Helena Hugo

Helena Hugo Tweede Keur


Скачать книгу

      “Een van die dae is jy op die been, nog net die fisioterapie.”

      En daar staan hy! Is dit nou ’n angsaanval of pure opwinding? Magriet kan nie asem kry nie. Haar hart klop so vinnig dat sy moet keer of dit gaan op volle galop en bars deur haar ribbes.

      Sy staan met haar rug teen die venster, haar gesig na die deur, waar Pierre verskyn het asof “fisioterapie” ’n towerwoord is. Nog nooit was iemand so ver en tog so naby nie. Hy kyk en kyk reguit na haar, sy hande langs sy sye, ’n effense frons tussen sy oë.

      “Groot is haar oë nou,” sê Noeline. “Walter, jy en jou pa het haar gisteraand behoorlik bang gepraat met jul stories oor fisio.”

      Pierre lig sy hand in ’n groet en glimlag so effens. Hy kyk weer vir ’n paar oomblikke na haar, skud sy kop asof hy hom misgis het en stap weg.

      Magriet wil huil. Die oomblik was so lank en tog so kort. Het hy haar herken, of het hy iemand gesoek, toevallig in haar rigting gekyk en gewonder of hy haar al iewers gesien het? Sy lyk vanaand beter as laas keer en hopelik mooier. Miskien dink hy sy is iemand anders, nie die meisie met die gebreekte bene nie. Hy sien elke dag ander pasiënte en ses weke is ’n lang tyd.

      Walter se arm voel soos ’n stuk lood om haar skouers. Hy druk haar te styf vas. “Sy’s nie die bang soort nie,” grinnik hy en gee haar nog ’n druk.

      Magriet pers haar lippe saam, haar ore suis. Walter soen haar op die voorkop en op een kaal skouer. Sy verduur dit.

      11

      Noeline word die volgende dag ontslaan. Die velspesialis sê die kankerselle het nie dieper as die vel ingedring nie en hy reken alle kwaadaardigheid is verwyder. Sy mag haar glad nie aan die son blootstel nie en moet oor drie maande terugkom vir evaluering.

      “Van nou af gaan stap ons voor sonop en vang snags vis,” sê sy toe hulle by Magriet se ouers aankom vir tee. “Ek gaan die son mis, maar as ek wil lewe om eendag my kleinkinders te sien …”

      Magriet ignoreer die skimp, maar Walter belowe om gou plan te maak.

      “Ja, julle moenie te lank wag nie, ons word oud en vol kwale,” hou Noeline vol. “Of wat sê ek, Millie?”

      Magriet se ma sê niks. Sy het ’n melktert gebak en baie moeite gedoen met die teetafel. Sy skuif die koppies en koekbordjies reg en hou haar besig met vurkies en teelepels. Magriet kan sien sy veg om haar selfbeheersing te behou.

      Magriet self tel behoorlik die ure na die finale afskeid van Walter. Dié troupraatjies maak haar kriewelrig en sy wonder wat hy alles agter haar rug vir sy ouers vertel het.

      “Ag, hoe salig,” sug haar pa toe hy die Vrydagaand die rooster met ’n stukkie skaapwors en ses varktjoppies pak. “Net ons drie!”

      “Walter se ma is darem baie erg oor jou,” sê haar ma nadenkend.

      “Moenie my nog slegter laat voel nie,” kreun Magriet.

      Haar pa maak vir hom ’n bier oop. “Wanneer sê jy nou vir hom?”

      “Pa, gee net kans. Ek kan nie op hom afkom net nadat hy soveel spanning met sy ma se siekte deurgemaak het nie. Dis harteloos.”

      Haar pa gaan sit gemaklik. “Ek kry die indruk dat jy nog te lief is vir hom.”

      “Ek is nie.”

      “Jy kon my om die bos gelei het …”

      Skielik kan Magriet nie wag om weer in haar eie huis te wees nie. “Ek hoop nie my buurvrou het vergeet om my plante nat te gooi nie,” sê sy om die onderwerp te verander, asof sy haar buurvrou nog nooit kon vertrou nie. Letsie Viljoen is ’n groen tannie wat die hele kompleks se tuine uitgelê het en so nooit as te nimmer eens ’n grasperk in die winter sal laat uitdroog nie.

      “Moenie jou tuin as verskoning gebruik nie, Meis. Sê as jy wil huis toe gaan,” sê haar pa.

      “Kan jy al?” vra haar ma bekommerd.

      “Ek moet, ek kan nie vir die res van my lewe op julle teer nie.”

      “Dis so lekker om jou weer in jou ou kamer te hê.”

      “Ma sal nie weet hoe ek dit waardeer nie, maar Ma het skoon gewig verloor van al die verpleging.”

      Haar ma lag skelm. “Ag, ek doen dit met voorbedagte rade. Jy is my enigste dogter en jy sal my eendag moet oppas – jy en wie ook al.”

      Magriet sukkel orent, hobbel oor na haar ma en sit haar arms om haar. “Dis nog lank voor Ma opgepas moet word, maar ek belowe ek sal.”

      “Dankie, my kind, ek sal intussen wegbly van trampoliens wat te lank in die son gebak het. Hoe sê hulle? Dis slimmer om uit iemand anders se slegte ondervindings te leer as uit jou eie.”

      “Bly nog ’n paar dae. Dan kyk ons as alles eers af is,” sê haar pa. “Bly tot jou balans terug is.”

      Nog vier dae – altans, so hoop sy. Die naweek sleep verby. Walter het baie tyd by die werk verloor en maak dus nie ’n oorlas van homself nie. Laat Sondagmiddag, toe hy wel by hulle aankom, is hy stiller as gewoonlik. Dit pla hom dat sy fikse buitelugma in ’n huishen moet verander en dat sy so na aan ’n dodelike siekte gekom het. Magriet besef hoe geheg Walter aan Noeline is. Hy kuier nie lank nie en maak al voor aandete verskoning.

      “Ons was so besig by die werk, ons het teen vieruur eers ons pizzas bestel,” sê hy toe Millie hom vra of hy saameet.

      “Nie eens koue skaapboud nie?”

      Walter lek sy lippe, maar skud sy kop. “Ek is regtig te versadig, dankie, tannie Millie.”

      Hy groet Magriet met ’n piksoen en weg is hy.

      “Vreemd,” sê haar ma, “dis die eerste keer vandat ek hom ken dat hy nie lus het vir koue skaapboud nie.”

      “Sy ma se siekte het hom hard geslaan,” sê haar pa.

      Magriet voel soos ’n skurk omdat sy Walter nie omgepraat het om te bly nie. Sy is jammer vir hom, maar agter hom aanloop, dié sal sy nie meer nie. Sy tel eerder die dae en nagte tot haar afspraak met Pierre, fantaseer bedags oor hom, droom snags van hom. Sy dink veel meer aan hom as aan Walter.

      Maandagoggend teetyd klop Carol aan haar klaskamerdeur.

      “Kom saam personeelkamer toe,” sê sy. “Jy sit gans te veel alleen en broei.”

      “Ek broei nie, ek maak flitskaarte.”

      “Ons mis jou, kom gesels ’n slag.”

      Magriet is lief vir Carol en sy wil haar nie wegstuur nie. “Goed,” stem sy in, “solank my bene nie die middelpunt van die geselskap word nie!”

      Sy is handig met die krukke, maar sy loop nogtans versigtig op die gladde stoep. Treetjie vir treetjie – omdat Pierre so sê.

      Die ander onderwysers is bly om haar te sien. Jan Nel sleep ’n stoel nader, Carol dra tee aan en almal verneem hoe dit met haar gaan.

      “Ek gaan môre dokter toe, dan sal ek weet.”

      “Dis jammer van Walter se mammie wat so siek is,” sê Santie, wat haar heeltyd met groot oë sit en aankyk.

      “Dis toe darem nie te ernstig nie,” sê Magriet.

      “Ja, maar nou mag sy glad nie meer in die son kom nie!” roep Santie uit.

      “Wat makeer haar dan?” vra Ruth, een van die graadsewe-onderwysers.

      “Velkanker, selfs tussen haar tone,” antwoord Santie, diep onder die indruk.

      Magriet kan nie haar vinger daarop lê nie, maar iets is hier nie pluis nie. Die res van die gesprek gaan by haar verby. Hoe op aarde weet Santie elke besonderheid oor Walter se ma?

      “Moontlik by een van die atletiekoefenings gehoor,” sê Carol toe Magriet dit ná die tyd vir haar noem.