sê hy in die loop.
“Hallo.” Talla kry skaars die woord uit. Meer wasem as woord. Sy kyk die man agterna tot waar die pad ’n draai na regs maak en sy hom nie meer kan sien nie. Stadig begin sy aanstap, sy wil hom ’n goeie voorsprong gee.
Nou moet die herberg darem kom. Sy voel glad nie veilig nie. Terwyl sy stap, hou sy die bome aan die kant van die pad dop. Sê nou Hoodie wag haar in? Haar nekhare rys.
Uiteindelik doem ’n groot, donker struktuur aan die regterkant van die pad op. Sy herken die wydlopige klipgebou van die foto’s op die internet. Munro’s. “Hier is die verdomde plek einde ten laaste, Theresa.”
By die groot houtvoordeur kyk sy rond vir ’n klokkie, maar sien niks nie. Sy draai aan die knop en leun teen die swaar deur aan. Dit swaai stadig oop.
3
Munro’s is ’n onopgesmukte herberg en gewild onder bergklimmers, het die een reisgids gesê en hulle het nie gejok oor die plek se voorkoms nie. Die dekor van die klein ingangsportaal is eenvoudig en die mat is deurgetrap. Daar is ’n paar kennisgewings teen die muur opgeplak, ’n klompie brandregulasies en noodnommers waaronder dié van die Glencoe Mountain Rescue Club en die Lochaber Rescue Club.
Regs is daar ’n staaldeur waarop Fire Door staan. Talla stoot dit oop. Die vertrek voor haar is ruim. Aan die linkerkant is daar omtrent tien lang houttafels en -stoele; reg voor haar is die ontvangstoonbank, ook van hout. Daar is geen mense in die eetvertrek nie en ook niemand agter die ontvangstoonbank nie. Sy sit haar tas neer, stroop haar handskoene af en lui die klokkie.
Die geluid van potte en panne kan vaagweg gehoor word. Iemand lag en toe word dit weer stil. Die deur agter in die eetvertrek gaan oop en ’n skraal man met ’n mop donker hare kom vinnig uitgestap.
“Yawright?” vra hy vrolik.
Talla antwoord nie dadelik nie. Die man lyk of hy wip wanneer hy stap. Sy vel is so bleek dat dit ’n blou ondertoon het. “Talla Burger, ek het ’n bespreking. Van Suid-Afrika?” antwoord sy in Engels. Haar kakebeen is ’n fraksie minder stram.
“Ja, natuurlik,” sê die man en wip nader. “Ek is Neil Lennox. Welkom.” Hy het ’n breë, sonnige glimlag wat sy oë laat skrefies trek en sy gesig ophelder. Die aksent van sy Skotse Engels is sterk en dit klink asof daar lemmetjiesdraad by sy mond uitrol wanneer hy praat. Hy haal ’n lêer van ’n rak onder die rekenaar uit, blaai rond en haal ’n drukstuk uit. “Het dit,” beduie hy en skuif voor die rekenaar in. Talla dwing haar oë weg van die man. Dis ongeskik om te staar, maar hy laat haar aan ’n jack-in-the-box, ’n kisduiweltjie dink. Hy is lieflik.
En hy het net ’n T-hemp by sy jeans aan. Dit is warmer hier binne, maar nie só warm nie. Haar bene slaan hoendervel onder haar koue jeans uit.
Talla kyk om haar rond terwyl Neil deur die sleutels aan ’n houtbord langs ’n staalkabinet soek. Die mure hier is oorvol; rye en rye foto’s van hoë bergpieke en groepe klimmers glimlaggend in warm baadjies en musse is lukraak vasgesit. Teen die plafon is bergklimtoue vasgebind en in die hoek hang bergklimskoene. ’n Geraamde ou foto van ’n doedelsakspeler op ’n bergtop hang bo die kaggel.
Talla frons. Hoekom brand daar dan nie ’n vuurtjie in die kaggel nie? Kry die mense dan nie koud nie? In Johannesburg se restaurante pak hulle kaggelvure met die eerste teken van winter.
“Kamer 15, eerste verdieping,” sê Neil en haal die sleutel van die houtbord af. “Kom ek vat jou gou.”
“Ek sal graag iets vir aandete wil bestel,” sê Talla. “Ek is nogal honger.”
“Die beste wat ek jou vanaand kan aanbied, is roosterbrood en eiers. Ontbytkos. Munro’s sit net ontbyt voor.”
Sy het haar misgis. “Ek het aangeneem dat julle aandetes maak,” sê sy flou. Dit was dom, sy moes seker gemaak het.
Die weervoorspelling wat op die toonbank vasgeplak is, trek haar aandag:
Saturday, 24 Jan: Min -4, Max 1.
Heavy snow on mountains.
Sunday, 25 Jan: Min -5, Max 0.
Heavy snow on mountains.
Monday, 26 Jan: Min -4, Max 0.
Heavy snow on mountains.
“Hemel.”
Neil volg haar blik. “Baltic.” Hy grinnik toe hy die uitdrukking op Talla se gesig sien.
“Ek weet nie of ek gaan oorleef nie. Ek dink nie my klere is warm genoeg nie.”
“Moet jou nie daaroor bekommer nie, hier bly altyd jasse en baadjies van die gereelde klimmers agter. Hulle stoor dit eintlik hier. Jy kan dit leen.” Hy tel haar tas op en begin aanstap.
Sy ril by die gedagte aan vreemdelinge se jasse en baadjies. Maar as dit vyf grade onder vriespunt is, maak dit seker nie saak nie. Sy volg Neil teen die trap uit na die eerste verdieping. Hulle gaan deur ’n swaar branddeur en loop in ’n lang, nou gang af. Dit is redelik donker, want nie al die ligte is aangeskakel nie. Ná ’n entjie gaan hulle teen ’n paar trappies op en ná ’n klompie treë weer teen ’n paar trappies af. Genade, die plek is behoorlik aanmekaargeflans.
Haar kamer is die laaste een aan die einde van die gang.
Neil sluit die deur oop, gaan binne en sit Talla se tas neer. “Kom af wanneer jy gereed is en ek maak vir jou roosterbrood.” Met ’n wip en ’n glimlag verdwyn hy by die deur uit.
4
Die kamer is spartaans. Daar is twee stapelbeddens, twee kleinerige staalkaste, ’n stoel en ’n wasbak in die hoek. En sy moet vir drie maande in hierdie skunnige plekkie bly. Dan onthou sy haar eerste kamer in die Christelike jeugtehuis in Visagiestraat, in die laat tagtigerjare toe sy pas begin werk het. Dit was nóg kaler en kleiner as dié gaatjie. Buitendien, die kamer by Munro’s is al wat sy kan bekostig.
En gelukkig sal sy omtrent nooit hier wees nie, sy gaan mos stories soek. Buite, in temperature rondom vriespunt. Sy trek haar baadjie uit, hang dit oor die stoel en trek die gordyn voor die klein venster oop. Dit is donker. Al wat sy sien, is haar eie bleek gesig in die venster. Daar is diep skaduwees onder haar wangbene en haar hare is teen haar kop vasgeplak. Sy lyk so moeg as wat sy voel.
Talla trek die gordyn toe en sluit haar tas oop. Die roomysbak is onder die handdoek bo-op haar klere, en nog bottoe.
“Ons is in Munro’s,” sê sy en haal die bak uit. “Die kamer lyk soos ’n koshuiskamer. Het jy hier oorgebly, Theresa? Dis vir my moeilik om te glo.” Sy maak seker dat die deksel styf toe is voordat sy dit terugsit in die tas.
Vir die soveelste keer wonder sy hoekom Theresa haar juis hierheen laat kom het. Theresa het geweet Talla was nog nooit oorsee nie en toe stuur sy haar na hierdie godverlate deel van Skotland. Praat van hard aan die kraag uit die gemaksone gepluk word.
“Jy moet saamkom na die prokureur se kantoor vir die lees van my ma se testament,” het Willie, haar baas en eienaar van Oranges and Purples, haar ’n paar weke gelede kort ná Theresa se dood ingelig. Sy was verbaas. Sy het Theresa langer as twintig jaar geken, maar nie gedink sy sou iets erf nie. Sy het dit nie eens oorweeg nie.
Talla se erflating was ’n vliegtuigkaartjie na Glencoe in Skotland. Van al die plekke waar die berese Theresa al was, het sy Glencoe-vallei in die Hoogland gekies. Skotland maak sin, dit was haar gunstelingplek. Maar die afgesonderde Glencoe?
Die testament het ook bepaal dat die besoek binne tien maande ná Theresa se afsterwe moet geskied en dat Talla minstens drie maande moes bly. Die prokureur het die retoerkaartjie daarna in oorleg met Talla gekoop en die datums vir haar aankoms en vertrek is van toe af vas. Theresa het ’n bietjie kontant nagelaat wat Talla as sakgeld moes gebruik. Dis die geld wat sy vir die eerste maand se akkommodasie en Ma se meniskusse gebruik het.
Talla was seker Willie sou nie te gelukkig wees met een van die voorwaardes wat Theresa aan hom gestel