Helena Hugo

Helena Hugo Tweede Keur


Скачать книгу

om jou te help.”

      Haar oë brand en haar bene voel nog swaarder as gewoonlik. “Die mense het te laat gekuier.”

      “Ja,” sê haar pa stroef, draai om en stap uit.

      Vandag gaan Magriet sukkel om wakker te bly. Die student wat haar moet help, is genadiglik op en wakker en vol vrolikheid. Sy hanteer ’n syferles baie goed en wys die kinders hoe om ’n sigsagpatroon te teken.

      Tydens pouse sit Magriet agter haar lessenaar en dut toe Walter bel om te sê dat Noeline die volgende oggend geopereer word. Die spesialis wil elke verdagte merkie op haar lyf verwyder en laat toets. Hy sê sommige van die gewassies is al ver gevorder en chemoterapie en bestraling sal dalk oorweeg moet word. Maar daarvoor moet hulle vir die uitslae van die toetse wag. Hulle sal nie vanaand kan kom kuier nie, want Noeline mag van tienuur af niks eet nie. Maar hulle het gisteraand se braai baie geniet, dankie.

      “Vat jy haar môre hospitaal toe?” vra Magriet.

      “Ja, my pa is onseker oor die paaie en die verkeer.”

      “Ek is jammer, Walter, dis boonop jou besige tyd, met maandeinde en alles.”

      “Dis ’n krisis, Jerome verstaan.”

      Magriet waag dit nie om hom daaraan te herinner dat hulle twee ook ’n krisis deurmaak nie. Dit sal darem te naar wees. Tog het sy ’n gevoel hy weet waarna sy verwys het met “en alles”.

      “Dokter sê sy moet ten minste een nag in die hospitaal slaap. As dit een of twee moesies was, sou sy kon huis toe kom, maar hare sit soos sproete.”

      “Die son is so gevaarlik.”

      “Hulle het gedag hulle het sterk velle. My pa is gelukkig nog oukei.”

      “Wel, dis ’n wake-up call vir hom ook. Ek bel jou ma vanaand na jou selfoon toe. Hoe laat sal jy by die huis wees?”

      “Seker so seweuur. Jy gee nie om dat ons nie by julle eet nie?”

      “Nee, natuurlik nie. As ek nie op krukke was nie, het ek kom inloer.”

      Magriet is net te dankbaar. Sy sien nie kans vir nog ’n aand se toneelspel nie. Vanaand wil sy vroeg gaan slaap.

      “Dankie dat jy verstaan.”

      Walter klink vandag ewe soos ’n sensitiewe siel. Sy stem klink selfs vir haar effens hoër as gewoonlik. Nou goed, as hy dalk broos voel met sy ma se dinge, sy sal nie na hul gesprek van Sondag verwys nie, nie nou nie. Maar sy gaan nie toelaat dat dit oorwaai nie. Dit sál nog ter sprake kom.

      Sy gaap, sit haar kop op haar arms en dommel in, totdat iemand aan haar mou pluk. Dis Benji, die enetjie met die ouma wat ’n fisioterapeut is. Sy ken rus op die tafelblad langs haar en sy asem blaas warm teen haar wang. Sy kom vinnig orent.

      “Ja, Benji?”

      “Juffrou, ek het my hand opgesteek, maar juffrou het my nie gesien nie.”

      Die kinders maak soggens beurte om te sê hoe dit met hulle gaan. Dié wat wil praat, praat, en dié wat stilbly, kry deur die dag ekstra aandag van hul juffrou. Benji praat te graag en soms moet sy sy hand miskyk.

      “Jammer, Benji, maar jy kan nie elke dag ’n beurt kry nie.”

      “Vandag was belangrik!”

      “Vertel dan maar vir juffrou.”

      Hy staan op aandag en lewer sy toesprakie.

      “Ek het vir my ouma gesê juffrou gaan volgende week dokter toe en hy gaan die gips van juffrou se bene afsny. My ouma sê as juffrou nie van juffrou se fisioterapeut hou nie, moet juffrou haar bel. Sy maak nie seer nie, sy is my ouma.”

      Die outjie swaai ’n blou visitekaartjie in die lug. Dink die vrou regtig sy kan deur haar kleinkind adverteer? Magriet vat die kaartjie by hom en wil dit bekyk, maar sy moet eers gaap. Sy laat val die kaartjie en druk albei hande voor haar mond – ’n ou gewoonte. Sy kan nooit net een hand gebruik nie.

      Benji giggel en trek weg met een van sy versies. “Sit jou hand voor jou mond sê die padda vir die hond, sê die aap vir die skaap as jy gaap, as jy gaap.”

      Ewe kontant. Hy het ’n hele arsenaal van sulke versies en limerieke.

      “Waar leer jy dit, Benji?”

      “By my ouma as sy kom kuier. My oupa het weggeloop.”

      Hy mis sy oupa, dis duidelik – Magriet en die hele klas het die storie al ’n paar keer gehoor.

      Die visitekaartjie lê voor haar op die tafel. Hy tel dit op en gee dit weer vir haar.

      “Juffrou moenie juffrou se kaartjie verloor nie. Dis my ouma se telefoonnommer.”

      “Dankie, Benji. Sê vir jou ouma ook baie dankie.”

      “Oukei, ek sal. Baai, juffrou!”

      Hy maak ’n klein bokspringetjie en huppel deur toe waar sy maatjie, Ruan, getrou teen die kosyn staan en wag. Magriet kyk na die kaartjie sonder om te lees wat daarop staan. Sy sal Pierre mos nooit vir Benji se ouma verruil nie. Maar wat sê sy vir die kind? Dat haar fisioterapeut haar nooit sal seermaak nie en al doen hy dit ook, sy vergewe hom by voorbaat?

      Magriet druk die kaartjie in haar beursie. Sy het nog vyf minute om op haar arms te lê en droom. Was daar al ooit in die geskiedenis ’n pasiënt wat uitgesien het na haar volgende fisioterapie-afspraak?

      Vroegaand onthou sy skuldig om vir Noeline te bel en haar moed in te praat.

      “Dis dierbaar van jou, my kind, baie dankie. Walter kan sy ou skoene agterna gooi dat hy jou gekry het.”

      Magriet voel soos ’n lelike tweegesig. “Ons sal môre by die hospitaal kom inloer,” sê sy sag.

      Noeline vertolk haar klein stemmetjie egter verkeerd. “Ag nee!” roep sy uit. “Moenie jou oor my ontstel nie. Ek was moedswillig om my al die jare so aan die son bloot te stel. Ek reken toe mos ek het ’n vel soos ’n renoster. Nou besef ek ek het met vuur gespeel.”

      “Dis ’n les vir ons almal,” sê Magriet sedig.

      “Ek sê vir Wally ons is nie almal ewe harig nie. Maar die spesialis sê hulle twee moet liewer ook uit die son bly. Ons gaan ’n uitgebleikte gesinnetjie word!”

      Sy lag hartlik en op daardie noot neem sy en Magriet afskeid.

      “Jy raak ál dieper in die moeilikheid,” sê Millie, wat gesit en afluister het.

      “Ek weet nie hoe ek my gaan loskry nie. Sy noem my ‘my kind’!”

      “Wag tot hulle terug is by die huis en hanteer dit met Walter alleen.”

      Maklik gesê. Om dit uit te voer is ’n ander saak.

      “Dit voel vir my of daar elke keer iets gaan voorval,” sê Magriet. “Is ek nie dalk verkeerd nie?”

      “Verkeerd, hoe?”

      “Moet ek nie maar by Walter bly nie?”

      “As jy dit nou doen, doen jy dit omdat jy jammer is vir sy ma en nie omdat jy lief is vir hom nie.”

      Magriet ís jammer vir Noeline. Toe hulle haar die volgende dag in die hospitaal besoek, vertel sy dat die dokter selfs tussen haar tone van die gewassies gekry het. Sy lyk vaal en vreemd, asof haar sonbrand reeds aan die verbleik is. Walter en Wally lyk albei ewe ongelukkig.

      “Ja, wat is ’n huis sonder ’n moeder,” sug Noeline.

      Haar man vat haar hand. “Noenie, jy is oormôre weer in jou eie bed,” troos hy.

      “Jammer dat ek so mismoedig is, dis seker die narkose,” sê sy en kyk na Magriet. “Jy lyk vanaand baie mooi.”

      Magriet voel soos ’n opperste Delila. Sy het ekstra moeite gedoen met haar voorkoms omdat sy gehoop het sy sien Pierre de Meyer iewers in die gange. Haar hare krul blink-skoon om haar gesig en sy