in 1933, het armoede verder aangehelp en ’n soort wanhoop veroorsaak. Die armblankevraagstuk van dié tyd was in wese ’n Afrikaner-vraagstuk. Vandag is dit amper vergete dat ongeveer ’n derde van Afrikaners aan die begin van die 1930’s armlastig was en onder die broodlyn moes leef. Afrikaners was in dié tyd onteenseglik die houthakkers en waterdraers van die wit gemeenskap.
In sy herinneringe het ’n Stormjaer sy mense se droewige verhaal beskryf: “Die Afrikaners was almal arm gewees, brandarm, só bitter arm … die Engelsman was na die Engelse Oorlog aan die hoof van besigheid saam met die Jode … Dit was nie Afrikaners nie. Die Afrikaner was maar die een wat by die toonbank moes gaan koop. Hy was die arm man gewees. Hy was die werker gewees.”7
Armoede was nog altyd ’n teelaarde vir onrus, veral wanneer ’n sekere deel van die bevolking welvaart geniet. In die 1930’s en ’40’s is wit Afrikaner-armoede gepolitiseer, wat een van die belangrikste dryfvere vir radikale Afrikaner-nasionalisme sou word. Dit is ’n verskynsel wat hom later met radikale swart nasionalisme sou herhaal.
Benewens die blywende materiële skade wat die Anglo-Boereoorlog veroorsaak het, het dit ook op geestelike gebied wonde gelaat. Die grondslag van die Afrikaner se swak selfbeeld is in ’n groot mate gevorm deur ’n slagoffersindroom as gevolg van die oorlog. Dit is daarna aangehelp deur Milner se verengelsingsbeleid, ’n Engelse meerderwaardigheidshouding en armoede.
Sielkundiges meen die herinnering van ’n latere geslag aan ’n vorige geslag se trauma is ’n voortsetting daarvan. As ou wonde nie toegelaat word om op te hou sweer nie, veroorsaak dit ’n naakte aggressie wat simptomaties is van onverwerkte versoening en genesing.8 Met die aanvang van die 1940’s was daar nog nie genesing by Afrikaners vir die trauma van die konsentrasiekampe en ander gruwels van die Anglo-Boereoorlog nie. Daar was steeds ná vier dekades ’n waarneembare woede by ’n jonger geslag oor hul ouers en grootouers se vernedering. Al het hulle dit nie self beleef nie, kon hulle nie aanvaar wat hul voorouers moes deurmaak nie. Die nuwe geslag was in ’n sekere sin radikaler as hul ouers en minder geneë om Engelse oorheersing te aanvaar. (Dit is ’n tendens wat aan vandag se jong swart mense herinner – ’n jonger, radikaler geslag wat na vore tree met ’n nuwe en verhoogde vyandigheid teenoor die onderdrukker van hul ouers.) Die Engelssprekendes het nie die dieper betekenis van daardie trauma begryp nie of was net onsensitief daarvoor. Daarmee het hulle die Afrikaners die moontlikheid van heling en genesing ontsê.
’n Sterk anti-Engelse gesindheid kom herhaaldelik op ’n onverbloemde en robuuste wyse in herinneringe van en onderhoude met gewese Stormjaers en Terreurgroeplede voor.9 Pikkie Botha, ’n oud-Stormjaerleier, het nog in 1974 sonder skroom verklaar: “Ek is grootgemaak as ’n baie sterk rassis met ’n haat teen die Engelsman en alles wat nie Afrikaans is nie. Ek is só grootgemaak … en ek het my ook altyd in die rol gesien dat ek eendag die geleentheid sal kry om met die Engelsman te kan baklei.”10
In 1977 vertel nóg ’n oud-Stormjaer, Johan Malan: “Ek het anti-Engels grootgeword in die huis. My ouma het swaar tye deurgemaak in die Engelse-oorlog. Sy was in die konsentrasiekamp waar sy ’n paar kinders verloor het as gevolg van die tentlewe in die koue weer. Hulle het siek geword en gesterf. Sy het twee kinders oorgehou, van wie my moeder een was. Sy het ons van kleins-af anti-Engels grootgemaak. Die Engelsman is beskou as die verdrukker.”11
Die teregstelling van Jopie Fourie in die Rebellie van 1914 het vir die duur van die terreurveldtog soos ’n donker wolk daaroor gehang. Fourie is verhef tot ’n soort mitiese martelaar wie se nagedagtenis nie net geëer moes word nie; sy ideale moes ook in daad nagestreef word. Die gewelddadigheid van Fourie se optrede is daardeur misgekyk, terwyl Smuts se aandeel aan die tragedie as onvergeeflik beoordeel is. Die terreurveldtog word soos die Rebellie verhef tot edele optrede wat in volksbelang is. Die geweld wat met die terreurveldtog gepaard gaan, word gevolglik moreel geregverdig. Die herinnering aan Fourie se lot word ook herhaaldelik in die oudsaboteurs se herinneringe opgeroep.12
Die twee wit gemeenskappe was tussen die twee wêreldoorloë in ’n intense en bittere stryd gewikkel oor kwessies soos die status van Afrikaans, ’n nasionale vlag en volkslied. Vir Afrikaners was hul Engelssprekende landgenote se patriotisme teenoor Suid-Afrika sterk onder verdenking. Engelssprekendes is gereeld daarvan beskuldig dat hulle meer Engels as die Engelse van Engeland is. Party het inderdaad nog van Engeland as “home” gepraat, al is hulle nie daar gebore nie. Daarteenoor is aangevoer dat die Afrikaner nooit ’n ander vaderland as Suid-Afrika geken het nie.13
Daar was in dié tyd min sosiale kontak tussen die twee wit gemeenskappe. Baie Engelssprekendes was dekades lank afsydig en sommige selfs vyandig en minagtend teenoor Afrikaans – ’n gesindheid wat teen die uitbreek van die Tweede Wêreldoorlog nog algemeen voorgekom het. ’n Stormjaerleier, Herman Havenga, noem hy het ’n “wrok teen die Engelsman” oor die verlede gehad wat aangevuur is deur ’n miskenning van sy taal en kultuur: “As jy in Eloffstraat [in Johannesburg] geloop het en jy het Afrikaans gepraat, het hulle stilgestaan en [jou aangekyk] en as jy ’n winkel ingaan en jy praat Afrikaans dan sê hulle vir jou: ‘I don’t speak that language’ met die gevolg dat dit maar alles in die ou gedagte en in die brein opgelaai het.”14
Die muntstuk het natuurlik twee kante. Vir Engelssprekendes was Afrikaners se dwarstrekkery ondankbaarheid in die lig van die ontsaglike voordele wat hul bydrae vir die mynwese en die breër sakewêreld asook die Britse kultuur in die algemeen vir die land beteken het. Daar was ook by sekere Afrikaners ’n strewe na die herstel van die ou Boererepublieke, wat Engelssprekendes om verstaanbare redes verwerp het.
Met die uitbreek van die Tweede Wêreldoorlog het die verhoudinge tussen Afrikaners en Engelssprekendes ’n nuwe laagtepunt bereik wat aangevuur is deur opponerende standpunte oor oorlogsdeelname. In sy ekstreme vorm het ’n onversoenlike, blinde, eksklusiewe Afrikaner-nasionalisme teen ’n selfsugtige jingoïsme te staan gekom.
Teen die einde van die 1930’s het dramatiese gebeurtenisse ’n kragtige oplewing van Afrikaner-nasionalisme veroorsaak. Onder meer die simboliese Ossewatrek van 1938, die stigting van die OB in 1939 en die Smuts-regering se besluit om Brittanje se oorlogspoging teen Duitsland in dieselfde jaar te steun, sou die vonke by die kruitvat wees.
Terselfdertyd het ’n klimaat van moed en idealisme onder Afrikaners ontstaan met ’n geleidelike verbetering van hul ekonomiese omstandighede. Afrikaners was besig om hulself op te hef, maar hul ervarings van armoede, onderdanigheid en ’n oorheersende wil om ’n herhaling daarvan in die toekoms te vermy, het gehelp om hulle te verblind vir die omstandighede van die swart bevolking, wie se posisie veel onbenydenswaardiger was. In die proses sou die Afrikaner homself van ander bevolkingsgroepe vervreem.
’n Nuwe nasionalistiese intelligentsia het onder die Afrikaner na vore getree wat in verset sou kom teen wat beskou is as onderdrukking deur Britse imperialisme met ’n oplewing van die ou republikeinse droom. In die proses het ’n radikale en onverdraagsame vorm van Afrikaner-nasionalisme by party mense ontstaan. Die terreurveldtog wat gevolg het, kan beskou word as ’n uitvloeisel van ’n radikalisering van Afrikaner-nasionalisme deur militante groeperings.
Dit sou egter ’n sekere soort mens, selfs onder die militantes, verg om daartoe oor te gaan om bomme te plant.
Verreweg die meeste Afrikaners wat soortgelyke ervarings van armoede en onderdrukking beleef het en wat ’n brandende republikeinse strewe en ’n sterk anti-oorlogsgesindheid gehad het, het hulle nie tot terreur gewend nie. Baie het terreur om morele redes afgekeur, terwyl ander wat dalk simpatie daarmee gehad het, net nie psigies en fisiek daartoe in staat was nie. Wat het daardie minderheidsgroep Afrikaners dan verder oor die rand gestoot om tot dade van sabotasie oor te gaan?
Sielkundiges leer ons dat sowel omgewingsfaktore as gene ’n individu se persoonlikheid vorm en gevolglik kan help om daardie persoon se gedrag te verklaar. ’n Ontleding van individue se unieke psigiese samestellings kan dus help verduidelik waarom sekere mense aan terreur deelneem. Waarskynlik het die meeste Afrikaners wat sterk teen die Smuts-regering se oorlogspoging gekant was, ook nie die psigiese mondering gehad om saboteurs te word nie. Al was die grootste nasionalis se oortuigings ook hóé groot, het hy nie noodwendig sulke eienskappe gehad nie.
Met die toename van internasionale terreur in resente