Band – hierdie ouens sou waarskynlik wêreldberoemd kon raak bloot op grond van hulle naam as hulle nie so ’n verskriklike geraas gemaak het nie; feitlik die hele orkes het bestaan uit verskillende blaasinstrumente wat nooit heeltemal in tune met mekaar was nie.
Onthou enigiemand nog die nagklub Indaba? Dit was ’n moerse groot plek, reg in die middel van Kaapstad. Hier sou ek Tighthead Fourie and the Loose Forwards (Roger Lucey se eerste, semisuksesvolle kommersiële orkes) sien speel. Ek dink ook ek het Corporal Punishment hier gehoor, en hulle het my weggeblaas (die hoofsanger sou later die een of ander instrument – ek kan nie onthou wat nie – bespeel in Die Kakkerlakke, my eerste band). Indaba het bestaan uit ten minste drie of vier mezzanine-vlakke, die een bo-op die ander, en heel bo was daar ’n oop balkon waar die beste paarties altyd gebeur het, en waar dit gewoonlik baie maklik was om ’n trekkie van iemand se joint te kry, want almal was baie vriendelik. Die hele scene was soos ’n versie uit ’n vroeë protesliedjie van Bob Dylan. Enige versie, enige protesliedjie. Die idealisme het dik geloop. Dekadensie en moraliteit het mekaar se hande geneem. Ons kon die reënboognasie sien kom in die weerkaatsing van oliekolle op die teer. Alles was ’n feetjieland, die hele wêreld was ons oester.
Ja, dit was Kaapstad in die tagtigs.
Daar was ook allerhande ondergrondse bewegings in die genre van amateurteater. Klein plekkies waar groot dinge gebeur het. Ek was nie self rêrig clued-up met die dramagoed nie, maar ons het almal in dieselfde kringe beweeg, en ek het party van die goed bygewoon, mense leer ken.
Die bekendste van hierdie venues was natuurlik die ou Ruimteteater (vra Pieter-Dirk Uys gerus uit hieroor!). Weggesteek daar naby, in Peperstraat, was ’n plekkie met die naam The Glass Theatre, waar die jong Afrikaanse dramaturg Chris Pretorius besig was om die genre skouspelagtig nekom te draai. Nie alleen het hy die een groteske toneelstuk na die ander op die planke gebring nie; hy het ook saamgewerk met ouens soos Johan van Wyk, die avant-garde digter. Wanneer hy nie in die Kaap was nie, het Johan op sy ouers se plot buite Boksburg gebly, waar hy ontkleedanse gereël het by ’n eksklusiewe, klandestiene reggae-klub. Blykbaar het elke ou wat by die deur van die klub ingekom het, ’n gratis flessie vol skaapkak ontvang.
Ek was self bevoorreg om ’n vertoning van Chris en Johan by te woon, in ’n klein dakkamertjie in Seepunt. Tydens die vertoning het Johan, nakend behalwe vir ’n blinddoek, op ’n stoel gesit terwyl Chris slagspreuke met lipstiffie op sy maag geskryf het.
Chris het nie net weird plays opgevoer nie; hy het ook kunsuitstallings gehou en selfs sy lyf musiekpromotor begin hou. Hy was die brein agter die neo-punk-groep Zeesen Radio, ’n klomp ouens wat glad nie instrumente kon bespeel nie, maar geheel en al staatgemaak het op backtracks en verhoogtoertjies.
In 1980 het Die Groot Ding nog nie gebeur nie.
Maar dit was op pad, vinnig soos ’n wegholtrein, en meedoënloos soos vyftig Kombi’s sonder remme.
Ek het lank voor die tyd besef iets groots gaan gebeur. Hoe nader ons aan die tyd van die Kombi’s gekom het, hoe sterker was die voorgevoelens. Ek het die geraas van die lorries op die highway gehoor, en ek het geweet. Ek het die lorries gehoor elke aand terwyl ek uitpass op my matras op Dirk-hulle se sitkamervloer. Dirk en sy girlfriend het buite Bloemfontein gewoon, naby die Pitstop, en die N1 het op die bult bo hulle huis verbygekom.
Snags sou ek daar lê en dan hoor ek die lorries naderkom. Die kopligte van die lorries sou oorspoel van die een kant van die kamer se mure tot aan die oorkant. Dit het heelnag aangehou, die gedreun van die trokke, en die herhalende ligte wat patrone maak in my slaap. Die geswiesj-swiesj van die groot vragmotors se wiele wat verbyry, was die musiek waarmee ek aan die slaap geraak het. Iets het my geroep, toe al, en vir my gesê: jy gaan soos daardie trokdrywers word. Jy gaan ’n bestaan maak op die highways van Suid-Afrika. Dit is jou Taak.
Iewers in my onderbewussyn het ek besef dat musiek dit aan ons gaan doen. Dat Dirk alles sou reël. Ons sou die musiek maak, Dirk sou die Kombi’s kry. Op die een of ander manier sou Dirk altyd sorg dat die volgende Kombi gereed staan as die vorige een breek. Ons sou enigiets doen vir geld: fondsinsamelingskonserte hou, mechanics omkoop, of tweedehandse Kombi’s koop, al moes Dirk sy erfgeld daarvoor gebruik.
Sonder Dirk en sy Kombi’s sou niks ooit gebeur het nie. Net mooi absoluut fokkol. Fokkol rock ’n roll-revolusie, fokkol protesbeweging, fokkol kulturele ontploffing, fokkol waaroor Afrikaanse rubriekskrywers sou kon liries raak in die volgende dekade of twee. Dirk was die ou met die wiele. Dirk was bereid om alles te gee vir die cause. En ek het nooit eers vir hom dankie gesê nie. Ek het dit sopas besef. Hier waar ek sit en skryf. Dalk is dit hoekom hy so die bliksem in is.
Van Valerie se balkon af het mens ’n pragtige uitsig op Tafelberg. Sy swot Afrikaanse letterkunde nagraads by Ikeys, maar as sy klaar is, gaan sy ’n lawyer wees.
Om die een of ander rede het sy besluit dat ek haar boyfriend moet wees. Ek het nie eintlik ’n keuse gehad nie. Sy’t vir my ’n bewonderaarsbrief geskryf en ek het vir haar gaan kuier, en van daar af was dit afdraand. Sy het immers vooraf geweet dat ek nie haar sagte bruin oë, haar lenige lyf en haar lang hare sou kon weerstaan nie!
Valerie is soos ’n goedgetrainde Spaniel; haar hare is skoon en sy is sensitief en maklik om te streel.
Sy is slim ook; sy kan sonnette verstaan. Ek woon saam met haar in haar flat naby die kampus in Rondebosch. My lewe is perfek. Ek het ontsnap uit die rehabilitasie-eenheid. Ek woon ook nie meer onwettig in die hoerhuis saam met ’n bruin meisie nie.
Ek het geen idee hoekom ek, ten spyte van dit alles, nog steeds my eie lewe haat nie. Ek is tog ’n belowende jong skrywer. My beste Huisgenoot-stories is geboekstaaf, twee keer al. My gedigte is gepubliseer in ’n bundel saam met drie ander opkomende digters. Die bundel het goeie resensies gekry.
Tans werk ek aan ’n eksperimentele roman wat handel oor my eie lewe. Die roman – as dit ooit gepubliseer word – sal ten minste vyf eerstepersoonvertellers hê, en elkeen sal ’n ander faset van my eie persoonlikheid verteenwoordig (dus is dit die eerste groepsoutobiografie in die wêreldletterkunde). Dit sal ’n onvoorspelbare storielyn hê wat sal wegspring met my eie selfmoord (fiktief, natuurlik), om uiteindelik vas te brand in ’n swetterjoel seksuele eskapades (nie fiktief nie). Polities sal dit ietwat linksgesind wees.
Dit lyk of Valerie bekommerd is oor die roman. Toe ek die verhouding met haar begin het, was sy dol oor die idee om uit te gaan met ’n jong skrywer, maar ek vermoed sy sou dalk heimlik ’n meer konvensionele jong skrywer verkies het. Iemand soos J.M. Coetzee. Wat sy gekry het, is ’n kruis tussen Hunter S. Thompson, Kerouac, Nabokov en Rimbaud.
Vandag gaan dalk ’n keerpunt in ons verhouding wees, en nie noodwendig ten goede nie. Valerie kuier vir die dag by haar ma in Parow. Ek was stad toe vir die oggend, wou ’n paar goed gaan koop, maar het eindelik vasgedraai op Groentemarkplein waar ek ’n langspeelplaat gekoop het.
Die plaat se naam is Wie is Bernoldus Niemand?. Dis die debuutalbum van ’n sanger met die naam Bernoldus Niemand en dis uitgegee deur ’n maatskappy wat hulself Shifty Records noem.
Almal wat ek ken, praat oor hierdie nuwe sanger. Hy is vreemd en misterieus. Blykbaar wys hy nooit sy gesig nie. Hy verskyn op alle foto’s met ’n moerse cowboy-hoed op sy kop wat halfpad oor sy gesig getrek is; al wat mens kan sien, is sy mond wat grynslag. Hy is glo baie privaat, so erg dat hy nie eens opgedaag het by sy eie record launch nie.
Ek het nou al oor en oor geluister na Bernoldus Niemand se plaat en ek is diep beïndruk daardeur. Hy sing in ’n platvloerse styl, ’n vreemde mengsel van Afrikaans en Engels.
Daar’s iets van Jeremy Taylor daar, maar hy is baie meer rebels, meer direk. Hy is beledigend en anargisties. Maar al is sy liedjies se woorde so wild, is die musiek self nogal verstommend ingewikkeld. Dis classy tunes! Hy gebruik akkoorde wat ek glad nie ken nie, maar, soos Lennon en McCartney, sit hy hulle bymekaar op bedrieglik eenvoudige maniere, en skep so popdeuntjies met ’n gevaarlike