Met ’n verwonderde uitdrukking op sy gesig kyk hy af en draai sy hand teen haar buik. “Is dit Papawer?”
Sy knik. “Dis Papawer. Die dokter het gesê ek behoort beweging enige tyd van so sestien weke af te voel. Ek is nou twintig weke swanger en het my al verbeel ek voel iets, maar netnou toe ek jou in die straat sien, het ek vir die eerste keer ’n definitiewe beweging gevoel.”
Hy kyk op. Hulle gesigte is sentimeters van mekaar af.
Wat op aarde het haar besiel om die man se hand op haar maag te sit? Seker al die deurmekaar hormone.
“Toe jy my in die straat sien?” herhaal hy fronsend.
“Papawer het nie beweeg omdat ek jou gesien het nie. Dit het net op dieselfde oomblik gebeur. Uhm … jy kan maar jou hand wegvat.”
“As jy dit los, sal ek.” ’n Sweem van ’n glimlag speel om sy mond.
Vinnig los sy sy hand en draai weg. Wat op die aarde moet die man van haar dink? “Kom eet. Ek moet by die werk kom.”
Riekert stap stadig terug na sy stoel en gaan sit. Hy tel die mes en vurk op, sit dit weer neer.
Sy gaan sit gou.
“Sal ons bid?” Hy hou sy hand uit.
“Dis nie nodig nie.”
Hy gryp haar vingers vas en buig sy kop. “Dankie vir die voedsel, Heer. Seën hulle wat minder as ons het.”
Bippie begin haar hand uit syne trek, maar hy hou net stewiger vas. “En wees asseblief met Bippie vandag. En met Papawer.”
Hierdie keer pluk sy haar hand weg en begin eet. “Jy is vreeslik oorvatterig.”
“Ons moet albei gaan werk. Ek wou bid, jy wou baklei.”
“Tsskk. Ek wou nie baklei nie, ek het net gedink dis nie nodig om jou hand vas te hou nie.”
“Ek het al ’n paar keer hier geëet. Julle vat altyd hande.”
“Ja, ons doen dit, maar –”
“… jy wil nie my hand vashou nie?”
Nee, sy wil nie sy hand vashou nie, sy hou glad nie van wat in haar binneste aangaan wanneer hy aan haar raak nie. Maar dit hoef hy nie te weet nie. Sy sit haar mes en vurk op die bord neer. “Ek moet gaan werk.”
“Hoe voel jy?”
Sy lig haar ken en staan op. “Ek is swanger, nie siek nie. Ek voel goed, dankie.”
“Het jy al iets gehoor van die eksaminatore oor jou M-verhandeling?”
Verbaas kyk sy na hom. “Hoe weet jy daarvan?”
Hy lig ’n skouer. “Derek het eendag genoem jy wag vir die uitslae.”
Sy staan op en stoot haar stoel terug voor sy haar bord optel. “Ek het vanoggend gehoor. Die eksterne eksaminatore is tevrede.”
“So jy kan graad kry?”
“Ja, hoewel die plegtigheid natuurlik eers teen die einde van die jaar is.”
“Dis baie goeie nuus, ek is bly. Baie geluk.”
“Dankie.” Sy was haar bord gou by die wasbak. “Ek wil sommer dadelik met my PhD begin.”
Agter haar hoor sy Riekert sy stoel terugstoot. “By dieselfde universiteit?” Hy stap met sy bord tot by die wasbak.
“Ja. Ek sou graag my PhD by Wits wou gedoen het; my belangstelling is die Blombos-grot. ’n Span van Wits is daar in beheer, maar ek kan by Ikeys registreer en net ’n medepromotor by Wits kry. In beginsel het ek reeds goedkeuring gekry. Die Universiteit van Kaapstad is net makliker in dié stadium.” Sy vat sy bord by hom en was dit.
“Blombos? Dis mos naby Stilbaai? Iewers het ek iets gelees oor wat hulle daar ontdek het.” Hy begin afdroog.
“Die argeologiese terrein bevat artefakte uit die Middel-Steentydperk soos seeskulpkraletjies, implemente van been en van klip, die stoflike oorskot van mense en diere en ’n werkplek waar oker geprosesseer is. Die uitgrawings het belangrike nuwe inligting opgelewer wat veral daarop dui mense het in daardie stadium al simboliek gebruik. Die ontdekkings is belangrik in die huidige debat oor die kognitiewe en kulturele oorsprong van die eerste mense en dra by tot begrip van waar en wanneer sleutelveranderinge in gedrag gedurende die Pleistoseentydvak by Homo sapiens in Suider-Afrika plaasgevind het.”
Riekert glimlag, want Bippie se hande swaai en beduie; dis duidelik haar vak is haar passie.
“Ek het by Derek gehoor jy was in die Kalahari vir navorsing vir jou M?”
Sy knik en vee die wasbak skoon. “Ja, ek het gekyk na die vroeë aanpassing van mense in die Kalahari-kom. So vir my PhD wil ek die navorsing uitbrei na die kusstreke van Suid-Afrika om vergelykings te kan tref. Ek moet probeer om ’n voorstel so gou moontlik by die promotor in Kaapstad te kry om te hoor of hulle dit so sal aanvaar. Sodra ek weet dis goedgekeur, kan ek begin planne maak. Maar om tyd te kry om te skryf, is op die oomblik maar ’n gesukkel.” Sy vou haar hand oor haar boepie.
“Jy is deur ’n moeilike tyd.”
“Vandat ek net na Kersfees hier ingetrek het, het ek en Reina en Derek die oudhedewinkel begin regmaak. Jy weet seker van die huisie naby die kerkgebou en ou poskantoor wat Derek raakgeloop het?”
“Ja, hy het so iets genoem.”
“Dis so ’n mooi plekkie. Die onderste ruimte is reeds voorheen in ’n winkel omskep, so ons kon net intrek. Ek hoop ek sal binnekort aan my voorstel vir die PhD kan begin skryf.”
“Sterkte. En Bippie?”
Sy kyk vinnig op.
Hy haal ’n besigheidkaartjie uit en stop dit in haar hand. “As jy iets nodig het, laat weet my. My huis is in die Paarl, maar ek gaan tydelik ’n plek hier op McGregor huur terwyl ek aan die huis werk. As jy of die tantes iets nodig het, bel my.”
Sy druk die kaartjie in haar roksak. “Dit sal nie nodig wees nie, want ons kom goed reg, maar dankie vir jou aanbod. En onthou, jy is gewaarsku omtrent die tantes se planne om ’n pa vir Papawer te kry, so as ek jou kan raad gee, bly uit hulle pad. Wel, totsiens, ek moet stap.”
“Kan ek jou gaan aflaai?”
“Nee dankie!” Sy beduie na haar buik. “Swanger. Nie siek nie.” Ken omhoog stap sy by die kombuis uit.
Bippie is skoon bewerig terwyl sy kamer toe stap om haar tande te borsel en haar handsak te kry. Riekert is net nog ’n man. Oukei, ’n baie aantreklike man, maar die allerlaaste ding waaraan sy nou moet dink, is ’n man. Enige man.
Belangrike besluite oor haar toekoms moet geneem word; tyd vir swymel oor aantreklike mans is hier nie. Sedert Reina en Derek se troue is dit asof sy in ’n soort borrel leef, een waarin tyd geen faktor is nie, maar nou het die nuwe jaar begin en is dit tyd vir aksie.
Finansies gee haar hoofbrekens. Reina vra nie huur vir haar om hier te bly nie, want sy reken Bippie doen haar ’n guns om by die twee tantes te woon. Reina betaal haar ook ruim vir die bestuur van die winkel, maar Bippie raak al hoe meer bewus van die uitgawes waarvoor sy binnekort verantwoordelik gaan wees: medies, klere vir Papawer, ’n bababed en al die honderde ander kleiner dinge wat babas klaarblyklik nodig het.
Haar ouers het dit duidelik gemaak hulle sal vir haar studie betaal, maar is nie bereid om finansieel te help as sy die baba gaan hou nie. Nie dat sy dit van hulle verwag nie. Papawer is haar verantwoordelikheid. Finansieel en andersins. Sy het lankal geleer om nie van haar ouers enige emosionele hulp te verwag nie.
Die voorneme is om soveel moontlik van haar maandelikse salaris te spaar; later sal sy moet sorg vir ’n blyplek vir haar en Papawer. Sy kan nie vir altyd hier op McGregor in Reina se huis bly en in die winkel