoorlog nie slegs ’n paar maande na die stigting van die OB uitgebreek nie, sou die beweging miskien binne ’n jaar of drie doodgeloop het omdat daar in der waarheid geen plek vir die OB in die Afrikaanse volkslewe was nie.”12
Derdens het die OB hom ten doel gestel om die Afrikaner te verenig ná die onaangename verdeeldheid wat in 1933 gevolg het toe J.B.M. Hertzog en Jan Smuts se partye in die Verenigde Party saamgesmelt het en die wegbreek van die “Gesuiwerdes” onder D.F. Malan in die Nasionale Party. Die OB het op die oog af die geleentheid gebied om die Afrikaner minstens kultureel te verenig. Vir die aktrise Anna Neethling-Pohl was dit “nie net ’n geleerde groep akademici nie; dit was nie net ’n klomp spoorwegmanne nie; dit was nie net ’n klompie boere nie, maar orals soos masels het dit uitgeslaan en dit was vir my so wonderlik dat dit ’n gesamentlike front was”.13
Die opkoms van nasionaal-sosialisme in Europa in die 1930’s het ’n bepaalde invloed op die OB gehad. Die betekenis daarvan, veral vir die ideologiese grondslag van die OB, is egter dikwels misverstaan. Die beweging se ideologiese beginsels was vaag met verwarrende teenstrydighede en uiteenlopende beskouinge in eie geledere. Die Duitse historikus Christoph Marx meen die aanvanklike sukses van die OB het juis in sy populistiese aanslag gelê: “There is no clear ideological profile … it was just this vagueness and blur … which made the OB so very attractive to the masses.”14
Daar was net ’n klein groepie intellektuele, hoofsaaklik aan die noordelike universiteite, wat die ideologiese rigting in die OB probeer aanwys het, maar sonder duidelike ooreenstemming onderling. Namate die oorlog voortgewoed het, sou die OB na ’n duideliker nasionaal-sosialistiese ideologie neig waardeur kultuurgeoriënteerde lede vervreem is.15
Die kernbeginsels van die breë OB-ideologie het ’n Christelik-nasionale en republikeinse gesagstaat behels waar daar geen plek vir politieke partye was nie. In konteks gesien het Afrikaners se armoede sekere mense skepties gemaak oor wat beskou is as uitbuitende kapitalisme wat ’n partydemokrasie toegelaat het. Die OB was nie teen demokrasie as stelsel gekant nie, maar teen die parlementêre demokrasie as die regeringsvorm van die liberale individualisme. Sosialisme is beskou as ’n volkseie, nasionale sosialisme in sterk teenstelling met ’n internasionale sosialisme soos kommunisme. Die OB wou nie ’n eenpartystaat soos Duitsland en Italië hê nie, maar eerder partyloosheid. Die OB het dus ’n eie, inheemse Afrikaanse variasie van nasionaal-sosialisme gehad.16
Nasionaal-sosialisme was ’n vreemde ideologie wat nie ’n blywende indruk op Afrikaners kon maak nie. ’n Jong Hendrik Schoeman (die latere NP-kabinetsminister) skryf in sy memoires: “Ek kon my net nie sover kry om dit as ’n natuurlike gedoente vir die Afrikaners te aanvaar nie.”17 Die ateïstiese inslag van Adolf Hitler se nasionaal-sosialisme het gou met die OB se sterk Christelike grondslag gebots.
Verreweg die meeste OB-lede het nie verhewe ideologiese doelwitte aangehang nie. Vir hulle was die republikeinse strewe en verset teen die oorlogspoging aanloklike doelwitte wat nie van ’n nasionaal-sosialistiese ideologie afhanklik was nie. Die OB was in wese ’n populistiese volksbeweging eerder as ’n ideologiese beweging.
Die eerste leier van die OB, kol. J.C. Laas, het die beweging in geheimsinnigheid gehul met allerlei intriges en bewerings van kontak met Duitsland. Al voor die oorlog het die polisie hom ondersoek en in ’n daaropvolgende geheime verslag is kommer uitgespreek oor sy skakeling met Nazi-agente en ’n beoogde staatsgreep waarby die OB betrokke sou wees. Veral die kultuurgeoriënteerde lede van die Grootraad het glad nie vir lief geneem met Laas se ongemagtigde betrokkenheid by ondermynende bedrywighede nie.
Die OB-leierskap was heeltemal bo Laas se vuurmaakplek. Hy was ’n swak organiseerder met ’n onvermoë om die groeiende vloedgolf mense wat na die OB gestroom het, te hanteer. Hy het impulsief opgetree en sy onverantwoordelike en teenstrydige bevele het verwarring veroorsaak. Sy bisarre aanspraak dat hy telepaties met Hitler in verbinding was en bewerings oor sy lidmaatskap van die Vrymesselaars (wat ’n taboe onder die meeste Afrikaners was) het hom verder ongeskik gemaak. ’n Verbitterde Laas is gedwing om in Oktober 1940 te bedank. Die mantel het op die charismatiese Hans van Rensburg