Carié Maas

Jannie Mouton: En toe fire hulle my


Скачать книгу

nie!

      Hy het begin om die redes vir hul besluit uiteen te sit, maar my konsentrasie was nul. Ek het sy woorde gehoor, maar ook nie gehoor nie. Dit het net drupsgewys begin deurdring dat dit die werklikheid was, ’n nare, knypseker werklikheid.

      Tot vandag toe kan ek nie om my lewe te red die uitgestippelde redes onthou nie. Dalk wil ek nie, dalk was ek te ontstig om te luister.

      Ek was verpletter.

      Reageer moes ek, maar om iets sinvols te kon sê, moes ek eers tyd wen. Ek het gevra of ek alleen kon praat met die ou met wie ek die langste pad gekom het, my skoolvriend Pierre Brink, en of ek twee oproepe kon maak.

      As ek vandag daaraan terugdink, amuseer dit my dat ek sowaar toestemming gevra het om te kon bel, so asof ek ’n boef in ’n rolprent was wat vir sy een oproep kon vra.

      Pierre het vertel hy is die vorige aand gebel om ’n vergadering by te woon waarop ek gevra sou word om te bedank. Daar is aan hom verduidelik dit is noodsaaklik vir die suksesvolle voortbestaan van die firma. Van die ander vennote is ook gevra om die vergadering by te woon, maar hulle wou nie.

      Dit het begin insink hoe die wind waai. Omdat ek ’n trotse mens is, het ek daar en dan besluit om dit soos ’n man te vat en die besluit van die Groep van Sewe te aanvaar. Ek sou bedank.

      Ek het Jannie Kitshoff en Paul Harris probeer bel, maar hulle was nie een beskikbaar nie. Dit is ook maar goed, want wat sou ek in elk geval vir hulle gesê het? Ek het wel my vrou gebel en haar gevra om so gou moontlik kantoor toe te kom. Ek wou hê sy moes uit die perd se bek van die bedanking hoor, nie êrens anders nie. En ek kon doen met ’n skouer.

      ’n Halfuur later het ek ’n tweede keer by die vergadering aangesluit en ingestem: “Goed, ek bedank onmiddellik.”

      Jannie Grobbelaar het toe sekere finansiële reëlings voorgelees, maar my gedagtes het weer hul eie loop geneem.

      Met vasberadenheid om onder sulke omstandighede kop te hou, is ek om halfnege daar uit om die oggendvergadering as voorsitter waar te neem.

      Terug in die kantoor het ek my goed begin inpak. Toe Dana opdaag, het ek vir haar gesê ek het bedank. Ek kon ek dit net nie oor my hart kry om vir haar te sê ek is eintlik gevrá om te bedank nie. Om die waarheid te sê, dit sou eindelik maande wees voordat ek met die hele sak patats by my dogter en twee seuns op universiteit vorendag kon kom.

      Oom Bollie Baard, die oudste vennoot, het ewe gelate gesê: “Jannie, wie het nou ooit kon dink dat ek jou by SMK sou oorleef?”

      Al wat oorgebly het, was ’n spesiale direksievergadering die middag waarop ek my bedanking amptelik moes indien.

      “Goed, jy kan maar gaan,” was Louis – die nuwe baas – se woorde waarmee ek uit die vergadering, uit my vennootskap en uit my firma gestuur is.

      Met ’n baie swaar gemoed het ek daar opgestaan. ’n Droom en al my ambisie en ideale was aan skerwe. In die plek van trots het die eerste fladdering van onsekerheid al kruipend aangroei tot sy volle, beklemmende wasdom. Eers onsekerheid, en toe sy ewe ondermynende en uitmergelende maats, twyfel en teleurstelling.

      Wat moet ek vir my familie en vriende sê? Wat doen ek môre, volgende week, volgende maand? Hoekom het my vriende op kantoor hul rug op my gedraai?

      ’n Hand vol ure was die valbyl op my dertien jaar by SMK. Senekal Mouton en Kitshoff het vinnig begin, maar vir my nog vinniger geëindig. Die een oomblik was ek nog die broodwinner, die volgende werkloos. Die een oomblik besturende direkteur, die volgende laer as die bode.

      Ek was uit op my blaker.

      Die waarheid maak seer – ek steek hand in eie boesem

      Daar is ’n rede hoekom ’n maatskappy jou afdank. Niemand word net uitgeskop nie. Dit is egter nie ’n besef wat oornag posvat nie, nie as rou emosies nog jou gal vir jou werk en jy nie gesien het waarop die spanning en onderlinge struwelinge in ’n snelgroeiende maatskappy kan uitloop nie.

      Tuis was ek nog aan die steier van die skok. Die gevegslinie was nie meer teenoor my kollegas in die konferensiekamer of die raadsaal nie, die stryd het nou na my kop verskuif. My rug was teen die toue en verontregting was besig om die eerste ronde te wen.

      Naas my werk het ek ook my maatskappy verloor – my plek, ’n groot deel van my identiteit en die visie wat ek oor soveel jare vir die vennootskap probeer opbou het.

      En ’n mens verloor nie net jou werk nie, jy verloor ook jou vriende. En hul vroue was jou vrou se vriendinne, hul kinders jou kinders se vriende.

      Daarom was Paul Harris se woorde balsem vir my twee dae oue wonde: “Pardie (partner), you’re the only man I know that quit stockbroking at the top.”

      Hy en sy vrou, Jeanne, het my en Dana die Saterdagaand vir ete genooi. Ek was nog so naïef om te glo dat hy regtig dink ek het self bedank terwyl die hele wêreld al geweet het ek is eintlik in die pad gesteek.

      Dit was nogtans die storie waarby ek hoog en laag gesweer het as vriende wou weet wat aangaan.

      Dit het my verstom hoeveel ander personeellede van SMK my gebel het om my sterkte toe te wens, al kon ook hulle nie my vinnige vertrek kleinkry nie.

      Goddank was ek ten minste nie finansieel teen die planke nie. Op grond van ons goeie winste was ek onafhanklik. My ma en Dana het elke pennie wat ek geleen het teruggekry. Ek was ’n paar miljoen sterk en het darem al ’n lekker groot huis in Northcliff gehad. Ek het sleg geslaap, maar nie oor geld nie. Wel, nog nie.

      Dit is moeilik om so iets vir jou vrou te verduidelik, veral as jy self nie alles mooi verstaan nie. Dana se houding was eenvoudig sy bevraagteken nie die meriete daarvan nie, maar die manier waarop ek uitgeskop is. Sy het herhaaldelik gesê SMK was nog altyd ’n waardige firma wat respek afgedwing het – iets wat oor jare opgebou is, en waar die tradisie bestaan het dat daar altyd gesellig en met styl van vennote afskeid geneem is.

      Die personeel het wel vir my ’n afskeid gehou, maar ek kan nie sê dat ek na ballonne en joligheid gevoel het nie. Ek het om die waarheid te sê later die braai wat ek geskenk gekry het liewer weggegee, braaifanatikus wat ek is.

      In haar toespraak op die afskeid het ’n jong Janine McCann, een van ons heel eerste aanstellings by SMK, gesê dat ek ’n helse humeur het. “Jy neem in elk geval ’n besluit, luister na ’n ander se opinie en die meeste kere besluit jy reg.” Sy is vandag ’n uitstekende en lojale werknemer van PSG Online.

      My humeur is ook waarna Johan Senekal verwys het toe ek hom net ná die hele petalje op kantoor op die plaas gebel het. Omdat hy ’n regverdige man is, het hy nie dadelik my kant gekies nie. “Jannie, jy kan ’n bietjie dwars en aggressief wees as jy die dag wil,” het hy my herinner.

      Dit is nie lekker om dit te erken nie, maar daar is ’n dwarsgeit in my, ’n hardekwasgeit. Daar is ook diegene wat dit hardegat sal noem. Ek hou nie daarvan as ek nie my sin kry nie … maar ek is nie altyd reg nie.

      My PSG-kollega en -steunpilaar Chris Otto sal vir jou die storie vertel van toe ons twee gesinne in 1988 saam in Namibië in ’n kombi gaan rondry het:

      Ek en Jannie sit voor, rook so ’n bietjie saam en drink so ’n bier of wat vir die hitte terwyl die res agter sit. Die kinders geniet ook die ryery en drink net so lekker Coke en eet tjips en nog wat.

      Die spulletjie begin Jannie toe so stadigaan irriteer en (soos ’n mens hom ken) neem hy in ’n sekere stadium ’n vinnige besluit: “Ek gee nie om wat die Otto’tjies doen nie, maar die Mouton-kinders se etery en drinkery is nou klaar.”

      Daar is so ’n swanger stilte en toe sê Dana: “Ja, Jannie, maar wat van die Castles wat jy en Chris so elke halfuur sit en uitdrink?”

      Chris sal ook vir jou sê ek het partykeer ’n ongenaakbare uiterlike, en Johan Holtzhausen, besturende direkteur van PSG Capital, dat die kaptein die sweep soms baie hard klap, maar sy adjudante help weer salf op wonde en ego’s smeer.

      Ek