sy skouers pas? En hoekom wonder sy oor die skakering blou van sy oë? Hormone – dis al logiese antwoord.
Hoekom sou sy nou ewe skielik aan niks anders as Riekert Tredoux dink nie? Sy is swanger en die pa van haar baba stel nie eens belang in haar nie, waarom sal ’n vreemde man nou by haar wil wees?
“Arrggh,” kreun sy terwyl sy seker maak die deur is gesluit. Hoekom dink sy hy wil by haar wees? Al rede hoekom hy vanoggend by die huis was, is omdat die tantes hom gaan haal het.
Maar daar is iets in sy oë, piep ’n ou flou stemmetjie. Blote verbeelding, plus natuurlik al daai simpel hormone.
Die hitte vou soos ’n dik kombers om haar. Miskien moes sy maar vir oom Fred gebel het. Maar, ag wat, dis darem net twee blokke, sy kan loop. Sekondes later leun sy kortasem teen die naaste boom, effens naar en duiselig, met swart kolletjies voor haar oë. Haar rug is ook vandag nogal seer. En goeiste, dis behoorlik asof die son nét op haar skyn.
Oom Fred het al verskeie kere aangebied om haar te kom haal, maar afgesien daarvan dat sy petrol spaar, is die oefening ook goed vir haar. Sy is mal oor stap en het saam met die universiteit se voetslaanklub die meeste paadjies op en rondom Tafelberg al gestap. Watse pieperigheid is dit nou? Sy is fiks, sy is jonk, sy kan dit doen! In haar hele lewe het sy nog nooit flou geval nie, maar vandat sy Papawer verwag, voel sy gereeld flou soos ’n wafferse outydse heldin. Soos sy vir Riekert vanoggend gesê het, is sy swanger, nie siek nie.
Sy teug gou water uit die botteltjie wat sy altyd by haar dra, voor sy weer begin stap. Dis somer, dit moet warm wees. Honderde vroue is swanger en kry warm, en niemand anders val flou nie. Een tree voor die ander.
Die volgende boom is ’n entjie laer af in die straat, amper by die volgende blok. Daarna is dit nog net drie huise voor sy by Reina se huis is. Sy kan dit doen. Met haar oë op die boom, trek sy haar skootrekenaar stywer oor haar skouer en begin stap. Dis nie naastenby so erg soos sy dit maak nie.
Sy is amper by die boom. Nog net een tree.
Cora staan handewringend in die pad voor hulle huis, toe Riekert laatmiddag uitstap om sy rekenaar in die bakkie te gaan haal. Hy verwag ’n e-pos van ’n plek in Kaapstad wat skaars houtsoorte aanhou. Een vensterraam is meer beskadig as die ander en ’n stuk sal vervang moet word. Hy hoop hy kry goeie nuus.
Sedert hy twee jaar gelede met die restourasie van huise begin het, koop hy gereeld hout op wat uit ou huise kom. Hy het ’n stuk geelhout vir kleiner laste, maar sal ’n groter stuk nodig hê om hierdie spesifieke raam reg te maak.
“Als reg, tannie Cora?” Hy het hom voorgeneem om so ver moontlik uit die pad van die mense van die huis oorkant te bly, maar dis duidelik die tante is oor iets besorg.
Sy kyk vlugtig na hom voor sy weer in die straat af kyk. “Ek is net bekommerd oor Bippie, hartjie. Dis so warm vandag. Haar ou geldjies is mos maar min, so sy stap eerder werk toe as om haar motor uit te trek, maar sy moes al hier gewees het. Fred werk vandag by ’n ander huis, maar miskien moet ek hom maar gou bel –”
“Dis nie nodig nie. Ek sal gou gaan kyk waar sy is.” Riekert haal sy bakkie se sleutels uit.
Cora glimlag verlig. “Sal jy? Ag, kind, baie dankie. Moet tog nie sê ek het jou gestuur nie, sy is so ’n onafhanklike enetjie.”
Riekert pers sy lippe opmekaar en met ’n wuif van sy hand ry hy weg. Onafhanklike enetjie. Goeie beskrywing. Voeg daarby hardekwas, moeilik, beautiful … Hy skrik so groot vir die woord dat hy die stuurwiel eenkant toe ruk en die bakkie se neus in ’n oogwenk in die rigting van die watersloot langs die pad staan. Net betyds kry hy die voertuig weer onder beheer en ry om die hoek.
Waar ís die vroumens? Sy het tog sy kaartjie, hoekom bel sy hom nie? Of vir oom Fred?
Hy soek aan weerskante van die pad en wil net omdraai, toe hy haar sien. Sy sit. Plat op die grond met haar rug teen ’n boom. Sy hart gee ’n ruk. Is sy oukei? Met ’n blik in sy truspieëltjie, maak hy ’n U-draai en hou langs die boom stil.
Haar kop leun teen die boom, haar oë is toe, die sproete duidelik sigbaar op haar wasbleek gesig.
Bekommerd spring hy uit en stap met lang treë tot by haar. “Bippie, is jy oukei?” Hy hurk en druk sy hand teen haar voorkop.
Haar oë fladder oop. “Riekert? Hoekom is jy hier?”
“Tannie Cora is bekommerd oor jou.” Hy tel haar in sy arms op.
’n Frons keep tussen haar oë. “Ek kan self stap.” Haar arms vou om sy nek.
“Ek dink jy het genoeg gestap vir een dag.” Hy dra haar tot by die bakkie en sit haar versigtig neer sodat hy die deur kan oopmaak.
“Ek wou net ’n bietjie rus, dis nie asof ek –”
“… te sleg gevoel het om verder te stap nie?” vra hy terwyl hy haar in die bakkie help. “Jy’s wasbleek, Bippie.” Sy stem is harder as wat hy bedoel het, maar sy het hom so laat skrik. Hy maak die deur toe en stap om na die bestuurder se kant.
In stilte ry hulle.
Bippie maak keel skoon. “Ek sou uiteindelik by die huis gekom het.”
“Teen donker?”
“Ek is jammer, oukei? Ek’s nie gewoond mense wag vir my of is bekommerd oor my nie.”
“Wel, mense is bekommerd oor jou en wag vir jou. Raak gewoond daaraan.” Hoekom hy so opgewerk is, weet hy nie. Dit het hoegenaamd niks met hom uit te waai of sy teen ’n boom sit of langs die pad flou word nie. Bippie Snyman is nie sy verantwoordelikheid nie.
Sy lyk al effens minder bleek, maar sit nog met haar kop agteroor teen die sitplek terwyl haar hand beskermend oor Papawer lê.
“Het jy water?” vra hy effens sagter.
Sy knik. “Dankie, ja.”
Hy hou voor Reina se huis stil. Nog voor Bippie kan uitklim, is hy by haar deur. Sonder om te vra, tel hy haar weer op.
“Riekert, seriously,” sê sy al wriemelend, “ek kan stap, sit my neer!”
Die voordeur vlieg oop.
“Kind, wat het gebeur?” vra Cora.
“Bring haar kamer toe, assseblief, Riekert,” nooi Trina. “Ons het die lugversorger al aangesit, dit behoort nou heerlik koel te wees. Siestog, kyk hoe bleek is sy.”
Hy loop in die gang af agter Trina aan, oorbewus van Bippie se oë op hom. In die kamer gly sy so gou uit sy arms dat hy haar amper laat val. “Magtig, vroumens, ek probeer net help!”
“Ek het jou gesê ek het nie jou hulp nodig nie,” sê sy deur stywe lippies.
Hy swaai op sy hak om en storm die kamer uit. Behoede hom van hardekwas vroumense. Dis hoekom hy so ver moontlik van die spesie af wegbly: die afgelope paar minute is hy ontsteld, kwaad en het hy sy stem verhef, wat selde gebeur.
Terwyl hy hom oor die straat haas, kyk hy boontoe: Regtig, Here?
Hy het gebid en gevra hy wil uit Bippie se pad bly. Nou raak hy glad opgewerk omdat sy daarop aandring om in die hitte huis toe te stap!
Eers in die gang onthou hy hoekom hy hoegenaamd na sy bakkie toe is. Sy skootrekenaar. Vies draai hy om. Sy pa was reg – vroumense is net moeilikheid.
Vier
Aandete is vir die eerste keer vandat Bippie by Cora en Trina ingetrek het, ietwat gedemp. Sy is oorbewus van die twee wat om die beurt beskuldigende en besorgde kyke in haar rigting stuur, maar niemand het nog iets gesê nie.
Fred verbreek die stilte toe hy opstaan: “Nou ja, ek gaan vroeg inkruip vanaand. Bippie, jy’t ons vandag laat skrik. Ek is bly jy het weer jou kleur terug. Ry jy nog môre Kaap toe?”
“Ja, oom Fred.”
Hy