of was, van wie sy haar voorliefde vir die wetenskap geërf het.
“O, dankie tog! Ek sal vreeslik bly wees as oom Nico toesig sal hou terwyl hulle die meubels aflaai. Ek is so bang hulle krap of beskadig dit. Ek en Jenny sal binnekant toesig hou en sommer ook seker maak dat elke meubelstuk na die regte plek geneem word,” sê Lynne dankbaar.
Met Nico, Jenny en die twee huishulpe se hulp vorder alles baie fluks en kort voor middagete is al die meubels afgelaai en kan die vragmotor vertrek.
Toe Nico merk dat sy hulp nie langer nodig is nie, belowe hy Lynne om dikwels in te loer totdat daar ’n telefoon geïnstalleer is. Met hierdie belofte groet en vertrek hy ook.
Lynne en Jenny werk die res van die dag fluks. En toe Lynne daardie aand in die bed klim, is haar tuiste netjies en aan die kant. Sara, wat ongeveer dertig jaar in haar aanneemouers se diens was, het ingestem om heeltyds in haar diens te tree. Sy sal dus van die volgende dag af weer die drade van haar lewe kan optel waar sy dit die dag met haar aanneemouers se heengaan laat lê het.
Met Lynne se aankoms by die universiteit die volgende oggend is sy dadelik bewus van die verandering by sommige van haar medestudente. Party ignoreer haar ooglopend, ander kyk haar weer kil en uit die hoogte aan. Maar ses van haar vriende toon openlik dat wat daar ook al van Lynne op die kampus gesê word, hulle altyd haar vriende sal bly.
Hierdie vriendelike houding van Maryna, Astrid, Chris, Kurt, Ewald en Johan is vir haar inderdaad ’n riem onder die hart. Die res ignoreer sy openlik en sy steur haar nie in die minste aan wat hulle agter haar rug fluister nie.
Jenny, Janet en Nico besoek Lynne gedurende die volgende maand baie gereeld. Toe word haar telefoon eindelik geïnstalleer en dit voel nie langer vir haar asof sy van die buitewêreld afgesny is nie. Nou kan sy haar oom darem bel indien ’n probleem sou opduik.
Dit is Saterdag en Lynne is net besig om haar elfuurtee te maak toe Jenny haar opwagting maak.
“Gaan sit solank, ek bring nou vir ons tee,” nooi Lynne en verdwyn in die rigting van die kombuis. “Kyk net na die mooi Persiese mat teen die muur wat oom Nico vir my gegee het,” sê sy deur die groot halfmaanvormige diensluik.
Jenny neem plaas en spreek haar bewondering oor die mat sonder veel entoesiasme uit.
’n Kort stilte heers in die woonkamer en dit dwing Lynne om te sê: “Dit voel vir my asof jy iets op die hart het, Jenny. Toe, uit daarmee. Ek luister.”
“Ek het nie iets op die hart nie, my ou maat, ek voel die duiwel én die hoenders in,” sê die blonde Jenny met die blou oë wat vuur spoeg. “Dis daardie Marie-skepsel,” gaan sy bitter verontwaardig voort. “Bid jou aan, sy het die vermetelheid om my gistermiddag op kantoor te skakel uitsluitlik om te hoor of Carl al jul verlowing verbreek het.”
“Ek veronderstel jy het vir haar gesê dat Carl ons verlowing al ’n maand gelede verbreek het . . .” sê Lynne.
“Nee, ek het nie,” help Jenny haar reg. “Ek het vir haar gesê ek is besig en ek weet niks nie. Sy moet vir jou of vir Carl vra.”
“Dit verbaas my dat sy dit nou nog nie weet nie,” sê Lynne.
“Niemand weet dit nie, behalwe jy en ons gesin, en ek glo nie sy sal dit waag om my ma oor jul verlowing uit te vra nie . . . of weet haar pa ook dat julle nie meer verloof is nie?”
“Oom Nico het my nog nooit daarna uitgevra nie, maar hy het bepaald al gemerk dat ek nie meer Carl se ring dra nie,” meen Lynne. “Janet weet, maar sy sal nooit vir Marie vertel nie.”
“Wel, dit is duidelik dat haar pa haar nie vertel het nie. Maar ek het jou nie vanoggend besoek om oor daardie hekseketel te gesels nie, Lynne. My kollegas gee vanaand ’n kaas-en-wyn-partytjie en ek mag vriende saamnooi. Ons moet net vir jou ’n maat vir die aand kry, want na die partytjie gaan ons almal skaats.” Jenny is op die redaksie van ’n gewilde vrouetydskrif.
“Dit klink na aangename afleiding,” sê Lynne glimlaggend. “Ek hoop net nie die skaatsbaan is so vol dat ’n mens jou nie kan draai nie.”
“Ons hoop maar vir die beste,” sê Jenny, sit haar leë koppie op die tafeltjie langs haar neer, en wil dan belangstellend weet: “Wie gaan jou maat wees, Lynne?”
Lynne haal haar skouers liggies op. “Ek sal hoor of Kurt vanaand vry is. Hy is een van my medestudente en soos jy weet, is dit amper bloktyd vir die eindeksamen.”
“Nou goed, bel hom eers sodat ek kan weet of hy vanaand vry is en of ek self vir jou ’n maat moet kry,” spoor Jenny haar aan. “Die drag is informeel.”
Kurt is gelukkig vry. Hy willig ook sommer dadelik in en voel gevlei om die pragtige rooikop na ’n partytjie te vergesel.
“Pragtig!” roep Jenny vrolik uit. “Julle twee moet net nie vanaand die wêreld se wetenskaplike probleme probeer oplos nie. Ek wil hê jy moet die aand geniet, Lynne.”
Hulle spreek af hoe laat Lynne en Kurt dié aand by hul bestemming moet wees, toe groet en vertrek Jenny.
Soos al die ander, is Lynne en Kurt daardie aand ook in slenterdrag geklee. Die partytjie is gesellig en informeel. Lynne en Kurt word aan almal voorgestel en die tydskrif se personeel lag en gesels met hulle asof hulle mekaar jare al ken.
Tienuur kondig iemand aan dat dit tyd is om na die skaatsbaan te vertrek. Almal stem hiermee saam en na ’n rukkie is die vrolike groepie onderweg na die skaatsbaan.
Daar is gelukkig nie baie mense op die baan toe Lynne-hulle daar opdaag nie. Met haar skraal hand in dié van Kurt, ’n lang swartkopman, skaats hulle een keer om die baan en sluit dan weer by Jenny en haar vriend, Ryno van Blerk, aan.
Marie het Lynne dadelik opgemerk met hul aankoms en haar heimlik daarin verlustig omdat sý vanaand Carl se maat is en nie meer Lynne nie. Sy is al van kindsbeen af smoorverlief op die aantreklike Carl en dit het haar hart gebreek toe hy haar destyds so doelbewus geïgnoreer en aan Lynne verloof geraak het.
Maar vanaand is die bordjies verhang. Van vanaand af gaan sy alles in die stryd werp om Carl vir haarself te wen. Nadat Jenny haar die vorige middag so kortaf oor die telefoon behandel het, het sy haar ma gesoebat om vir haar uit te vis of Carl nog aan Lynne verloof is. Daarna het sy Carl se kantoornommer geskakel en hom genooi om saam met haar en ’n paar vriende te kom skaats. Hy was aanvanklik baie onwillig, maar met ’n groot gesukkel en baie geduld het sy eindelik daarin geslaag om hom oor te haal. En nou kraai sy koning oor Lynne.
“Ek sien daardie addertand is ook hier en dit nogal saam met my broer,” hoor Lynne vir Jenny fluisterend en onthuts sê.
“Ek sal jou aanraai om liewer die hele aangeleentheid te vergeet, my ou maat,” keer Lynne haastig toe sy sien hoe doelbewus Carl en Marie in hul rigting skaats. “Jou broer het al die reg in die wêreld om saam met haar te kom skaats, ons is mos nie meer verloof nie.”
“Ek hoop hy bedoel dit nie ernstig met haar nie, want ek sal haar nooit as ’n skoonsuster aanvaar nie. Haar tong is gans te giftig.” Jenny draai na Ryno en Kurt en roep vrolik uit: “Kom ons jaag resies om die baan!”
’n Ergerlike frons verskyn tussen Carl se ligbruin wenkbroue toe hy sien hoe vrolik Lynne en die groot donkerkopman van hom af wegskaats. Hy kyk hulle agterna en dit voel asof sy hart wil breek. Hy besef dat hy ’n gek was om hul verlowing te verbreek net omdat sy ouers dit so wou hê. Dit is nou maar eers ’n maand sedert hy hul verlowing verbreek het en sy het al klaar ’n ander vriend in sy plek. Hy stuur Marie werktuiglik na die kant van die baan, waar hy saam met sy suster se vriende op die uitslag van die resies wag.
Marie merk die wrewelrige frons op Carl se voorkop, hoe sy blik op Lynne bly en elke beweging van haar en die lang, donker kêrel met misnoeë volg.
Onkeerbare jaloesie skroei deur Marie toe die besef tot haar deurdring dat Carl vir Lynne wag. Hy het wel hul verlowing verbreek, maar sy hart behoort nog steeds aan Lynne. Sy besef ook dat haar skinderveldtog teen Lynne haar nie juis veel gebaat het nie.
Ryno en Kurt klop die twee meisies, wat hulle