Harriet Christou

Die bleek man op my hakke


Скачать книгу

my hande vas. “Ek staan by jou, Poppie,” sê sy. “Ek staan by jou,” en toe begin sy hardop bid, vra dat God ons moet vergewe.

      Vroeg die volgende oggend het ek vir Jessica ge-SMS en gesê ek is by ongevalle, ek het begin bloei. Die waarheid was dat ek by die Marie Stopes-kliniek was. Van agtuur tot tienuur gesit voor ek gehelp is. ’n Verpleegster het ’n sonar geneem en gesê ek is sewe weke swanger; gevra of ek wil voortgaan met die aborsie. Sy het my ’n pil gegee wat ek daar moes drink; twee ander vir die volgende dag. Ek het die R800 betaal en terug gegaan werk toe. My kollegas vierkant in die oë gekyk en gesê ek het ’n miskraam gehad.

      Daardie aand het ek my die eerste keer in meer as ’n jaar gesny, met ’n skêrtjie aan my binnebene en boarms.

      “Visitors vir Christou!”

      Ek druk die sigaret vinnig dood. Dit moet my ma wees. By die TV-kamer se deur uit draai jy regs na die wagkamer, en daar is my ma. Ek hardloop in haar arms in.

      “Poppie, is jy oukei?”

      Ek huil. Gysbert is ook daar; ek groet hom met ’n soentjie, droog my trane met my moue af. “Het jy met my werk gereël vir verlof, Moeks?” vra ek.

      “Hoekom is jy nie na die ou saal toe nie?” vra Gysbert. Hy lyk omgekrap.

      “Ek is in die psigotiese saal,” sê ek en voeg vinnig by: “Maar ek is nie psigoties nie.”

      Ek ken my siekte. Ja, daar is stemme in my kop, maar hulle gaan nooit weg nie. Dit beteken mos nie dat ek heeltyd psigoties is nie. Ek is nie so erg soos die ander mense hier nie. Nie naastenby so erg nie. “Ek weet nie hoekom nie,” sê ek vir Gysbert. “Ek weet nie hoekom hulle my agter tralies sit nie.”

      HOOFSTUK 2

      Ek het op Wepener grootgeword, ’n dorpie in die Suidoos-Vrystaat. My pa het die kafee daar gehad. In 1981, die jaar van my geboorte, het my pa ’n pakket gevat by die lugmag – hy was ’n vlugsersant daar – en die volgende jaar het ons van Durban af Vrystaat toe getrek. My pa is van Griekse afkoms, maar hy het op Dewetsdorp, naby Wepener, grootgeword.

      Ons het na ’n groot huis getrek met ’n groot erf waarop my pa met witoor-marmosetapies geboer het. Hy het die apies vreeslik bederf; hulle het middagetes mini-marshmallows gekry en die babatjies het my pa met die hand grootgemaak, elke drie uur opgestaan om hulle melk te gee.

      Ek dink dikwels terug aan daardie huis met die groot tuin, die apies en die boom in die middel. Dit was my klein paradys. Dis waar ek geword het wat ek is. Ek het dit natuurlik toe nie eens besef nie, maar al was dit van die lekkerste tye in my lewe het my oudste vrese ook daar ontstaan. En dit is waar die mense die eerste keer in my kamer – en in my kop – ingekom het.

      Toe ek groot genoeg was, het ek baie keer in my pa se kafee gaan eet. Hamburgers en tjips. Maandae en Vrydae is my pa Bloemfontein toe om stock te kry, dan het my ma in die kafee gewerk. Dit was lekkerder as Pappa daar was, want dan het ek ekstra kaas en tamatie by die hamburger gekry. As ek klaar geëet het, het ek Pacman gaan speel. Pa het die sleutel vir die Pacman-masjien gehad en daarmee kan hy die pennetjie druk vir credits, dan hoef jy nooit geld in te gooi nie. Ma het nie geweet waar die sleutel is nie, sy het my 20c gegee om te speel. Pa en Ma. Goeie tye. Ek wens dikwels nog dit kan wees soos toe.

      In die aande wag ek by die huis dat Mamma of Pappa kom. Maria kyk dan na my. Aan die een kant het ons jaart ’n sementmuur, maar aan die ander kant is daar net ’n draad. Op die voorkant van ons wit huis is ’n kameelperd geverf met ’n nommer tien op sy lyf. Daar is ’n groot mopkop-boom in die middel van die tuin en langsaan is die bruggie van die grondpaadjie wat agtertoe na die garage gaan.

      Dit is nou al baie donker en Maria kyk The Bold and the Beautiful op TV, maar ek kan sien as ’n kar se ligte aankom. Daar kom nou ligte, ek dink dis Mamma se rooi Ford Sierra. As ek vinnig hardloop sal ek haar op die paadjie kry.

      Maar daar is nie ’n kar buite nie. In die donker tuin kan ek glad nie vir Mamma sien nie. Ek hardloop oor die gras wat wit is in die donker, oor die paadjie na die boom toe. Nou kan ek iemand sien, daar by die draad. Dis twee mense. Ek hoor die gras onder my voete. Nou kan ek beter sien, dis twee mense sien ek.

      Ek wil wegkyk, maar ek kan nie. My hart klop, ek kan dit voel. My bene begin sommer vanself hardloop. Terug, terug huis toe. Ek hardloop tot in my kamer en gaan lê op my pienk ballerinabed. Doodstil. Net my hart. My asem. Ek begin huil, maar ná ’n ruk hou die huil op.

      Al die ligte is al af en dit is stil in die huis, maar ek kan nie slaap nie. Ek begin skapies tel, soos Mamma my geleer het, maar ek sien net die tuin en die twee mense daar. Ek dink aan my nuwe pophuis wat Pappa vir my gekoop het, aan my maat Gerhard, aan koffie wat op Mamma se nuwe mat gemors is. Ek rol eers op die een sy, dan na die ander kant toe, maar kan nie my lê kry nie, nou bly ek maar op my rug. Ouma het altyd gesê jy moet stil lê dan kry jy nie koud nie. Nou word my bene te seer. Ek knyp my oë styf toe en luister na my asem, in en uit, in en uit. Maar nou hoor ek ook ’n ander ding. Ja, daar in die gang. Dit is voete wat so maak, en dit kom nader. Dalk is dit Pappa wat ’n glas melk in die kombuis gaan drink. “Pappa?” fluister ek. Hy kom altyd inloer as ek hom roep. “Pappa?”

      Die voete is nou stil. Niemand het gekom nie. As ek so afleun van my bed, as ek ver genoeg kan rek, kan ek by die deur uitkyk. Maar dis donker in die gang en ek kan byna niks sien nie.

      Ek gaan lê maar, maak my oë toe. En daar is dit weer, die voete! Klap, klap, klips … My bors gaan op en af, my hart klop, ek wil skreeu. Die voete kom nader en nader. Ek trek die kombers oor my kop en skreeu en skreeu en skreeu.

      “Tinna, wat is fout?” Dis Pappa se stem.

      Ek gooi die kombers van my kop af. Die lig is aan en Pappa buk oor my. Ek kan die huil nie keer nie.

      “Toemaar, Tinna, dit was net ’n slegte droom,” sê Pappa.

      Maar ek het dan nie eens geslaap nie! Ek wil dit vir hom sê, maar hy het reeds weer die lig afgesit. “Nee!” skreeu ek. “Nee!”

      Toe kom sit Mamma by my. Pappa het ’n rukkie in die deur bly staan, omgedraai en in die gang verdwyn. “Ek sal by jou bly tot jy slaap,” sê Mamma. Ek het aan die lig op Pappa se bruin hare gedink. Ek wou bid dat Pappa terugkom.

      Van daardie aand af het my ma altyd by my gebly totdat ek aan die slaap geraak het. Ek het dan met haar kortgeknipte rooibruin hare gespeel en diep in haar groen oë gestaar. Dit het haar vreeslik geïrriteer, want sy het probeer om vir my stories te lees. Ek het skielik ’n vrees vir die donker gehad. Elke keer as my ma opgestaan het om te gaan slaap, het ek wakker geword. En sodra sy in die donker verdwyn het, het die voetstappe begin.

      Ek lê in die donker en luister na die stemme in Pappa-hulle se kamer. Kwaai stemme. Hulle baklei, dink ek. Hulle baklei oor my, en dit voel vir my ek word naarder en naarder.

      Ek staan op en gaan kniel voor Pappa-hulle se kamerdeur. Dit is nou stil in die kamer. Ek wil klop, maar doen dit nie. Ek wil nie vir Pappa kwaad maak nie. Ek wil nie hê hy moet vir Mamma kwaad word nie. As een van hulle maar net die deur wil oopmaak en my hier kry.

      Ek wag en wag, maar niemand maak oop nie.

      Later loop ek kombuis toe en kry ’n flits langs die broodbak. Ek gaan lê op my bed en laat die flits se ligkol oor die mure rondspring. Lank lê ek so en speel, sit later die skynende flits langs my op die kussing neer en lê en wag. Ek wag en wag. Wanneer kom die voetstappe dan? Ek kyk na die flits se helder oog. Dan hoor ek dit! Wie is dit wat so loop? Ek wil weet. Ek hoor my asemhaling, voel my hart klop. En toe is dit kliphard daar … klaps, klips, klaps …

      Ek lê doodstil. Die voetstappe kom nader, tot by my deur en stop daar. Ek knyp my oë styf toe, ek wil nie sien nie. Doodstil lê ek. En ek kan voel iemand kyk vir my, ek weet net iemand kyk! Ek gryp die flits en gooi die wit kol lig na die deur, sien hoe dit bewe en rondspring.

      Dis ’n man.

      Hy is heeltemal swart aangetrek. In sy regterhand is ’n sekel. Hy kyk vir my, ek kyk vir hom. Hy bring dan sy linkerhand stadig op en sit ’n wysvinger voor sy mond. Ek weet