Is hy dalk ook so vreeslik lief vir visvang? Magriet gee hom een minuspunt.
Die deurklokkie lui. Dis ’n uitasem Walter met haar skouersak, wat hy so ongemaklik aan die hingsel vashou dat dit op die grond sleep. Pierre steek sy hand na Walter uit. Walter lyk vir Magriet lomp en onafgerond teen Pierre.
“Pierre de Meyer, aangenaam.”
“Hallo.” Walter kyk hom wantrouig aan.
“Ek is Magriet se fisioterapeut, maar vandag se sessie sal by my kollega Nicola wees.” Pierre kyk Walter op en af. Dit lyk asof hy iets wil byvoeg, maar hom bedink. “Sal julle my verskoon?”
“Reg so,” sê Walter verlig. Hy gaan sit langs Magriet en oorhandig die skouersak. “Ek het agter onkologie parkeer, sal moet omry en jou kom oplaai.”
“Jy kan in die stegie langsaan stilhou om op en af te laai.” Magriet maak haar sak oop en haal haar bottel water uit. “Hy … iemand het my gesê.”
“Daar’s water,” sê Walter en wys na die groot waterbottel in die hoek.
“Hierdie is byderhand,” sê sy.
“Cool plek,” sê Walter te hard. “Cool vissersbote.”
Die meisie agter die rekenaar kyk op en frons. Magriet glimlag vir Walter, al dink sy die dekor is kitsch en onvanpas en al het haar bewondering ’n knou gekry. Pierre is nou wel aantreklik, maar sy binnehuisversiering is nié.
“Verlang jy ook see toe?” vra Walter.
Hy sit driekwart van die bank langs haar vol met sy breë lyf. Die rottang kraak as hy roer en Brut-walms styg van hom af op soos stoom uit ’n kookpot.
Nee, sy verlang nie see toe nie. Dalk as sy nie heeldag moet visvang nie. Sy glimlag net weer vir Walter.
Eindelik gaan die toe deur oop. ’n Vrou met ’n stut aan haar been kom saam met ’n man uitgestap, gevolg deur ’n ouerige vrou met ’n wilde grys boskasie.
“Donderdag oor ’n week,” groet die gryskopvrou die twee en knik in Magriet en Walter se rigting. Sy stap oor na die ontvangstoonbank.
Die hek gaan oop en toe agter die pasiënt en haar man.
“Magriet Vlok?” vra die gryskopvrou.
Sy het ’n T-hemp aan met dieselfde logo as op Pierre s’n, ’n sweetpakbroek en stapskoene. Sy lyk energiek en seningtaai. Tot Magriet se verligting is die vrou veel ouer as wat sy verwag het.
“Ek is Nicola Leyden,” sê sy en hou haar hand uit. Haar naels is blou geverf.
“Moet ek saamkom?” vra Walter.
“As jy haar met haar oefeninge gaan help, ja.”
“Dis eintlik haar ma se werk …”
“Dan moet julle haar volgende keer saambring.”
Die sessie is nie te pynlik nie. Die lys oefeninge is dieselfde as wat Pierre voorgeskryf het en Nicola stel net vas of Magriet alles verstaan en korrek uitvoer.
“Kan nie eintlik sien hoekom Pierre die afspraak gemaak het nie. Ons sal jou later harder druk. Dan kry jy liefde met gevoel, my skattie. Wanneer sien jy weer jou dokter?”
“Oor ses weke.”
“Wie’t gesê jy moet vandag hier wees?”
“Pierre, ek bedoel meneer De Meyer. Hy’t my ’n kaartjie gegee.”
“Daai man het muisneste,” grom Nicola. “Doen jou oefeninge gereeld, ons sien jou oor ses weke.”
Daarmee is dit afgehandel en begin die langste, mees troostelose ses weke in Magriet Vlok se hele lewe.
8
Magriet kom in ’n roetine van soggens vroeg opstaan om haar oefeninge te doen, was en aantrek met haar ma se hulp en skool toe gaan met haar pa s’n. Walter bel en kuier en kuier en bel die eerste week gedurig. Maar toe die skoolatletiek aan die gang kom, raak hy betrokke by die middagoefeninge en sy hoor nie meer so gereeld van hom nie. Hy kom eet ook nie meer elke aand by hulle nie.
Wanneer hy wel opdaag, stel hy nie veel belang in haar vordering nie. Hy spog wel met Johan en Carol se tweeling wat soos blits kan hardloop en met klein Caroline wat die voortou neem by die onderagts.
“Mens sou sweer hy’s familie,” sê Magriet se pa een middag toe hy haar by die skool kom oplaai en Walter aangedraf kom om te sê hy sal laat wees vir aandete omdat die reëlingskomitee sesuur vergader.
“Dit sal dalk tot ná seweuur aanhou en Santie du Preez het gevra of ek haar kan huis toe neem, haar kar is in vir ’n diens.”
“Ek sal vir jou kos uitskep,” sê Magriet.
“Ek kom so gou as moontlik. Jy lyk moeg.”
“My bene pyn,” jok sy.
Haar bene pyn selde. Dis veral snags styf en ongemaklik en sy mis dit om te kan stap en hardloop soos sy gewoond is, maar pyn is nie die woord om dit te beskryf nie.
“Is dit waar, Meiskind?” vra haar pa. “Het jy pyn?”
“Nee, ek moet seker net die uitdrukking op my gesig verklaar. Walter maak asof hy ons ’n guns doen om te kom eet.”
“En sy bord is skaars leeg, dan’s hy haastig om weg te kom. Wanneer gee jy die man die trekpas?”
Magriet sug. “Ek is bang hy oorreageer en laat my atletiekkinders in die steek. Hy is goed met die afrigting en hy doen dit vir my. Ek word ’n salaris betaal en ek doen nie die helfte van die werk nie.”
“Teen die prys van die kos wat hy verorber, kan ons ’n professionele afrigter in sy plek huur,” sê haar pa reguit.
“Hou nog net ’n paar weke uit. Volgende kwartaal is die atletiek iets van die verlede en ek van my krukke af.”
“Hmmm,” brom hy. “Ek verstaan jou nie. Jy loop met ’n lang gesig en maak jouself ongelukkig omdat jy van plan is om hom af te sê, maar jy doen dit nie. Wat gebeur as hy jou met ’n verloofring verras? Sal jy dán die moed hê?”
“Ek weet nie, Pa.”
Eintlik wens sy sy kán Walter se verloofring vir ’n tydjie dra sodat sy vir die arrogante Pierre de Meyer kan wys sy is nie verleë oor hom of sy terapie nie.
“Hoe lyk dit my jy ken nie jou eie hart nie?”
“Soms kry ek hom jammer.”
“Wil jy hê ek moet met hom praat?”
“Seblief nie! Ek sal self, wanneer ek gereed is.”
“Jy word maer, Meiskind,” sê haar pa toe hulle by haar ouerhuis se oprit indraai. “Jy is my enigste dogtertjie, ek hou nie daarvan om jou ongelukkig te sien nie. Dit maak my so moeilik, ek sukkel om Walter in my huis te ontvang.”
“Moet ek teruggaan na my eie huis toe?” vra Magriet moedswillig.
Haar pa hou stil en draai na haar. “Ek ken jou nie so nie. Wat gaan aan met jou?”
“Jammer, Pa,” sê sy. “Ek het dit nie so bedoel nie. Dis net moeilik om te besluit as almal vir jou kyk.”
“Wie is almal?”
“Carol en Johan weet ook hoe ek voel. Hulle het belowe om niks vir Walter te sê nie, maar iets gaan nog uitglip. Dit maak my op my senuwees.”
“Kry dan end met die man,” sê haar pa en gooi sy motordeur taamlik hard agter hom toe.
Magriet byt op haar tande en maak die deur aan haar kant oop. Die gesukkel om uit te klim hou haar en haar pa ’n ruk lank besig. Dis ’n verligting om nie verder oor Walter te redeneer nie.
Daar is tien dae oor voor sy haar dokter moet sien en weer by haar fisioterapeut uitkom.