Carié Maas

Jannie Mouton: En toe fire hulle my


Скачать книгу

van suksesvolle sakelui.

      Wat ek gelees het, het my aan die dink gesit. Ek het baie van die boeke in Afrikaans opgesom om my denke te orden. Nie elke boek verander by wyse van spreke jou lewe nie, maar daar is altyd ’n idee of twee wat ’n mens kan inspan.

      Vir my het dié studie benewens die werk- en akademiese voordele ingehou dat ek myself georiënteer het.

      Dit verg opoffering om gespesialiseerde kennis te versamel, maar dit het my gestimuleer en verryk in my toekomsbeplanning.

      Vandag besef ek daar is ’n hele paar punte wat die akker vir PAG, die voorloper van PSG, voorberei het. Ek kan dit opsom as ’n klankbord, selfontleding, ’n droom, ’n aksieplan, ’n positiewe houding, besluitneming en kommunikasie. En ek kan dit nogal aanbeveel vir iemand wat in ’n groef verval het soos wat daardie tyd vir my gedreig het.

      ’n Mens moet ’n terugslag realisties deurwerk. Jy het iemand nodig wat jou kan help as jou geesdrif jou redelikheid oorheers, maar ’n jabroer kan dit nie wees nie. Dit moet iemand met goeie oordeel wees wat genoeg respek vir jou het om die moeilike vrae eerlik te beantwoord.

      Gelukkig was Chris en Dana daar vir my in die eerste dae van my soektog om weer in myself te begin glo. Vir ’n strategiese besluit werk só ’n span veel beter as ’n individu.

      Dana het eenkeer gespot ons kuier so lekker saam oor ’n bottel wyn as ons uiteet omdat “jy altyd praat en ek altyd luister”, maar veral daardie tyd was sy ’n wonderlike klankbord. Sy het my verstaan en kon my voortvarendheid temper.

      Eerlike introspeksie is nie altyd lekker nie, maar daarsonder sal ’n mens sukkel om na jou goeie punte toe te werk en jou swakker eienskappe uit te skakel. Maar so slim as wat dit agterna dalk klink, is my ou dagboek die getuie hoe ek bloed gesweet en getorring en vernuwe het aan my SWOT-ontleding totdat ek later presies geweet het wat ek wil en kan doen.

      Die eenvoudige vraag is wat jou persoonlike missiestelling is, jou doelwit, jou droom. As jy die antwoord weet, ontketen dit ’n krag wat jou na die eindbestemming aantrek.

      My plan wat ek in November 1995 neergeskryf en laat tik het, was:

       Ek wil vry wees en nie vir ander werk nie.

       Ek wil ’n verskil maak aan ander se lewe en empatie met my medemens hê.

       Ek wil ’n boek skryf (haai, nou toe nou).

       Ek wil iets saam met my kinders aanpak.

       Ek wil ’n nuwe wildplaas takel ná Nokonya.

       Deur great dinge te doen, is ek gelukkig.

       Ek wil ’n nuwe maatskappy suksesvol uitbou.

      Baie dinge het al oor die jare verander, maar die raamwerk is steeds geldig.

      My aksieplanne moes my droom rig:

       Ek wil ’n genoteerde maatskappy beheer.

       Ek wil op die finansiëledienstesektor fokus.

       Ek wil kapitaal verkry vir ’n sterk kapitaalbasis.

       Ek wil gedesentraliseerd en gedelegeerd bestuur.

       Ek wil goeie mense betrek.

       Ek wil uit Johannesburg na Stellenbosch verskuif.

       Ek wil ’n klein, kreatiewe hoofkantoor met ’n ontspanne atmosfeer inrig.

       Ek wil meer dink en minder doen.

      Die wete dat ek ’n droom en ’n eindbestemming uitgebeitel het, het my positief gestem. Hoog mik verg dieselfde inspanning as laag mik, soos die rympie van Jessie B. Rittenhouse wat ek so dikwels gelees het dit uitdruk:

      I worked for a menial hire,

      Only to learn, dismayed,

      That any wage I asked of Life,

      Life would have willingly paid.

      Sonder ’n besluit is ’n mens nooit verkeerd nie, en daarom is mense huiwerige besluitnemers. Vir my spruit vryheid en vreugde uit die loop van ’n verantwoordelike risiko. Vandag nog gee ’n suksesvolle sakebesluit soos ’n SMK of PSG of Capitec wat werk my baie meer plesier as die geld wat ek daaruit maak. En as iets nie werk nie, maak die onderneming toe en gaan verder.

      Uit al die sakeboeke wat ek daardie tyd gelees het en steeds lees, blyk die enkele belangrikste element van sukses is om te praat. As jy jou drome en planne aan jou vriende oordra, plaas jy druk op jouself om dit te verwesenlik. En dié wet geld regdeur tot in die beleggingswêreld; jou aandeelhouers stel belang in waarheen jy op pad is, jou suksesse en jou mislukkings.

      Maar nóg belangriker as praat, is om weer na hulle te luister. En my ore was reg vir wat Piet de Jongh, vandag hoof van Noble Private Portfolios, wou sê.

      Marilyn Monroe en politieke passie – ’n nuwe geleentheid val in ons skoot

      “Pa, maar so iets kan mos nie ’n man soos Pa besig hou nie,” het my seun Piet gesê nadat ek gesê het ek koop en verkoop nou aandele. En doen aansoek om nuwe noterings. En soek dalk nuwe beleggingsgeleenthede. Hy het in sy September-vakansie in 1995 ’n draai in my “kantoor” kom maak en gevra wat ek heeldag doen.

      Hy was reg, net soos hy reg was toe hy my teen die einde van die jaar gevra het om al sy sakgeld in PAG-aandele te belê. Dit was net nadat ek vir die kinders in die Saddles-restaurant in Mosselbaai die SMK-sage vertel het en hy nie wou hê ek moet dink hulle het vertroue in hul pa verloor nie. Hulle was verbaas. Ek is nie seker of dit was omdat die storie vir hulle nuus was en of hulle bloot gedink het ek sou net nooit daaroor praat nie.

      Piet de Jongh, wie se pa, Theunis, op sy dag as Reserwebank-president al die land se geldnote geteken het, het my gebel oor ’n geleentheid wat hy raakgesien het. Hy het my aan huis kom spreek, en omdat die kinders voor partytjie gehou het, het ek hom sommer die slaapkamer binnegenooi.

      “Belowe jy sal nie lag nie, Jannie,” het hy gesê. Ek het geweet Jannie Kitshoff sal nie sy swaer na my toe stuur met nonsens nie en het belowe. “Ons gaan ’n personeelagentskap koop!” was Piet se verrassing.

      Ek het na die state van die Professional Assignment Group gekyk en sommer geweet my vier maande lange gewroeg was verby: Die aandeelhouers was in die moeilikheid, maar dit was nie ’n katnes nie. Hier was die klein, reeds genoteerde maatskappy wat ek gesoek het, en dit boonop in die finansiëledienstesektor. Ek en Piet was nie blind daarvoor dat ons te veel verskil om van dag tot dag te kan saamwerk nie, maar ons kon saam belê.

      Piet het die 15c-aandeel raakgesien en vasgestel die prys markeer die pas omdat meer as 60% van die aandele as sekuriteit vir die eienaar, Syd Catton, se gelikwideerde eiendomsontwikkeling in Jeffreysbaai gedien het. Die likwidateurs, Absa en KPMG, was maar te bly iemand stel in die aandele belang.

      Uit ’n gesprek met PAG se besturende direkteur, Ray Rossi, was dit duidelik dat die 32 kantore ’n wins maak en dit al vir ’n paar jaar regkry. Die sakemodel was eenvoudig – die groep verdien 20% van ’n aanstelling se salaris in die eerste jaar – en daar was nie ’n groot risiko soos met die koop van ’n klomp vaste bates nie.

      Omdat die mediamaatskappy Caxton ook in PAG belang gestel het, het die likwidateurs besluit op ’n bodproses. Ek het op my naam ook vir die topbestuurslede en vir Chris Otto finansiering vir ’n aandelebelang by Rand Aksepbank gereël. Toe het Piet de Jongh, ek, Ray en Chris sulke blou dampe gerook soos wat ons ons topprys vir die aandeel bepaal het. Toe Caxton se prokureur sy mandaat op 35c wou gaan hernieu, het Chris beswaar aangeteken en so is die bod op 36c aan ons toegestaan.

      Ek wou hê die transaksie moes deur die JSE geboek word en SMK was ons aandelemakelaar. Op dié manier het ’n mens die waarborg dat die aandele wel gelewer sal word, want soms sal ’n maatskappy kleinkoppie trek as hy elders ’n beter bod kry en dan sit jou turf.

      Daardie aand het