Alettie van den Heever

Stof


Скачать книгу

      “Kon netsowel ’n sirkus gewees het,” sê Sias. “Behalwe hy sou nie ontsnap het nie. Het jy al van Specimen of the Year gehoor?”

      “Ja.”

      “Meconium sê die contest is ’n celebration of diversity. Met hulle twentieth anniversary hierdie jaar moes die contestants aan Specimen vir veertig dae weg van Meconium en surrounds oorleef. Baie gerieflik om by ’n tienermeisie op ’n nederset te gaan skuil. Sê dít vir haar.”

      “Hy was die eerste ruk by Solamalgia ingeboek. Met Meconium-toutjies. Anyway, praat sal nie help nie. Sy’s sestien en verlief.”

      Amper spring byna op om haar stil te skree – wat traak dit die ou vrou? As Wakinyan haar nie alles vertel het nie, sal daar ’n rede wees.

      “Kan die kind ten minste Engels en isiXhosa praat?” vra Sias.

      “Engels. Nie isiXhosa nie. Bettina s’n was nie goed genoeg nie; ek kan myself beswaarlik help. Maar Hardekraal is mos nie so streng soos Meconium nie?”

      “In Meconium praat almal hul eie moedertaal, meestal Engels vir amptelike goed, maar in Hardekraal is jy veronderstel om die opgroeitaal van die oudste persoon te praat, so jý behoort dáár nie ’n probleem te hê nie.” Hy lag.

      Mevrou Jafta klap haar tong. “Ek’s nie so oud nie.”

      “No worries. Hardekraal akkommodeer die boendoes. Hulle akkommodeer altyd, alles en almal.”

      Dis al donker toe Sias vir die soveelste keer stop. Hy skakel ’n sonlampie aan en hang dit aan die truspieël op. Amper kom regop. Sal dit die laaste stop wees? Mevrou Jafta slaap. Haar mond is oop en ’n straal kwyl blink op haar ken.

      “Die Hardekraal Hotel,” sê Sias na aan haar oor. Amper is nie seker of hy spot nie. “Sentraal geleë tussen die Kraalkombuis, die pad na Meconium en BioG:H – Hardekraal se Meshitium.”

      Die ou vrou kom regop soos een wat nooit geslaap het nie. Sy sukkel uit en Amper is agterna met die rolstoel. Sy kry haar rugsak en vir Noag. Die hond se tong hang laag.

      “Sorry, hond,” fluister sy.

      Sias bring Mevrou Jafta se sak.

      “Ek laat julle weet wanneer ek weer Kiefmor se kant toe gaan,” sê hy en lig sy hand. “Tien dae op die gouste.”

      Amper kyk Sias agterna. Sy’t veiliger gevoel met hom in die omtes.

      “Waar kry ons jou?” vra sy, maar haar stem verdwyn onder Mevrou Jafta se kloppe. Hulle wag lank. Die deur gaan oop en Sias trek weg. ’n Gaslamp verlig ’n pienk nagrok.

      “Ek is Jemima Jafta,” sê Mevrou Jafta, “dogter van Engela Vanaard. Hier op die genade van Johanna Josefs, dogter van Trein Josefs.”

      Amper het die ou vrou se stem nog nooit so gehoor nie. Vol geheime rituele.

      “Nondaba Coetzee. Kom in.”

      Nondaba staan opsy. Sy sien vir Noag en haar wenkbroue beweeg weg van haar neus.

      “Hayibo. Binnehof,” sê sy, met haar duim en wysvinger wat in Noag se rigting klap.

      Amper lê op die boonste van twee stapelbeddens in ’n hoekkamer van die hotel. Mevrou Jafta is op die onderste een. Haar rolstoel en sak is onder die bed – anders was daar nie omdraaiplek in die vertrek nie.

      Amper wonder oor Mevrou Jafta. ’n Week na haar ouma se dood het die ou vrou die eerste keer by die winkel opgedaag. Iemand het buite met haar rolstoel gewag en sy’t op die meubels gedruk en haar neus opgetrek en teësinnig gevra of sy die amberoorkrabbe kon kry. Daarna het sy weer gekom, met koeponne betaal én kos op die voetstoel by die deur gelos. Amper het nie geweet Mevrou Jafta en haar ouma het mekaar beter as groet geken nie.

      Haar rugsak hang by haar kop en sy haal die skryfgoed uit. Haar lyf is styf van heeldag se opkrop en rondval in die bakkie. Sy krap tot sy die pilhouer raakvat. Tweede ry se F: sitrus en steranys. Tongbrein in vuiste: pomp – drie keer.

      Tylosema esculentum – gemsbok bean; maramaboontjie, elandsboontjie, braaiboontjie.

      Marama se innebor het die ander planete jaloers gemaak. Hulle het mane gegroei maar niks was so sienlik soos die innebor van Marama nie. Marama het gehoor van ’n planeet met aansienlikheid sonder gelyke. Dáár, het sy gedink, sou haar innebor met rus gelaat word. Op reis vra Marama ’n skootster om haar innebor in twee te skiet. Vir Aarde vra sy of sy dit op twee rooiduine kan begrawe. Toe dit opkom, was die blomme sterre, die blare bokmakierievlerke en die sade olieknope vir die windgrond se jas. Die rooi grond het Marama se innebor sienliker as ooit gemaak: geverf met die kwaste van vlak vulkane. En die skaars leksels onder die grond het dit laat opswel soos die maag van ’n moerplaneet. Die gooie se mae is heilig.

      Skoot 1

      Woensdag, 2 Julie 2081

      Foos kyk op sy Pulse. 09:30. Die hof-storie begin oor ’n uur. Hy sit sy regtermiddelvinger op die Pulse se skren: Stofdigtheid – 55%. Dit lyk of ’n mens van die tien meter hoë muur kan aftrap en op ’n duin aanstap na waar jy ook al wil wees: die Wessee, die Tafelberg, die Here-be-dragons noorde.

      “Kom nou, Georgie,” sê hy.

      Die seun staan met sy ronde neus teen die nanopex-venster van die uitkykpunt links van die NNW-biculus.

      “Wanneer kry ek weer opportjoentie vir notas?” antwoord Georgie na ’n ruk. “’n Gids wat sy gat werd is, kan staaltjies vertel. Staaltjies werk net as jy die styfheid en kleur van die drol kan bylieg.”

      Foos ignoreer die seun. Hy’t hom negentig minute gelede die eerste keer ontmoet en Georgie het reeds tien drol-grappies gemaak. Die ander kinders wat vir die gids-briefing gekom het, is almal weg sonder om aan hulle Pulses te raak – almal Meconites en almal met die nuutste MecLenses en MecBreaths teen die stof. Maar dis die moeselienmummie-Hardekraler met die eenlens-sweisbril en oogklap wat sy tyd vat met ’n pre-Hardskip toyskren, ’n stuk papier en ’n halfgeëte potlood.

      “Georgie, ek het nie tyd hiervoor nie,” sê Foos. Hy wil nog vir Julie gaan sterkte sê.

      “Ai, Foos, geduld, man. Die stuk anderkant Meconium ken ek soos my handpalm. Maar see se kant van Meconium is ’n ou maar versigtig. Of jy nou vreesloos én met ’n derde oog operyt of nie.”

      Dis oor MaJo wat Foos ingestem het om al die admin te doen om ’n Hardekraler op die gidsprogram vir Celebrate 20 se Opedae te kry. Die irritasie en spyt gaan sit saam met ’n sandkorrel onder die MecSpec10’s se suiers wat op sy neusbrug lê.

      Hy krap sandkorrels uit sy snor. By MaJo vergeet ’n mens soms dat jy in “Independent Growing”, ’n Meconium institution, bly en dat MaJo eintlik ’n Hardekraler is. Hy kan nie aan een majoër dink wat Meconium bo MaJo sal kies nie. En sý glo dié Hardekraler verdien ’n kans, so Foos het by Communications & Relations gaan verduidelik hoe die ander enklawes se besoekers die vorige jaar met die Opedae aanhou kerm het hulle wil Hardekraal en Close Enough besoek en dat die Meconite-gidse geweier het.

      “Jy gaan net die Hardekraal en Close Enough part van die toere doen,” sê Foos. “Hierdie is net sodat jy ’n idee van die geheel kry.”

      “Ou Georgie doen heeljaar toere. Groot in- en uitflux in Hardekraal en Close Enough – fokollie nanopex-mure om die toeriste uit te hou. Ek lei sommer een van my gabbas as bodyguard op en brei my besigheid see se kant toe uit. Dalk sal Aidan en Hanno inkoop. Ken jy hulle? ’n Tweeling. Majoërs.”

      “Hoe ken jý hulle?”

      “Exchange program. Meconium se contsending charity het tot ’n diep vriendskap gelei.”

      Foos sug. Hy ken die tweeling. Met Georgie by, is hulle nóg meer van ’n gevaar vir hulleself en almal in ’n honderdmeter-radius.

      “En volgende jaar? Jy sal my weer kan inkry?” vra Georgie.

      “Nee. Ek’s nie permanent nie.