soos sake nou staan, weet niemand wie en wat haar ouers is en van wie haar kinders moontlik ongewenste eienskappe kan oorerf nie. Ek vrees ons vriende sal haar na dese ook nie meer in ons kring aanvaar nie.”
“Dis waar,” kom dit van Armand terwyl hy sy servet ingedagte opvou, “ek voel ook dat dit uiters gewaag sal wees om Lynne nou in ons gesin op te neem. Haar ouers kan dalk agterlike of oneerlike mense wees wat net wag totdat sy en Carl getroud is om hul verskyning op die toneel te maak en ons sodoende in groot verleentheid te stel . . .”
Die binnekoms van die huishulp om vir Marlene te sê dat daar vir haar ’n telefoonoproep in haar privaat sitkamer is, maak ineens ’n einde aan Armand se betoog.
Marlene begeef haar onverwyld na haar sitkamertjie, tel die gehoorbuis op en sê versigtig, uit vrees dat dit moontlik een van hul vriende is wat reeds van Lynne se buite-egtelike geboorte gehoor het: “Marlene Human hier.”
“Goeiemôre! Esther Steenberg wat praat,” hoor Marlene die stem sê wat dan verontskuldigend vervolg: “Ek hoop nie ek het te vroeg gebel nie, mevrou Human. Ek het gistermiddag gebel, maar geen antwoord gekry nie, daarom het ek besluit om vandag vroeër te probeer. Ek wil graag om verskoning vra omdat ek jou en meneer Human nie jare gelede al van Lynne se buite-egtelike geboorte verwittig het nie. Ek en my man het destyds ’n belofte gemaak dat ons altyd oor Lynne se onbekende herkoms sou swyg. Maar noudat my swaer en skoonsuster oorlede is, voel ek dit is my plig om vir julle te vertel dat Lynne ’n buite-egtelike kind is wat deur Stella en Justin aangeneem is toe sy tien dae oud was.”
“Ons weet dit reeds, mevrou Steenberg,” help Marlene haar reg. “Carl was gisteraand by Lynne en het selfs ook die brief gelees wat Stella vir Lynne geskryf en vir bewaring by hul prokureur gelaat het. Ek vrees ons bevind ons in ’n baie netelige situasie.”
“Ja, ek glo jou,” stem Esther saam. “Maar weet jy, sy erf toe mos ’n astronomiese bedrag geld en een van daardie luukse duplekswoonstelle wat Justin in die mooi nuwe voorstad laat bou het, en boonop mag sy nog kies watter woonstel sy wil hê. Ek sê vir jou, Lynne is vandag ’n baie ryk meisie, maar al haar rykdom kan niks aan haar onseker herkoms verander nie.”
“Dit is baie jammer dat sy buite die eg gebore is,” laat Marlene diep teleurgesteld hoor. “Ek het absoluut niks teen Lynne as mens nie, maar Carl kan werklik nie met haar trou voordat ons weet wie haar regte ouers is nie.”
“Het Carl die verlowing verbreek?” wil Esther met innerlike genoegdoening weet. Sy onthou Marie se bittere teleurstelling nog baie goed toe Carl en Lynne destyds verloof geraak het.
“Nee, nog nie, maar my man meen ook dat ’n huwelik met Lynne vir Carl en ons almal nou ’n groot verleentheid sal wees . . .”
Hulle gesels nog ’n rukkie en lui dan af.
Armand is besig met sy tweede koppie koffie toe Marlene haar weer by hulle aan tafel aansluit.
“Dit was Esther Steenberg wat gebel het,” verduidelik Marlene en skink vir haarself ook nog ’n koppie koffie. “Sy het nie geweet dat ons reeds bewus is van die feit omtrent Lynne nie.”
“Ek vind Esther Steenberg net so ’n onaangename mens soos Marie, haar dogter,” sê Jenny wrewelrig. “Ek dink dit is skandelik dat almal Lynne nou skielik die rug toekeer net omdat hulle nie weet wie haar werklike ouers is nie. Haar pleegma se brief sê tog baie duidelik dat Lynne nie nodig het om haar vir haar eie ma te skaam nie, dat sy opgevoed is en beslis uit ’n gegoede huis kom. Haar onbekende ma was dus nie ’n slet nie. Trouens, alles in verband met Lynne toon dat sy van goeie herkoms is. Daar is hoegenaamd niks agterliks in Lynne se hele samestelling nie, en enigeen kan sien dat sy ’n gebore wetenskaplike is. Ek voorspel dat sy nog groot hoogtes in die wetenskap gaan bereik.”
Jenny stoot haar leë koffiekoppie agteruit en vervolg half aan haarself: “Marie en haar ma verlustig hulle natuurlik in Lynne se leed, want albei weet dat Marie nooit Lynne se standaard kan bereik nie. Hulle was trouens nog altyd jaloers op Lynne omdat sy so mooi en besonder intelligent is. Hulle sal nou bepaald alles vir die wêreld gaan uitbasuin.”
“Weet jy, alles wat jy daar sê, is waar, Jenny,” stem Carl diep ongelukkig saam. “As almal dit maar so wil insien, sal dit nie vir my nodig wees om ons verlowing te verbreek nie –”
“Wat? Gaan jy jul verlowing verbreek om ander mense gelukkig te maak?” val Jenny hom geskok in die rede.
“Carl het gelyk,” tree sy ma vir hom in die bres. “Ons voel natuurlik baie jammer vir Lynne, maar ons kan ook nie toelaat dat ons jammerte vir haar ons openbare lewe beïnvloed nie. Ek vrees ek dien in te veel komitees om ons naam selfs aan die geringste . . . e . . . onreëlmatigheid te koppel.”
Armand Human knik instemmend en Jenny besef dat dit haar niks sal baat om langer vir haar vriendin te pleit nie.
“Wel, ek weier om my vriendskap met Lynne te beëindig. As ons vriende my om daardie rede oor die hoof wil sien, kan hulle dit met my komplimente doen,” laat Jenny verontwaardig hoor. Sy vra verskoning om die tafel te verlaat, kom orent en kyk haar broer verwytend aan toe sy beskuldigend sê: “Ek hoop nie jy berou dit later omdat jy jul verlowing verbreek het nie. Ek glo ook nie Lynne sal jou daarna ooit terugneem nie. Ek glo ook nie Lynne het plek in haar lewe vir ’n klomp mooiweersvriende nie.” Met hierdie laaste verwyt verlaat Jenny die eetkamer.
Lynne het reeds ontbyt genuttig en wag al byna ’n uur op haar oom Nico se beloofde besoek toe hy hom eindelik by haar op die patio aansluit.
“Ek wil jou vanoggend neem sodat jy vir jou ’n woonstel kan gaan uitsoek, Lynne,” stel Nico haar in kennis nadat hy haar môregroet beantwoord het en op haar uitnodiging plaasneem. “Ek hou nie daarvan dat jy so alleen in hierdie groot huis woon nie. Sien jy kans om oormôre, dit wil sê Maandag, na jou nuwe tuiste te verhuis?”
“As dit moontlik is, sal ek verkies om liewer môre te verhuis, oom Nico. Ek weet dit is môre Sondag, maar ek kan dit nie bekostig om Maandag se lesings mis te loop nie,” verduidelik Lynne.
“Moet jou nie bekommer nie, ek sal alles vir jou reël,” verseker Nico haar. “Ons kan nou dadelik gaan sodat jy vir my kan wys watter woonstel jy verkies. Dan sal ek vandag nog reël dat jy môre kan intrek. Ek sal later vir jou die sleutels bring, dan kan die werkers solank die vensters en die kaste vir jou skoonmaak.”
Lynne bedank hom vir sy vriendelike hulp en bystand, dan vertrek hulle na die nuwe gebou wat Justin die vorige jaar langs die pragtige Wilgerspruit laat oprig het. Sy kies vir haar ’n woonstel met twee slaapkamers en ’n noordelike aansig. Die een slaapkamer, besluit sy, sal sy in ’n studeerkamer omskep.
“Ek vrees jy gaan vandag baie besig wees, meisie,” verklaar Nico toe hy later weer voor Lynne se ouerhuis stilhou. “Maak solank alles gereed, ek gaan haal gou vir jou die sleutels. Ek sal ook met ’n vervoermaatskappy reël om jou meubels en ander los goed om elfuur môreoggend te vervoer. Aangesien ek ook besluit het om hierdie huis met meubels en al te verkoop, raai ek jou aan dat jy van alles wat jy nodig het om jou woonstel te meubileer, net die beste neem wat hier in die huis is.”
Lynne bedank Nico weer eens vir al sy hulp en bystand. Dan vertrek hy om vir haar die woonstel se sleutels te gaan haal.
Twee werkers is reeds besig om al die skoonmaakbenodigdhede in Lynne se motor te laai, toe Jenny agter Lynne se motor stilhou.
“Hallo!” roep Jenny vriendelik uit toe sy Lynne na haar motor toe sien aankom. Sy klim haastig uit en sê-vra: “My wêreld, maar jy lyk vreeslik besig. Is daar iets waarmee ek kan help?”
“Wat? Help?” Lynne kyk haar aan met ’n vriendelike, hulpelose glimlaggie. “Jy kom asof jy geroep is, ou sussie. Ek verhuis môreoggend na my nuwe duplekswoonstel en jy kan my gerus help besluit wat ek alles nodig sal hê om huis op te sit.”
“Man, dit is die maklikste ding ter wêreld,” sê Jenny opgeruimd. “Ek gaan dit terdeë geniet om jou woonstel te help meubileer. Moet jy vandag nog die meubels gaan koop?”
Lynne skud haar kop en verduidelik dat sy alles wat sy vir haar nuwe woonstel