Carié Maas

Jannie Mouton: En toe fire hulle my


Скачать книгу

maak nie: Die gemoedere het by tye hoog geloop. Jy word nie binne twee uur ge-fire as alles so rustig soos ’n kabbelende waterstroom vloei nie.

      Ons was twintig ambisieuse mense met ’n ongelooflike onderliggende honger na geld. Dit maak jou eintlik mal om dit te bestuur, en ek het al baie gewonder of dit nie een van die sterkste aanleidende oorsake van die muitery was nie.

      Omdat ons vennote was en nie aandeelhouers nie, moes die wins elke jaar verdeel word. In ander vennootskappe het die besturende direkteur besluit wat elke vennoot se winsdeel sal wees, en die fout wat ons gemaak het, was om dit demokraties te probeer doen.

      Elkeen moes vir homself en elke ander vennoot op grond van die waarde wat elk syns insiens toegevoeg het, ’n punt uit honderd gee. Niemand het homself ooit swakker as enige van die ander negentien aangeslaan nie, en dit was my onaangename taak om dan die ouditeure se berekening van die totaal aan elk oor te dra. As die groep ’n gemiddelde van 5% aan iemand toegeken het en hy het gedink hy is eintlik 8% van die uiteindelike 100% werd, het dit geweldige argwaan veroorsaak. In stede van iemand motiveer, moes ek hom inroep sê hy is nie heeltemal so goed soos wat hy gedink het nie.

      Van die veranderings wat ek teweeg wou bring, was om die vennootskap in ’n maatskappy te omskep.

      Die nuwe bestuur by SMK het ander planne gehad en wou verkoop. Die JSE se reëls is aangepas en benewens individue kon maatskappye ook nou aandele in ’n makelaarsfirma besit. Baie vennote wou hê ’n groot buitelandse makelaar met toegang tot internasionale navorsing moes SMK koop. Ek was nie heeltemal onwillig oor dié opsie nie en ons het nogal rondgekyk, maar kon nêrens ’n bevredigende transaksie beding kry nie.

      Einde ten laaste het ons by SMK eerder ’n plaaslike transaksie met Christo Wiese bewerkstellig, waarin 50% aan Boland Bank verkoop is. Die spanning het egter toegeneem.

      Dié bank het toe later met BOE saamgesmelt en BOE het op sy beurt ’n belang in Ed Hern gehad, wat met SMK saamgesmelt en toe BOE Securities geword het. Later is BOE deur Nedbank gekoop en SMK is vandag deel van Nedcor Sekuriteite. Die gevolg daarvan was dat die vroeë SMK heeltemal verdwyn het.

      My visie vir SMK was anders. Ek wou die firma in ’n tipiese beleggingsbank omskep met die bestuur in beheer, noteer om kapitaal te lok en institusionele aandeelhouers verkry, maar steeds onafhanklik bly. Met SMK as grondslag glo ek dit sou ’n fenomenale suksesstorie gewees het, al het ek dit seker vandag in die agterkop dat PSG Investment Bank toe nie gewerk het nie, maar by dié storie kom ek nog.

      Intussen het die SMK-ding aan my bly knaag. Ek het nie geweet hoe om te hanteer wat gebeur het nie. ’n Mens is simpel, jy kry tot wraakgedagtes. As ek net, as ek net … maar wat? Jou hande is afgekap. En ek het ook begin worstel oor wat ’n SMK-aandeel werd was en wat aan my uitbetaal sou word.

      Dit is toe dat Dana voorstel dat ek gaan gesels met Chris Otto, wat nog nie weer voltyds gewerk het sedert hy sy werk en, soos ons, ’n klomp geld by Quantum Properties verloor het nie.

      Ek het hom vertel van die ambisies van die SMK-vennote, die binnegevegte en die stryd om almal gelukkig te hou, selfs van my dominerende bestuurstyl. En dat ek ge-fire is – ja, ek het hom alles vertel. Agterna het ek moes hoor een van my sondes was dat ek ’n bepaalde vennoot aangestel het sonder om die ander vennote in die saak te ken.

      Hy kon nie glo wat hy hoor nie. “Jy moet so vinnig moontlik by die beste prokureur kom,” was sy geskokte raad.

      Dit was wonderlik om ’n pel te hê wat in jou glo, jou ondersteun en die veggees weer in jou aanwakker. Daar en dan het ek helderheid begin kry.

      Toevallig het ek twee dae voor my skielike vertrek ’n konserwatiewe waardasie van ’n aandeel in SMK aangevra vir onderhandelinge wat ek met die aanstel van twee vennote nodig gehad het. Dit het op R15 per aandeel gedui, maar die voorgestelde uitbetaling aan my was nie eens die helfte daarvan nie. Dit het ’n verskil van miljoene rande beteken.

      Ek is na Jannie Kitshoff om raad te vra. Hy het probeer vure doodslaan en wou help om dinge weer aan mekaar te lap, maar tevergeefs. Op die ou end was sy raad dat ek met die uitbetaling moet vrede maak. Dit was ’n bitter pil om te sluk, maar vandag is ek éérs bly ek het alle reëlings toe net so aanvaar.

      ’n Paar van die vennote het vertroue in my verloor. Sonder daardie vertroue sou ek nie die onderneming kon lei nie, in elk geval nooit tot die hoogtes waarheen ek SMK graag wou lig nie.

      Die gesegde “no man is ever whipped until he quits in his own mind” van die sakeskrywer Napoleon Hill sou ek nog ontdek.

      Buffett boor ’n aar raak – hoe ’n mens opstaan ná ’n terugslag

      ’n Negatiewe mens het nog nooit iets positiefs begin of staangemaak nie. Die mense by PSG weet ook hulle moenie vir my sê iets kan nie werk nie – hulle moet ’n alternatief voorstel.

      Ek is ’n ruk terug op ’n KWV-direksievergadering lekker uitgelag oor my skalkse oplossing vir ’n dividenduitbetaling in spesie terwyl daar terselfdertyd ’n brandewyn-oorskot was. (PSG se belang in Zeder het dié inspraak op direksievlak verseker.)

      “Nou maar gee vir elke ou met ’n sekere aantal aandele ’n kis brandewyn,” het ek gesê. En toe die direksie klaar gelag het, voorgestel dat hulle dan kom met werkbare oplossings wat die oorskot-brandewyn-probleem uit ’n nuwe hoek benader.

      My vrou het daar in 1995 gesê ek kan nie net so rondsit en niks doen nie, dit bekommer haar. Dan sê ek maar ek dink.

      Niemand in ons vriendekring was meer onder die illusie dat ek self by SMK geloop het nie en my selfvertroue was aan flarde, maar ek het ook besef ’n getob gaan my niks in die sak bring nie.

      Dana het my gehelp om ’n kantoor by die huis in te rig. Ek het elke oggend opgestaan, geskeer, behoorlik aangetrek met ’n langbroek en sokkies en kamstig om agtuur ingeval.

      Maar ’n oproep na ’n makelaar oor die stand van die beurs duur nie veel langer as ’n paar minute nie. Ek het net mooi niks gehad om te doen nie.

      Ek en Dana het later vir ’n rekenaarkursus ingeskryf en op dié manier het sy haarself op ’n sleutelbord kon help en e-pos en die internet baasgeraak. Ek het pateties gebly tot einde 2010, toe ek ’n iPad present gekry en vir die eerste keer begin google het.

      Om alleen plaas toe gaan, het ook nie gewerk nie, want daar het ek my net gesit en verknies. Eenkeer is Johan Sekenal saam plaas toe en ons het gaan bome plant vir Afrika. Maar toe die bome nie een wil groei nie, het Dana gevra of ons ooit die swart plastiek om die wortels afgetrek het. O aarde.

      “Ag, Jannie, kan jy nie eens ’n boom plant nie?” was haar reaksie.

      Maar toe bring my oud-SMK-kollega François Gouws, vandag globale hoof van ekwiteite van UBS in Londen, vir my ’n boek van die beleggingskoning Warren Buffett. Tot op daardie punt het ek nie juis sakeboeke gelees nie, maar die boek het van my ’n bekeerling gemaak. Oor die jare het ek van al die snuffel in boekwinkels ’n nuttige biblioteek opgebou.

      Ek het Buffett se boek opgesom en Dana het dit vir my oorgetik. Op Exclusive Books se rak het ek ook op Napoleon Hill afgekom: “Knowledge paves the road to riches – when you know which road to take.”

      Toe ek so ’n ent weg gelees het, het ek op ’n SWOT-ontleding vir myself besluit en volgens dié Engelse akroniem die sterk punte, swak punte, geleenthede en bedreigings begin uitstippel. Ek het besef my en Chris Otto se gereelde (en al hoe langer) middagetes by Late Night Al’s in Auckland Park is nie ’n langtermyn-oplossing nie en dat ek nog nie op vyftig gereed was vir aftree nie.

      Ek moes myself oortuig dat ek iets nuttigs doen, dat ek planne uitdink en geleenthede uitsnuffel. Ek het geweet ek moes veg teen die bedreiging van stagnasie.

      Die persoonlike ruimte in die kantoor het my gedwing om oor my toekoms en dié van my gesin te besin. Om te dink, sou my nuwe projek wees, en dit was ook glad nie die kinderspeletjies waarna dit op die oog af gelyk het nie. Ek wou weer met ’n onderneming begin, en daarvoor moes ek ’n sleutel soek.

      Ek