Nadia de Kock

Die wolkversamelaars


Скачать книгу

knik. Toe dit lyk asof Mikey kondensmelk by haar tee gaan gooi, moet sy vinnig keer. Hy gee vir haar die beker aan en kom sit oorkant haar.

      “Toe ek ná werk by die huis kom, was sy weg.” Hy klap sy vingers. “Net so. Ek het begin aandete maak, maar teen negeuur gewonder waar sy is.” Hy slurp sy tee. “Iets het vir my gesê ek moet kyk of haar klere nog in haar kas is. Dit was nie. Sy het nie baie gehad nie, ’n paar rompe en truie. Alles was weg.” Hy het ophou tee drink en staar nou met skrefiesoë na Talla.

      Sy sukkel om die uitdrukking in sy oë te peil. Hy wag seker op ’n reaksie van haar af. Maar wat sê ’n mens vir die arme man? “Ek is jammer,” sê sy uiteindelik. Dit beteken nie veel nie, maar is tog beter as niks.

      “Ek het ’n werk gehad. Goeie werk, sorteerder by die poskantoor by George Square. Ken jy dit? Baie geleentheid om verder te vorder. Ek het planne vir my en Kate gehad.” Hy staar na die beker tee in sy hand en begin daaroor blaas om dit af te koel. “Groot planne.”

      Skielik spring hy op en sy stoel begin wankel. Talla skiet vorentoe in ’n poging om dit te gryp, maar dis te laat. Dit kletter teen die vloer neer en die geluid klap soos ’n skoot. Dit lyk nie asof Mikey hom daaraan steur nie. “But the best laid schemes of mice and men …”

      “Go often askew, and leave us nothing but grief and pain, for promised joy,” voltooi Talla die reëls uit die Burns-gedig terwyl sy die stoel optel. Sy kyk op na Mikey, wil saam met hom glimlag oor die gedeelde gedig, maar hy is reeds op pad deur toe. “Waarheen gaan jy?”

      In die deur draai hy om en begin aftel.

      “Five, six, seven …” Hy klap sy vingers ritmies saam en op “eight!” gooi hy sy regterbeen vorentoe en toon-hak-toon begin hy om te klopdans. Linkerbeen vorentoe, toon-hak-toon, hierna weer die regterbeen. Hy hou sy kop skeef en kyk met ’n byna maniese glimlag stip na Talla. Hy swaai sy arms vorentoe en agtertoe en nou lyk dit asof hy op een plek hardloop. Hy is goed. Dan swaai hy sy arms van links na regs voor sy lyf verby terwyl hy weer toon-hak-toon. Hy tol ’n paar keer in die rondte, maak ’n oordadig lae buiging en lig ’n denkbeeldige hoed na haar. “Het ek jou gesê ek is ’n amateurklopdanser?”

      “Nee. Jy is uitstekend –”

      “Ja!” Mikey maak weer ’n paar passies, tol in die rondte, skoon uitasem. “Ek is op pad Kent toe. Gaan daar dans.” So vinnig as wat hy begin dans het, hou hy op en plak hom op die stoel oorkant Talla neer. Sy glimlag is weg, sy mondhoeke rem af. “Een-en-twintig jaar. Dis hoe lank ek al na my Kate soek.”

      9

      In die namiddag kry Talla vir Neil waar hy teen die stoor se muur staan en rook. Hier voor Munro’s ruik dit oorwegend na klam mos, maar wanneer Neil sy rook uitblaas ook na sigaretrook. Hy het vir Talla die hostelfiets uit die stoor gekry, die bande gepomp en die fiets lyk padwaardig.

      Talla glimlag. Sy is seker sy sal ná dertig jaar kan fietsry, mense sê mos jy klim net op en daar gaan jy.

      “Nee, dankie,” sê sy toe Neil ’n sigaret na haar uithou. Vanoggend se mis het gelig en so ver sy kan sien, staan daar bome soos grypende geraamtes. Aan die oorkant van die pad is ’n klipmuurtjie wat met mos bedek is.

      Sy kyk af en skraap ’n klompie gruisklippers met die punt van haar stewel op ’n hopie. “Dis moeilik om te glo dat Willie, my baas, en Zani, my woonstelmaat, nou op kantoor sit en ek hier in die koue rondstaan met geen planne vir die dag of iewers waar ek moet wees nie. Hulle kry waarskynlik nog warm, ons het ’n hittegolf beleef toe ek daar weg is.”

      “Verlang jy al?” vra Neil.

      Talla skud haar kop. “Nee. Ek hou van die verandering.” Sy kyk na Neil se rook wat in die lug bly hang. Die nikotien ruik skerper in die koue. “Mikey is interessant.”

      “Jy kan so sê,” beaam Neil. “Jy kan selfs die woord ‘eksentriek’ gebruik.” Hy bly stil en vat nog ’n trek van sy sigaret. Dit lyk nie vir Talla asof hy iets gaan sê oor Mikey se verlore meisie nie.

      “Weet jy dat hy in Kent gaan klopdans? Daar is die een of ander musical waaraan hy as amateur kan deelneem.”

      Neil glimlag en trap sy sigaretstompie in die gruis dood. “Gewoonlik neem hy hier in Skotland deel, Kent is soms net te ver. Laas jaar het ons – ek en David wat hier werk – hom Edinburg toe geneem vir Jan en die boontjierank. Ons het een aand oorgebly en ook na ’n vertoning gekyk.”

      Nou glimlag Talla ook. “En?”

      “Ons het dit geniet, hoewel pantomime nie een van ons se gunsteling is nie. Maar Mikey is goed. En hy het dit duidelik geniet.”

      “Dis jammer Kent is so ver. Hoe kom hy gewoonlik daar? Hy het gesê hy het nie veel geld nie.”

      “Ryloop –”

      ’n Skerp klank klink meteens in die verte op. Dis ’n doedelsak. Hoendervel slaan op Talla se arms uit. Neil se gesig verhelder. “Connor is hier.”

      “Connor?”

      Neil skud sy kop en begin vinnig aanstap na die voordeur. “Ek het nie presies geweet wanneer hy kom nie. Ek moet gou sy kamer gaan regkry.”

      “Wie is Connor? Is dit hy wat daar speel? Waar is hy?” Talla draf agter Neil aan.

      “Hy kom elke jaar een of twee maal hierheen vir ’n maand op ’n slag,” sê Neil oor sy skouer. “Ja, dis hy wat daar speel. Hy staan nou net buite die dorp, daar by die Slagtingmonument.”

      “Is hy ’n MacDonald?”

      “Nee, hy is Kirkpatrick.” In die voordeur draai Neil om. “Hy is ’n klimmer en vrywilliger by Glencoe Mountain Rescue. Baie betrokke by reddingsaksies. Hy is ’n dokter, deel ’n praktyk met ander op Skye.”

      “Ek dog Munro’s is vol.”

      “Connor is ’n betalende gas, boonop een met ’n bed wat ons in reserwe hou,” sê Neil sag. Hy wip agter die ontvangstoonbank in en begin na die regte kamersleutel soek. Talla drafstap na haar kamer om haar handskoene en baadjie aan te trek. Buite stoot sy die hostelfiets na die gelyk pad en klim versigtig op. Die musiek is vir haar mooi, sy wil Connor vang voordat hy ophou speel.

      Die eerste paar meter gaan dit wankelrig, maar Talla kry gou haar balans en begin vinniger trap. Toe sy genoeg selfvertroue het en opkyk, sien sy die Pap van Glencoe, die borsvormige berg, van tyd tot tyd agter die bome uitsteek. Neil het haar vanoggend vertel die Pap word so genoem omdat dit so baie soos ’n vrou se bors, spesifiek die tepel, lyk. Hy het gesê daar is ’n klompie sulke moederbergspitse in Skotland en hulle word almal “Pap” genoem. Dis hoekom Hooglanders nooit heeltemal elders inpas nie, hulle hoort hier, by die moeder.

      Kort voor die bordjie wat die Slagtingmonument aandui, klim Talla van die fiets af en stoot dit verder. Die doedelsak is nou baie skril, des te meer omdat dit ’n stil namiddag is. Soos met Burns Nicht is die melodie melankolies en gee dit Talla weer ’n knop in die keel. Sy stoot die fiets tot by die bordjie, maak dit staan en stap tussen die bome in na die Coerivier se kant. ’n Beweging trek haar aandag.

      Connor staan nie te ver van haar af nie, maar het haar nog nie gesien nie. Hy hou op speel, vee ’n slag oor sy mond, lig sy doedelsak op en begin blaas. Die laaste bietjie lig vang die rooikoperskynsel in sy bos krulhare. Hy is lank en het ’n groen tartankilt en ’n donkerblou T-hemp aan. Neil en Teodor loop ook so met kaal arms. Talla kry sommer vir hul part koud. Sy kyk rond, sien ’n groterige klip en gaan sit daarop. Sy vou haar arms om haar lyf en trek haar voete onder haar in, nader na die klip toe.

      Die knop bly in haar keel sit terwyl sy na die deuntjie vol heimwee luister. Sy sluk.

      In haar word dit stil. Hierdie plek is so groot, so ewig. Die dal met sy bome en klippe is al miljoene jare hier en sal nog miljoene jare hier wees. Die Skotse musiek word al eeue in die glens gespeel en sal bly voortleef lank nadat sy en die doedelsakspeler reeds dood is. Sy vou haar arms stywer om haar. Sy voel nietig hier.

      Wanneer die deuntjie