die nanopex.
Foos loer oor sy skouer. Op die toyskren is ’n kaart van Meconium. Boaan staan Invaders 101. Die stuk papier is ’n uitgedrukte kaart van die area rondom Meconium. Met die hand is Meconium, Close Enough en Hardekraal ingeteken. Georgie is besig met die ontsoutingsaanleg see se kant toe; die insekplase langsaan en die lande en boorde na die noorde; selfs die vlermuiskolonies en Pompous Ruins tussenin is reeds ingevul. Dit alles net van een keer se luister na Foos se verduideliking.
“Waar kom jy aan die goed?” vra Foos.
Georgie lig die toyskren op.
“Invaders 101 is ’n game wat die goods by Close Enough se techtoring gescheme het. Very popular – jy kan dink. En die kaart het my twee shots laxative op die swartmark gekos.”
Foos skud sy kop. “Ons moet nou dak,” sê hy. Die seun kop te veel.
Foos help graag vir MaJo, maar hy sal nie verbaas wees as Georgie ’n shite-tsotsi is nie, en as Communications uitvind hy’t vir só een ’n toer gegee, gaan hy nie veel opsies hê wanneer hy met Inbetween klaar is nie. Reguit van MaJo’s af na ’n nederset of weerstasie.
“Wat maak jy met die kaarte?” vra hy terwyl hulle met die muur langs tot by die naaste Atremstasie loop.
“Dis vir my toere. Die volle prentjie.”
“Is jy ’n shite-tsotsi?” Niemand kon nog agterkom hoe nie, maar daar word shite uit Meconium gesmokkel wat dan weer in Close Enough se BioG gedeposit word. “Jy en die tweeling is nie dalk partners in crime nie?”
“Nooit,” sê Georgie. “Nooit.”
Die Atrem stop en Foos loer of daar ’n MecSec op is – hy’t nie vir Georgie ’n Atrem pass gereël nie.
“Klim,” sê hy vir die seun.
“Wat as ’n sambok my sien?”
“Sambok?”
“MecSec.” Georgie se oë is groot.
“Klim.” Foos wys hulle moet langs die deur sit.
Hy’s nie lus om al die pad saam met Georgie te loop tot by Ingang 2 nie. Die hofsaal sal reeds gepak wees.
“Kiefste,” sê Georgie na ’n ruk. “Nog nie in een van julle lugpiele gery nie.”
Foos draf die ent tussen Ingang 2 en die Fort. Hy hoop hy kan met Julie praat voor die storie begin.
’n Klomp Divusites staan in die binnehof en chant en buig voor Divus. Foos bal sy vuiste en volg ’n paar Gais wat by die deur na Justice ingaan. As Inbetweener was Foos die afgelope twee jaar baie in die Fort vir Further Development and Training, maar nog nie voorheen in die hofsaal nie. Die vertrek is gepak en die extractors dreun harder wanneer die deur oop en toe gaan.
“We have to keep it closed now,” hoor hy iemand sê.
Hy klim oor mense in die paadjies na waar Joni vir hom plek hou. “Bendisithi awusezi,” sê hy toe Foos gaan sit. “Iyaqala.”
“Ek moes ’n Hardekraler eskort ná Celebrate 20 se gids-briefing.”
Foos soek vir Julie in die voorste ry. Hy kry haar lang stofblonde hare langs haar ma se kaalgeskeerde kop en voel hoe sy tande teen mekaar skuur.
“Two hours of stoffasie, starting at 14:00 this afternoon on BioG:E. Dust density is 71%, so the court appoints Dr Ty to check on the offender after an hour to make sure she is stable,” sê die regter.
Divusites jil en klap hande. Foos sit tussen majoërs en Gais – almal stom geskok.
“Kuyanyiwa,” sê Joni langs hom.
Foos trek-trek aan sy snor en kyk na Julie se regop nek.
“The courts are corrupt!” gil iemand.
“Divusity is a sect!” gil ’n majoër agter Foos.
“And the prosecutor’s request to put a dead snake around the offender’s neck?” vra Divusity se verteenwoordiger vir die regter.
“Declined.”
Foos sit sy MecSpec10’s op en sy MecBreaths in. Hoe gaan Julie se asemhalingstelsel dit hou? Van kleins af klamp dit haar: bronchitis, longontsteking, sinus, weer bronchitis. Hy sien hoe die mense na Julie toe beur. Hy sukkel om asem te kry.
Foos wag voor die ingang na Julie se ma se woonstelblok in die Gaia-woonbuurt. Maan se gehuil kom voor Julie en haar ma om die hoek. Hy staan op en druk Julie se skouer, dan haar ma s’n. Hy lig die stofomhulsel ver genoeg om sy hand by die waentjie in te steek en Maan se wang te kielie. Sy hou vir ’n oomblik op met huil.
“Dis ’n onreg,” sê hy. Hy wens hy kon iets groots sê.
Daar is pers kringe om Julie se oë en lyne langs haar mond af. Sy lyk nie meer twintig jaar oud nie. In een jaar het sy haar pa en haar beoogde verloor en ’n kind en ’n brandmerk bygekry.
Sy knik. “Dis so te sê verby. Ek en Maan en my ma gaan Sondag met die biogaslorrie na ’n nederset noordoos hiervandaan. My ma ken die suster by die kliniek en sy’t gesê hulle kan plek maak vir ’n trainee dokter.”
Foos se linkerhand gaan op na sy snor. Hy gaan haar ’n tweede keer verloor. Eers was dit Niel. Die lafaard, wat soos ’n cliché op die Atremspoor gaan lê het. ’n Pynlose, spektak dood, sê die Hardborns: Jou longe bars uit jou bors van die lugdruk wat die trem laat vort. MaJo sê dis nie waar nie.
“Ek wou net … sterkte sê vir …” begin Foos.
“Sal jy vanmiddag daar wees?” vra Julie.
“Ja,” sê hy, maar hy weet nie hoe hy dit moet deursien nie.
Onder die Inner Atremspoor langs tot by die KhayaGaia-stasie. Foos vat ’n systraat muur se kant toe en draai weer in die eerste steeg links. Anders as die res van Meconium het die meeste geboue hier net ’n grondvloer. Die deure is uitgekerf: bye, vlermuise, suikerbekkies. Hier en daar ’n aangepaste Earth Christian sign. Aan die einde van die steeg, op links, is die cob-kamer waarvoor hy aan die begin van sy Inbetween-jare sy naam opgesit het. Die inwoner, een van die Hardstes, is oorlede. Dit staan al die afgelope ses maande leeg en Admin wil weet of hy dit gaan vat as hy aan die einde van die jaar by MaJo’s moet uit. Dis ’n eenvertrek, maar daar is ’n lapmuur wat dit in twee deel en aan die agterkant is ’n kophoogte platform vir ’n matras. Die twee vensters het luike met rubberseëls teen die stof. Die deur het die blaarspiraal van ’n kroonaalwyn op – Julie het dit herken. Dit sluk jou oë in en spoeg dit spikkelrig uit. Hy loop verder, deur die spikkels en die steekpyn van ’n fantasie oor Julie op die platformmatras.
* * *
Wat help dit ’n man sit jou Pulse in pulsenot as jou bewegings so voorspelbaar is dat elke tweede Meconite weet om jou op ’n Woensdagmiddag in MecRec in ’n gholfsim te kom soek. Die gemak en die agteruitgang is één, dink Dick Jones en ruk sy hoodie af.
“They’re on the top admin floor,” sê die stuurman toe die Kweekhuis se deur agter hulle toeklik.
“Ja-ja. Ek ken die pad,” sê Dick.
“Yes. But I don’t mind.”
“Never mind ‘don’t mind’. Jy’s voorgesê om my te eskort. Dis daai blêddie Salt Vaals – bang die gholf het my sense of duty aangetas.”
Vir die eerste keer beweeg die seun se gesig. Die mondhoek lig met baie moeite. Donnerse Inbetween-blaségeit.
“Hoe ver in jou Inbetween-jare?” vra Dick. Nog vier vloere se trappe.
“This is my second-last block. Just the Recycling Plant left.”
“En daarna? Weet jy al?”
“No, not sure.”
Dick verslap en begin op die trapreling druk. Wanneer het hy so onfiks geraak? Op die seun se agterkop is ’n mandala ingeskeer. Tania,