ons hoef nie hieroor verwonderd te wees nie. Twee duisend jaar se uitpluis van en nadenke oor die Jesusverhale moes ons nou al oortuig het: Geloof, deur Jesus se oë, lyk heel anders as dit waarna ons so grootoog kyk.
Geloof is, wat Hom betref, die wete dat jy volkome van Hom afhanklik is. Dat jy in jou magteloosheid weet daar is net Een op wie jy jou kan beroep.
’n Groot geloof leef slegs in ’n klein hartjie. ’n Onwaardige hart is die enigste teelaarde vir geloof wat groei, wat groot word.
____________________
Hoe klein is ek; hoe groot is U. Hoe heerlik, Heer, u Naam!
Sondag 8 MAART 2020 Lees Johannes 3:1-17
Tweede Sondag in Lydenstyd
Dissipels onder ’n dekmantel
“God het nie sy Seun na die wêreld toe gestuur om die wêreld te veroordeel nie …” (v. 17).
Die verhaal van Nikodemus die Fariseër en lid van die Joodse Raad wat in die nag na Jesus gekom het, is om verskeie redes welbekend. Dit huisves immers dié geliefde Bybelvers: “God het die wêreld so liefgehad dat Hy sy enigste Seun gegee het …” Asook Jesus se verduideliking van die Heilige Gees se werk, wat soos die wind “waai waar hy wil. Jy hoor sy geluid, maar jy weet nie waar hy vandaan kom en waar hy heen gaan nie.”
Ag, en dan bloot die feit dat Nikodemus in die nagdonker na Jesus toe gekom het. (Was dit vrees?) Ons hoor later hoe hy Jesus se saak in die hoë kringe probeer bevorder en hoe hy toe doodgeskree word (vgl. Joh 7:50-52). Hoe hy en Josef van Arimatea – laasgenoemde ook ’n vooraanstaande Jesusvolgeling, “maar in die geheim, omdat hy vir die Jode bang was” (Joh 19:38) – uiteindelik vir Jesus begrawe het.
Daar is sekerlik heelwat te sê oor dissipelskap wat incognito uitgeleef word. Ten minste het Nikodemus kom vrá toe hy nie geweet het nie. Het hy die aanklopadres geken toe hy onseker was. Het hy, al was dit huiwerig, vir Jesus in die bres getree. Kon hy ’n laaste liefdestakie verrig.
As hy van die afgelope twee eeue bewus kon wees, sou hy sien en hoor hoe sy naam voortleef in die woorde en gedagtes van hulle wat ook reken dat hulle Jesus nie openlik kan volg nie. Troos dit hom dalk om te weet dat vele beroemde Jesuswoorde heel eerste in sy ore opgeklink het. Dat Jesus ook sy nagdissipels liefhet en met baie vertrou.
____________________
U sien my ook raak. Ek, die wegkruiper, is ook belangrik in u oë.
Maandag 9 MAART 2020 Lees Hebreërs 3:1-6
Die Bouer
En ons is sy huis as ons maar net met moed en oortuiging bly vashou aan wat ons hoop (v. 6).
Die Hebreërsskrywer is deurentyd op ’n missie om sy eerste lesers, die Christene met ’n Joodse agtergrond, daarvan te oortuig dat Jesus as ’t ware die “voltooiing” van die Ou-Testamentiese gebruike is. Jesus is soos die hoëpriester, net baie meer (vgl. Heb 5:10). Hy is soos die offerlam, net onmeetlik groter (vgl. Heb 9:14). En hier: Hy is “groter heerlikheid waardig geag as Moses”.
Ons het lankal vasgestel dat die Hebreërsboek ’n brug probeer bou tussen die oue en die nuwe, veral vir dié wat eersgenoemde met moedersmelk ingekry het. Hulle sal ’n groot geloofsprong moet maak, en die skrywer weet dit. Daarom sy noukeurige verduideliking en die baie besonderhede.
Ons wat met die Nuwe Testament grootgeword het, verstaan nie sonder meer al die verwysings nie. Straks vind sommige die terugblaaiery na die Ou Testament uitputtend en gryp dan na ligter strooihalms, die bekender beelde.
Soos dié een oor God se huis. Ons het tog reeds by Paulus gehoor dat ons saam opgebou word as ’n geestelike huis waarin God woon (vgl. Ef 2:22). En by Petrus oor die lewende stene, óns, wat ons tot ’n geestelike huis moet laat opbou (vgl. 1 Pet 2:5).
Die Hebreërsskrywer sê ons is reeds God se huis – as ons aan die hoop bly vashou. Die hoop op die Bouer wat ons reeds raakgevat en ingebou het. Die Sterke wat asseblief tog nie sy stene sal lê en dan omdraai en hulle so los nie.
Ja, ons hoop is op Hom om ons op ons plek te hou. Hy wat ons ’n plek in sy huis gegee het, Hy ken ons geneigdheid om onder die geringste druk te swig, om sommer te verkrummel.
____________________
Hou my vas, Here. Steun en stut my, u huis se brose steen.
Dinsdag 10 MAART 2020 Lees Psalm 128
Geseëndes
Kyk, so word die man geseën wat die Here dien (v. 4).
Voorspoed en seën. ’n Huis met ’n vrou, seuns om jou tafel. En ’n lang genoeg lewe om ook jou kleinkinders te sien. Só weerklink hierdie pelgrimslied in die heuwels rondom Jerusalem. Mooi, nè? Aanstons gaan die sangers boonop die tempel in die oog kry – en dan moet jy hulle hoor!
Só kom die ou Israeliete in die regte stemming vir die groot fees wat op hulle wag. O goedheid Gods, hier nooit volprese!
Ek kan my wel verbeel dat daar in hierdie geselskap ’n mens of twee was wat nie met soveel oorgawe gesing het nie. Dalk het hy (en straks was dit ’n sy) glad nie gesing nie. Dalk bloot weggekyk om die trane weg te steek as die ander oor ’n lewensmaat jubel. En oor ’n huis vol kinders.
En dalk het daar ’n klein, private opstand teen God in die hartseer gemoed gebroei: Here, wat van my? Dien ek U nie goed genoeg nie? Is ek ’n vergeefse doener van u wil? Naïef? Goedgelowig?
Dit is helaas die probleem met soveel psalms in hierdie bundel: Ons sukkel soms met die Godsbeeld wat daarin weerspieël en dikwels besing word. Psalm 23 is maklik om te sing en te bid en met oortuiging te glo. Eweneens Psalm 121. Ja, kyk gerus op na die berge, en weet waar jou hulp vandaan kom.
Maar my seëninge, Here? Waar gaan dit vandaan kom? Waar is die sielsgenoot oor wie die ander so sing? En die kinders?
Durf ek hoop op ’n lang lewe? Is dit die één vers wat ek maar mýne kan maak?
____________________
Vergewe my as “prys die Heer” so sukkelend uit my mond kom. Hoor my sug, Here, en seën my tog ook.
Woensdag 11 MAART 2020 Lees Johannes 7:53–8:11
Vry!
… Jesus het gebuk en met sy vinger op die grond geskrywe … en vir hulle gesê: “Laat die een van julle wat ’n skoon gewete het, eerste ’n klip op haar gooi” (v. 6-7).
Ek sal wat wil gee om te kan weet wat Jesus daar op die grond geskrywe het. En of wat Hy eerste geskryf het, verband hou met wat Hy later geskryf het. Ja, dit is sekerlik ’n jammerte dat ons nooit sal weet nie.
Of dalk is dit ook maar goed so, want wat ons wel van hierdie episode weet, is genoeg om ons ’n leeftyd lank te laat dink. Te laat wonder: Hoe gebeur dit dat godsdiensleiers iemand “op heter daad betrap waar sy owerspel gepleeg het”? Hoe dig was die gordyn waardeur hulle moes loer, of watter vensterluik moes hulle suutjies oopmaak om dit reg te kry?
Hulle, die selfvoldane beskuldigers, het waarskynlik ook nie gesien wat Jesus op die grond geskrywe het nie. Maar wat hulle gehoor het, was genoeg om hulle te laat besef dat hulle van hierdie Man en sy vergewensgesindheid en vryspreek-geneigdheid ontslae moes raak. Hy was nie goeie nuus vir hul soort teologie en hul soort gewete nie.
Vir daardie vrou en vir al haar familielede deur die eeue heen sou Jesus se optrede egter wel die evangelie wees. Hy oordeel nie ons suster nie; ons en ons gewete is ook vrygespreek. Halleluja!
As ons boonop kan leer om deur Jesus se oë na mense te kyk en nie deur die donker gordyn van ons eie vooroordeel nie, sal ons ook vry kom van ’n bedenklike teologie. Vry om te vergewe, omdat ons vergewe is. Vry om lief te hê, omdat ons eerste liefgehad is.
____________________
U het my ook vrygespreek, Here. Leer my om elke dag soos ’n vry mens