28 FEBRUARIE 2020 Lees Jona 4
Hy is wat Hy is
“Ag, Here, ek het dit geweet … U sien maklik af van die straf wat U aangekondig het” (v. 2).
Dinge werk nie altyd uit soos geroepenes dit wil hê nie. Wanneer daar dus sukses kom, is die vreugde en dankbaarheid groot. Hulle het my gehóór! word daar dalk gesê. Hulle het regtig gemaak soos die Here wou hê – prys sy Naam!
Stel jou dus Jona se oorstelptheid voor toe die onwaarskynlike gebeur en die groot stad Nineve, koning en al, tot inkeer kom. Maar sien dan dat jy heeltemal verkeerd is: Jona is nie bly nie, nie eens naastenby nie. Inteendeel.
’n Mens kan net jou kop skud. Sy harde werk word beloon – en hy wil dit nie hê nie. Sy prediking dra ryke vrug – en hy keer sy rug daarop. Wat wil jy dan hê, Jona?
’n Kwaai God. Vuurspuwend. Onbuigsaam. Haatdraend. Dit is waarop Jona gehoop het. Maar toe leer ken hy ook in Nineve die Een wat hy reeds in sy eie land geken het: die “genadige en barmhartige God, lankmoedig en vol liefde”. Jona hou nie van Hom nie. Hy vat die pad, hoogs ontevrede, en gaan sit dikmond buite die stad en wag. Miskien is God tóg soos hy wil hê Hy moet wees …
Hy is toe nié. Hy is dit nooit nie. Hy sal dit ook nie word nie. Hy is wat Hy is.
Maar hoe is Jona dan? Het hy nie iets uit sy aanvanklike drostery geleer nie? Die storm, die vis-episode? Die tweede kans?
Jona sê hy ken hierdie God. Maar glo hy ooit wat hy met soveel drif verkondig? Gló hy in hierdie God wat hy ken?
____________________
Herinner my gereeld aan hoe U is, Here. Barmhartige, omarm my. Want U weet hoe ek is.
Saterdag 29 FEBRUARIE 2020 Lees Psalm 51
Ek weet U weet
Skep vir my ’n rein hart, o God, vernuwe my gees en maak my standvastig (v. 12).
Ons is op die vooraand van die eerste Sondag in Lydenstyd, en Dawid se lyding oor sy eie sonde speel hier voor ons af. Dit is ’n veelseggende psalm dié. Hoor dan: “Ja, my oortredings ken ek …”
Selfinsig, sê hedendaagse geleerdes, is ’n voorvereiste vir verandering. Jy moet eers met jou eie mond kan sê hoe jy drooggemaak het voordat die genesingsproses kan begin. Erken eers gister se vergrype; gryp dán die nuwe moontlikhede aan. Ons hoor dit alles hier.
Selftoegediende wonde bring baie pyn, veral ook omdat dit gewoonlik ’n hele ruk duur voordat die lydende agterkom dat die seer die gevolg van sy of haar besluite was. Dat niemand anders die skuld daarvoor gegee kan word nie. Hierdie psalm se opskrif verwys tog ook na die konfrontasie wat die koning met die profeet Natan gehad het. Bybellesers sal uit 2 Samuel 12 onthou hoe lank dit geduur het voordat Dawid die kloutjie by die oor kon bring.
Maar in dié intieme belydenis hoor ons meer as ’n pynlike selfkastyding; ons sien ook ’n knie wat voor die Here buig. Ons hoor die verleë stem: “Skep vir my ’n rein hart, o God …” Ons hoor genadiglik ook die duidelike afwysing van moontlike teenprestasie: “’n Offer vra U nie …”
Nee, die klem is op Hom, die vergewende, handelende God. Die Een wat asseblief tog moet skoonmaak, opruim en ’n nuwe begin moet moontlik maak.
Want dit is die vernaamste kenmerk van gelowiges se lyding oor hul eie sonde: Dit speel voor hul Here se oë af. Die afstand tussen skulderkenning, belydenis, vergifnis en herstel is dus genadiglik bitter kort.
____________________
U sien dwarsdeur my, Here. U weet alles.
Sondag 1 MAART 2020 Lees Matteus 4:1-11
Eerste Sondag in Lydenstyd
Boosheid
Toe is Jesus deur die Gees die woestyn in gelei om deur die duiwel versoek te word (v. 1).
In hierdie vertelling oor Jesus se versoeking deur die duiwel – tog so vreemd vir ons, 21ste-eeuse Jesusvolgelinge – sien ons die eerste treë op sy lydensweg reeds aan die begin van sy bediening.
Dit ís ’n vreemde verhaal, al laat Matteus se eerste sin daaroor dit doodnormaal klink. So asof dit niks is nie dat die geliefde Seun van God, pas deur die stem uit die hemel geïdentifiseer, deur niemand minder nie as die Gees – wat insgelyks uit die hemel gekom en soos ’n duif op Hom neergedaal het – die woestyn in gelei word. En dan nie om deur sy Vader geseën of deur die Gees verlig te word nie, maar om deur die duiwel versoek te word.
Vreemd. En selfs nóg vreemder is die duiwel se benadering: ’n vriendelike toergids, jy sou jou selfs ’n glimlag kon verbeel. Ingelig: “Daar staan mos geskrywe …” En gul, vrygewig: “Dit alles sal ek vir U gee …”
Ag, dalk is niks hieraan so vreemd nie. Is dit nie maar Boosheid se manier nie? Om sy slagoffers in die alledaagse gang van hul lewe aan die arm te neem en rond te wys en hulle met sy welsprekende ingeligtheid te beïndruk. Om hulle ’n aanbod te maak wat hulle nie kan weier nie.
Jesus het geweier. Hy het Boosheid weggejaag toe Hy dit herken. Ons moet dit by Hom leer: Wanneer ons ego gestreel word en daar allerlei beloftes oor mag en rykdom na ons kant toe kom, moet ons mooi kyk wie langs ons staan en so gulhartig glimlag.
____________________
Leer my, Here, hoe om Boosheid te herken. Gee my die moed en die woorde om dit dadelik te verjaag.
Maandag 2 MAART 2020 Lees Hebreërs 2:10-18
Broer!
Daarom moes Hy in elke opsig aan sy broers gelyk word, sodat Hy ’n barmhartige en getroue Hoëpriester voor God kon wees … (v. 17-18).
Dit is die wonder van die Gesalfde van God: dat Hy aan mense gelyk geword het. Paulus sou dit só aan die Filippense verwoord: “Hy het Homself verneder deur … aan mense gelyk te word” (Fil 2:7).
Die Hebreërsskrywer jubel oor hierdie selfvernedering omdat hy hierin ’n uitkomkans sien. Hy sê: “Omdat Hy self versoek is en gely het, kan Hy dié help wat versoek word.”
Ja, dankie, Jesus. Want ons sukkel erg. Die versoekings kom met reëlmaat op ons af, en ons swig net so gereeld daarvoor. Dit laat ons met aanhoudende selfverwyt. Ons ken nie geloofsgroei nie. Ons weet nie meer hoe smaak vaste kos nie, omdat ons so gewoond geraak het aan kitskos om ons geestelike honger en dors te bevredig.
U verstaan waarom U juis hiermee moet help? Want hoe ouer ons word, hoe minder raad het ons met hierdie versoekings. Ons sukkel om, soos vroeër, maklik nee te sê. Ons wonder deesdae selfs of ons Boosheid summier moet verjaag; die aanbod is dan so aanloklik. En ons vind ál makliker verskonings vir die afdraaipaaie wat ons kies. Ons gewete word ál stiller. Ag, Here, ons verloor nou so maklik die spoor. En dit pla ons nie.
Dit is net … In hierdie Lydenstyd kom ons opnuut onder die indruk van wat dit U gekos het, Here Jesus, om ons te maak wat ons is: u susters en u broers. Kinders van dieselfde Vader. Lede van God se gesin, tuisgebring in sy huis.
Dan skaam ons ons dat ons so hartlik saamlag wanneer Boosheid begin gryns.
____________________
Ek is u kind, my Vader. Bevry my uit die bose greep wat die lewe uit my wurg.
Dinsdag 3 MAART 2020 Lees Genesis 4:1-16
Lydenstyd in ’n stokou storie
Toe gee die Here vir Kain ’n teken sodat niemand wat hom raakloop, hom sou doodmaak nie (v. 15).
Die Kain-en-Abel-storie word van altyd af gelees. Maar nie noodwendig in Lydenstyd nie. Wat het hierdie oerverhaal immers met Jesus se pad kruis toe te doen? Dalk is daar ’n raakpunt met die moord op ’n onskuldige: Abel se weerloosheid voor sy broer se wreedheid, en Jesus wat so blootgestel voor sy vervolgers gestaan het.
Daar kan sekerlik