funksies en moet saam met die regiment-sersant-majoor (RSM) let op dissipline in die eenheid; hy vervul dus ook die rol van die oë en ore van die bevelvoerder. Omdat hy alle inligting onder oë kry, is die adjudant vertroud met alles wat in die eenheid gebeur.
Kapt John More was juis op pad Pretoria toe om navrae te doen oor duikhorlosies. Daar het hy sy ou vriend kapt Malcolm Kinghorn (wat hy van die Militêre Akademie af ken) raakgeloop. Kinghorn het nou met beheerde items van die SA Leër gewerk – dus met enigiets wat ’n reeksnommer gehad het, hetsy horlosie, pistool of vragmotor. Hy vertel More van die hoë lewensduurte in die hoofstad en dat hy dit oorweeg om die weermag te verlaat om ’n loopbaan in tersiêre onderwys te volg. More kom gou agter hoe deeglik Kinghorn sy vinger op die pols het rakende alle genommerde items in die leër; hy kon byvoorbeeld onmiddellik die aantal voertuie of wapens by enige infanterie-eenheid bepaal en daaroor terugrapporteer.
Kinghorn se vaardighede kon met groot vrug aangewend word. Hy was uitstekend met die pen, het die hele stelsel by Leërhoofkwartier geken, wat al die mense ingesluit het, en by uitstek geweet hoe om projekte te organiseer. Verder het hy ’n wye algemene kennis gehad en was op die koop toe ’n historikus uit eie reg.
More vra hom toe of hy dit sal oorweeg om Oudtshoorn toe te kom en stel voor dat hy dadelik die springkursus doen sodat hy ’n ekstra R20 valskermtoelaag per maand kan verdien. Nee, sê Kinghorn, hy het hoë bloeddruk, ingeplante tande en dra ’n bril. En boonop, voeg hy by, het hy “geen voorneme om ’n held te word nie”. Maar More het hom geesdriftig aangemoedig en hy was bereid om so ’n aanbod te oorweeg. As toegif sou dit meebring dat hy Pretoria kon verlaat om na ’n meer bekostigbare omgewing te verhuis.
Terug in Oudtshoorn rapporteer More aan Breytenbach dat hy die ideale kandidaat geïdentifiseer het om hul admin-offisier te word. Breytenbach het genl Willem Louw (sy ou vriend sedert valskermdae) dadelik geskakel om die oorplasing te reël. Die volgende wat Kinghorn hoor, is toe Louw hom inroep en meedeel om “sy tasse te pak en Oudtshoorn toe te gaan”.
Kinghorn was goed bekend met die Oudtshoorn-omgewing – hy het as jong offisier kursusse daar by 1 Suid-Afrikaanse infanteriebataljon (1 SAI) gedoen – en het die geleentheid met ope arms aangegryp. Bowendien het hy Breytenbach-hulle al geken sedert die dae toe hulle in Pretoria Sabre-voertuie kom vra het om tydens Operasie Da Gama te gebruik. In Maart 1973 word Kinghorn 1 VK se adjudant.
Omdat die groep nie voorheen ’n adjudant gehad het nie, is dié take deur Dan Lamprecht en More verrig. Toe Kinghorn daar aankom, was Breytenbach in die Caprivi, besig om Fort Doppies te stig. Kinghorn het dadelik die rol van adjudant op sy skouers geneem en ook na ’n reeks ander take omgesien. Hy is bygestaan deur Hoppie Fourie. Hoppie was ’n oudvalskermsoldaat maar het in onguns by Breytenbach geraak en die stoorman geword. Malcolm en Hoppie het die eenheid se administrasie aan die gang gekry – Hoppie in sy pakhuis en Kinghorn in ’n klein kamertjie regoor hom.
Kinghorn het besef dat daar net een manier was om ten volle deur sy kollegas aanvaar te word: hy moes die spesialemagte se volle opleidingsiklus vrywillig deurloop. Dit doen hy en voldoen aan die vereistes vir Recce-operateur. Sy opleiding het in 1974 met die duikkursus in Simonstad begin. Al die lede van die Oudtshoorn-groep het die een of ander tyd die duikkursus aangedurf. Sommige het egter aan erge engtevrees gely en kon nie die kursus slaag nie. Hulle is egter steeds met groot vrug in talle ander hoedanighede aangewend.
Die groep het dikwels saam in die Mosselbaai-omgewing gaan duik. Terwyl hulle een dag ’n ruskans by die Paviljoen by Santosstrand neem, kom ’n opblaasboot met twee manne aangejaag. Die twee is deel van ’n span wat robbe by die eiland uitdun – daardie jare was dit nog toelaatbaar. Hul nette het aan die rotse vasgehaak en nou kan hulle dit nie loskry nie. Koos, More en Kenaas is toe saam met hulle om te gaan help.
Hulle het die nette vinnig losgewikkel gekry. Toe die jonger man vra hoe hy hulle kan vergoed, vra Koos dat hulle vir hom ’n klein rob lewend moet vang. Hy het in die sirkus gesien hoe oulik ’n klein rob kan wees en wou nou sy eie rob hê.
Die jong man vang toe ’n klein rob en gee hom vir Koos. Die welpie wil net byt, maar hulle kry hom met ’n gesukkel in die duiksak geprop. Hulle was toe al twee uur lank weg en Breytenbach het intussen al hoe ongeduldiger geraak.
“Waar de donner was julle heeltyd?” vra hy. Maar toe Koos die welpie uit die duiksak haal, verander Breytenbach se luim en hy is ewe opgewonde oor die nuwe “vonds”. Die rob sal voortaan die Recces se gelukbringer wees, kondig hy aan, en doop hom heel gepas Klein-Koos.
Teen tienuur die aand was hulle klaar met die duikoefening en met Klein-Koos op pad terug Oudtshoorn toe. Dis toe wat hulle begin wonder wat hulle met die rob gaan doen. Koos stel voor hulle sit hom in die visdammetjie by die onderoffisiersmenasie.
Die volgende oggend is die kommandement in rep en roer. Oral lê vere, die eende is dood en daar is nie ’n lewende vis in die dammetjie oor nie. Die RSM soek in aller yl na die persone wat die moeilikheid veroorsaak het. Die Recces kom boonop agter dat Klein-Koos skoonveld is. Hulle gaan soek stilletjies op en af in Oudtshoorn se strate, maar tevergeefs, daar is geen teken van die rob nie.
Dieselfde aand wat hulle met die rob daar aangekom het, kom ’n dienspligtige toevallig om middernag ook terug van pas af. Hy kom die basis goedsmoeds ingestap, kan nie glo wat hy voor hom sien nie, en haas hom na die sersant aan diens. “Sersant, ek het nou net ’n rob by die hek sien uitstap!” kondig hy aan. Die sersant vervies hom so vir die voor-op-die-wa-troep dat hy net daar besluit om hom vir dronkenskap te arresteer.
Koos-hulle weet nou dat Klein-Koos definitief buite die basis is, maar kan steeds geen spoor van hom vind nie. Toe kry hulle ’n leidraad in die Oudtshoornse koerant: “Cape fur seal found in Oudtshoorn!” berig die blad. ’n Huisvrou het die rob tussen haar melkbottels op die stoep ontdek toe sy haar voordeur oopstoot. Die rob is met ’n gespook in ’n nat kombers toegedraai en by Heroldsbaai in die see vrygelaat. Die insident is ook by die DBV aangemeld en dié soek toe dringend na die skuldiges wat die rob uit sy natuurlike habitat verwyder het. So het Klein-Koos met ’n vreemde ompad sy weg weer teruggevind see toe en die Recces was sonder ’n gelukbringer.
Daar was gereeld troeteldiere van een of ander soort in die eenheid. Op Oudtshoorn het Dewald de Beer 42 slange van verskillende spesies in ’n hok aangehou. Daar was onder meer kobras, pofadders, boomslange en selfs ’n groenmamba. Langsaan was ’n hok waarin hy muise geteel het om die reptiele te voer.
Die reptiele het ook goed te pas gekom tydens oorlewingskursusse om studente op te lei in slangidentifikasie, giftige spesies en behandeling van slangbyt. So het Dewald sy slanghok teenoor die owerhede regverdig.
Hy het sy slange goed geken en baie tyd bestee om hul gedrag in die slanghok dop te hou. Volgens hom was ’n pasgebore slangetjie “een van die mooiste dingetjies op aarde”. Ongelukkig het die dun slangetjies maklik deur die hok se ogiesdraad na buite geseil. Op dié wyse het daar in ’n stadium 17 kleintjies in Trevor se gereedskapkas beland.
Hierdie “wegseilgedrag” van die klein pofaddertjies het eenkeer onverwagte gevolge gehad. Om vir ’n valskermspringtoelae in aanmerking te kom, moes elkeen gereeld ’n aantal verpligte spronge doen. 1 Valskermbataljon in Bloemfontein het gewoonlik die Dakota, valskerms en afstuurders verskaf. Daar was heelwat dorings in die Oudtshoorn-omgewing en gevolglik was daar altyd takkies, dorings en droë blare in die valskermdoek as dit ná die sprong in die veld opgerol is. Die gebruikte valskerms is eers na ’n gebou in die basis geneem waar dit uitgeskud en rofweg opgevou is. Al die uitrusting is dan die volgende dag in die Dakota terug Bloemfontein toe geneem.
Op ’n dag, ná so ’n valskermoefening, bel ’n hoogs ontstoke maj DJ (Archie) Moore (later bevelvoerder van 1 Valskermbataljon) uit Bloemfontein: “Probeer julle nou snaaks wees of wat?” wil hy weet. John More is heeltemal uit die veld geslaan en probeer agterkom wat aangaan. Hy hoor toe dat die vroue wat die doeke in Bloemfontein oopvou om te herpak, hulle amper flou geskrik het toe hulle op ’n hele nes klein slangetjies afgekom het. More het dadelik besef wat gebeur het.
Die valskerms het ná die sprong ’n dag lank op die vloer gelê en Dewald se klein pofaddertjies het die geleentheid gebruik om hulle in die voue tuis te maak. Dit was egter onmoontlik