Helena Hugo

Helena Hugo Tweede Keur


Скачать книгу

rotse toe gesleep en haar heeldag so op haar senuwees gehad dat sy gedurig haar vislyne gekoek het.

      Magriet wil nie lelik wees nie, maar dis geen wonder Noeline het velkanker nie, dink sy terwyl sy gangaf stap. Hulle loop van die môre tot die aand in hul swembroeke asof die son en die sand hulle glad nie pla nie. Die eerste twee dae kon Magriet nie gou genoeg by ’n stort uitkom om die sout van haar vel af te was wanneer hulle van die see af terugkom nie. Sy het drie keer ’n dag gestort, totdat Noeline haar die derde dag gevra het om asseblief nie water te mors nie, hulle leef uit ’n tenk met reënwater en bad net een keer ’n week, want seewater is gesond en goed vir die vel.

      Dit het Noeline nou daarvan.

      Maar te oordeel na die gelag en gesels op die patio is die Korbs nie te bekommerd nie. Walter, wat veronderstel was om vanaand tot negeuur te werk, is besig om skaaptjops op die rooster te pak. Hy is so tuis ’n mens sou sweer die huis is syne. Magriet keer die afkeer voordat dit op haar gesig uitslaan. Sy glimlag en sy glimlag.

      “Hallo almal, dis ’n verrassing!”

      Wally Korb spring op en bly staan. Hy lyk ongemaklik in sy netjiese langbroek en ligte hemp. Goeiste, sy het nie eens geweet hy besit ’n paar ordentlike skoene nie.

      “Magriet! Lyk my ons twee is saam op die krukkelys!” roep Noeline uit. Sy het ’n kanariegeel langbroek, ’n wit kantbloes en mosterdgeel sandale aan. Haar hare is kort geknip en dit pas haar goed. Maar selfs hier in die sagte laatmiddaglig is die sonskade aan haar vel ooglopend.

      Sy vou Magriet toe in ’n hartlike omhelsing en druk haar styf vas. Woorde flits deur haar kop: Hier sal jy liefde met gevoel kry. Dis Nicola Leyden, onthou sy, wat so gesê het.

      Noeline hou haar op armlengte. Haar oë blink. “Ons was so geskok toe ons hoor wat met jou gebeur het – nadat jy so lekker saam met ons op die rotse rondgeklouter het en die een keer amper in die see beland het. Ek sou myself vir ewig verwyt het as dit daar moes gebeur het.”

      Magriet voel aaklig. Sy gaan hierdie vrou, wat so duidelik van haar hou, teleurstel. Sy gaan haar seun in die steek laat.

      “My ma moet nou langmoue dra strand toe,” sê Walter – bier in die een hand, braaivurk in die ander. Hy kom soen Magriet op die wang. “Beter vandag?” vra hy saggies.

      “Ek’s oukei …” Sy sal hom nie vra hoe hy so skielik van die werk kon wegkom nie.

      “Dankie vir die ruiker wat by die huis gewag het toe ek uit die hospitaal kom,” sê sy vir Noeline en Wally. “Dit was pragtig, baie dankie.” Magriet kan nie onthou hoe hul ruiker gelyk het nie, maar sy gaan aan asof dit die enigste blomme is wat sy gekry het. “Ongelooflik hoe lank party blomme vars bly.”

      Walter gee die braaivleisvurk vir Magriet se pa en gaan trek haar stoel reg. Hy skuif haar voetstoeltjie onder haar voete in toe sy sit.

      “Gemaklik?” Sy knik. “Wat drink jy?”

      “Vrugtesap, seblief.” En Walter spring om haar glas vol te maak.

      “Is hulle nie te dierbaar nie?” vra Noeline sommer so in die algemeen.

      Magriet bloos heel gepas. Maar sy bloos eintlik omdat sy aan die afsêbrief dink, aan haar en haar ouers se talle gesprekke oor haar toekoms sonder Walter. Sy bloos omdat haar pa baie besig raak met die wors wat omgekeer moet word, en haar ma skielik verskoning maak om die slaai in die kombuis te gaan regkry.

      Walter lag so van oor tot oor, hy lyk amper onnosel.

      “Wanneer verras julle ons?” Noeline is sowaar nes ’n muskiet, sonder end!

      Walter verstom Magriet met ’n briljante antwoord: “As ons sê, is dit nie meer ’n verrassing nie.”

      Hy is darem nie só toe nie, besef Magriet. Sy kan die vertwyfeling in sy oë sien, die onsekerheid, selfs ’n tikkie angs.

      “Wat sê die velspesialis?” vra sy vir Noeline.

      “Ons sien hom môreoggend. My huisdokter reken die goed moet so gou as moontlik af en uit. Ons wou eers na ’n spesialis in die Kaap, maar dokter Human ken vir dokter Visser en ons dag toe dan kom kuier ons sommer by Walter, ontmoet jou ouers en kyk hoe dit met jou gaan. Ons was so bekommerd oor jou.”

      “Die ergste is nou agter die rug.”

      “Was jy vir fisioterapie?”

      Die woord laat Magriet weer bloos. Haar gesig voel gloeiend warm en boonop is sy benoud. Sy sukkel om die woorde uit te kry.

      “Uhm, ja, in die hospitaal.” Sy maak keel skoon. “Skies, die rook krap my keel.” Sy vat ’n slukkie vrugtesap. “Ek … ek sien die ortopeed volgende week.”

      “En die fisioterapeut?” vra Noeline.

      “Ook volgende week.”

      “Drink vooraf pynpille,” waarsku Wally. “Daai mense kan jou donners seermaak.”

      Hy maak sy regterbeen stram reguit en begin met sy oorbekende, uitgeremde relaas oor die ou rugby-kniebesering wat hom steeds opkeil. Hy het die storie minstens ses keer tydens haar en Walter se vakansie vertel. Magriet het dit al vier keer gehoor – een keer by Walter ook. Maar sy luister asof sy dit vir die eerste keer hoor. Dis sy groot wendrie wat hy so graag beskryf, van hoe hy soos weerlig van hul kwartlyn af geblits het met die hele span kort op sy hakke en die grond reg onder die opposisie se pale getref het, sy knie middeldeur. Hy het die wedstryd klaar gespeel sonder om pyn te voel. Agterna …

      “Hy sê tot vandag nog les op.” Noeline rond die slot van die storie altyd netjies af.

      “Vleis is reg!” kondig Magriet se pa aan.

      Wally vryf ’n slag oor sy knie. “Ek weet nie wanneer laas ek my tande in ’n lekker vet skaaptjoppie geslaan het nie.”

      “My pa en ma eet te veel kreef,” sê Walter. “Net so baie beentjies om af te kou, en daar eindig die ooreenkoms.”

      Magriet verstom haar tydens ete aan die mense se vleislus. Sy dog hulle eet heeltyd vis omdat hulle dit verkies, maar dalk kan hulle nie vleis bekostig nie – en ook nie rooiwyn nie. Haar pa gaan haal naderhand nóg twee bottels.

      Die aand word lank. Teen elfuur is Magriet absoluut seker en vasbeslote om nie met Walter te trou nie. Hy is presies nes sy pa, vertel ook dieselfde ou stories so oor en oor tot vervelens toe.

      10

      Lank ná middernag, toe Magriet nog in die bed rondrol, dink sy al weer aan Walter en Pierre en aan hoe die man moet wees met wie sy eendag haar lewe gaan slyt.

      Walter is nie reg nie en Pierre ook nie. Vir Walter ken sy te goed en vir Pierre te sleg. Sy moet haar kop skoon kry en van voor af begin. Twee-en-twintig is te jonk om vas aan een man te wees. Mense trou nie meer so vroeg nie – nie soos in haar ouma se tyd toe meisies oujongnooiens genoem is as hulle nie voor hul een-en-twintigste verjaardag verloof was nie.

      Sy wil verlief wees, dink Magriet, en verlief bly. Sy wil elke keer smelt as sy haar man sien. Sy moet lank met hom uitgaan voordat daar na verloofringe gaan kyk word, sy wil hom goed leer ken. Sy wil weet wat hy graag eet en drink, na watter musiek hy luister en watter boeke hy lees, én of hy kan dans en sportief is. Gaan hy gereeld kerk toe, hou hy van kinders? Sy wil haar gedagtes met hom deel en na syne luister. Hy moet haar die stories van sy lewe vertel, hopelik nie dieselfde een oor en oor nie. Sy wil ’n toekoms saam met hom beplan, ’n huis bou in ’n stad waar hulle albei gelukkig kan wees: op rots, nie op sand nie.

      Toe sy eindelik slaap, droom Magriet van stralende paartjies en kerkies vol blomme en kerse. Sy kyk deur haar bruidsluier en sien sy gesig, Pierre s’n, sy kuif wat oor sy voorkop val, sy slanke hande. Sy hoor sy simpatieke stem: “Jy gaan opstaan, kom ek wys jou.”

      Sy sal, dink sy in die droom. Sy sal opstaan en haar losmaak en ontsnap uit hierdie gekoekte visnet van foute.

      Dinsdagoggend kwart oor ses toe haar pa haar kom wakker maak, slaap sy vir die eerste keer rustig. Sy worstel om wakker