te verongeluk. Buitendien, sy het Walter nog eers as “verloofde” nodig om Pierre de Meyer jaloers te maak.
Het hy besef dat dit sy is toe hy haar langs Noeline se hospitaalbed gesien het, wonder sy vir die soveelste keer. Het hy haar regtig herken? Is daar selfs ’n vae moontlikheid dat sy ’n indruk op hom gemaak het, dat hy soms aan haar dink?
Sy sekretaresse dink wel aan haar, want Dinsdagoggend bel sy om Magriet daaraan te herinner dat sy die volgende dag ’n afspraak met meneer De Meyer het. Die Dinsdagmiddag moet Magriet nog eers haar dokter sien.
Sy is so opgewonde, dit voel of sy enige oomblik kan opstyg en vlieg. Haar ortopeed se spreekkamer is aan die teenoorgestelde kant van die Mayo-gebou, ver van Pierre s’n, maar die hospitaal is in die middel en daar is altyd ’n kans dat sy hom wel te siene sal kry.
“Jou wange is so rooi,” sê haar ma toe sy Magriet ná skool help om te verklee, en lê haar hand teen haar voorkop. “Jy is dan vuurwarm. Is jy koorsig?”
“Ag, seker van angs,” giggel Magriet en bind haar oorslaanromp stywer vas.
“Jy moenie bang wees nie.”
“Maar ek is!” Bang sy lyk nie mooi genoeg ingeval sy vir Pierre iewers raakloop nie.
“Die dokter is bekend vir sy operasies. Ontspan.”
Magriet pak haar grimeersakkie en ’n kam in haar handsak. “Het Ma uitgevind presies waar die spreekkamer is?”
“Ek het, kom ons ry nou. Parkering is glo ’n probleem, maar die sekretaresse sê soms is jy gelukkig om net langs hul deur een te kry.”
Magriet is altyd op haar senuwees as haar ma bestuur. Sy ry te vinnig, storm op stopstrate en robotte af en trek dan weer te stadig weg. Gelukkig is die hospitaal nie ver nie. Millie jaag met die afdraande langs die Hyperama af, wip oor spoedhobbels en slaan remme aan by die robot op die hoek van William Nicol- en Constantiastraat. Magriet klou aan haar sitplek. Sy sou met spalke en al beter gevaar het agter die stuurwiel. As sy hierdie rit saam met haar ma oorleef, is sy beslis bestem vir ’n beter toekoms.
Sy loer skuinsweg na Millie, wat die stuurwiel vasklou asof sy ’n ruimtetuig maan toe moet beheer. Ook geen wonder haar broers bestuur almal soos maniakke nie. Hulle het almal by hul ma geleer. Teen die tyd dat Magriet in graad elf was, was daar ’n bestuurskool wat by die skool kom klasse gee het.
“Ma moet nou stadig in die parkeerterrein,” waarsku sy toe hulle by die hospitaalhek indraai.
“Waar kry ek tog ’n gaatjie?” kerm Millie en ry wonder bo wonder so stadig soos ’n slak.
“Ry Ma net, ek sal kyk.”
Die uithangbord vir Pierre se praktyk spring uit na Magriet. Sy verlustig haar aan sy naam. Pierre de Meyer: sterk en sexy, die man én die naam. Sy vergeet skoon om vir parkering te soek.
“Daar’s hy!” roep haar ma uit.
Daar is ’n oop plek reg onder die bord. Dis egter gans te ver van dokter Faure se spreekkamer. Hulle kruie verder en ry twee keer deur die parkeerterrein voor iemand agteruit ry en hulle geholpe raak.
“Waar is die spreekkamer?” vra Magriet terwyl sy uit die kar sukkel. Sy hang aan haar krukke en meet die afstand na die ingang, maar ’n portier met ’n rolstoel pyl op hulle af en verseker haar dat hy haar veilig by die dokter sal besorg. Sy kry haar sit en klou aan die stoel se armleunings. As sy die rit saam met haar ma kon oorleef, sal sy dié een ook, al is dit ’n verleentheid. Millie kom agterna met die krukke en hulle albei se handsakke. Dis warm, die son bak op hulle.
Magriet se oë rek en Millie los ’n gilletjie toe die portier die rolstoel vinnig teen ’n steil afdraand af stoot. Dit voel vir Magriet of sy enige oomblik vooroor gaan val. Miskien is dit so bedoel dat sy nóg bene moet breek, weer in die teater beland, weer in ’n hospitaalbed – om elke oggend deur haar engel besoek te word. Sy berus daarin en begin selfs daarna uitsien toe die rolstoel voor ’n glasskuifdeur tot stilstand gebring word. Iemand maak die deur van binne oop. Die portier sê dankie en stoot haar in.
Millie meld hulle by die ontvangsdame aan. Magriet wonder nog hoeveel rolstoele die portier al omgekeer het toe die dokter in ’n groen teateroorjas daar inkom, haastig groet en ’n voorskrif op haar skoot laat val.
“Ons het ’n noodgeval,” sê hy uitasem. “Gaan solank vir X-strale, die portier sal jou vat.”
Maar Magriet en Millie wag tevergeefs vir die flinke kêrel van tevore. ’n Halfuur gaan verby en die ontvangsdame het al drie keer gebel om te hoor waar Matthew opgehou word. Magriet is moeg gesit.
“Ek sal haar vat,” sê Millie, tipies vasberade.
“Volg net die pyle,” sê die ontvangsdame verlig.
“Ek weet hoe gaan dit by X-strale, dis ’n miernes,” sê Millie terwyl sy Magriet deur die gange stoot. “Ek moes sewe maal sewentig keer daar sit en wag met die spul seuns se rugby- en judo-beserings. Ons sal nie voor sesuur hier wegkom nie en Johan-hulle eet vanaand by ons.”
Haar stem weergalm in die gang en die hele wêreld wat aankom en wegstap, weet presies wat sy deurmaak.
“Ma …” probeer Magriet keer. Haar ma is ’n liewe vrou, maar sy kan soms so uithaak van ongeduld. Die laaste tyd praat sy boonop dikwels so hard asof daar iets met haar gehoor skort. “Sagter, Ma.”
“Hoekom? Dis mos alles waar?”
“Ek was ook in ’n ongeluk en toe moes die mense hier ook oortyd werk.”
Millie buk oor Magriet se skouer. “Hoe sê jy?”
Dis met dié dat sy beheer verloor oor die rolstoel. Teen die skuinste in die lang gang tel die stoel spoed op en rol vinniger en vinniger. Al hang Millie aan die handvatsels, trap sy die aarde mis en sy kan niks doen om te rem nie, net skree.
Hulle kan teen hierdie spoed nie die draai aan die onderpunt van die skuinste baasraak nie en bots so byna teen die oorkantste muur. Was dit nie vir ’n sterk arm wat uitskiet en die wegholgevaarte vroue en al vasgryp nie, was hulle onderstebo. Die held gooi hom eers in hul pad, en toe, met sy rug teen die muur, vang hy vir Magriet voor sy vooroor kan tuimel. Hy hou haar styf teen sy bors en staan so stewig soos ’n rots met die stoel teen sy knieë. Millie hang boonop nog aan die stoel.
Wat ’n vernedering! Binne drie tellings is hulle omring deur mense wat vra of hulle seergekry het en of hulle kan help. Magriet bly staan met haar voorkop teen die gespierde bors. Sy voel so tuis en veilig ná die skrik, maar sy kan die man se hart woes hoor klop. Seker ook groot geskrik. Mense praat en lag om haar, haar ma klink half histeries. Magriet ontspan geleidelik. Die man vryf oor haar rug met hande wat kalmeer en pyn kan verlig.
“Jy’t nie seergekry nie?” vra hy.
“Nee.”
Sy asem diep in, kry die geur van sy parfuum en weet skielik vir seker: Soos enige engel wat sy sout werd is, was hy op sy pos.
Hy laat sak haar stadig in die rolstoel en kyk haar in die oë, vraend, nie onvriendelik nie.
“Ken ons mekaar?”
Haar hart sak in haar skoene. “Ek is Magriet Vlok, ek was ses weke gelede in ortopedies.”
Hy toets die stoel vir stewigheid en plaas haar bene versigtig op die voetruste.
“Die meisie wat deur die trampolien gespring het,” sê hy toe hy orent kom.
“Ja.”
“Jy’s hier om te hoor of dié goed kan afkom?”
“Amper het sy toe ’n nekstut ook nodig,” val Millie hulle in die rede. Sy steek haar hand uit. “Ek is Millie Vlok en dis my dogter, Margarita.”
Hy glimlag. “Pierre de Meyer. Ek is toevallig die fisioterapeut wat haar laas behandel het.”
“Haai, maar dis ’n bestiering! As jy nie voor ons ingespring het nie, het sy erg seergekry. Baie