Dana Snyman

Soekmekaar


Скачать книгу

ons Stellenbosch toe is met die ou Volksie. Dit was nie maklik nie. Grieks en Hebreeus vir jou pa wat nie Engels behoorlik kan praat nie. Toe is jy ook mos gebore ook, daar op Stellenbosch. Toe huur ons twee kamers by ’n ou tannie in Van Riebeeckstraat. Nommer 18, dink ek. Dit was seker ook nie vir jou ma maklik nie. Sy moes die pot aan die kook hou … Nee dankie, jou pa het genoeg gehad. Kry vir jou nog. Ek hou maar van daai Twee Jonge Gezellen … Dis daar op Stellenbosch waar die Broederbond my genader het. Of die Ruiterwag. Jy is eers in die Ruiterwag. Jy weet, Seun, ons wou eintlik net goed doen. Ons het gedink as die land vir die Afrikaner sterk is, sal dit vir almal sterk wees. Jy weet self, ons was goed vir ons mense. Onthou jy ou ai Souf op Daniëlskuil? Sy was nog van die goeie ou soort. En Simon. Hy was eenkeer saam met ons see toe. Onthou jy? Hulle sê nou ons was sleg, maar ons het nooit gemoor en geroof nie, en ons was ook arm. Ek weet nie, Seun. Ek weet niks meer nie. Ek het altyd maar by die Bybel probeer bly. God se Woord. Maar toe … Ek moet vir jou eerlik sê, Seun, die Nasionale Party was vir jou pa ’n teleurstelling. En die NG Kerk. Hulle het … In PW se tyd toe is dit skielik hierdie hervorming-hervorming-stories, ons moet nou hervorm. Toe is ek mos oor na die KP toe. Dis toe jou pa ook uit die Broederbond bedank het, weet jy? Onthou jy hoe doktor Treurnicht by ons aan huis gekom het op Naboomspruit? Ek het nog daai boek van hom hier wat hy geteken het. Credo van ’n Afrikaner … Wat is dit met Brakanjan vanaand? Seker mense in die straat. Hulle het mos nou hierdie sjebeen hier op die hoek by die hotel. Het jy gesien? Dit help nie om by die polisie daaroor te kla nie … Ons was nie reg vir die nuwe Suid-Afrika nie, Seun. Toe FW met sy dinge begin, toe is jou pa mos uit die NG Kerk uit en mos oor na die APK toe. Toe mos AWB toe. Toe kom ons hiernatoe mos … Dalk moet jy my tog bietjie gee. Skink maar daar vir jou pa … Dankie … Jou pa het gedink ons … die AWB … sal kan sorg dat ons Afrikaners ons eie grondgebied kry waar ons onsself kon regeer volgens ons eie waardes. Maar jy weet, Seun, oom Gene het eintlik maar sy swakhede gehad, jou pa wil nie nou sleg oor hom praat ná sy dood nie … Nee, nee, ek gaan nie. Eugène Terre’Blanche en die AWB is ’n boek wat ek toegemaak het … Jy weet … Nee, ek gaan nie, Seun … Jy weet, in daai tyd, ek praat nou van lank terug, het hulle vir ons gesê as Mandela uit die tronk kom, jaag hy al ons wittes in die see in en toe gebeur dit nie, jy weet. Hy was eintlik ’n gawe ou man, Mandela. Nou sit ons met Zuma en Malema en hierdie klomp wat die stadsraad rot en kaal besteel. Ek weet nie waar gaan alles heen nie. Johannes sê die burgemeester het vir haar ’n nuwe double cab-bakkie gekoop. Sy het nie eers ’n liksens nie. Hulle steel ons rot en kaal. Kyk hoe lyk dit hier buite. Jou pa is dom, Seun. Hy weet niks meer nie. Nou sê party van hierdie teoloë ook nog die Bybel is net ’n klomp stories, Genesis is ’n leuen, ons kom van evolusie af. Ek is net bly ek het ou Johannes. Jy weet, Seun … Jy weet … Jy gaan dalk snaaks van jou pa dink, Seun. Maar weet jy? As ek swart was, was ek dalk ’n terroris. Dit sê jou pa vir jou vandag … Dis hoekom ek vir Johannes gesê het hy moenie meer vir my Oubaas sê nie … ’n Mens is maar spyt oor sekere dinge in jou lewe, Seun. Dit kon ook nie altyd vir jou ma maklik gewees het nie … Verskoon my, Seun … Jammer … Jy moet jou pa maar verskoon, jou pa se emosies raak deesdae te veel … Sit eers af daar. Gaan kyk vir wie blaf Brakanjan so.

      (Transkripsie van ’n gesprek wat ek met my pa, Coenraad Frederik Wilhelmus Snyman [1935 – 2012], op my selfoon opgeneem het op die aand van 5 Desember 2011 by die kombuistafel in sy huis op Ventersdorp.)

      6. 15 Maart 2019

       (’n Dagboekinskrywing)

      Het pas ontbyt geëet. Weet-Bix en melk. Met te veel suiker oor. Op ’n plaas naby Pretoria het aanvallers ’n jong man se hond voor sy oë aan ’n tou voor ’n venster opgehang en toe die hond doodgeskiet. Die hond, ’n bostonterriër, se naam was Jimmy. Twee skoolseuns, onderskeidelik vyftien en sewentien jaar oud, is by ’n skool in Boksburg in hegtenis geneem nadat hulle na bewering ’n meisie en medeleerling, dertien jaar oud, verkrag het. By dieselfde skool het die gewese skoolhoof en van die onderwysers glo ’n paar jaar gelede seksuele dade met leerlinge gepleeg. ’n Jong vrou is in die Vrygrond-plakkerskamp op die Kaapse Vlakte deur ’n man met ’n mes doodgesteek toe sy wou ingryp nadat die man ’n gestremde persoon aangeval het. Die sewejarige meisie wat in die Dros in Silverton se toilette na bewering deur ’n jong man verkrag is, het om hulp geroep en geroep. Die meisie is daarna na ’n dokter geneem. Haar geslagsdele was geswel, gekneus en geskeur. Meer as 800 Absa-werkers kan hul werk verloor. Jeff Bezos, uitvoerende hoof van Amazon, is met sy fortuin van $112 miljard, steeds die rykste persoon in die wêreld. Een mens met soveel geld? Is dit nie ’n vorm van geweld nie? Werklose se lyk in sloot gevind. Die jong man wat na bewering sy vriend se ma met ’n blompot in haar huis doodgeslaan het, het gehuil die dag toe hy in hegtenis geneem en in ’n polisievoertuig gelaai is. ANC-raadslid doodgeskiet. Man deur pastoor uit dood opgewek in Witbank. Trump onttrek aan vredesamesprekinge met Noord-Korea. ’n Vrou wat haar stiefseun se kos na bewering by sy keel afgedruk het toe hy te stadig geëet het, het op ’n aanklag van kindermishandeling skuld beken. Die seun het krapmerke van die vrou se naels in sy mond en aan sy keel gehad. Later is die seun gedwing om die vloer met ’n tandeborsel skoon te maak toe hy opgegooi het van die kos wat by sy keel afgedruk is. Die twee veroordeeldes van Coligny hou vol hulle het nie die seun van die bakkie gegooi nie. Die Wes-Kaapse onderwysdepartement sê hy ontvang talle klagtes oor skole waar steeds lyfstraf toegepas word. Die sangeres Corlea sê sy was die slagoffer van mishandeling. Strategies maak sy dit nou bekend, saam met die uitreiking van haar nuwe CD. Woke verkoop goed. Mag ek sulke dinge dink? Sê dit nie iets oor my emosionele afgestomptheid nie? Die mens het sedert 1970 meer as 60 persent van alle soogdiere, reptiele en amfibiese diere uitgewis. “When crimes begin to pile up they become invisible. When sufferings become unendurable the cries are no longer heard.” Uit watter Bertolt Brecht-gedig kom dit nou weer? Ses mense in taxi-ongeluk in KwaZulu-Natal dood. Inbreker op Ceres gewond.

      Dit alles het ek in die koerant gelees terwyl ek my Weet-Bix en melk geëet het. By die storie van die jong man wat naby Pretoria aangeval is, is ’n foto van Jimmy, die bostonterriër, wat deur die aanvallers doodgeskiet is. Ek het lank na die foto gekyk, en gekyk.

      Iets in my wou huil, wou tjank, wou skreeu. Maar ek kon nie. Net ’n hol gevoel in my. Hoekom sou ek in elk geval wou treur oor ’n hond wat ek nie geken het nie? Hoekom sou ek wou hartseer raak oor mense wat ek nooit ontmoet het nie? Maar hoe kan ek dan nié treur oor wat ek in die koerant lees nie.

      7. Kruisvuur

      Ek sit in Charlie’s, drink ’n cappuccino en lees die koerant. Die deur swaai oop en ’n man kom in, selfoon teen die oor. Hare deurmekaar.

      Buite waai ’n woeste Kaapse wind.

      “Die polisie was daar,” sê hy in die foon. “Lyk nie of daar enige vingerafdrukke is nie. Ja … Ek weet nie … Ek weet nie. Sê net hy moet my bel, asseblief. Ek móét met hom praat … Dankie. Baai.”

      Hy laat sak die foon en knik effens verleë in my rigting, stap na die tafeltjie in die hoek, sit die foon en ’n bos sleutels daarop neer, trek ’n stoel uit, gaan sit. By nie een van die ander tafeltjies is iemand nie. Iewers neul ’n Kenny G-saksofoon uit ’n luidspreker. Ek skat hom iets in die vyftig. Gryserig om die slape. Dit lyk of hy nog nie kans gehad het om te was en te skeer en ordentlik aan te trek nie. Sy T-hemp is vol kreukels, sy een Nike-tekkie veterloos.

      ’n Kelner kom staan by hom, spyskaart in die hand.

      “Net ’n gewone Americano. Met warm melk.” Sy stem is moeg.

      Hy sit ’n paar oomblikke stil voor hom en uitstaar toe die kelner wegstap, dan tel hy sy foon van die tafel af op, lees iets op die selfoon se skermpie, tik iets met ongeduldige vingers, sit die foon weer neer.

      Onder die tafel wip sy een been op en af.

      Hy kelk sy hand om die melkbekertjie om te voel of die melk warm is toe die kelner dit saam met die Americano voor hom neersit. Dan lui sy foon. Hy kyk vlugtig in my rigting, en tel die foon op.

      “Luister, kan ek jou terugbel? Ek wag net vir ’n oproep. Ja … Ja … Hulle is tot met my skoene weg … Ja … Ek is net bly ons leef … Dankie … Reg. Ons praat … Ek sal. Ek sal … Dankie. Ons praat.”

      Hy sit die