nie.” Hy wys na die kaartmasjien. “Is hierdie ding reg?”
Die meisie druk weer die kaart in die masjien, tik weer die bedrag in.
Voor die man weer sy geheime nommer intik, trek hy eers die sweetpakbroek op tot bokant sy stuitjie. ’n Paar oomblikke later krul ’n nuwe strokie uit die smal opening aan die kaartmasjien se bokant. Sonder om iets te sê skeur die meisie dit af en gee dit vir die man. Hy vat die strokie, kyk met ’n frons daarna, frommel dit op en stap by die winkel uit, met die broek wat weer moedeloos oor sy boude sak.
Buite skyn die son helder, die lug is blou, die wind gaan nie vandag waai nie. Dit is die perfekte Sondag om te braai.
“Volgende,” sê die meisie en skuif die sak met die man se Coke en wors en ander goed in eenkant toe.
Ek stap nader met die twee koerante waarvoor ek wil betaal. By die deur is ’n beweging. Dis die veiligheidswag wat altyd daar op die stoel sit. Met ’n groot pak NikNaks in die hand kom hy van buite ingestap.
11. Die vierde gebod
Jy word wakker en dan is daar nie ’n trein wat by die stasie rangeer en motors in die strate en werkers wat op die sypaadjies loop en na mekaar roep nie. ’n Sondagoggend is voëls in die bome en Fanie Smit se stem oor die radio: “’n Hartlike goeiemôre van my, Fanie Smit, by nog ’n aflewering van Alle volke loof die Here. Ek gaan vanoggend begin deur vir u die ‘Magaliesburgse aandlied’ te speel, soos vertolk deur …” ’n Kerkklok wat lui. Die statige klank van die pyporrel in die kerk. Oom Martiens, die voorsinger se basstem, wat bo almal se stemme uitstyg: “Prys die Hee-e-eer met bly-e ga-alme …” En dan Dominee se stem, eers kalm, later vol vuur en swael, en dan, aan die einde van die preek, moeg en der dagen sat, byna snikkend, vol berou en vergifnis: “Vorm my en maak my na u wil, o, Heer …” Terug by die huis: die gesuis van ’n ketel wat begin kook, die geklinkel van teelepels in teekoppies. ’n Mes wat geluidloos deur ’n sjokoladekoek sak en die bord met ’n klikgeluid raak. ’n Oonddeur wat oopkraak. ’n Tafelklokkie wat lui. ’n Eenwoordgebed: Virspysendranksêonsunaamlofeerendankamen. ’n Kurkprop wat met ’n dowwe smakgeluid uit ’n Twee Jonge Gezellen-bottel loskom. Die geskraap van messe en vurke oor borde. Dan ’n stem wat roep: “Maria! Mari-jooeee! Jy kan maar die borde kom kry, my ou skepsel!” en Pa wat terugleun in sy stoel, en sê: “Ek weet wat ek nou gaan doen.” En dan, doodse stilte in die huis – tyd vir ’n middagslapie. ’n Bed wat se vere kraak, en dan Pa se ritmiese gesnork aan die onderpunt van die gang. Later Pa wat in die gang afkom, met spierwit bene in ’n kortbroek en kort swart kerksokkies. Dan die oonddeur wat oopkraak, die deksel wat gelig word van die skottelbak waarin die oorblyfsels van die skaapboud is. ’n Krakerige gebakte aartappel wat met die hand opgetel en koud geëet word. ’n Motor wat stadig in die straat verbydreun: die Viljoens in hul Chev Kommando, op ’n Sunday afternoon drive, elkeen met ’n roomys in die hand. Die platespeler wat in die sitkamer aangeskakel word en ’n Strauss-wals, soos vertolk deur die Weense Filharmoniese Orkes, wat deur die huis wieg. Ma wat by die voordeur uitgaan en op die draadstoel op die stoep gaan sit en na die horison sit en staar en geluidloos en traanloos huil oor onvervulde begeertes en verlore drome terwyl die son agter die seringboom in sak en dit donker word en die kerkklok in die verte die ure meedoënloos aftel.
12. Na waters waar rus is
Seun se ma wys na die twee tennisrakette op die stoel langs die yskas. “Maak jouself handig,” sê sy. “Vat daai vir jou pa lat hy dit inpak.”
Seun tel die rakette op, stoot die sifdeur oop, en draf oor die blinkgedoude grasperk na waar sy pa gebukkend by die Valiant se kattebak staan. Hulle is op pad see toe. Suidkus toe.
“En dit?” Sy pa beduie na die rakette.
“Ma sê dit moet saamgaan, Pa.”
“Waar dink jou ma moet ek dit sit?”
Rondom sy pa op die grond is ’n klomp goed wat nog ingepak moet word: Ma se hoedetas, ’n plastieksak vol Mills & Boon-boekies …
“Sê vir jou ma hier’s nie plek nie.”
Seun draf terug kombuis toe.
“En nou?” Sy ma wys na die rakette.
“Pa sê daar’s nie plek nie, Ma.”
“Nonsens! Sê vir jou pa daai goed gaan saam. Finish en klaar.” Op die stoof agter haar kook eiers in ’n pot borrelende water.
Seun laat kraak die sifdeur weer oop. Sy pa se broek het afgesak, tot waar ’n mens die kloof tussen sy boude kan sien. “Ma sê die rakette moet in, Pa.”
“Lyk my dis weer een van daai dae,” sê sy pa toe sy ma uit die kombuis roep: “Daai rakette gaan saam, Engel!”
“Hier’s nie plek nie, Gogga!” roep sy pa terug.
“Dan sal ek dit maar by my voete hou, my man.” Sy ma kom staan in die agterdeur.
“Die mandjie met die padkos kom by jou voete, my vrou. En die sak met jou haardroër en krullers. Die rakette was laas jaar ook saam, en ons het nie een keer tennis gespeel nie.”
“Daai rakette gaan saam, my man. Dis al wat ek sê.”
“Die rakette bly, my vrou. Ek het klaar gepraat.”
“Dokter het gesê jy moet oefening kry, my man. Het jy vanoggend al jou bloeddrukpil gedrink?”
“Ek sal gaan stap.”
“Stap is nie genoeg nie.”
“Dan moet jy maar self kom pak, my vrou. Ek weet nou nie meer nie.”
“Goed, reg, dan los ons dit.” Sy ma kyk na hom. “Bring daai rakette hier, Seun. As jou pa ’n hartaanval kry, is dit sy eie skuld.”
“Nee, Seun, gee hier.” Sy pa vat die rakette by hom. Sy gesig is rooi. “Jou ma kry altyd haar sin.”
Hy haal party goed uit die kattebak, pak ander goed anders in, meet en pas, byna asof hy ’n legkaart bou.
By die kerk slaan die kerkklok ses keer. ’n Rukkie later is die Valiant gepak, die kattebak hang laag oor die agterwiele.
Seun se ma stap ’n laaste draai deur die huis en kom by die agterdeur uit. Sy pa hang die seilsak vol koue water aan die staalarmpie vooraan die Valiant se stamper. Om die hoek van die huis kom Samuel, wat by hulle in die tuin werk, in sy blou overall gestap met ’n 5 ℓ-oliekannetjie in die hand.
“Jy moet nou mooi kyk hier vir die baas, Samuel,” sê Seun se pa toe hy hom gewaar. “Ek soek nie die trouble hier as ons terug is nie.”
“Hy moet die orgideë op die stoep onthou, Engel,” laat hoor Seun se ma van haar.
“En jy moet hom natgooi die plantjies by die blou pot by die stoep.”
“Hy kan seker ook maar die geute skoonmaak, Engel.”
“En jy klim by die dak en haal die dooie blare en goed uit by die geute. En moenie vergeet om die stoeplig by die aand aan te switch nie. Hier loop baie tsotsi’s by die nag.”
Samuel hou die oliekannetjie na Seun se pa toe uit. “Ek vra julle bring my die water van die see, asseblief, Baas.”
“Hier is nie plek nie, my jong. Jy sien self. Next time. Oukei? Of dalk ons sal vir jou die bottel van die cooldrink daar anderkant kry en vir jou die water bring. Jy moet nou mooi bly, my jong. Jy weet die baas kyk mooi by jou.”
Seun skuif op die agtersitplek in wat vol goed gepak is. Toe hulle by die hek uitry, druk sy pa die Valiant se toeter.
Hulle waai vir Samuel, en Samuel waai vir hulle terug, met die leë oliekannetjie in sy ander hand.
13. Hulle
Die eerste van ons bediendes wat ek kan onthou, se naam was Bernard. Hy was ’n Wambo. Dit was op Grootfontein in die ou Suidwes-Afrika, waar ons toe gewoon het. Wat Bernard