“Ek bel hier van Kroonstad af.”
“Hallo? Is jy veilig, Seun? … Hallo? … Seun, is jy daar?”
“Ek is hier, Ma. Ek is veilig!” Die man agter die kafee se toonbank kyk gesteurd in sy rigting.
“Hallo … Hoor jy my, Seun? Ma is bekommerd oor jou. Dis Ouma …” Haar stem raak tydelik weg. “Bel my. Dis Ouma …” Toe is sy ma heeltemal weg.
“Wat van Ouma, Ma? Hallo, Ma? Hallo?”
Maar sy ma bly weg. Hy laat sak die gehoorbuis tot op die mikkie en lig dit dadelik weer. Net ’n doodse stilte. Hy stap na die man agter die toonbank. “Ek dink die tiekieboks is stukkend, Oom. Kan Oom my nie help nie? Asseblief.”
“Die blêddie ding breek aanhoudend.” Die man lyk meer na ’n plaasboer as ’n kafee-eienaar. Kakiehemp. Met om sy pols ’n horlosie met ’n leerklappie daaroor, nes dié wat hulle vir jou op die Grens gee, sodat jou horlosie se fosforsyfertjies jou nie in die donker verraai nie.
“Het Oom nie ’n ander foon hier nie? Iets is fout met my ouma.”
“Die poskantoor is net hier onder.” Hy beduie straataf.
“Asseblief, Oom.”
“Jammer, ou maat. Gaan probeer by die poskantoor.”
Simpel ou drel. Sy pa is reg: ’n Afrikaner kan nie ’n kafee bedryf nie.
Hy ry straataf. Sy ouma moet net orraait wees. Hy het lanklaas met haar gepraat. Sy sukkel met haar hart. Of is dit dalk weer die asma? By die poskantoor is twee tiekiebokse, elk in ’n aparte klein kamertjie. Hy stap by die eerste kamertjie in, tel die gehoorstuk van die mikkie af op. Krrrr, maak dit. Stukkend. Die een in die ander kamertjie moet tog net werk. Hy lig die gehoorstuk van die mikkie af. Dit voel ligter as gewoonlik. Dan sien hy die swart koord wat heen en weer onder die gehoorstuk swaai. Iemand het dit afgeruk.
Hy gaan klim terug in die bakkie. Die ambulans het sy ouma seker by die huis kom haal. Sy oupa kan nie meer bestuur nie. Doer voor op die hoek, onder ’n straatlig, is sowaar ’n foonhokkie, roomkleurig geverf, met ’n rooi dakkie. Hy hou daar stil. Toe hy die hokkie se deur oopswaai, wil hy opgooi. Iemand het hier binne gepis. Hy lig die gehoorbuis. Daar is darem ’n luitoon. Hy glip sy laaste twintigsentstuk by die smal opening in en lui sy ma-hulle se nommer. Maar niks gebeur nie. Hy bly slegs die luitoon hoor. Die simpel ding het sy geld ingesluk. En hy het skaars genoeg geld om terug by die huis in Pretoria te kom. Hy stamp hard met sy handpalm teen die silwer geldboks onderaan die foon. Stamp, stamp, stamp.
Niks. Net die luitoon in die gehoorbuis en die suur pisreuk in die lug.
Hy is spyt hy het so lanklaas met sy ouma gepraat. Sy ouma sê sy bid altyd vir hom. Hy wil vir sy ouma ook bid, maar hy soek eers ’n tiekieboks wat werk. Dis nou al donker. Miskien moet hy sommer by enige huis stilhou en vir die een wat die deur oopmaak, vra of hy die telefoon kan gebruik. Aan die onderpunt van die straat is ’n gebou waar die ligte brand. Op die sypaadjie is sakkies lemoene en aartappels opmekaar gestapel. Acropolis Café. Op die stoep blink ’n tiekieboks onder ’n buislig.
Hy sal eers kleingeld by die Griek, ’n kort, breë mannetjie met ’n ruie swart snor, moet kry. Sy hemp is laag oopgeknoop en skuins om sy nek hang ’n St. Christopher-hangertjie, verstrengel in sy borshare.
“Can you help me with some twenty cents, Mister? Please.” Hy sit ’n vyftigsentstuk voor hom op die toonbank neer.
“What’s with this?” Hy wys na die geldstuk. “You buy something, I give you change. I can’t give you no change for nothing.” Dan eers sien hy die ouerige vrou in die swart rok ’n ent van hom af op ’n stoel agter die toonbank sit. Skuins bokant haar is ’n klein houtkruis teen die muur. Hulle is seker Rooms-Katolieke.
“I want to phone, Mister. Please.” Hy wys na die tiekieboks.
“You people come here all the time: I need change, I need change, I want to make phone call.” Hy skuif die vyftigsentstuk terug tot voor hom. “Your change is not my problem.”
“It’s about my grandmother, Mister. It’s urgent.”
“What about-a your grandmother?”
“She died this afternoon, Mister.”
“Where did she die?”
“In Angola … um, sorry, no, in Volksrust.”
“Stories, you with your stories. Always stories.”
“She was very sick, Mister.”
“You think I believe you? You think I’m a fool?”
Opeens sê die vrou in die swart rok iets vir die man. In Grieks. Hy sê iets vir haar terug. Hulle het ’n driftige gesprek, dan tel die man die vyftigsentstuk teësinnig van die toonbank op, sit dit in die geldkas, en gee vir hom ’n tien- en twee twintigsente.
Dit voel of die Camel-man op die advertensie – hy sit op die wal van ’n groot rivier en rook ’n sigaret – bokant die tiekieboks hom dophou toe hy die twintigsentstuk in die gleufie druk. Ná die tweede of derde lui, antwoord sy ma: “Hallo, dis Saartjie wat praat.”
“Dis ek, Ma. Is Ouma orraait?”
“Jou ma bekommer haar dood oor jou.”
“Is Ouma orraait, Ma? ’n Mens sukkel jou dood met hierdie tiekiebokse.”
“Dis Ouma se verjaardag vandag. Het jy onthou om haar te bel?”
“Ek … Ek … Ek het vergeet, Ma.”
“Jy beter haar nou bel.”
Hy wens hy was nou in sy ouma se kombuis voor haar Ellis de Luxe-koolstoof waarop ’n pot boontjiesop staan en prut. Hy wens hy was nooit in die army nie. Hy wens hy was die Camel-man wat ná elke beproewing net ’n sigaret kan opsteek, dan is hy weer kalm en tevrede. Hy wens hy was nie twintig jaar oud en onseker oor die toekoms nie.
“Is jy daar, Seun?”
“Ek is hier, Ma … Kan Ma my hoor? Hierdie tiekieboks lol al weer. Ek sal vir Ouma bel … Hallo? Kan Ma my hoor? … Baai, Ma. Ek sal weer bel.”
Hy sit die telefoon terug op die mikkie. Eers toe hy terug is in die bakkie, toe doen hy wat hy geleer is ’n man nooit moet doen nie.
5. Jou pa
Hierdie selfone van julle darem. Hy neem op, sê jy? Ek verstaan niks meer van die wêreld nie, Seun. Kan ek maar praat …? Jou pa is gebore op Memel in die Vrystaat. In ’35. Oorle Pappie het toe die werkwinkel gehad. ’n Tannie Smit het my by die huis kom vang. Dit was maar ’n swaar geboorte. Jou pa was ’n negepond-baba. Ek het my lewe lank maar met my gewig gesukkel. Ons was arm. Almal was in daai jare ná die depressie arm. Jy stap kaalvoet skool toe in die ryp soggens. Pappie het vir die boere gewerk en so. Hul rygoed en enjins heelgemaak. Daai ou Listers. Toe is Mammie oorlede. Hoe kan jou pa vir jou sê? Mammie het seergekry met my geboorte, Seun. Dit was anders daai jare. Nie ginekoloë en sulke goed nie. Toe maak Pappie ons groot, vir my en oom Frikkie. Jou pa was al op hoër skool toe kry hy eers sy eerste langbroek. Peanut butter en stroop was vir ons ’n luukse. Jy praat so van apartheid, Seun. Ons het nie apartheid geken in daai jare nie. Ons het saam met die klonkies gespeel en uit dieselfde pot pap geëet met die hand. My maatjie was Sio. Wonder wat van ou Sio geword het. Hierdie Zoeloe wat ek vandag nog praat, kom van hom af, van daar af. Daar was nie geld om te studeer nie, toe gaan loop jou pa mos sy ambag by Amcor op Newcastle, waar ek jou ma ook ontmoet het. Passer en draaier. Sewe jaar … Wat blaf Brakanjan só? Hy sien seker iets. ’n Mens kan deesdae nie meer sonder ’n hond klaarkom nie. Hulle breek so in hier … Daar op Newcastle het jou pa mos kragdadig tot bekering gekom. In een van dominee Attie van Wyk se Pinksterdienste. In ’59. Die Here het jou pa daai aand geroep. Ek het net geweet, jy voel sulke dinge aan, ek moet vir predikant