Dié gebied, wat gewemel het van olifante, renosters, buffels, seekoeie en krokodille, was die ideale plek waar Breytenbach en sy span ’n basis vir dié doel kon stig. Die basis is aanvanklik Olifantkamp genoem omdat daar so baie olifantvoetpaaie daardeur gelei het. Later sou die kamp se naam na Fort Doppies7 verander word. Dit was nietemin in die omgewing van Olifantkamp waar Breytenbach se span Recces die groep Zambiese uitgewekenes (nou toegerus met kommunistiese uitrusting en wapens) opgelei het.
Nege maande later is Breytenbach weer soontoe om die opleiding te inspekteer. Daar tref hy slegs die opleidingspan aan. Hy hoor toe dat die Zambiërs op hoë gesag teruggeroep is Zambië toe vir ’n dringende operasie. Dit terwyl hulle nog geensins gereed was vir operasionele ontplooiing nie. Die Zambiese weermag het hulle aan die oorkant van die Zambezi-rivier ingewag en in ’n goed opgestelde lokval onderskep en afgemaai.
Die Recces se opleiding het soms met onverwagte terugslae gepaardgegaan. In Desember 1971 moes Breytenbach en die tien lede van die Oudtshoorn-groep met duiktoerusting ’n watersprong in die Swartvlei-meer gaan doen. Twee lede van die vloot se duikskool, AO2 Ken Brewin en ebmn Willy Dewey, het by die groep aangesluit. Hulle sou later saam met die Recces deelneem aan die eerste seewaartse operasie wat ’n sabotasietaak in Dar es Salaam, Tanzanië behels het.
Die watersprong was sowat ’n week voordat almal met hul jaarlikse verlof sou gaan. Die groep het baie na die oefening uitgesien. Met Trevor Floyd se aanmoediging het ’n paar manne boonop ’n lekker uitstappie agterna beplan. Hulle sou ’n verdere week aanbly vir wat hulle “fun diving” genoem het. Hulle sou onder meer op en af teen die kus beweeg en met ’n pylgeweer vis skiet. Planne is gemaak om dié vakansie vir homself te laat betaal. Een was om loodsinkers op die strand op te tel en vir drinkgeld te verkoop. Nog een was om ladings in die seepoele te laat ontplof wat die dooie visse na die oppervlak sou laat kom. Dié sou hulle dan braai en die res aan die naaste slaghuis verkoop.
1 Valskermbataljon het die vliegtuig en valskerms verskaf. Kort voor die sprong het almal na suurstof oorgeskakel. Hulle sou ná die waterlanding met die duikoefening voortgaan en was toegerus met suurstofduikstelle wat vir aanvalsduik ontwerp is. Dié duikstelle laat nie lugborrels na die oppervlak kom wat die aanvalsduiker se teenwoordigheid kan verklap nie.
Maar sake het sommer van die begin af skeefgeloop. Toe die Dakota se groen lig aangaan, spring hulle een ná die ander. Die oomblik toe Trevor uitgaan, gryp die glystroom sy uitrusting en hy hang onderstebo aan die valskerm se draaglyne. Gelukkig kry hy hom losgewikkel en land veilig in die water.
Fires van Vuuren het derde gespring. Naby aan die oppervlak het hy in valskermtaal gereed gemaak om “uit te kom soos vir water”. Dit beteken hy moet uit sy valskermtuig kom die oomblik wat sy voete die water raak, andersins kan hy verstrengel raak en sal die valskerm water skep en hom aftrek. Fires se duikbril was egter toegewasem en hy kon nie die afstand behoorlik skat nie. Op sowat 10 m, wat nog heeltemal te hoog is, val hy toe reeds uit sy harnas. Hy tref die water met só ’n slag dat die bande waarmee die suurstofduikstel aan sy lyf vas is, breek en die duur toestel onder die water verdwyn.
’n Omgekrapte Breytenbach kon sy ore nie glo toe hy dit hoor nie. “Die volgende wat ek seker gaan hoor, is dat die despatchers vir my kom sê die Dakota is weg!” was sy verontwaardigde reaksie.
Dié slegte nuus het onmiddellik ’n demper op die groep se entoesiasme geplaas. Hulle het net sewe suurstofduikstelle gehad en nou moes hulle boonop hoor dat een so ’n stel dieselfde as ’n Volkswagen kos. Binne ’n oogwenk het die hele avontuur in ’n nagmerrie verander. Hulle moes alles net so los om die verlore suurstofduikstel te soek.
“Kry daai ding!” het Breytenbach beveel. “Niemand gaan hier weg voordat julle hom gekry het nie!”
Dit was net vyf dae voordat hulle verlof sou begin. Breytenbach se opdrag het beteken dat hulle nou in hul vakansietyd na die toestel sou moes soek. Vir een, John More, is dit nog erger – hy sou die volgende oggend Europa toe vertrek op sy wittebrood. Sy pleidooi by Breytenbach help en hy is al een van die groep wat van die soektog verskoon word. More haas hom Oudtshoorn toe om sy bagasie te kry en vlieg via Port Elizabeth om sy vlug in Johannesburg te haal. Terwyl hy oor die Swartvlei-meer vlieg, sien hy sowaar deur die venster hoe die manne steeds onverpoos na die suurstofduikstel soek.
Dag ná dag soek hulle, maar dis vergeefs, hulle kry niks nie. Die twee vlootduikers wys hulle hoe om toue te span en die soektog stelselmatig uit te voer. Snags slaap hulle in ’n woonwapark en leef van blikkieskos: boeliebief, groente en blikke en blikke ertjies. Hul sakgeld raak vinnig op want daar is nou geen vis of sinkers wat hulle kan verkoop nie. Fires raak by die dag al hoe stiller. Hy is skielik die ongewildste lid in die groep en die ander wil in elk geval nie juis met hom praat nie.
Die hele week word daar gesoek en voor die laaste duik die Vrydagmiddag is die suurstofduikstel steeds nie gevind nie. Nou speel Breytenbach ’n ander kaart: “Julle gaan seker nou almal met vakansie en ek moet alleen agterbly om julle gemors reg te maak!” Hierop vra hy vrywilligers om saam met hom gedurende die vakansie te duik. Koos Moorcroft, Kenaas Conradie, Dewald de Beer, Jimmy Oberholzer, Fires en Dave Tippett willig in om saam met hom die soektog voort te sit. Hulle het in elk geval nie geld gehad vir ’n vakansie nie. Die spesialemagte-soldate het daardie dae nie veel verdien nie en ook nie die toelaes van vandag ontvang nie.
Die Vrydagmiddag laat word daar vir die laaste keer die dag geduik. Tydens hierdie desperate poging sien Koos ’n stukkie rubber in die water langs die swemlyn. Toe hy dit van naderby bekyk, sien hy dat dit inderdaad die toestel se suurstofmondstuk is. Hy duik dadelik af, voel oral om hom rond en vat tot sy eie ongeloof die suurstofduikstel raak! Toe hy daarmee na die oppervlak kom en die manne dit sien, was hul verligting onbeskryfbaar.
Soms het dinge tydens operasies ook skeefgeloop, en in een geval was dit tot die Recces se groot verligting. BOSS het inligting bekom dat ’n Noorse skip ’n vrag myne en plofstofstelsels Tanzanië toe neem. Daar word die besending afgelaai en dan per konvooi na Mosambiek en Rhodesië gebring. Dit was een van die roetes wat gebruik is om ammunisie by die Front vir die bevryding van Mosambiek (Frelimo) te kry.
Die Suid-Afrikaners het geweet wanneer die skip in Durban se hawe sou vasmeer. Breytenbach, Trevor, Koos en Kenaas kry opdrag om myne op die skip te plant. ’n Deskundige van BOSS het die myne vir hulle voorberei. Dit was nog van die ou soort magnetiese myne wat met verouderde vertragingsmeganismes gewerk het. Die span is vanaf Salisbury-eiland in die hawe met ’n balsak (’n sak waarin troepe hul uitrusting pak) vol myne na die skip waar hulle dit teen die romp geplant het.
Die skip sou dieselfde aand nog vertrek en die myne is gestel om af te gaan sodra die skip op die oop see was. Wat hulle nie geweet het nie, was dat die skeepskaptein by die hawemeester toestemming gekry het om nog ’n dag oor te staan. Toe die sabotasiespan dit hoor, was dit te laat om iets aan die saak te doen – die myne kon nie afgehaal word nie omdat dit klaar geaktiveer was. Dit het ’n baie lang nag geword met die wete dat die Durbanse hawe met al sy brandstoftenks inderdaad ’n kruitvat was wat gewag het om te ontplof.
Tot hul verligting het niks gebeur nie en die skip het die volgende dag uitgevaar. Daar is aangeneem dat die vertragingsmeganismes dalk nie gewerk het nie of dat die myne afgegly en op die hawebodem beland het. Dit kon ook wees dat die skip met al die myne uitgevaar het en dat dit iewers in die oseaan afgespoel is. Tot vandag toe bly dit ’n raaisel wat met die myne gebeur het.
Hierdie poging van kmdt Jan Breytenbach en sy span Recces was nietemin die eerste Suid-Afrikaanse operasionele duikoperasie, al was dit op eie bodem uitgevoer.
Hul eerste sabotasietaak buite die land het in 1972 plaasgevind. Daar is op regeringsvlak besluit dat die bewind van pres Julius Nyerere van Tanzanië gedestabiliseer moet word omdat hy opleidingsgeriewe aan Frelimo beskikbaar gestel het. Dié geriewe het tot die eskalering van die guerrillaoorlog in Mosambiek bygedra, is gemeen. Die plan was om oproer in Tanzanië aan te wakker met ’n reeks sabotasiepogings.8 Daar is aangeneem dat die Tanzaniërs enige sabotasiedaad aan Nyerere se teenstander, Oscar Kambona, ’n voormalige nie-Marxistiese kabinetslid, sou toeskryf.
Die Recces sou die taak uitvoer en die hoofstad, Dar es Salaam, is as eerste teiken gekies. Iewers langs die pad sou die span aan boord van ’n duikboot gaan