Harriet Christou

Die bleek man op my hakke


Скачать книгу

flits in die gang … Niks. Ek gaan weer lê; maar los die lig aan, laat dit heelnag brand.

      Elke keer as my ma opgestaan het en van my bed weggeloop het, het ek ontsettend alleen gevoel. Ek het ook verraai gevoel. My ma het my in die steek gelaat, my uitgelewer aan die man met die sekel. Dis net die lig wat my gered het. Elke aand het die voetstappe gekom, maar sodra ek die lig aangeskakel het, het dit verdwyn. Ek het geleer om met ’n lig aan te slaap.

      “Slaap jy?”

      Ek is dadelik wakker. Is dit Pappa wat gepraat het, want dit was ’n man se stem? Dis donker in die kamer; ek het vergeet om die lig aan te skakel nadat Mamma uit is. Eintlik was ek net te moeg. “Pappa?”

      Dit was nie regtig Pappa se stem nie, dit weet ek nou.

      “Nee, my skat. Kom, die ander wil jou ontmoet.”

      Wie is dit wat praat? Waarvan praat hy? Wie is die ander?

      Toe sien ek hom: My pienk kamergordyne waai oop en in die straatlig staan ’n ou oom by my venster. Hy het ’n swart bolhoed op sy kop. Maar toe is daar ’n beweging by my bed – daar is ook mense hier by my in die kamer! Dis ’n dogtertjie in ’n wit rokkie, en agter haar ’n tannie met ’n skreeuende baba in haar arms. Die tannie kyk kwaai na my. Ek lê bewend op my bed. Die tannie kyk vir my, die oom by my venster, die dogtertjie in haar heilige rokkie op haar tone. En daar staan die ander een ook, die man met die sekel by die deur!

      “Jy hoef nie vir ons bang te wees nie,” sê die oom by die venster. “Ons is jou maatjies.”

      Ek skreeu, en skreeu en skreeu, spring regop en sit die lig aan. Dadelik is die man met die sekel weg, maar die ander drie staan nog by die venster. Ek begin ruk, daar kan nie meer ’n geluid by my mond uitkom nie.

      Pappa en Mamma is langs my. “Wat is dit?” vra Mamma.

      “Het jy weer ’n slegte droom gehad?” Pappa vat my aan die arm, laat my sit en druk my teen hom vas. “Alles gaan oukei wees, sus,” sê hy. “Alles gaan oukei wees.”

      Mamma hou ’n beker suikerwater voor my mond. “Vat ’n slukkie, Poppie,” sê sy.

      Ek kan g’n woord uitkry nie; kan ook nie wegkyk van die oop gordyn waardeur die oom, tannie en kind na my kyk nie. Die oom se mond beweeg asof hy praat.

      “Tinna, hoekom is jy só bang vir die donker?” vra Pappa.

      Ek kyk op na Pappa. Ek vertrou hom, hy is my pa. “Pappa, daar’s mense in my kamer,” sê ek en wys na die oop gordyn.

      My pa volg my vinger, kyk dan weer na my. “Ag, jy’s sommer laf,” sê hy.

      Kan jy dan nie sien nie, Pappa! Glo jy my nie, Pappa? Jy is tog my pa, jy moet my glo!

      Mamma hou weer die suikerwater voor my mond, en ek vat ’n slukkie. Dit is aaklig, maar ek vat nie my oë weg van die mense by die venster nie. Hoekom kan my pa-hulle hulle nie sien nie? Hulle staan dan daar – dáár!

      Pappa staan op, soen my op die voorkop. “Nou moet jy slapies, Tinna,” sê hy.

      Mamma bly op die bed sit. Sy sê niks nie. Die mense by die venster sê ook niks nie. Hoekom wil Mamma-hulle my nie glo nie?

      Ek kyk vir die oom met die bolhoed, die tannie met die baba en die dogtertjie met die wit rokkie.

      “Ek sal nooit weer vir iemand hiervan sê nie,” sê ek sag­gies. “Nooit weer nie.”

      HOOFSTUK 3

      Deesdae woon ek in ’n woonstel in Bloemfontein en werk as ’n klerk by ’n psigiater. In 2007 is ek die eerste keer in ’n staatshospitaal vir skisofrenie behandel, maar as ek my medikasie gereeld neem, kry ek dit reg om normaal te funksioneer. Ek het geleer om saam met die stemme in my kop te lewe – om die waarheid te sê is hulle ’n onmisbare deel van my. Die donker man besoek my steeds van tyd tot tyd, maar ek is sterker as ooit. Ek het geleer om my siekte te hanteer; dit hanteer my nie meer nie. Ek is nie meer ’n slaaf van die vrees wat my drie-en-twintig jaar gelede beetgepak het nie.

      Ek onthou dele van my lewe, skerwe, wat ek dink te make het met waar dit alles begin het. Soos die ding met Maria en die matras. Maria sou wag tot my ma en pa gery het en dan gaan sit sy my matras in die son. Dit is omdat ek te bang is om in die donker badkamer toe te gaan. Ek knyp en probeer uithou, maar dan word my bed so warm en nat en later ook koud. Ek bly dan in die bed lê omdat ek bang is vir wat Mamma of Pappa sal sê.

      Maria baklei nooit met my daaroor nie. Sy sê ook vir niemand nie, dit is ons geheim. Ek is lief vir Maria en sy vir my; Maria met haar groot sagte lyf, haar wit baret en blou overall. Sy loop kaalvoet in die huis, maar as sy na haar huis toe gaan, trek sy haar swart kerkskoene aan.

      Eendag het Mamma die matras gesien en gevra hoekom. Maria het gesê die matras soek die fresh air. Toe loop Mamma net aan. Maria het toe swartsakke gaan haal. Ek het haar gehelp om die matras in te dra, dit was swaar. Maria het baie poeier op die matras gegooi en die swartsakke daarop gesit, toe die laken. Sy het gesê ek kan nou maar piepie, sy sal elke keer net die lakens afhaal.

      Pappa vra vir Maria wat sy met al die swartsakke maak. Sy het gesê dis vir die takke en die gras wat Thomas sny. Pappa het na Maria gekyk asof hy haar nie glo nie, maar niks verder gesê nie. Ek het gewens Maria vra my hoekom ek in my bed piepie, maar sy het nie. Ek weet ook nie of ek vir haar sal sê nie, want ek het mos belowe ek sal vir niemand sê nie.

      Ek en Maria is in die sitkamer, ek met my kryt en inkleurboek, sy kyk The Bold and the Beautiful. Ek sing: “My naam is Liewe Heksie en Levinia is my naam …” Mamma het belowe dat ons na die nuwe Liewe Heksie-video kan kyk, maar sy het netnou gebel en gesê sy kan nie kom nie. Sy het gesê Pappa-hulle het nou eers uit Bloemfontein gery en sy kan nie die winkel alleen los nie, maar ons kan ’n ander aand daarna kyk. Pappa is Bloemfontein toe om stock te gaan koop en my boetie by die skool te gaan haal. Boetie kom net naweke huis toe met sy kleurbaadjie met die blou en goue strepies. Maar nou is hulle laat omdat die kar ’n pap wiel gekry het.

      Nou gaan Maria vir my badwater intap. Sy sê my pa-hulle gaan eers laat kom, want om die stock af te laai en te tel vat lank, jy moet na die geld en die strokies kyk en alles. My pa was streng daarop. Hy sê nie alle Grieke is skelm nie. My pa is lief vir die kafee en die mense hou van hom. Hulle lag en groet hom met harde stemme as hulle inkom en hy staan daar altyd met ’n kortbroek en rugbykouse met ’n swart kam in sy een kous.

      Die water is warm en ek klim stadig in die bad. Boetie sê as jy te lank in die water lê, word jy ’n vis. Ek lê in die warm water en kyk na my tone. Ek wil nie dat my voete ’n visstert word nie. Ek tel my hande op en toe sien ek dit: die vel is so dik en wit en gekreukel. Ek word ’n vis!

      Ek spring dadelik uit die bad en gryp na die handdoek op die tafeltjie langs die bad, maar ek het vergeet dat die handdoek oor Mamma se porseleinvoëltjies gelê het, en daar val een van hulle op die harde vloer. Een vlerk af. Mamma gaan raas, sy gaan raas, sy gaan raas … Sy is so lief vir hierdie voëltjies. Sy sê dit pas perfek by die grys teëls en babapienk gordyne. Ek buk om dit op te tel, maar toe ek daaraan raak, begin die duif koer en ek skrik, kyk vervaard rond. Ek moes my verbeel het. Ek tel dit weer op … en weer: koer-koer, koer-koer! Kliphard koer die duif en kyk my kwaai aan met sy gaatjiesoë.

      Ek gryp die handdoek drafstap na my kamer. Met ’n half afgedroogde lyfie spring ek in my slaapklere, loop na Maria en probeer maak asof niks gebeur het nie. Maar Maria moes gesien het iets is verkeerd. “Nonna, jy lyk soos ’n spook,” sê sy. “O lokile?”

      Natuurlik is ek glad nie oukei nie. Daar het ’n porseleinduifie – ’n ornament! – vir my staan en geluide maak. Maar sal ek dit nou vir Maria vertel? Sy sal vir my lag. En dalk hét ek my net verbeel.

      Maar dit was die begin van ’n nuwe patroon. Badtyd het die voëltjies vir my bly loer en ek het naderhand gesorg dat ek iets oor hulle gooi voordat ek in die bad geklim het. Maar sodra my lyf in die water was, het die gekoer begin. Soms het ek glad nie gewas nie, want ek wou net wegkom van die gekoer. Soms het my ma ingekom en terwyl sy met my praat, het hulle gekoer. Ek was